Kinderboeke in die tyd van COVID-19

  • 0

Foto (links): Canva; Foto van Ruchelle Lombard (regs): verskaf

Die inperking het die wêreld met ’n vuishou in die maag getref. Dit het ons laat dubbeld vou en snak na asem. Onverwags en meedoënloos om ons voete onder ons uit te slaan met geen goeie bedoelings nie. En toe word ons almal met ons hande in die lug na ons huise verban. Dié pandemie het ’n invloed op elke deel van ons persoonlike en professionele lewe en vir talle industrieë beteken dit ’n omvattende verandering in die alledaagse verloop van sake. Uitgewers is een van dié wat grootliks geaffekteer word, met boekwinkels en ander handelaars wat hulle deure moes toemaak vir die tyd van inperking.

Die pandemie stuur skokgolwe deur elke deel van die uitgewerswese, maar dis interessant om te sien hoe die wêreld van kinderboeke geraak word. Afgesien van die ontsettend negatiewe effek wat hierdie inperking het, is dit ook vir my ’n voorreg om deel te kan wees van ’n tydperk waar mense se kreatiwiteit en verbeelding tot die uiterste beproef word en terselfdertyd na nuwe hoogtes geneem word. Skoolgaande kinders is ewe skielik tuisblyers – die skool is gesluit en hulle moet by die huis bly. Die meeste ouers moet aanhou werk (natuurlik van die huis af) en intussen moet kinders intellektueel gestimuleer word, nie bloot besig gehou word nie. Een manier om eersgenoemde te bereik, is om boeke in hulle hande te stop. Hoe kry ouers nou boeke in die hande met boekwinkels wat toe is en aanlyn winkels wat nie in hierdie tyd boeke kan aflewer nie? Om hierdie rede moet planne dadelik beraam word om die boeke steeds in hierdie tyd toeganklik te maak vir beide ouers en kinders, want dit moet op die een of ander manier by hulle uitkom. Die kinders moet lees! Dis hier waar uitgewers die hoofrolspelers word.

Aangesien uitgewers nie tans die papierboeke in die hande van mense kan plaas nie, moet nuwe planne gemaak word en ook verander word om by die tye aan te pas. Dít word hoofsaaklik gedoen deur lesers bekend te stel, of te herinner, aan e-boeke en dat ’n mens op hierdie manier steeds kinders aan die lees kan hou. Dit word natuurlik mooi deur uitgewers deurdink – die spesifieke titel en of dit gepas gaan wees as e-formaat, die ouderdomsgroep, asook ander faktore word in ag geneem om seker te maak die regte produk word beskikbaar gestel. Kinders kan dit op tablette of slimfone lees (indien hulle toegang het) en ouers kan dit selfs vir hulle voorlees! En ewe skielik is daar ’n besef dat jy boeke in verskeie formate kan bekom.

Onderwysers is ook van dié wat swaar getref word deur hierdie omstandighede. Klasbeplanning moet steeds gedoen word, kinders moet onderrig kry en onderwysers moet reg staan met ondersteunende materiaal. Dit is te verstane dat angstigheid heers, want nie almal het die nodige materiaal by hulle om te kan doen wat verwag word nie. Hier is ons weer by dieselfde scenario as vroeër – die digitale formaat is beslis iets wat nou oorweeg moet word. Uitgewers dink dit goed om in hierdie tyd verdere digitale formate te ontwikkel, wat insluit hulpmiddels vir die eksamen, gratis aktiwiteite vir laerskoolleerders, aanlyn aanbiedinge, voorgeskrewe boeke as e-boeke en dies meer. Verdere (soms gratis) materiaal word ook ontwikkel vir onderwysers om van uitgewers se webwerwe af te laai en te gebruik, wat natuurlik nuttig te pas kom.

Dis ook interessant hoe die bemarking van boeke nou hoofsaaklik digitaal gedoen word en uitgewers kreatief te werk gaan om dit so aangrypend moontlik te maak. Platforms soos Facebook en Instagram seëvier, waar dit ’n paar jaar gelede agtergrondmusiek was, iets wat ’n mens versigtig moes betree, maar nog nooit gedwing was om van afhanklik te wees nie. Nou word die meeste boekbekendstellings slegs op Facebook of Instagram gedoen met outeurs wat aanlyn gesprekke voer oor hulle titels en besonderhede daarrondom. Ouers skakel ook in by Facebook-bladsye waar eksperimente vir kinders aangebied word, stories voorgelees word of gratis aktiwiteite gedeel word wat hulle kan aflaai.

Die invloed op die kinderboekwêreld word beslis oor die hele wêreld gevoel. Die Bologna Children’s Book Fair (BCBF), wat in kinderliteratuur spesialiseer en jaarliks meer as 1 400 uitstallers en omtrent 30 000 professionele bywoners verwelkom, sou tydens Maart/April 2020 plaasgevind het. Dit is, soos die London Book Fair en die BookExpo in Amerika, nou gekanselleer as gevolg van die pandemie. Organiseerders en uitgewers doen in hierdie tyd uitstekende werk om die oorgang na ’n eksklusiewe digitale omgewing so pynloos moontlik te maak. Een so ’n voorbeeld is die BCBF wat nou aanlyn sal plaasvind vanaf 4 Mei. Uitgewers wat geregistreer is vir bywoning in 2020, kan toegang kry tot ’n platform waar hulle nuwe titels en materiaal kan oplaai met die doel om regte te verkoop. Bywoners kan aanteken en na die nuwe titels gaan kyk en dan vergaderings met die uitgewers reël. Afgesien van dié platform, sal die BCBF ook bykomende inhoud op hulle webwerf deel, wat ’n virtuele verhoog insluit vir webinare, onderhoude en meer. Die BCBF is maar net een van die sektore van die boekbedryf wat uitstekende kreatiewe planne maak om oor te skakel na ’n totaal digitale wêreld.

Ek dink deesdae gereeld aan ’n sêding: "There’s no app better than your lap." Dis beslis iets wat my na aan die hart lê. Niks kan die plek inneem van ’n goeie storie wat net voor slaaptyd voorgelees word nie. Dit ontwikkel kinders se verbeelding en woordeskat en neem hulle na plekke waar hulle nog nooit voorheen van kon droom nie. Nietemin is dit in hierdie tyd nodig om aanpasbaar te wees, om nuwe planne te maak en vooruit te dink. Vir kinderboeke hoop ek dat lesers uit hierdie inperking sal stap en weet dat ’n (kinder)boek, in enige formaat, jou kan bereik en dat ons boeke nodig het om die toekomstige generasies te kan bemagtig met stories. Papierboek, tablet of slimfoon – ’n boek kan jy saam met jou dra en só het jy altyd ’n storie om te vertel.

Lees ook:

COVID-19: Die advokateberoep en die groot wegsluit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top