Kattekwaad

  • 0

Iets ruk haar uit haar slaap. ’n Geluid, amper soos ’n deur wat toegeklap word. Meteens is sy wawyd wakker.

Sy frons. Het sy die voordeur gesluit voor sy in die bed geklim het? Sy kan nie onthou nie. Wat is dit met haar? Hoekom is sy deesdae so vergeetagtig? Sy is mos nog nie so oud nie.

Sy sug. Haar middagslapie is bederf en sy kan netsowel opstaan en met aandete begin. Hoe lank het sy geslaap? Sy lig haar voete van die bed af.

Dan tref dit haar. Haar katte. Waar is haar katte? Hulle het rustig op die mat voor haar bed gelê toe sy kom inkruip het. Al sewe van hulle. Nou is hulle net weg. Skoonveld, soos mis voor die oggendson.

Sy spring op en gaan benoud voor die venster staan. Haar oë dwaal van die een hoek na die ander. Toe sy niks gewaar nie raak sy byna van haar kop af. Tevergeefs keer sy die huis en die werf om. Daar is geen teken van haar troeteldiere nie.

Wat kon van hulle geword het?

Sy drafstap van huis tot huis om te verneem of enigiemand haar katte gesien het. Almal haal hul skouers op. "Jammer, Liezbet, ons weet nie waar jou katte is nie."

Terug by haar eie woning gaan sy uitasem by die tafel sit. Die enigste logiese verduideliking is dat iemand ongesiens by haar woning ingesluip en die katte met die een of ander verdowingsmiddel ingespuit het.

Dit moes iemand gewees het wat weet sy knip elke middag ’n uiltjie. Maar wie sou so wreed wees?

Sy is nie juis bevriend met Damsonderwal se inwoners nie – veral nie met die norse ou Frieda van langsaan nie. Daar is nou vir jou ’n vrou wat met álles en álmal fout vind.

Sy kla oor die geringste dingetjie. Volgens Frieda loop die katte laat in die nag op haar dak en jaag haar gereeld die skrik op die lyf.

Dis die grootste klomp snert! Die katte het maniere en slaap elke aand in hul eie bed.

Die mense dink seker sy wat Liezbet is, weet nie hoe hulle agter haar rug skinder nie. Wat het dit met hulle te doen as sy op 57-jarige leeftyd ongetroud en sonder kinders is?

Sy soek nie ’n man nie. Haar vertroue in die liefde het jare gelede al ’n knou weg. En haar katte is haar kinders, want hulle is meer as net troeteldiere. Sy behandel hulle soos vlees en bloed. Sonder haar katte is sy verlore.

Sy roep die polisie se hulp in, maar hul poging lewer nie veel op nie. Aan hul lyftaal kan afgelei word dat hulle nie hierdie klag as ernstig beskou nie.

"Ons sal ons bes probeer om jou katte op te spoor," belowe ’n konstabel. "En ons sal jou laat weet hoe die ondersoek vorder."

’n Dag of wat later is daar gerugte dat ’n buurman die katte agterop sy bakkie gelaai het toe hy die lang pad Durban toe aangedurf het.

Niemand kan egter bevestig of dit wel die waarheid is of sommer net ’n storie wat uit die duim gesuig is nie.

Ná daardie Woensdag is Liezbet ’n ander mens.

Haar gesondheid gaan agteruit. Van vroegdag tot laatnag sit en treur sy voor haar kamervenster.

Diep in haar binneste glo sy haar katte lewe en dat hulle eendag op ’n reëndag huis toe sal kom.

Stadig maar seker begin die verlange soos ’n ongeneeslike siekte aan haar binneste knaag.

Liezbet sterf een nag in haar slaap sonder dat sy weet wat van haar katte geword het. Die verlange het sy tol geëis. Sy was liewer vir hulle as wat enigeen ooit sal besef.

Nagte lank het sy wakker gelê en wonder of hulle darem genoeg kos en water het en of hulle haar ook mis soos sy vir hulle.

Net ’n handjievol mense woon haar begrafnis by.

Niemand het geweet waar om haar naasbestaandes op te spoor nie. Sy was mos maar al die tyd ’n eenkantmens wat nie veel met die ander gemeng het nie.

Om die waarheid te sê, die inwoners van die plattelandse dorpie waar sy op ’n dag aangekom het, het niks van haar geweet nie.

Ná Liezbet se dood staan die huis ’n geruime tyd leeg.

Voornemende kopers kom kyk na die plek, maar niemand stel werklik belang nie. Niemand, behalwe Donald Cloete, ’n afgetrede skoolhoof.

Hy is ’n wewenaar wat op ’n dag die stadslewe verruil het om ’n boek op die platteland te kom skryf. Hy het so baie idees en weet nog nie presies waaroor sy boek sal handel nie.

Toe hy Liezbet se huis die eerste keer sien, weet hy sommer dit is net die regte plek vir hom.

Donald het van jongs af ’n swakheid vir vroue gehad. Hy was lief om die kat in die donker te knyp.

Gevolglik het nie net sy eerste huwelik nie, maar ook die tweede, derde en vierde in die skeihof geëindig.

Aanvanklik steur hy hom nie veel aan die storie van Liezbet nie, maar namate almal oor haar begin praat, prikkel dit sy belangstelling.

Toe besluit hy sy moet die hoofkarakter in sy boek wees.

Hy sal graag agter die kap van die byl wil kom en die raaisel rondom die katte wil oplos. Hy begin dadelik navorsing doen. By die polisiestasie, die biblioteek, die pastorie, oral waar hy inligting oor haar kan versamel.

Laat een aand – terwyl Donald in sy studeerkamer aan sy boek sit en werk – is daar ’n klop aan sy deur.

Hy staan onmiddellik op om te gaan kyk wie dit kan wees.

In die verbygaan skakel hy solank die ketel aan, ingeval dit iemand is wat kom skuiling soek teen die koue.

Só ’n persoon sal hy nooit kan wegwys nie.

Hy maak die voordeur oop, gereed om sy besoeker welkom te heet. In die flou buitelig kyk hy onseker rond.

Hoe is dit dan dat hier meteens niemand op die stoep is nie?

Dit kan onmoontlik sy verbeelding wees. Hy is doodseker hy het ’n oomblik gelede iemand hoor klop. Hy frons, skud sy kop en loop weer die huis in. Seker maar die ouderdom wat hom geluide laat hoor.

Daardie nag is daar ’n storm soos selde tevore. Donald lê in sy bed en luister na die weer. Hy raak onder die gekerm van die wind aan die slaap.

Die volgende oggend is die reën weg. Die wind is stil en die lug ruik skoon.

Donald is vroeg uit die vere. Hy gaan staan in die voordeur en rek hom uit.

Hy loop na buite en kyk of die storm enige skade aangerig het.

Nuuskierig loer hy oor ou Frieda se heining. Die gordyne is nog toe, so hy neem aan die ou suurknol slaap nog. Iets tref sy oog.

Treetjie vir treetjie beweeg hy nader om beter te kan sien.

Hy steek vas. ’n Knop vorm in sy keel. Kan dit wees? Is ou Frieda al die tyd die skuldige? Het sy die katte van kant gemaak en sommer in haar agterplaas begrawe?

Natuurlik. Watter ander verduideliking is daar? Die vorige nag se storm het haar geheim verklap. Die katte se beendere lê die hele wêreld vol.

Lees ook

Die koevert op die tafel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top