'n Leser word gevorm as 'n kind tussen boeke grootword. 'n Teaterganger word gekweek deur die teater al van kleintyd af te besoek.
Vlooi en sy maats is in die Oxford Storieboomreeks wat deur baie Afrikaanssprekende grondslagfasekinders gelees word. Hierdie karakters se kuier by die Kunstekaap is teen dié tyd 'n jaarlikse instelling.
Naomi Meyer het vir Margit Meyer-Rödenbeck, wat die produksie skryf, daaroor uitgevra. Soms stel Margit ander betrokkenes by die produksie aan die woord.
Vlooi kom kuier weer in die Kunstekaap. Hoekom is hy elke jaar daar?
Elanza Swart speel die rol van Vlooi en sy sê: "Een keer 'n jaar kan kinders hulle storieboekkarakters in aksie sien op die Kunstekaap-verhoog. Dit help die kinders om 'n lewendige prentjie by hulle boeke te sit, en dit is ook 'n uur waarin hulle saam met die karakters kan reis op 'n avontuur wat hulle verbeeldings te bowe gaan."
Marinda Engelbrecht (regisseur): "Om sy maats te groet en hulle op ‘n nuwe avontuur te vat."
Margit: "Dis jaar nr 17 – daar is van ons eerste Vlooi-maats wat nou al kinders het wat Vlooi bywoon. Vlooi is ‘n instelling en baie kinders se eerste kennismaking met die teater. Boonop is die boekies voorgeskryf en is die hele uitstappie opvoedkundig."
Wie is Vlooi? As karakter (in die boek) en soos jy hom sien?
Elanza Swart (Vlooi): "Vlooi is 'n bang-vir-niks, avontuurlustige seun vol energie. Hy is mal daaroor om nuwe dinge te ontdek en ook ander te help. Sy avontuurlustigheid maak ook dat hy soms in die moeilikheid beland."
Vlooi gaan dikwels na eksotiese bestemmings. Verlede jaar was hy in Egipte. Waarheen gaan hy hierdie jaar?
Elanza Swart: "Hierdie jaar word daar, met die hulp van die towersleutel, na Antartika gereis. Daar maak Vlooi vriende met Pikkie en Polka die Koningspikkewyne en hulle doen selfs 'n paar toertjies. Patrick, die Sneeuman, reis saam met Biebie en Vlooi na Antartika. Die Sneeuman het 'n baie groot hart, en leer ook die maats van aardverwarming en hoe om dit te keer."
Margit: "Antartika – die Suidpool – dis verstommend hoeveel volwassenes self nie die verskil tussen die Noord- en Suidpool ken nie. Dis ook ‘n eerste dat van ons karakters diere is – in dié geval pikkewyne."
Wie is Vlooi se maats en vertel my iets van hulle?
Karli Heine speel Biebie en sê oor die karakter: "Biebie is Vlooi se ouer sussie. Biebie sien dit as haar verantwoordelikheid om te sorg dat Vlooi veilig bly gedurende hul avonture. Sy is versigtig wanneer dit kom by die onbekende. Haar beterweterigheid irriteer Vlooi soms, maar kom nuttig te pas wanneer nuwe plekke ontdek en ondersoek word."
Elanza Swart: "Wim en Wilma is Vlooi se beste maats wat altyd gewillig is om saam met Vlooi te ontdek. Biebie is Vlooi se ouer suster en is vreeslik besorg oor Vlooi. Sy deel graag haar kennis met al die maats."
Crystal-Donna Roberts speel Wilma en sê: "Vlooi se maats is Wilma en Wim, en hy is ook maatjies met sy sussie Biebie. Ek speel Wilma, en Wilma is ‘n dogtertjie wat baie hou van pret, maar sy glo ook daar is 'n tyd en plek vir als. Wim is haar boetie en al terg hulle mekaar baie, is hulle ook groot pelle. Wilma is 'n slim meisiekind wat van skool hou en wat hou van nuwe dinge leer. Sy is mal oor al die avonture wat sy al met Vlooi en die towersleutel gehad het, want sy leer so baie terwyl sy pret het."
Op wie is die Vlooi-produksie gemik? Sal die grondslagfasekinders se ouers dit ook saam kom geniet?
Emile Minnie (musikale regisseur): "Die produksie is propvol energie, kleurvolle kostuums, prettige kwinkslae en vrolike deuntjies. Kinders sowel as ouers sal beslis die vertoning saam geniet."
Marinda Engelbrecht: "Ons vind dat ouers dit net so geniet. Hulle geniet die fyn humor en die kinders se reaksies."
Die Vlooi-vertonings vind dikwels so plaas dat skoolgroepe dit gedurende skooltyd kan kom kyk. Maar is hier ook ‘n ekstra vertoning as jou skool dalk nie gaan kyk nie? Indien wel, wanneer vind dit plaas?
“Daar is 'n ope vertoning vir almal wat nie saam met hulle skool gaan kyk nie. Dit vind plaas op Saterdag 3 September om 11-uur die oggend. Bespreek asseblief by Computicket.”
Kommentaar
Hi is daar vertoning in die Johannesburg of Pretoria omgewing asook miskien datums? Groot asseblief ek het 'n vyfjarige dogter wat lewe vir vlooi.
Is daar nie dalk n moontlikheid dat julle in Bloemfontein kom optree nie? Baie skole hier gebruik Storieboom.