Die koevert op die tafel

  • 0

Ek parkeer my Corolla in die oprit en klim uit. Oor die wind wat soos ’n besetene te kere gaan, bekommer ek my nie. Hier by ons in die Kaap bly die weer maar onvoorspelbaar. Dis moeilik om te glo dis somer. Dit voel soos ’n tipiese wintersaand. Die reën van vroeër het darem bedaar.

Die voordeur is nie gesluit nie. Ek stap in, trek my jas uit en hang dit oor ’n stoel.

Met ’n glimlag in my hart sak ek op die rusbank neer. Ek gooi my kop agteroor en sug verlig. Wanneer laas het ’n deurbraak so naby gevoel?

Ek het laatmiddag inligting oor die bankrowers se skuilplek ontvang. Dadelik het ek my plan in werking gestel. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ek hulle vastrek. Ek wil toeslaan wanneer hulle dit die minste verwag.

Weke al is ek warm op die sondaars se spoor, maar elke keer bevind ek my in ’n doodloopstraat. Dit is nou nie meer lank nie. Daarvan is ek oortuig.

Ek steek my hand in my hempsak en haal ’n sigaret uit. Aan die waarskuwing op die pakkie – dat rook my longe kan beskadig – het ek my nog nooit gesteur nie. Ek rook al sedert my dertiende jaar en daar is niks met my gesondheid verkeerd nie. En ek's al in my veertigs.

My dogter sit skuins oorkant my.Vandag is haar sewentiende verjaarsdag. Volgende jaar is sy in matriek. Ek hoop nie ek kry weer raas omdat ek in die huis rook nie.

Ek krap in my broeksak en haal ’n koevert uit.

"Ek het dié vir jou gebring," sê ek sonder om na haar te kyk. "Ek het nie by die winkels uitgekom nie. Jy moet maar self vir jou iets koop waarvan jy hou."

Ek staan op en sit die koevert op die kombuistafel neer. Sy reageer nie, haar aandag by iets op haar slimfoon.

"Die tyd het gou gestap, nè? Ek kan amper nie glo jy is ’n jaar ouer nie." Steeds geen reaksie nie. Ek loop tot voor my drankkabinet en skink ’n dubbele whiskey. Dit help gewoonlik teen die moegheid en die koue.

"Ek wil na Ouma toe gaan," sê sy. "Ek weet Ouma het vir my ’n geskenk gekoop. Wanneer kan ons ry?"

Ek kyk op my horlosie. Dis 19:45. "Genade, ek het nie besef dis al so laat nie. Wag, nog net een glasie."

"Maar Pappa weet mos Pappa mag nie bestuur as Pappa gedrink het nie. Dis teen die wet."

"Niks om jou oor te bekommer nie, my hartjie. Pappa bestuur al jare lank."

"Pappa moet onthou dis mistig buite. Mens kan nie kanse vat nie."

Terwyl ek in die motor klim, is my gedagtes by Megan. Vandat sy weg is, is niks meer dieselfde nie. Ek probeer my bes, maar dis moeilik om die rol van ma én pa te vertolk. Ek voel ek skeep my dogter af en bring nie genoeg tyd saam met haar deur nie. Ek troos my in die wete dat Megan nou beter daaraan toe is. Ten minste hoef sy nie meer te ly nie. Die kanker het haar lewe ondraaglik gemaak  . . .

Ek kry die motor aan die gang en ons val in die pad. My dogter se veiligheidsgordel is aan, myne nie. ’n Liedjie oor die radio herinner my aan vriende uit my hoërskooldae.

Ons nader ’n rooi verkeerslig. Ek weet ek is veronderstel om stil te hou. Maar die pad is stil en ek sien nie kans om na die gesanik van die kind se ouma te gaan luister nie. Daai is nou vir jou ’n onredelike mens. Sy vind fout met alles. Ek moes al hoeveel keer hoor Megan kon baie beter doen as om met ’n polisieman te trou. Ek hou niks van haar nie. Boonop kan ek nie vanaand te laat in die bed kom nie. Ek moet môre die media te woord staan. Hulle soek antwoorde, wil weet hoe my ondersoek vorder na die verdwyning van Brent en Anna Swanepoel. Ek het geen idee wat van die egpaar geword het nie. Waarskynlik ontvoer vir ’n losprys. Skatryk mense se boeke bly maar duister.

Waar die minibustaxi so skielik vandaan kom, weet ek nie. Ek trap haastig rem, maar dis te laat. Ek hoor net bande wat skree en glas wat breek. En angswekkende gille. Voor alles donker word, hoor ek iewers ’n ambulans.

Ek skrik in ’n vertrek met wit mure wakker. Onseker kyk ek om my rond. Ek weet nie mooi waar ek is of hoe ek hier beland het nie. My kop voel asof dit wil bars. ’n Jong vrou in ’n wit uniform kom nader gestap.

"Kan u onthou wat gebeur het?" vra sy. Ek probeer dink, maar dit voel of my brein gevries is."Dokter sê u het ’n harde stamp teen die kop weg en  . . ."

"Ek onthou niks, absoluut niks. Om die waarheid te sê, ek weet nie eens wat my naam is nie." Met groot oë draai die vrou om en loop by die vertrek uit.

Ek kry baie besoekers. Almal van hulle is vreemdelinge. Ek ken hulle van g’n kant af nie. Almal is so vriendelik en simpatiek. Hulle noem my Cliffie en sê hulle is vreeslik jammer oor Bianca. Wie is Bianca? Is ek veronderstel om haar te ken? Wat steek hulle vir my weg?

Dit neem weke voor ek stadig, maar seker begin onthou. Toe ek uiteindelik besef wat gebeur het, wens ek my geheueverlies was permanent. Dit sou beter gewees het om nie te weet nie. Watter soort pa is ek? Ek kon nie eens my eie kind se begrafnis bywoon nie. Sal ek ooit met my gewete kan saamleef?

Ek herstel volkome, sit my huis in die mark en gaan bly in ’n eenmanswoonstel aan die ander kant van die dorp. Kort ná my intrek word ek aangekla van roekelose bestuur en strafbare manslag. Die hof bevind my skuldig en plaas my onder huisarres.

Die stilte dryf my teen die mure uit. Alles raak te veel. Ek kan dit nie meer hanteer nie. Ek begin wonder of dit nie beter sal wees om ’n klomp slaappille te sluk om van alles weg te kom nie. Ek het in elk geval niks om voor te leef nie.

Vier jaar na die tragedie gaan maak ek ’n draai by die huis waar ek, my vrou en kind eens ’n gelukkige gesin was. My kop voel of iemand met ’n hamer daarteen gekap het. Oral in die huis hoor ek die stemme van my vrou en dogter. Ek hoor hoe Megan skel oor ek so baie laat werk. Ek sien haar met ’n lepel in die hand staan terwyl sy tussen die kombuiskaste en die pot op die stoof beweeg. Ek sien my kind met haar pop in die hand. Sy kom na my toe aangehardloop. Dan ry sy weer op haar driewiel om en om in die voorhuis terwyl haar ma op haar skreeu om buite te gaan speel.

Wat het van die tyd geword? Die een oomblik speel ’n meisiekind met poppe en die volgende oomblik is sy verslaaf aan haar selfoon. Ek wens ek kan die horlosie terugwen.

Ek dink terug aan die aand toe Bianca sewentien geword het. Daar was nie in die loop van die dag tyd om ’n geskenk vir haar te koop nie. Die werk van ’n speurder hou mos nooit op nie. Sodra die een saak opgelos is, steek ’n ander een weer kop uit.

Die tyd het gevlieg. Bianca sou vandag mondig geword het. Die TE KOOP-bordjie buite hang al skeef. Dit lyk nie asof enigiemand belangstel om die plek te koop nie.

Ek stoot die deure oop en loop van die een vertrek na die ander. Die huis ruik muf en stowwerig. Oral is daar spinnerakke. My keel is droog. Ek pluk die kaste oop. Iewers moet nog ’n bottel whiskey wees. Dan bedink ek myself. Ek wil nie dieselfde fout begaan nie.

Met ’n pyn in my bors gaan sit ek op dieselfde rusbank van daardie aand. Ek draai my kop en staar na die verwaarloosde portrette teen die muur. ’n Traan rol oor my wang. Ek het my dogter se glimlag gesteel. Sy kon nog geleef het. Ek wil nie eers dink hoe pragtig sy vanaand sou lyk nie, miskien met ’n spesiale vriend aan haar sy. Ek sou ’n trotse pa gewees het.

Ek sal volgende jaar weer kom inloer. So ook die jaar daarna. Ek sal nooit ophou hoop dat ek haar iewers in die huis sal raakloop nie. My siel sukkel om tot rus te kom.

Nie eens in selfdood kon ek berusting vind nie. My gemoed is pikdonker. As ek vir Bianca net een laaste keer kan sien. Ek wil so graag die koevert in haar hande gee – die bruin koevert met die banknote daarin wat steeds onaangeraak daar op die kombuistafel lê .

Ook deur Christo Meyer

sorry my broe

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top