King Kong – Legend of a boxer: ’n teaterresensie

  • 0

King Kong – Legend of a Boxer: Meer as vyf dekades gelede toe King Kong vir die eerste maal op die planke was, het die landspolitiek heeltemal anders gelyk as nou.

Maar sommige van die omstandighede en worstelinge bly universeel, ongeag die jaartal waarin dit afspeel. Armoede en versugting oor ’n lewe wat kon gewees het, is deel van die alledaagse lewe. Dis egter ’n voorreg om in ’n demokratiese bestel na hierdie trefferstuk te kyk en jonger talent na vore te sien tree. Heelwat van die akteurs was nog nie in baie produksies te sien nie, maar ek glo dat as daar talentsoekers in die gehoor was, dié toedrag van sake gou sal verander.

Dis bykans drie ure van pure genot. Elke akteur, danser, sanger en musikant in die nege-man-orkes gee hulself met oorgawe vir die produksie.

Maar voor ek die storielyn heeltemal agterweë laat bly: King Kong is die storie van ’n swaargewigbokskampioen, Ezekiel Dlamini, wie se krytnaam King Kong was. Hy is in 1921 in Vryheid in KwaZulu-Natal gebore en het vinnig opgang in die Non-European Amateur Boxing Association (NEABA) gemaak. Apartheid het hom verhoed om ooit teen wit boksers mee te ding, en soos sy roem gegroei het, het sy humeur en aansien egter sy ondergang beteken. Sy arrogansie het hom ook daarvan weerhou om die ware toedrag van sake met sy meisie te laat besef en hy kom – na ’n draai in die tronk – op ’n vroeë ouderdom aan sy einde. Sy aanhangers het hom vergeet en sy naam raak stil op almal se lippe.

Die verhaal speel in die laat vyftigerjare in Sophiatown in Johannesburg af en het tot die eerste swart musiekblyspel in Suid-Afrika gelei, en die musiek van Todd Matshikiza het die vurige entoesiasme, hopeloosheid en wanhoop van die omstandighede in die townships effe versag. Die musiekblyspel het in 1959 vol gehore gelok en Miriam Makeba in die rol van Joyce, Ezekiel se meisie, gehad. Hugh Masekela was een van die trompetspelers in die orkes. Die trompet is deur Louis Armstrong aan hom gegee. In die oorspronklike rolverdeling het Nathan Mdledle die rol van Ezekiel gespeel.

Die blyspel het destyds deur Suid-Afrika getoer en is deur meer as 200 000 Suid-Afrikaners van alle kleure gesien, hoewel apartheid besig was om regoor die land te ontvou. In Februarie 1961 is die stuk na die Londen West End vir 200 vertonings. Dit was gedeeltelik daarvoor verantwoordelik dat Miriam Makeba en Hugh Masekela se loopbane internasionaal momentum verkry het.

Die Fugard-vertoning loop teen 2 September ten einde, maar dan vertrek die musiekblyspel na Johannesburg vir ’n vierweek-speelvak. Dis die tipe produksie wat weer die land moet toer en deur soveel moontlik mense gesien moet word.

Behalwe die uitstekende spel, sang en lewendige orkes, verdien ook Paul Wills se stelontwerp en die kostuums deur Birrie le Roux spesiale vermelding. Dié elemente dra alles tot ’n baie genotvolle aand by.

King Kong – Legend of a boxer

Met: Andile Gumbi, Nondumiso Tembe, Sne Dladla, Sanda Shandu, Lerato Mvelase, Tshamano Sebe en Ntambo Rapatla en ander.

Deur: Harry Bloom en Pat Williams, musiek deur Todd Matshikiza

Regie: Jonathan Munby

Kostuums: Birrie le Roux

25 Julie – 2 September by die Fugard-teater en 12 September – 8 Oktober by die Mandela-teater in Johannesburg

Kaartjies deur Computicket of die teater by 021 461-4554.

Foto’s: Daniel Rutland Manners en Jesse Kate Kramer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top