COVID-19: Die advokateberoep en die groot wegsluit

  • 2

Izak Smuts

Dis nie eie aan Suid-Afrika dat grappe sonder ophou vertel word oor regpraktisyns nie. Hulle word internasionaal uitgekryt oor beweerde gulsigheid, selfsug en ’n algehele gebrek aan beginsels, as synde ’n oorbetaalde, selfverrykende spul uitbuiters. Dit help nie dat sulke bewerings met betrekking tot ’n minderheid gewetenlose praktisyns waar is nie.

Maar ’n onlangse artikel in die Law Society Gazette van Engeland en Wallis (die regstruktuur in Skotland is anders as dit wat in die suide van die Verenigde Koninkryk geld) dui daarop dat die beweerde rykdom en weelde van lede van die Engelse en Walliese balie allesbehalwe feitelik is, en dat die voortbestaan van die beroep ernstig bedreig word deur die heersende inperkings teweeggebring deur COVID-19.

Die artikel berig dat ’n opname deur die Britse Balieraad daarop dui dat sonder finansiële steun aan die balie die uitwerking van die antikorona inperkingsmaatreels tot gevolg sal hê dat 55% van advokatekamers binne ses maande sou moes sluit, en as die inperkings voortsloer, tot 81% van kamers binne ’n jaar sal sluit. Hoewel oningeligte kritici waarskynlik geen traan sou stort hieroor nie, sou die ineenstorting van die balie ernstige gevolge hê vir die regsbestel in Engeland en Wallis. Die omstandighede in Suid-Afrika sal waarskynlik veel erger wees.

Soos in Engeland en Wallis het ons twee regsberoepe: advokate en prokureurs. Prokureurs ontvang hulle opleiding ná hulle universiteitsopleiding as kandidaatprokureurs in diens van bestaande prokureursfirmas of ander regsinstansies, soos die Regshulpraad. Hoewel dit in die meeste instansies allesbehalwe verrykend is, verdien hulle wel vergoeding gedurende hulle opleiding.

Aspirantadvokate is gewoonlik nie so gelukkig nie. Pupiladvokate kom by die balie aan nadat die meerderheid van hulle jare se studieskuld aangegaan het. (Die meeste huidige pupille het geen voordeel getrek uit oudpresident Zuma se boedeloorgawe aan die FeesMustFall-beweging tydens die doodsnikke van sy bewind nie. Inteendeel – hulle moes die ekstra BTW betaal wat die finansiering van sogenaamde gratis onderwys teweeggebring het.) Met enkele uitsonderings verdien pupiladvokate ook geen salaris tydens hulle opleiding nie – hulle is immers nie in diens van enigiemand nie, aangesien advokate as enkelinge en nie in vennootskappe of firmas praktiseer nie, en ’n pupilmeester nie die pupil se werkgewer word nie. Hulle leef op skuld.

Teen so ’n agtergrond begin jong advokate praktiseer, nou met bykomende oorhoofse onkoste soos kamerhuur, intekengeld op hofverslae en regsjoernale, personeelsalarisse en motorbetalings. Die rasbehepte Legal Practice Council (LPC) wat deur wetgewing op die regsberoepe afgedwing is, is nou ’n bykomende finansiële las wat praktisyns moet dra (een van die raad se eerste noemenswaardige aanduidings van sy bestaan was om aan die begin van hierdie jaar sy heffings op regslui aansienlik te verhoog), sonder enige merkbare voordeel wat uit die LPC se bestaan voortspruit. Daarbenewens moet advokate omsien na hulle eie werkloosheidsversekering, mediese beskerming en aftreefinansiering.

Selfs gevestigde advokate het geen waarborg van inkomste nie. Party maande gaan dit goed en ander glad nie goed nie. Daar is lang hofvakansies, baie beperkte bystand van kollegas gedurende kraam- en gesondheidsafwesighede (en in die geval van beginners, vir ’n beperkte periode ’n subsidie van huurgeld), en daar is tye wanneer sake waarby ’n spesifieke advokaat betrokke is, in ’n tou wag om op die hofrol geplaas te word. Wat belangrik is vir ’n advokaat se kontantvloei, is dat die hofproses bly loop, dat sake begin en tot ’n einde kom. Dan is daar ’n vooruitsig op inkomste.

Met die koms van die Groot Wegsluit is daar nou ’n heel nuwe uitdaging. Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het binne haar magte opgetree toe sy regulasies uitgevaardig het om mense se beweging in te perk. Wat die regspleging aanbetref, bly “services related to the essential functioning of the courts, judicial officers, the Master of the High Court, sheriffs and legal practitioners required for those services” toelaatbaar. Die Minister het ook magtiging verleen aan ander amptenare en ministers, insluitend die minister van justisie, om verdere voorskrifte uit te reik.

Minister van justisie Lamola het nie op hom laat wag nie, en het sommer twee stelle bepalings binne ’n week uitgereik, die een vroeg herroep en vervang deur die tweede. Die “essential functioning of the courts” is deur minister Mamola ingekort (na my mening, sonder magtiging of insig) met ’n baie nougesette definisie. In werklikheid mag slegs dringende sake aangehoor word, en regspraktisyns mag hof toe gaan net indien hulle ’n sertifikaat kan toon wat hulle magtig om die hof te besoek. Die Minister se voorskrifte is strydig met die Dlamini-regulasies, wat advokate sou toegelaat het om so ’n sertifikaat by ’n balieleier te bekom, terwyl die voorskrifte vereis dat dit slegs by die streeksdirekteur van die LPC bekom kan word. In die Oos-Kaap byvoorbeeld is die LPC in Oos-Londen gesetel – regspraktisyns in Mthatha, Grahamstad en Port Elizabeth wat ’n dringende aansoek wil aanvoer se taak sal nou oneindig moeiliker wees. (En wat van plattelandse prokureurs, wie se saak ek nie gevra is om hier te bespreek nie?)

In die Mail & Guardian van 2 April berig Franny Rabkin dat hoofregter Mogoeng ’n skrywe gerig het aan minister Lamola waarin hy sy “tentatiewe siening” aandui dat die Minister moontlik ongrondwetlik opgetree het toe hy sy voorskrifte vir die gedeeltelike sluiting van howe uitgereik het. Ek deel die hoofregter se siening met heelwat minder voorbehoud, maar hoe nou gemaak? Die voorskrifte bly van toepassing tot ’n hof hulle tersyde stel, en die hof is haas onbekombaar.

Die eenvoudige gevolg sal wees dat tensy finansiële steun betyds beskikbaar gestel word, of die howe vinnig weer behoorlik fungeer, advokate se inkomste aansienlik gaan krimp of heeltemal gaan opdroog. Kollegas vertel reeds hoe talle prokureurs hulle kantore gesluit het sonder om gelde wat agterstallig sou word aan die einde van April te betaal (wat hulle ook kontraktueel verplig was om te doen – ek self is tot ’n mate gelukkig op hierdie vlak). Die balie gaan bloei, en die jare van ons struikelende vordering met pogings om die hele bevolking van ons land by die advokateberoep te betrek, is in gevaar. Jong advokate wat skuld dra, sal spoedig moet besin of dit verantwoordelik is om aan te hou praktiseer. Gevestigde advokate sal ook oor hulle toekoms moet dink. ’n Advokaat se praktyk is nie soos ’n kraan wat na willekeur oop- en toegedraai kan word nie. As die juniorbalie uitrafel, en die middelbalie krimp, is daar ’n daadwerklike probleem.

Ek dra nie kennis van die bestuur van ’n prokureurspraktyk nie, maar kan my nie indink dat hulle omstandighede enigsins beter kan wees nie – hulle personeelonkoste alleen is baie hoër as dié van advokate. As prokureurs ook ondermyn word, ontwikkel ’n verdere probleem vir advokate – hulle is volgens wet aangewese op prokureurs om hulle gelde te betaal.

Die probleem is daarby ook veel groter. ’n Onafhanklike regbank verg ’n onafhanklike regsberoep. En die oppergesag van die reg verg ’n onafhanklike regbank. Die oppergesag van die reg is ’n onderliggende beginsel van ons Grondwet. Ons moet die howe aan die werk kry om die voortbestaan van ons Grondwet te verseker.

Izak Smuts SC
Grahamstad

  • 2

Kommentaar

  • François Smuts

    Beste Izak
    Ek is dit met jou roerend eens. Ek weet van verskeie groot prokureursfirma’s wat volgende maand net ’n gedeelte van hulle huur sal kan betaal, indien hulle hulle personeel ten volle wil betaal.
    En dis nie net die grondwet wat in gevaar is nie. Feit is dat mense links en regs gearresteer word – almal, lyk my behalwe die tientalle haweloses wat elke dag verby my huis loop op soek na kos – en in praktyk sonder verhoor aangehou word; en dat regspraktisyns verhoed word om hulle lewensbelangrike taak om burgers se regte te beskerm, te volvoer.
    Hierbenewens word ons regbank verhoed om sy werk te doen, en sal die bestuur van ons howe onder ernstige druk kom as dit eers heropen.
    Hopelik sal die Algemene Balieraad sy fooie verdien en die minister hof toe sleep as dié toestand voortduur. Maar ek hou nie my asem op nie...

  • Chris Marnewick SC

    Daar was van meet af aan al drie klasse advokate by elke balie: Een derde is gevestig en verdien 'n fortuin; die tweede derde is redelik gemaklik met 'n standvastige inkomste; en die laaste derde sukkel en verlaat die beroep binne die eerste jaar of drie. Vir hierdie laaste groep sien ek geen hoop in hierdie krisis nie.

    Vanjaar se pupille gaan dit nog swaarder tref. Eerstens het hulle opgehoopte studieskuld. Dan spook hulle met 'n uitgediende eksamenmodel wat daarop gerig is om as "gatekeeper" te dien eerder as om deel te wees van die opleidingsproses. Laastens is daar die probleem van 'n jaar sonder inkomste, gevolg deur ten minste nog drie maande voor betaling geskied selfs al sou die pas-toegelate advokaat 'n betalende opdaag ontvang.

    Ek sien donker vorentoe vir die balie, en gevolglik vir die kwaliteit van ons regspleging en geregtigheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top