
Ek sien die advertensie vir die Candlelight Concerts wat die afgelope dekade regoor die wêreld deur Fever aangebied word, ’n jaar of wat terug op sosiale media. Dit praat van New York en Singapoer en Niagravalle en Barcelona en Parys. Meer as drie miljoen gelukkiges het al, omring deur duisende kerse, kon stil word in ongelooflike plekke, voor die musiek hulle omarm het. Meer as 150 stede het al gasheer óf gasvrou vir dié konserte gespeel. Dis soms op bergpieke, soms diep in die maag van ’n katedraal. Altyd by kerslig.
Ek dink met groot versugting daaraan en kan my net voorstel hoe lekker dit sal wees as dit Kaapstad toe kan kom. Die magiese konserte in die wonderlike Moederstad is mos net ’n wenresep. Tafelberg hou soos ’n oermoeder wag oor die kunste en mense word saam meegevoer deur musiek, met die glans van kerslig wat hulle saamtrek.
Ek lees bietjie op en sien Fever het ten doel om kultuur en vermaak vir soveel moontlik mense toeganklik te maak en bied unieke plaaslike ervarings aan. Of dit nou klassiek, jazz of kontemporêre genres is, elke konsert is noukeurig saamgestel om ’n onvergeetlike ouditiewe en visuele ervaring te bied, wat beide talentvolle plaaslike en internasionale kunstenaars uitlig.
Hoe lekker dus toe ek nie lank daarna nie die advertensies sien en besluit op die konsert in Desember met Vivaldi se “Vier seisoene” as tema.
Aanvanklik is die bespreking net vir ’n datum; die tyd en plek sal later bevestig word. Ek kan voel hoe die opgewondenheid net nog ’n rapsie hoër gevoer word, met dié effe onvoorspelbaarheid daarmee saam.
Ons konsert is toe by die SA Sendinggestigmuseum in Langstraat. Die konsert begin om 22:00. Ons het eers iewers gaan eet en drentel soos ware toeriste deur die strate. Ek het oor ’n glas wyn vroeër gelees die kerk is in 1799 deur die African Missionary Society gestig en is Suid-Afrika se eerste slawekerk en oudste inheemse sendingkerk wat nog in sy oorspronklike struktuur is.

Die museum is in 1979 gestig om die gebou waarin dit geleë is te bewaar, tesame met die nalatenskap van Christelike evangelisasie onder die slawe en inheemse mense van die Kaap. Die voorste kerkbanke het die name van die eerste agt slawe wat by die kerk gedoop is, en die vloer het ’n voorstelling van sterre om die afskaffing van slawerny in 1834 in die Kaap te herdenk.
Ons sit in die heel voorste bank. Toeganklik, vry, oop is die woorde wat deur my kop maal toe ek terugkyk na die gehoor.
Die lokale wat vir hierdie konserte gekies word, dra waarlik by tot die sjarme en is dikwels historiese of argitektonies treffende ruimtes wat die atmosfeer van die optredes versterk. Soos gaste aankom, word hulle begroet deur ’n atmosfeer van gloeiende kerse wat die lokaal verlig, wat ’n rustige en meesleurende stemming skep. Die akoestiek van hierdie ruimtes, gepaard met die sagte flikkering van kerslig, verhef die musiek en skep ’n verbinding tussen die gehoor en kunstenaars.
Buite vibreer die stad in al haar kosmopolitaanse glorie. Hier binne stop die tyd, word jy teruggevoer na die 1700’s en 1800’s toe klassieke musiek van hierdie gehalte geskep is.
Ons musikante is die Selene Quartet met drie viole en een altviool. Tussen elke seisoen – in dié vioolkonsert in G mineur, Op 8 No 1 RV 269: Lente; No 2 RV 315: Somer; No 3 RV 293: Herfs en No 4 RV 297: Winter – staan een van die musikante op en lees een van die sonnette. Die Italiaanse komponis het dit tussen 1718–1720 geskryf. Daar is glo baie kopkrap oor of die vier stukke musiek geskryf is om die vier sonnette te vergesel of andersom.
My gedagtes loop vêr; dink aan al die mense wat al hier op hierdie bankie gesit het. Wonder of musiek ook só ’n lawing vir hul siele was. Ons sit styf langs mekaar ingeryg, wat die gevoel van gemeensaamheid versterk.
Die kersies werk met batterytjies, maar die vlammetjies dans liggies en skep die illusie van ware kerslig. Die gloed teen die mure en plafon is goud. Dit maak ’n see van liggies. Soms raak jy weg in die 17de eeu, dan druis die klanke van Kaapstad 2024 weer in jou ore, voor dit sekondes later weer op die agtergrond skuif.
Terwyl die konserte aan die gang is, is alle slimfone en kameras gebêre, maar sodra die laaste note tussen die ou kerkbankies wegsypel, mag ons foto’s en video’s neem en op sosiale media deel. Ek kan nie wag om my video vir my bejaarde pa te gaan wys nie. Die meisie langs my se foonbattery is pap; die kamera wil nie fokus nie. Haar vriend sê vanaand is een vir onthou, nie vir foto’s nie. Sy verskil van hom, wil iets huis toe neem om hierdie magiese aand langer te laat talm.
Toe ons laataand in die besige straat in die soel someraand terugstap na ons motor, is dit die woorde van die Somer-sonnet: “[T]hen sweet songs of the turtledove and finch are heard. Soft breezes stir the air [...]” wat in my kop bly draai.
Ek ken die musiek só goed, maar die ervaring tussen die miljuisende kerse is iets wat my nog lank sal bybly.
En toe ek oor die feesseisoen vir Johannesburgse vriende vertel, is ek verheug om te deel dat die konserte ook van vandeesmaand in Johannesburg by Theatre On The Square in Sandton gehou sal word.
Kaapstad-konserte vir die volgende paar maande word onder meer by die Norval Foundation, Hugo Lambrechts Musieksentrum en die Star Theatre gehou. Van 24 Januarie tot 22 Februarie is dit Vivaldi se “Vier seisoene”. Op 15 en 22 Februarie is dit The best of Hans Zimmer; op 21 Februarie is dit Queen vs Abba en ook A tribute to Coldplay on strings. Van 3 April tot 25 Mei is dit Best of Bridgerton on strings.
In Johannesburg is dit Vivaldi se “Vier seisoene” op 19 Januarie om 18:10 en 20:30; op 23 Februarie A tribute to Queen om 18:10 en A tribute to Coldplay om 20:30.
Die deure open 45 minute voor die konsert ’n aanvang neem en geen laatkommers sal toegelaat word nie. Alle konserte duur 60 minute.
Enige kinders onder 16 moet deur ’n volwassene vergesel word en geen onder agtjariges word toegelaat nie.
Bespreek by https://feverup.com/ of Quicket.
- Foto’s: Fever

