Kennisgewing: Frozen is hoendervleisteater

  • 0

Foto: KKNK / Fotograaf: Hans van der Veen

Frozen, deur die bekroonde Britse dramaturg Bryony Lavery, het aan beide kante van die Atlantiese Oseaan klassieke status verwerf sedert die eerste opvoering daarvan in Birmingham in 1998.

Dié stuk ondersoek die verdwyning van Rhona, ʼn 9-jarige meisie, en die verwoestende gevolge van hierdie trauma op haar ma, Nancy, en haar familie oor ʼn tydperk van 15 jaar. Terselfdertyd kry ons insae in die lewe van Ralph, ʼn pedofiel-reeksmoordenaar, wat uiteindelik gevang en skuldig bevind word aan Rhona se moord. ʼn Derde karakter, Agnetha, is  ʼn Amerikaanse psigiater en akademikus wat spesialiseer in navorsing oor gewelddadige reeksmoordenaars. Sy word gevra om Ralph sielkundig te evalueer en vind uit dat Ralph as kind geskend is deur ernstige fisiese en emosionele mishandeling.

ʼn Vierde karakter, dié van ʼn geheimsinnige bewakerfiguur, is ook teenwoordig en stel ongemaklike vrae:  Wie moet die skuld vir gewelddadige, kriminele gedrag van hierdie aard kry? Is dit moontlik in ons samelewing, waar daar toenemende vlakke van mishandeling en kindermoord voorkom, om ʼn persoon soos Ralph te vergewe? Word ons nie almal tot ʼn sekere mate aanspreeklik as ons nie ons kinders se veiligheid en liefdevolle opvoeding kan verseker nie?

In 2004 het ’n resensent Frozen in Talkin’ Broadway bestempel as "[’n] kragtige drama oor drie mense wat die menslike toestand deurly – ’n storie wat aanhou vertel moet word.” Teatermakers en -liefhebbers wêreldwyd stem saam. Die stuk is verlede jaar weer in Londen en verskeie ander stede op die planke gebring en ’n nuwe Suid-Afrikaanse produksie word in Mei deur senior studente van die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement onder regie van Sukki Hofmeyr aangebied.

Dié produksie speel in die Lab Studio van die Adam Small-teaterkompleks (voorheen die HB Thom-teater) van 3-4, 6-7 en 9-11 Mei 2019 om 20:00. Kaartjies kan aanlyn by Quicket of by die deur gekoop word teen R70 vir die publiek en R60 vir studente. Let asseblief daarop dat sitplek beperk is en die drama ʼn ouderdomsbeperking van 14  het. Kontak Mareli Pretorius vir enige verdere navrae: mareli@sun.ac.za.

Kyk die lokprent:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top