
Woorde: Maryke Roberts
Foto: Jaco Botha / Empire Photography
Ná ’n uitverkoopte seisoen by Montecasino in Johannesburg keer Jonathan Roxmouth terug na Pieter Toerien se Theatre On The Bay – sy eerste optrede op dié verhoog in vyf jaar. In sy splinternuwe vertoning Keychange – My Favourite Pianists neem Jonathan die gehoor op ’n reis deur sy lewe en sing en speel liedjies wat almal die klavier as basis het, wat sy musieksmaak deur verskeie fases van sy lewe gevorm en beïnvloed het.
Hy word ondersteun deur ’n fantastiese vyfstukorkes.
Die klavier en sirkelvormige verhogies waarop die kunstenaars sit, het liggies as omboorsels. Die klavier is die ware definisie van “pimp my piano” met oordadige, vergulde versiersels en Jonathan se pakke deur Look of Lynx met blinkers en omboorsels en strepe dra alles by tot ’n gevoel van Vegas. Dit voel of jy iewers op die Strip in ’n piano lounge sit en ’n vertoning kyk. Mense om jou teug aan yskoue vonkelwyn en ys klingel in hul whiskies.
Jonathan val weg en sê die klavier is die deurgangdwelm: dit gee jou ’n vals gevoel van sekuriteit. Wat hy ook al bedoel, sy vertolking en speelvernuf bedwelm sy gehoor.
Agter teen die muur hang stroke lap wat soos reuse-streamers lyk, en die gedeelte bo die klavier se klawers is met ’n spieël vervang sodat jy sy hande van alle kante kan ervaar. Want ervaar is wat jy doen. Soveel gevoel en beweging het ek lanklaas in ’n pianis se hande gesien.
Hy verdeel sy vertoning in verskeie afdelings en voor elke nuwe liedjie of verwerking vertel hy ’n storie uit sy lewe. Die gehoor kry in die twee uur-vertoning ’n baie goeie prentjie van sy passie vir die klavier en hoe sy ouers bygedra het tot sy sukses as akteur en musikant. “Ek het nog altyd net die klavier gevolg,” vertel hy.
Die gehoor het geskaterlag toe hy onder die “The Piano Pounders”-hofie kompleet soos Jerry Lee Lewis die klavier “aanval” en selfs met sy voete speel. Natuurlik was die “Of Mice And Menken” – hoogtepunte uit Disney-films – een van die lekker voete saamtik-afdelings, en die “A Steinman Meatloaf” die geleentheid om die gehoor te betrek om lekker met Meat Loaf-liedjies saam te sing.
Jonathan vertel: “Die musiek van Alan Menken wat vir baie van die Disney-musiek verantwoordelik was, het my ’n kinderlewe gegee. Sy musiekstyl het ’n baie groot invloed op my klavierspeelstyl gehad.”
Die instrumente vir die vertoning is almal deur Yamaha SA geborg en werk almal met elektrisiteit. Ja, jy het reg geraai, in die helfte van die vertoning is daar beurtkrag en die kragopwekker skop in. Die ligte bly aan, maar die instrumente protesteer en ween in stomme stilte en Jonathan improviseer.
As jy teen daardie tyd nog nie besef het hoe hy ’n gehoor uit sy hand kan laat eet nie, ervaar jy dit eerstehands. Terwyl die tegnici die probleem oplos, vertel hy stories, maak grappies en hou die gehoor vasgenael. En natuurlik lag almal te lekker toe hy sê hy kan nie beurtkraggrappies in Johannesburg maak nie, want daar is dit net nie snaaks nie, want die beurte is net té gereeld, maar hier in die Kaap werk dinge beter. Die Wes-Kaapse premier Alan Winde sit in die middel van die teater en dit moes hom laat beter voel het...
Tydens pouse sê ek vir vriende dat ons op laerskool so kamma-kamma klavier gespeel het: met die deksel toe, anders het jy die buurt se katte laat skrik. Ons het so oordadig getokkel, geslaan en gespeel en ons verbeel ons is Liberace. Jonathan doen presies dit, maar met oortuiging én die klavier se deksel is oop en die klawers soos goedgebreide stopverf in sy hande.
Jy kan nie uit daardie teater stap ná Key change en kwaad of angstig of terneergedruk voel nie. Jonathan Roxmouth is ’n meestervermaker en dan is hy boonop ’n uitstekende sanger en pianis. Gaan gebruik die twee uur in die skemer om jou sorge te vergeet en moed te skep vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
Viva Las Vegas! Viva Jonathan Roxmouth!
Key change
Met: Jonathan Roxmouth en orkes Kelsey Brookes (Klawerbord 2), Cole Matthews (Bass), Beric Symes (Kitaar), Jarryd West (Dromme) en Jessica West (Klawerbord 1).
Geskryf deur: Jonathan Roxmouth
Klankontwerp: Mark Malherbe
Stel: Ben Barker
Beligtingsontwerp: Oliver Hauser
Beligting & AV-operateur: Progress Mphande
Instrumente deur Yamaha SA
15 Maart tot 8 April 2023
Theatre On The Bay
Bespreek deur webtickets.co.za (https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1523898127) of die Theatre On The Bay-kaartjieskantoor by (021) 438-3301. Bespreek jou tafel vir aandete by Ovations Cafe by (021) 438-3301.

