
Anton Luitingh en Duane Alexander (foto: Daniel Manners)
Lamta, die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy, is ’n uitvoerende-kunste-akademie wat vir veral opleiding in musiekteateropvoeding bekend is. Hierdie tyd van die jaar, terwyl skoliere aan vakkeuses dink of oor die toekoms nadink, kan hulle notisie neem van vertonings soos die een wat Maryke Roberts hier resenseer, en vakgebiede in die kunste.
As die teater ten spyte van die ysige Kaapse koue volgepak is, weet jy daar brand ’n kreatiewe vuur daarbinne wat jy nie mag misloop nie. Die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy (Lamta) is terug by Theatre on the Bay met hul jaarlikse dansproduksie.
Ná die sukses van Spring awakening (2023), Hollywood (2024) en Beyond (2025), het kaartjies ook nog weens Lamta se onlangse Naledi-oorwinnings soos soetkoek verkoop vir Killer Queen.
Ons kon eers hier op die stertkant van die speelvak sitplekke kry. En was ons dankbaar!
As jy al een van hul vorige suksesvertonings meegemaak het, kon jy verwag het hierdie produksie gaan die dak lig.
Killer Queen is die breinkind van Lamta-stigters Anton Luitingh en Duane Alexander. Dié dinamiese duo het Lamta in 2019 gestig. Hul mees onlangse triomf, ’n gesamentlike produksie van Joseph and the amazing Technicolor dreamcoat, het uitgeblink by die 21ste Naledi-teaterprystoekennings met onder meer pryse vir beste produksie en beste regisseur.
By vanjaar se Fiëstas en die Cape Town Theatre Awards (voorheen die Fleur du Cap-toekennings) het beide Beyond: a fantasy cirque experience en Joseph and the amazing Technicolor dreamcoat verskeie nominasies en pryse verkry.
Toe die nominasies vroeër vanjaar op Facebook aangekondig is, was daar baie besliste uitroepe van sukses hiervoor.
Anton en Duane skryf in die program dat dit snaaks sou wees om iemand te ontmoet vir wie Queen se musiek geen betekenis het nie. “Hul musiek het ’n manier om jou te vind op die presies oomblik wat jy dit nodig het, of jy vind dat hulle in die vesel van jou kosbaarsste herinninge verweef is.”
Vir Anton is die musiek van Freddie Mercury nie braak grond nie. Daar is ’n fassinerende ooreenkoms tussen hierdie nuwe produksie en Anton se eie glansryke loopbaan op die verhoog. Sy a capella-produksie Mercury, wat in 1994 in die voormalige Dock Road-teater op die planke was, het sy professionele loopbaan afgeskop.
“Queen se musiek het nie net die vertoning inspireer nie. Dit het iets begin.”
Hulle skryf voorts dat “dans en Queen se musiek dieselfde taal praat; dit dra emosies wat die liggaam op geen ander manier kan uitdruk nie. Queen se katalogus is so ryk – amper onmoontlik – lewendig met musiek, dat ons choreograwe nie vir betekenis hoef te gesoek het nie. Dit was alreeds daar – wagtend.”
Die duo was ’n paar jaar gelede ook betrokke by We will rock you as regisseurs en musikale regisseurs.
Hy vertel in 2023 ’n onderhoud op Broadway World, dat LAMTA streef om gehore te vermaak en dat dit geweldig belonend is om te sien hoe gehore die teater verlaat en dat dit duidelik is dat hulle iets gevoel; ervaar het. “Dat hul koppe oopgeblaas is en hulle die begeerte het om te bespreek wat hulle pas gesien het.”
Om nou weer as regisseur en musikale regisseur die einste Queen-treffers vir ’n nuwe generasie talentvolle studente saam te stel, bring Anton se vermaakloopbaan pragtig volsirkel. Hy behartig ook die musikale regie van ’n paar vokale nommers in die vertoning.
Killer Queen word oor twee bedrywe gespeel en is ’n visuele én ouditiewe kragtoer. Die produksie weef Queen se ryk tapisserie van tydlose treffers en minder bekende musikale skatte saam deur die oë van ’n indrukwekkende lys van Suid-Afrika se beste choreograwe, onder wie Duane, Michelle Reid, Jared Schaedler, Robin van Wyk en Brigitte Reeve-Taylor.
Hulle sorg vir ’n vars, dinamiese interpretasie van ou treffers soos “We will rock you”, “Somebody to love”, “The show must go on'” en “We are the champions”. Ek was ook verstom oor die ongelooflike kostuums: Vir die reuse groep op die verhoog was daar vir elke liedjie ’n interessanter kostuum as vir die vorige lied, en die slim danspassies was wêreldklas.
Soms is die verhoog ’n malle gemaalkolk van lywe en bewegings en polsende musiek; soms is dit amper opruiend en voel jy die klanke tot in jou voetsole. Dan kom “Somebody to love” en ook “Love of my life” – gestroop, eerlik, net twee mense op die verhoog; geen beelde agter teen die muur om jou aandag van die intimiteit tussen die liggame mis te kyk nie.
En deurgaans weet jy van die hartseer van Freddie Mercury se dood wat deurvleg is en op jou wag.
O, hoe het my trane geloop toe ek terugdink aan die vertolkings van Rami Malek in die 2018 biografiese filmdrama Bohemian rhapsody. Die storie van Freddie Mercury se lewe het daar ook met woorde uitgespeel, terwyl hierdie produksie beelde, videomateriaal en musiek gebruik.
Met die film het ek gedink Freddie Mercury sou trots wees, maar ek moet aansluit by ’n skrywe wat my oog Woensdagoggend gevang het. Die radio-omroeper, Guy McDonald, skryf op sy Facebook-blad dat hierdie nie ’n “tribute show is nie, maar ’n teatrale, hoë oktaan viering van beweging, verbeelding en Queen se musiek, wat jou absoluut asemloos sal laat”.
Hy skryf verder dat Freddie Mercury self in vervoering sou gewees het oor die ongelooflike talent van die Lamta-studente. Ek kan nie méér saamstem nie.
Wat Lamta se produksies so besonders maak, is die rou, elektriese energie van die studente – van eerste- tot derdejaars – wat passie kombineer met wêreldklas opleiding. Mens moet jouself kort-kort herinner dat dit nog net studente is wat daar op die verhoog staan.
......
Killer Queen wys nie net die talent op die verhoog nie, maar onderstreep Lamta se geweldige impak as top opleidingsinstelling. In plaas van middelmatigheid, skep Lamta ’n kreatiewe, eerlike ruimte waar studente gevorm word tot veelsydige multidissiplinêre "triple threat"-kunstenaars wat musiekteater, filmblyspele en teater insluit. Hul kurrikulum berei studente deeglik voor op die eise van die moderne musiekteaterbedryf, met opleiding wat wissel van karakterontwikkeling tot kunste-administrasie.
.......
Killer Queen wys nie net die talent op die verhoog nie, maar onderstreep Lamta se geweldige impak as top opleidingsinstelling. In plaas van middelmatigheid, skep Lamta ’n kreatiewe, eerlike ruimte waar studente gevorm word tot veelsydige multidissiplinêre "triple threat"-kunstenaars wat musiekteater, filmblyspele en teater insluit. Hul kurrikulum berei studente deeglik voor op die eise van die moderne musiekteaterbedryf, met opleiding wat wissel van karakterontwikkeling tot kunste-administrasie.
Laasgenoemde beteken dat hulle nie net die “kuns” verstaan nie, maar ook die “sake” van die vermaaklikheidswêreld baasraak, om uiteindelik ’n volhoubare bestaan as professionele kunstenaars te kan maak.
Die akademie bied ’n ongeëwenaarde brug na die professionele bedryf, omdat dit bestaan uit spesialiste wat self aktief in die beroep staan. Theatre on the Bay se verhoog dien as die ideale praktiese klaskamer. Dit is ’n strawwe, drie jaar lange transformasie wat die teaterbedryf se toekoms in veilige, bekroonde hande plaas.
My oë gly oor elkeen om te besluit wie my gunsteling is. Maar met die volgende nommer styg iemand anders uit en ek moet weer van voor af besluit. Soms dans iemand só meesleurend dat ek besluit sy is die een; maar dan sing iemand anders só sielvol en ek is van vooraf deurmekaar.
Om ’n loopbaan in die kunste te kies, is 'n uitdagende pad wat dikwels begin met strawwe oudisies en die moeilike besluit om die regte akademie te vind.
Lamta onderskei homself egter as 'n omgewing waar unieke individue werklik kan floreer. In plaas daarvan om 'n massa studente met middelmatige talente te produseer, fokus die akademie intens op die individu en word daar 'n kreatiewe, eerlike ruimte geskep waar studente gehelp word om die nodige vaardighede te ontwikkel om in 'n uiters mededingende bedryf sukses te behaal.
Die akademie het die afgelope ses jaar altesaam 75 studente opgelei, en heelwat van hulle is sedertdien in ons grootste produksies in hoofrolle gebruik, waaronder Dylan Janse van Rensburg in Joseph and the amazing Technicolor dreamcoat en Cats as Rum Tum Tugger; Leah Mari in The sound of music, My fair lady en Pretty woman; Stuart Brown in Dear Evan Hansen; Ashley Scott in Disney’s magic box; en Léa Blerk in Rocky horror show.
Killer Queen is die perfekte nostalgiese, dog opwindende winterbederf vir enigiemand wat lief is vir teater, die kuns van beweging en die grootsheid van Queen se musiek.
En boonop is dit só lekker om te sien dat die teaterbedryf se toekoms in goeie hande is. En dat die mentors wat ons jongmense lei, self ’n paar toekennings en beeldjies op hul kaggelrakke het en weet wat die uitdagings van die bedryf behels. Lamta het binne slegs ses jaar bewys dat hulle groot skoene in die teaterbedryf vul.
Hierdie jongmense is beslis die “Princes (en Princesses) of the Universe”. Die teater lê blink voor hulle.
As jy gelukkig is om ’n kaartjie te kry vir die laaste week van hierdie ongelooflike vertoning, koop dit nou! As jy saamgenooi word deur ’n vriend wat kaartjies het, gryp dit met albei hande.
En ek weet ek het gesê ek het nie gunstelinge nie, maar “Who wants to live forever” met ’n groot geselskap wat amper in melankolie dans met ’n reuse wit-en-swart veer teen die agterste muur geprojekteer, het my trane laat loop. En Isabella Abrahams, Pride Ncude en Julietta Hodges se name gaan jy beslis gouer in groot produksies sien as wat jy kan raai.
- Hierdie teks is my eie werk en is nie mbv KI geskryf of geskep nie. Dit geld die prente en die teks.
Killer Queen
Met: Studente van Lamta
Regisseurs, musikale regisseurs en teks: Anton Luitingh en Duane Alexander
Choreografie: Duane Alexander, Michelle Reid, Jared Schaedler, Robin van Wyk, Chesney Stanfield, Emile Petersen, Brandon Herbst, Ashley Searle, Brigitte Reeve-Taylor, Anna Olivier, Naoline Quinzin, en Zoe Aldridge
Theatre on the Bay, Kampsbaai tot 20 Junie 2026, met ’n ekstra vertoning op Jeugdag, 16 Junie om 15:00. Andersins saans om 20:00; Saterdag-matinee om 15:00.
Kaartjies is van R200 via Webtickets of direk by die teater by 021 438 3300 beskikbaar.

Foto: Daniel Manners

