KI-miniseminaar: Sewe probleme voor middagete

  • 0

Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

Foto van Johan Fourie: verskaf

In ’n laboratorium by die Wharton-sakeskool beantwoord 359 mense sewe vrae. Dit is die soort vrae wat sielkundiges goed ken – jou eerste instink lei jou om die bos en die regte antwoord val jou ’n rukkie later by. Deelnemers kan by elke vraag ’n kletsbot raadpleeg. Wat hulle egter nie weet nie, is dat die kletsbot ook volgens ’n tweede stel instruksies werk. By sowat die helfte van die lukraak gekose vrae gee dit aspris ’n aanloklike verkeerde antwoord, kompleet met selfvertroue en ’n kort verduideliking daarby. Steven Shaw en Gideon Nave, die Wharton-navorsers wie se studie dit is, wil vasstel hoe mense reageer op raad wat soms reg en soms heeltemal oortuigend verkeerd is.

Soos dalk te verwagte, volg deelnemers die raad. Hulle raadpleeg die kletsbot by meer as die helfte van die vrae en volg selfs wanneer die raad verkeerd is, vier uit elke vyf keer. Sonder hulp beantwoord die deelnemers 46% van die vrae korrek. Met ’n betroubare assistent styg dié syfer tot 71%, maar met een wat verkeerde antwoorde gee, daal dit tot 32%. In albei gevalle neem deelnemers se vertroue in hul eie antwoorde met sowat 12 persentasiepunte tóé. Interessant genoeg, daal die selfvertroue nie namate die foute ophoop nie. Twee verdere eksperimente, een met ’n tydsbeperking van 30 sekondes en ’n ander waarin deelnemers 20 Amerikaanse sent vir elke korrekte antwoord kry, verander die syfers, maar nie die patroon nie. Oor al drie studies heen, met 1 372 deelnemers en 9 593 antwoorde, is die kans om reg te antwoord 16 keer groter wanneer die masjien die regte antwoord gee. Shaw en Nave noem dié gedrag “cognitive surrender”, oftewel kognitiewe oorgawe. Dit behels veel meer as om ’n sakrekenaar te gebruik om jou hoofrekene te doen – sonder om te dink gee jy jou eie denke prys.

Dié begrip het vinnig buite die laboratorium neerslag gevind. By die Massachusettse Instituut vir Tegnologie (MIT) gebruik ’n komitee oor KI in hoëronderwys kognitiewe oorgawe in ’n verslag van 13 Augustus om studente te beskryf wat hulle “by die eerste teken van ’n uitdaging tot KI wend”. Volgens ’n studenteopname wat die komitee aanhaal, is nege uit 10 voorgraadse studente bekommerd dat hulle te afhanklik is van KI, en twee derdes van hulle is báie bekommerd. Die redakteurs van Organization Science, een van die voorste vaktydskrifte in bestuurskunde, sien dieselfde verskynsel in hulle oorvol e-posse. Sedert die koms van ChatGPT, het die aantal artikelvoorleggings met 42% gestyg – dubbel die toename tydens die pandemie. Sewe uit elke 10 word afgekeur nog voordat dit vir portuurbeoordeling gestuur word. “Die geworstel met skryf en herskryf,” sê hulle, “is op sigself ’n vorm van denke.” En dan: “Die mense raak moeg.”

Ek glo al hierdie bevindings. Tog moet ’n ekonoom vra: Wat is die konstante faktor? Dalk is dit die aantal probleme. Shaw en Nave meet hoe dikwels mense ’n vraag reg beantwoord, maar nie hoeveel vrae hulle per uur reg beantwoord nie. In hul bespreking van die studie se beperkings beskryf hulle self die navorsing as “’n momentopname van besluitneming onder een bepaalde stel omstandighede”. MIT se opname vra studente of KI hulle tyd bespaar. Altesaam 35% sê baie en nog 45% ’n bietjie. Niemand vra egter wat hulle met die tyd doen wat hulle spaar nie. Dinkwerk het immers twee kante – hoe diep ons oor ’n bepaalde probleem nadink en oor hoeveel probleme ons hoegenaamd nadink. Navorsers het die eerste noukeurig gemeet, maar die tweede nog nie ondersoek nie.

Oor die tweede kan ek slegs uit eie ervaring praat. Ek het tot dusver ’n produktiewe dag gehad. Vanoggend (ek skryf ná middagete) het ek aan sewe projekte gewerk. Ek het ondersoek of ’n krieketskeidsregter wat pas ’n fout gemaak het, meer of minder geneig is om weer een te maak; of agtiende-eeuse boedelinventarisse die rykes of die armes oorverteenwoordig; of KI ekonomiese navorsingspanne kleiner maak; en of ’n sanitasieprojek in die Paarl ’n eeu gelede babasterftes laat styg of daal het. Daarby het ek aan ’n hoofstuk vir ’n handboek oor Suid-Afrikaanse ekonomiese beleid en ’n artikel oor toegepaste ekonomiese geskiedenis gewerk. En dan is daar nog die vraag of krieketkapteins uit onsuksesvolle appèlle leer. (Twee uit sewe oor krieket tel glo as selfbeheersing.) Twee jaar gelede sou ek beswaarlik meer as een hiervan voor middagete kon aanpak. Die aantal ure het nie verander nie. Die aantal probleme wel.

Klik hier vir ’n groter weergawe van bogenoemde grafika.

Waarom maak dit saak? Ekonomie het ’n verklaring. In 2009 publiseer die ekonoom Benjamin Jones, destyds aan Northwestern-Universiteit, ’n artikel met ’n treffende subtitel: “Die dood van die Renaissance-mens”. Sy argument is eenvoudige rekenkunde: Kennis hoop op en elke nuwe geslag moet dus meer leer om die voorpunt van ’n vakgebied te bereik. Uitvinders begin gevolglik later met hul loopbane, spits hulle op al hoe kleiner kennisgebiede toe en werk in groter spanne saam. Jones vind al drie hierdie tendense in patentrekords. Hy noem dié verskynsel die kennislas. Adam Smith sien die prys hiervan reeds twee eeue tevore raak. In ’n hoofstuk van The wealth of nations, wat minder dikwels as sy beroemde beskrywing van die speldfabriek aangehaal word, waarsku hy dat die mens wie se “hele lewe daaraan gewy word om ’n paar eenvoudige handelinge uit te voer” die gewoonte verloor om sy verstand in te span en “so dom en onkundig word as wat ’n mens moontlik kan wees”. Smith bereken die wins uit spesialisasie, maar ook die prys wat die spesialis daarvoor betaal.

Wat die spesialis verloor, is die vermoë om idees te kombineer. In 1998 voer die Harvard-ekonoom Martin Weitzman aan dat nuwe idees meestal ontstaan wanneer bestaande idees op nuwe maniere gekombineer word. Die grootste beperking op ekonomiese groei is dus nie ’n tekort aan boustene nie, maar ons vermoë om verskillende kombinasies daarvan te beproef. Is dit dan waar die waarde lê? Brian Uzzi en sy medeskrywers aan Northwestern, onder wie Jones, ondersoek die verwysingslyste van 17,9 miljoen akademiese artikels. Hulle bevind dat die navorsing met die grootste impak op gevestigde kennis berus, maar ook iets ongewoons bevat, naamlik vakliteratuur uit twee navorsingsterreine wat nog nie voorheen saam aangehaal is nie. Diepte verskaf die gevestigde grondslag; reikwydte maak die onverwagse kombinasie moontlik. KI maak dit goedkoper om die voorpunt van ’n ander, verwante vakgebied te bereik. Die kennislas is dus ligter as in 2009. Jones se Renaissance-mens het immers nie weens ’n natuurwet uitgesterf nie. Hy is bloot uit die mark geprys.

In my eie werk is die kruisbestuiwing tussen projekte meestal heel alledaags. Dieselfde metodes kom telkens in verskillende gevalle handig te pas, soos ’n verskil-in-verskille-ontwerp of ’n roetine om argieftekste met behulp van ’n taalmodel skoon te maak. Die vakliteratuur skuif ook van die een projek na die ander – die artikels wat ek vir my navorsing oor toegepaste ekonomiese geskiedenis aanhaal, is ook dié wat ek vir die handboekhoofstuk nodig het. Een geval verras my egter: In ’n aansoek om navorsingsbefondsing put ek uit drie afsonderlike projekte en hul onderskeie vakliteratuur om ’n argument te ontwikkel wat ek twee jaar gelede nie sou kon formuleer nie. Ekonome is dalk te skaam om werkgenot by hul berekeninge in te sluit, maar afwisseling maak werk eenvoudig lekkerder. En lekker werk kry ’n mens gedoen.

Daar is egter ’n ernstige teenargument wat ek nie kan ignoreer nie. Die sosioloog James Evans en sy kollegas ondersoek 41,3 miljoen natuurwetenskaplike artikels en onderskei tussen dié waarvan die skrywers KI gebruik en dié wat sonder KI geskryf is. Navorsers wat KI gebruik, publiseer 3,02 keer soveel artikels, word 4,84 keer so dikwels aangehaal en begin gemiddeld 1,37 jaar vroeër hul eie navorsingsprojekte lei. Dít is reikwydte in syfers. Tog dek hul artikels 4,63% minder onderwerpe as vergelykbare navorsing sonder KI, en die studies wat daarop voortbou, toon 22% minder onderlinge wisselwerking. Anil Doshi en Oliver Hauser vind dieselfde patroon by kreatiewe skryfwerk: Verhale wat met KI se voorstelle geskryf word, word afsonderlik as kreatiewer beoordeel, maar lyk as groep meer na mekaar. Dis maklik om te sien waarom. As elke navorser na dieselfde hulpmiddel gryp, verken almal uiteindelik dieselfde verwante vakgebiede. Elkeen van ons word ’n Renaissance-mens. Saam word ons ’n monokultuur. Dalk het ’n duisend ander ekonome vanoggend aan presies dieselfde sewe artikels as ek gewerk.

Daar is ’n tweede voorbehoud. Wie gee hul denkwerk prys? Veral dié wat KI baie vertrou. Mense met hoër vloeibare intelligensie en ’n groter lus vir dinkwerk is minder geneig om hul denke aan KI oor te laat. Shaw en Nave wys dat byna twee keer soveel deelnemers – van een uit vyf tot meer as een uit drie – die masjien se antwoord eers nagaan wanneer hulle 20 Amerikaanse sent as beloning ontvang en onmiddellik terugvoer kry. Net as jy steeds self jou antwoorde nagaan, kan jy jou reikwydte goedkoop vergroot. ’n Jack wat nie sy werk nagaan nie, is op sewe plekke verkeerd pleks van een.

Die spreekwoord word met die jare langer. In die sewentiende eeu geld “Jack of all trades” nog as ’n kompliment. “Master of none” kom eers in die 1780’s by, terwyl die trooswoorde: “Better than a master of one” nóg later volg. Niemand weet wie dit bygevoeg het nie. Die navorsing oor kognitiewe oorgawe wys wat binne ’n enkele probleem gebeur. Die argument vir reikwydte gaan oor wat tussen verskillende probleme gebeur. Sover ek weet, het niemand dit nog gemeet nie. Tot iemand dit doen, kan ek net een ekonoom se oggend as datapunt aanbied; een datapunt is nog nie ’n steekproef nie.

Soos ’n mens seker kan verwag, vra ek Claude vir ’n meta-slot wat die spreekwoord, krieket en KI bymekaar bring. Claude kom met Jack Hobbs vorendag. Van 1905 tot 1934 open Hobbs die kolfbeurt vir Surrey en Engeland. Sy 61 760 lopies in eersterangse krieket en 199 honderdtalle is steeds ongeëwenaard. Hy is boonop een van die beste veldwerkers van sy tyd, boul wanneer hy gevra word en slaan die helfte van sy honderdtalle ná sy veertigste verjaardag. Die krieketwêreld ken hom as The Master. Dit het ek nie geweet nie. Ek gaan kyk. Dit klop. Krieket se “master” was ’n Jack.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top