Karin Brynard (1957–)

  • 1

Gebore en getoë

Karin Brynard is op 26 Oktober 1957 op Koffiefontein in die Vrystaat gebore. Haar pa was op daardie stadium plaasbestuurder op die plaas Botterhoek in die Jacobsdal-distrik. Koffiefontein se hospitaal was die naaste aan die plaas.

Sy is die derde dogter – en moes eintlik die seun gewees het na wie die hele Brynard-familie reikhalsend verlang het. Haar pa het die familienaam gedra en daar moes ’n opvolger kom. “So my geboorte was aanvanklik ietwat van ’n familie-demper, maar die saak is darem netjies reggestel toe my broer twee en ’n half jaar later die lig gesien het,” vertel Karin aan LitNet.

Karin vertel in ’n onderhoud met Ruda Landman dat sy nog jonk was toe sy al tot die besef gekom het dat dinge vir mans net makliker gebeur as vir vroue. "So ek het van jongs af probeer om hulle oopgeskop te kry, voor iemand nog dink om hulle toe te maak."

Karin het in antwoord op vrae deur LitNet meer oor haar familie vertel: "My pa was een van sewe kinders wat arm grootgeword het in die Hantam-distrik van Calvinia, op die plaas Renosterhoek. Hy moes vroeg-vroeg skool verlaat om op die plaas te gaan werk. Sy een broer, Danie, was van kleins af die oppasser en my pa is sedert sy babadae op oom Danie se rug vir dae aaneen veld toe om bokke vir weiding weg te neem. Hy was dus deur en deur ’n veldmens – en het die liefde oorgedra.

"My ma, Catherina (Kitty), was een van twaalf kinders wat in die omgewing van Carolina en Middelburg in die destydse Transvaal gebore is. Die plaas waarop haar oupa geboer het, is aan hom 'geskenk' deur die destydse regering omdat hy twaalf kinders gehad het. Maar hy het vinnig 'uitgeboer' omdat hy geen ervaring of geld gehad het om ’n suksesvolle boerdery aan die gang te sit nie. My ma vertel van haar kinderjare van ontsettende armoede op die plaas, maar ook kommerlose tye van speel in die veld en van ossewa-trekke twee maal per jaar na Carolina vir nagmaal.”

Nadat Karin se ma en pa in 1948 getroud is, het haar pa sy matriek deur die pos voltooi en sy BCom op dieselfde manier verwerf. Hy het destyds as boekhouer by landboukoöperasies gewerk – eers op Calvinia en later as bestuurder op Britstown in die Karoo, waar Karin haar skoolloopbaan begin het en tot standerd 1 op skool was.

In 1969 is haar pa as bestuurder op Postmasburg in die Noord-Kaap aangestel, waar hy hard gewerk het en verskeie takke op naburige dorpe gestig het. Hy het ook geesdriftig gewerk om ’n nuwe hoërskool gebou te kry. Die skoolsaal dra vandag nog sy naam. In 1972, op 46-jarige ouderdom, is hy skielik aan ’n hartaanval oorlede.

Karin was toe maar 15 jaar oud en sy vertel aan Phyllis Green (Sarie, 30 November 2012) dat haar lewe skielik gatoorkop geslaan het. "Dit was een dag nog lekker en die volgende dag is alles onderstebo, want my pa is nie meer daar nie."

“As ek nou op die dorp kom, gaan kyk ek of die skoolsaal nog sy naam dra. Ek neem ook ’n foto van myself voor die saal. (Jy sien? Niks gewoond nie!) En dan gaan vertel ek vir Pa in die begraafplaas oorkant die pad dat hy nog onthou word deur kinders wat niks van hom weet nie. En daarna gaan kuier ek vir Jimmy van der Linde van Van der Linde Motors. Hy was my eerste liefde en ek sien vandag nog waarom: hy het ’n hart van goud. Hy en sy vrou, Tienkels. Hulle laat jou nie weggaan sonder ’n skaapboud in ’n Coleman-sakkie in jou kar se diekieboet nie. En laaste het Jimmy 80 km heen en weer gery met die slegste denkbare grondpad om vir ons kar nuwe bande te kom gee na ’n paar pap wiele.”

Karin vertel dat hulle as gesin dit nie baie breed gehad het nie, want haar twee ouer susters is van vroeg af weggestuur na groot skole in die Kaap – “ten einde vir hulle die beste moontlike onderwys te besorg (my pa het kliphard geglo in ’n kind se reg op onderwys, nè). So van seevakansies en sulke soort luukshede was daar min sprake. Maar een lekker luukse wat ons gehad het, was om soms, Sondagmiddae na slaaptyd, uit te ry met die Bermolli-pad in die rigting van Witsand en in die heuwels van die Langeberg te gaan rondwandel en na die veld en sy goggas en goeters te kyk en die fabelagtige sonsondergang dop te hou. My arme twee oudste susters het op hierdie kosbare ervarings uitgemis.”

Karin was ’n eenkantkind wat op haar eie aangewese was en soms eensaam – tipiese middelkindsindroom, soos sy dit self beskryf. Volgens haar familie was sy ook baie stil en dromerig en het ’n voorliefde gehad om te verdwyn sodat almal dan op soek na haar gegaan het.

Sy was van jongs af gefassineer met die Griekwas en die San. Een van die buurdorpe, Griekwastad, het nog die laaste afstammelinge van die Griekwa-kapteins gehuisves. Sy het altyd gewonder hoe hulle lyk en of hulle stawwe en krone sou dra. “Min het ek geweet hoe armoedig en nederig hulle in werklikheid gelewe het. En as jy in die lang savannagras van die Kalahari staan, is dit nie moeilik om jou in te dink dat hierdie omgewing vir millennia die tuiste was van die San nie. Ek het grootgeword op die Duine-verhale van Jan J van der Post, verhale oor Agarob en Gaub en Kwai, die mense van die duine. My ouma het vir ons van die boeke gekoop en my ma het dit getrou aan ons voorgelees, en so het my fassinasie begin.”

Haar eerste “publieke” skryfsel was ’n toneelstuk wat sy aan die einde van haar standerd 1-jaar geskryf het en wat sy saam met die klas opgevoer het. Daarna het sy dikwels toneelstukke geskryf wat deur die klas opgevoer is. “Ek was nie besonder begaafd in enigiets nie, het goed genoeg presteer op laerskool en soms dit selfs reggekry om ‘eerste te staan’, maar oor die algemeen was ek so rondom gemiddeld. Ek was ietwat oorgewig en dus nooit goed in enige sport nie, maar was ’n geesdriftige ondersteuner.”

Op hoërskool het sy ook ontdek hoe lekker toneelspeel is en het een of twee keer tydens debatsaande “konsert” gehou – dinge gedoen soos die onderwysers nageaap en ander stommighede.

Karin het ’n gewone streng Afrikaneropvoeding gehad – alles wat nie eie was nie, was gevaarlik en moes soos die pes vermy word. “Dit het gegeld vir die Roomse Gevaar, die Swart Gevaar en die Rooi Gevaar. Selfs die arme Doppers op die dorp is met ’n bietjie wantroue aangesien – ofskoon my beste maat ’n Dopper was. My eerste hande-vashou-boyfriend was ’n Engelsman – en dus die huis verbied! Ons mog nie dans nie, nie na popmusiek luister nie, nie langbroeke dra nie.”

Karin se ma is die leser in die huis en die kinders is met Bybelstories grootgemaak. “Ons was mal oor veral sommige van die aksiebelaaide stories, ek en my boetie.” Hulle was ook van jongs af lede van die biblioteek – eers Britstown en later Postmasburg.

Haar pa het ook gelees, maar hoofsaaklik as hy met vakansie was. “Egte manne-boeke: Louis l’Amour wat oor cowboys geskryf het. My ma was ’n liefdesverhaalleser. Na my pa se dood – ek was 15 en in standerd sewe – het ek en my ma omtrent op ’n lees-orgie gegaan om deur die moeilik routyd te kom. Ons het elke Vrydagmiddag die dorpsbib omtrent leeggestroop vir naweekleesstof. Ons het ook baie tyd in die veld deurgebring – ons huis was destyds op die rand van die dorp en die begraafplaas sommer net daar naby. Snags as ons nie kon slaap nie, het ons opgestaan en in die veld gaan sit en wag vir sonsopkoms, ek en my ma.”

Om te skryf, was nooit Karin se passie nie, hoewel sy maar altyd aan die skryf was. Op laerskool het sy gesien dat haar ouer susters dagboeke hou waarin hulle aandenkings plak van byvoorbeeld ’n koeldrankstrooitjie wat die een of ander seun tydens ’n fliekuitstappie vir hulle sou gekoop het. Sy het natuurlik ook vreeslik dagboek begin hou – en doen dit nog steeds. Maar haar vroeë belangstelling in skryf was meer op dramas gerig. Sy het op hoërskool al die werk van Athol Fugard ontdek en ook ander dramaturge – mense soos Langenhoven, byvoorbeeld.

Karin matrikuleer in 1975 op Postmasburg en daarna trek hulle Pretoria toe, waar die meeste van haar ma se familielede woon en sodat Karin kon studeer.

Verdere studie en werk

Karin wou baie graag drama gaan studeer, maar sy kon nie ’n studiebeurs kry nie en het dus "die BA-ding gedoen". Sy het by ’n koerant beland ná sy uiteindelik, soos sy dit stel, ’n graad “gegee” is – “… tot vandag toe is ek seker hulle wou van futlose studente soos ek ontslae raak!” Sy het op universiteit wild gerebelleer na haar streng grootwordjare en het net met kunsstudente uitgehang, baie gerook en gedrink en gesorg dat sy soos ’n Krismisfeetjie lyk wat kleredrag betref

Oor haar werk as joernalis vertel Karin: “Toe ek teen einde 1980 by ’n koerantkantoor instap, het ek geweet dit is waarvoor ek gewag het. Die joernalistiek het my soos ’n handskoen gepas: elke dag ’n nuwe ding, jou nuuskierigheid en adrenalienbejagdheid en jou lees- en weetgierigheid word elke dag opnuut bevredig. Jy leer die samelewing van al sy kante ken en is nooit verveeld nie. En as jy sukkel met ’n aandaggebreksindroom, is dit ideaal. Jy skryf ’n ding los en nes hy jou begin verveel, is daar ’n nuwe ding. Dis wat ek vir dertig jaar gedoen het. En as ek nie vir publikasie geskryf het nie, het ek vir myself geskryf. Dagboeke vol van die allerverveligste tormentasies wat jy jou kan indink.” Sy skryf dat haar kop oopgebars het en dat sy soos ’n honger hond politiek geëet, gedrink en geslaap het.

“Ons het in die jare tagtig alles gedoen – van kerksake (NG, natuurlik) tot struggle-politiek. En ek het baie klappe op die bek gekry van hulle (die ander joernaliste) as ek stompsinnig saam met die hoofstroom wou swem. Ons het baie debatte en gevegte gehad oor die feit dat ons vir die konserwatiewe, Afrikaanse koerante gewerk het. Almal wou destyds vir Rand Daily Mail skryf (voorloper van Mail & Guardian), maar ons het gedink ons bly in die Afrikaanse omgewing en breek die grense van binne af. Agterna het ek en Anne-Marie Mischke dikwels gesê ons wonder of ons reg was.”

As deel van die politieke redaksie moes Karin en die ander joernaliste altyd die dekking van politieke vergaderings deel en aangesien sy die jongste en die groenste was, het sy altyd die AWB-vergadering-lootjie getrek. Sy het naderhand al Eugène Terre'blanche se toesprake uit haar kop geken. En so ook dié van Jaap Marais, die leier van die destydse Herstigte Nasionale Party, en dié van Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party destyds. “Ek en die manne van Beeld, oor ons in Afrikaans so hatig op die regses was, was in die besonder onwelkom op hulle vergaderings. Veral die AWB-manne – jong, verlore Afrikaner-boerseuns wat tog net aan iets wou behoort waar hulle gereken en veilig en reg kon voel – was altyd gereed vir aksie by so ’n vergadering. Eenkeer is ons klomp persmanne van die verhoog af aangesê om op te staan as ‘Die Leier’ die saal binnekom onder begeleiding van die sing van ‘Die Stem’. Ek het halsstarrig bly sit en toe ek weer sien, toe word ek met notaboek en al aan die kraag opgetel en by die ou Pretoriase stadsaal se deur uitgeskop. En ek is vandag nog seker, as my borshare sigbaar was, was ek daai aand dik gedonner.

“Die hele wêreld was destyds bang vir die AWB en die Groot Regse Wit Opstand. Maar ek en my kollegas het die ouens geken, geweet hoe lief hulle vir die brannas was, hoe ou Eugène se ydelheid hom tot haarsproei op sy ‘comb-over’ mislei het. Ons was nie regtig bang nie. Dit was vir die stil ouens onder hulle wat ons bang was.”

Sy het aanvanklik by Oggendblad in Pretoria gewerk voordat sy onder Harald Pakendorf by Rapport beland het, vertel Karin aan Ruda Landman. Karin het baie daarvan gehou om Pakendorf as baas te hê, want hy het die harde werk vir vroue gegee omdat hulle, na sy mening, geweet het hoe om te werk.

Sy vertel verder aan Landman: "Dit was nog die ou styl van joernalistiek gewees. Jy weet, dit was nog die dae wat joernaliste baie gedrink het en ons eie soort van ’n kroeg gehad en jy was in daai kroeg gewees en jy’t saam met die manne gedrink en ek kon ’n hele paar van hulle flou drink. So ja, dit was ’n totale ander era gewees. Dit was … deesdae is die joernalistiek anders. Ek dink dit het beter geword op ’n manier, maar die ou dae was meer fun."

En toe het die drinkery saam met die manne uiteindelik vir Karin ingehaal. "Dit het my baie groot gevang. Dit het, ek dink ek was in my laat veertigerjare, dis nou amper presies 15 jaar gelede. Op ’n dag het ek besluit tot hier toe en nie verder nie. Dit is nou, dit het te erg geword.

"Ek het agtergekom my probleem raak meer en meer en ek het gevoel ek is nie in beheer van my lewe nie en dit raak ’n soort van visieuse sirkel. Dit raak so ’n bose sirkel. Want hoe groter die probleem, hoe meer wil jy wyn drink en hoe meer wyn jy drink, hoe meer probleme maak jy vir jouself. En ja, ek het toe net op ’n dag besluit dit is te erg. Ek het binne ’n dag myself by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek en gegaan, en nooit weer teruggekyk nie."

Sy verduidelik aan Landman hoe die tyd in die sentrum haar beïnvloed het: "Ek dink dis seker een van die moeilikste dinge wat ek in my lewe gedoen het. Dit was baie, baie moeilik. Dit was baie rof. Dis nou presies, môre is my verjaarsdag, 15 jaar gelede, so ja. Dit was ’n totale skok vir my stelsel gewees . Dit is een van daai dinge, dit klap vir jou van oos na wes. As jy daar uitkom is dit ’n ander mens.

"Emosioneel veral. Dit is ’n verskriklike harde leerskool want ewe skielik word die Vaseline van die lens afgehaal, jy sien die realiteit soos wat hy is. Jy word gekonfronteer met jouself, en die gedeeltes van jouself wat jy eintlik nie wou raaksien nie. Die spieël word nogal vir jou regop gehou en het dit een van die momente in my lewe geword wat die meeste van my geverg het om te sê druk deur. Druk deur. Een dag. Net hierdie dag. Volgende dag, net hierdie dag. ...

"Dit was die beste ding wat ek in my lewe gedoen het. In die opsig dat dit maak jou groot. Ewe skielik is dit nie meer ’n verskoning om te sê van ek het te veel skuld, of my baas hou nie van my nie, want ’n mens jy weet jy maak vir jouself, vind jy redes om ’n glasie wyn in te skink. Jy word groot. Jy word volwasse want jy word gedwing om verantwoordelikheid te neem vir jou lewe en om die realiteit te lewe."

Sy vertel ook aan Hanlie Retief (Rapport, 16 Desember 2009) van hierdie tyd in haar lewe: "Maar dit was onverdunde hel. Om te hoor ek het kanker was vir my minder van ’n skok. Jy groet jou héél beste vriend – drank. Besef: Jy en ’n ou bergie op ’n parkbank, ’n tikkop uit Manenberg, ’n heroïenslaaf – dieselfde. Diesélle. En toe’s alkoholisme die grootste geskenk van my lewe. Ek wat altyd te bang was mense vind uit ek’s maar net ou Karin Brynard, dik, dom en difficult, met te veel sproete en te min verstand om Afrikaans III deur te kom, het geleer die grootste uitdaging op die aardbol is om jouself lief te kry.”

Karin was een van die politieke joernaliste rondom 1994 met Suid-Afrika se oorgang na ’n demokrasie. Vir haar was dit veral die aanloop tot 1994 wat so wonderlik was, vertel sy aan Ruda Landman. "Om van 1990 om die tafels daarmee te sit, met Kodesa en al daai onderhandelings in Kemptonpark, partykeer tot diep in die nag te sit en wag vir die Roelf en Cheryl show om te sê ons is deur hierdie hekkie. Ons het dit geknak, ons is hierdeur. En dan trek hierdie party uit en dan daai party. Die geboorte van – ek dink nie die gemiddelde mens weet hoe ’n moeilike geboorte-proses ons demokrasie was nie, baklei en trane en sweet en … Jy weet dis vier jaar van onderhandelings van mense wat oor geslagte lank vyande met mekaar was, wat mekaar doodgemaak het, wat om ’n tafel kom sit en ons vergeet van hoe absoluut ’n ongelooflike moment dit was.

"En ek sal nooit die moment vergeet soos byvoorbeeld, toe die nuwe vlag die eerste keer..., ek sal dit nooit vergeet, Vrydagmiddag in Pretoria, dis so warm jy wil doodgaan. En die hele internasionale media sit êrens in ’n kantoor van die Departement van Konstitusionele, jy weet, die lang name destyds en ons wag, wag, wag, en daar stap die twee manne in met die vlag, en hulle maak die vlag oop – jy kan nie, daar was nie ’n droë oog in daai vertrek nie! Dis soos hierdie nuwe skoenlapper wat oopvou. Ja. En die eerste dag toe Mandela in die Parliament inkom. Ek en my baas van destyds, Annemarie Mischke, ons het openlik gehuil.

"En ons besef nie hoe bevoorreg ons is nie. Besef nie eintlik waaruit ons kom nie. Ek dink nie aldag het ons meer ’n goeie begrip van waar ons kom nie – daar’s te veel van ons wat in ’n soort van verontwaardigde woede rondloop eintlik en dis nie goed vir ons nie."

Tydens haar jare as joernalis het sy op baie vreemde en ongewone plekke met bekendes onderhoude gevoer. Sy vertel aan LitNet: “(Met) Pik Botha, destydse Minister van Buitelandse Sake in die De Klerk-era, in die bad in sy hotelkamer op die eiland Mauritius. Laat ek dadelik verduidelik: dit was ’n oorstop-plek vir ’n hele pers- en amptenare-entourage van De Klerk destyds – deel van ’n wêreldtoer om aan die buiteland te verduidelik hoekom hulle nou weer in Suid-Afrika kan belê na die begin van die onderhandelings met die ANC. En dit was ’n Saterdagaand en ek was op spertyd vir Rapport en het vrae gehad. Botha se destydse woordvoerder, Awie Marais, bel my toe in my hotelkamer en vra of ek sal omgee om die minister te sien terwyl hy bad – dis die enigste tyd wat hy het voor ’n groot staatsbanket die aand. Ek en ’n Reutersfotograaf is toe daarheen en Pik was die volgende oggend in sy skuimbad op Rapport se voorblad.

“Nog ’n interessante avontuur was in 1985. Winnie Mandela het pas haar verbanning na die Vrystaatse dorpie Brandfort verbreek en Johannesburg toe gekom om na haar en Nelson Mandela se huisie in Orlando-Wes (Soweto) terug te trek. Ek was by die destydse Die Vaderland en Harald Pakendorf my redakteur. En hy wou ’n onderhoud met Winnie hê. Nouja, mense soos sy het destyds nie met die Afrikaanse pers gepraat nie, nè? So ek het haar foonnommer in die hande gekry, maar sy het my geïgnoreer. Toe ry ek na haar huis toe en kamp omtrent op die sypaadjie voor haar huis uit en sê vir die een of ander persoonlike assistent van haar oor die vibracrete-tuinmuur heen, ek loop nie. Nie tot ek met haar gepraat het nie. Na drie dae het sy my en die fotograaf ingenooi. En sy het sielvol met my gepraat oor hoe die Afrikanervroue en die swart vroue van hierdie land moet hande vat. En twee dae later het sy haar ‘matches and necklace’-toespraak by ’n saamtrek aan die Wes-Rand gehou.”

Karin beskou haarself as baie gelukkig, want sy het goeie mentors in die joernalistiek gehad – Harald Pakendorf en Anne-Marie Mischke, haar politieke redakteur by Rapport. Later het sy haar as vryskutjoernalis meer op meer diepgaande stories toegelê. “Een lekker storie was om vas te stel wat die eintlike groot geheim is wat die Vrymesselaars al die jare bewaar – à la Dan Brown – vir die ontslape tydskrif Insig. Ek het twee maande aan die navorsing gewerk – en dit was wonderlik. My kos, uit en uit. Omdat dit ’n mengsel van geskiedenis, mite, politiek en godsdiens was wat ondersoek moes word.”

Vir haar joernalistieke werk is Karin in 1997 met die Premiersprys van die Mondi Paper-tydskriftoekennings bekroon vir haar onderhoud met Pik Botha wat in 1996 in De Kat verskyn het. In 2006 was sy ’n finalis in die artikelkategorie vir haar artikel oor die Vrymesselaars, “Sameswerings, doodskis-rituele, duister geheime”, wat in Insig gepubliseer is.

En toe, in 2009, tref Karin die Afrikaanse literêre toneel met haar spanningsroman Plaasmoord, wat deur Human & Rousseau uitgegee is. Binne enkele maande is die boek in sy derde druk en word onderhoude met Karin in die koerante, tydskrifte, op die internet, oor die radio en televisie gevoer. Sy moet op feeste optree en skielik is sy nie meer ágter die mikrofoon nie, maar vóór dit. Sy word by die Woordfees in 2010 saam met Bettina Wyngaard aangewys as wenner van die debuut-teksskrywer-kategorie. En nie net word Plaasmoord bekroon met die UJ-debuutprys en die M-Net-prys in die filmkategorie nie, maar dit word ook in Engels, Nederlands, Duits en Frans vertaal.

Oor hoe haar joernalistieke skryfwerk oorgegaan het na die skryf van ’n roman, vertel Karin: “Dit was die dag toe ek ’n storie gehad het. En toe ek oor nuwe soort goed nuuskierig geword het en geen publikasie kon vind wat in my skribbelings belang sou stel nie. Want ek wou kyk na goed soos geweld in ons samelewing, na die historiese grondoorlog, wat steeds nie uitgewoed is nie en wat dreig om enige oomblik in ons almal se gesigte te ontplof, wit vrese, die wanpersepsies wat ons oor mekaar in hierdie land het, ensovoorts.”

Sy vertel aan Melt Myburgh op LitNet dat sy gedink het sy sal “eers emmer skop voor ek roman skop, want ek is as joernalis gebore en ontvang. En sal seker onder daardie grafsteentjie gaan lê ook eendag. Was in my dag des lewens nooit van plan om roman te pleeg nie. Maar het ook vir seker geweet: as ek ooit iets in dié rigting sou kwytraak, sou dit ’n naelskoubesigheid wees. Want dis my kos. Bietjie van ’n slet in al my ander smake – soos musiek; luister enige ding – maar as dit by leeswerk kom, loop snuffel ek altyd agter die misdaadfiksie aan.”

Vandat sy begin skryf het aan Plaasmoord tot die publikasie daarvan het sewe jaar geneem. Sy vertel dat sy gedurende hierdie sewe jaar soms die boek vir ’n jaar lank neergesit het, soos in 2005 toe sy ingespring het as assistentredakteur vir Insig. “Tussendeur moes ek met gewone joernalistieke vryskutwerk geld verdien en het ek letterlik net hier en daar tyd gekry om aan die manuskrip te werk. Maar ja, hy is drie keer reg van voor af herskryf. En toe met byna die helfte verkort en herskryf. En nee, ek het nooit gedink ek sal dit regkry om vir so lank op my stert stil te sit en aan een storie te werk nie. (...) Ek was gelukkig dat ek goeie vriende gehad het met die regte mense op die regte tye. En dat ek ’n fantastiese uitgewer gehad het. Eerstens het Deon Meyer my pad gekruis toe ek met hom ’n onderhoud moes doen vir Rapport. Ek het hom gevra om ’n paar hoofstukke van my manuskrip te lees en hy het gelukkig toe die tyd gehad (dit was in 2005 toe ek voltyds by Insig was) om dit te doen. Nommer twee was Hettie Scholtz wat ek as kollega by Insig leer ken het en mee bevriend geraak het. Sy het ook ’n paar hoofstukke gelees en raad van onskatbare waarde gegee. En toe ek siek raak verlede jaar [borskanker], was my uitgewer, dr Etienne Bloemhof, soos ’n ridder op ’n wit perd. Hy het eenvoudig alles by my oorgeneem en gesorg dat my boek op straat kom. Sonder sy goeie insette en leiding en raad was ek nêrens.”

Karin het haar ook vir ’n maand lank op Kleinmond naby Hermanus gaan afsonder en daar kon sy 24 uur per dag en sewe dae per week net aan haar boek wy om dit klaar te maak.
Melt Myburgh maak in sy onderhoud met Karin die stelling dat met die vlaag plaasmoorde waaronder ons samelewing gebuk gaan, die titel van haar roman uiteraard kontroversieel is. Hy wil weet of sy hierdie verskynsel op politieke en maatskaplike vlak in haar boek kontekstualiseer en hanteer. Karin se reaksie: “Jou vraag klink nou vir my te slim, jong. (...) Indien ek jou reg verstaan, is die antwoord ja. Ek was bitter klein toe die kreet van ‘Uhuru’ oor Afrika begin trek het in die vroeë jare sestig. Met benoude kinder-ore het ek gesit en luister as die grootmense gepraat het van die Mau-Mau, die rebellegroep van Kikoejoe-vegters wat, met bloedbesmeerde gesigte en in diervelle geklee, honderde mense – duisende swart landgenote, maar onder andere ook sowat 60 blanke setlaars – in die destydse vryheidstryd in Kenia met pangas afgemaai het.

“En noem dit die tipiese nagmerrie van ’n wit middelklas-antie aan die groen oewers van die Eersterivier op Stellenbosch, maar toe die plaasmoorde begin posvat, het ek outomaties daardie drogbeelde van my kinderjare in herinnering geroep. My gesonde verstand het vir my gesê hierdie is iets anders: dis gewoon misdaad. Maar as ek na regse retoriek geluister het, het ek die eggo van my eie Mau-Mau-nagmerrie gehoor. En ek moes eenvoudig self gaan uitvind, soos ’n regte ou vuiltoon-joernalis wat agter die spreekwoordelike kap van die panga sit.

“En ja, dit is ’n sensitiewe onderwerp. Ek het vir my navorsing baie rondgery en met baie mense gepraat wat die trauma van plaasaanvalle moes verwerk – mense wat geliefdes daaraan afgestaan het, ou mense wat self so ’n aanval oorleef het – asook hul arbeiders wat slagoffers was. En ek was uiters bewus daarvan dat dit kan lyk of ek hulle pyn wil misbruik vir sensasiedoeleindes. Maar op ’n persoonlike vlak was dit ook vir my nodig om my eie wit middelklasnagmerries deur te werk.”

Plaasmoord vertel die verhaal van Bert Beeslaar, die baasspeurder van Johannesburg, wat na ’n Noord-Kaaplandse dorp verplaas word waar hy gedink het hy in vrede gaan bly. Hy word na ’n moordtoneel ontbied; die slagoffers is die jong kunstenaar Freddie Swarts en haar vierjarige aangenome dogter. Albei se kele is afgesny en Freddie se lang, blonde hare is in stomp happe afgeknip voor sy doodgemaak is. Dit gebeur kort na twee skaapwagters ook wreed vermoor is tydens ’n reuse-veediefstalvoorval. Beeslaar en sy twee speursersante, Ghaap en Pyl, moet nou die fort hou, die moordenaars opspoor en die regse boere daarvan weerhou om amok te maak.

Izak de Vries skryf op LitNet dat soos die storie vorder, die leser tot die besef kom dat Beeslaar nie die held is nie, maar ook voete van klei het. “Dit help dus nie dat sy diknekbaas (swart) nie veel daarvan hou dat hierdie (wit) speurder altoos sy eie kop volg nie. Dan is daar die twee (bruin) sersante wat maar swaarkry onder Beeslaar se stugge, soms beestelike manier van doen. Voorts het die polisie heeltemal te min toerusting om werklik hulle plig uit te voer.”

As dit eg Suid-Afrikaans klink – dit is. Maar Karin los haar leser nie met hierdie gevoel van onmag nie. “Inteendeel. Die manier waarop sy al hierdie goed saamtrek tot by die punt waar daardie jeukerige kolletjie gekrap word, laat jou trots voel op onse mense – op die polisie en op ons Afrikaanse skrywers,” sê De Vries. "Karin Brynard het ’n uitstekende roman geskryf oor ’n onderwerp wat baie, baie diep sny in ons Afrikaanse psige. Daar is vele lyke en liters bloed, maar ten spyte van al die bloed kan ek nie anders as om te dink dat hierdie boek ’n positiewe gevoel het nie. Die mengsel van spanning, geskiedenis en aktuele nuuswaardighede maak van Plaasmoord ’n grootse roman."

Ook op LitNet skryf Kerneels Breytenbach: "In Plaasmoord kom daar oortuigende karakterbeelding en treffende sfeerskepping voor en dit is met soveel insig geskryf dat mens voel dit sal ’n streng literêre beoordeling ook kan oorleef. Die eerste ding wat my opgeval het, is die roman se generiese titel. En so, met geen ophef of dramatisering nie, hou Brynard haar grootste leidraad reg voor jou onsiende oë op. Brynard skilder rustig aan ’n geheelbeeld, die beeld van ons samelewing, terwyl ons as lesers onder die indruk was dis net nog ’n speurverhaal. Sy bied ’n verhaal met ’n generiese titel aan. Dan vertel sy ’n verhaal sodat ons die groter konteks kan sien. Die generiese titel is die leser se grootste leidraad in dié ondersoek na die gemoed van die moderne Suid-Afrikaner. Karin help die leser om weg te beweeg van voorspelbare reaksies; sy bied ons ’n unieke blik op ons land en daarin lê Plaasmoord se nuutheid. Die beeld van ’n plattelandse samelewing in die greep van verandering, en verteenwoordigend van soveel meer; die hebsug waarmee alles, letterlik alles, deurdrenk is. Tussen CJ Langenhoven se Donker spore (1926) en Karin Brynard se Plaasmoord lê ons geskiedenis. Wie verras is oor die diepte van Brynard se insig, het net sigself te blameer. Dit sal jou leer om nie verby ’n titel te kyk nie.”

Wium van Zyl beskryf Plaasmoord as ’n boek met betreklik goed-verwerkte navorsing oor etlike onderwerpe, ’n bewuste omgang met die taal, die skep van stemming en die opbou en die inspan van ’n verskeidenheid interessante en soms verwikkelde karakters. Dit was vir hom ’n werklik heerlike leeservaring van ’n intelligente werk wat hom laat uitsien na Brynard se volgende boek.

Volgens JB Roux (Volksblad, 29 Desember 2009) verklap Plaasmoord se titel reeds ’n aktuele, selfs omstrede tema. "Brynard bestorm ’n domein waar min engele dit sal waag. Die politieke aspekte rondom plaasmoorde word deeglik by die vertelling betrek, maar só aangebied dat dit nie die vermaaklikheidswaarde ondermyn nie. En hoewel Deon Meyer se invloed soms te ooglopend is, maak Brynard die genre haar eie. Sy benut haar kennis van haar grootwordwêreld deeglik, veral wat dialoog betref. (...) Die ontknoping is voorspelbaar, maar die leser blý geboei. Humor en kwinkslae is daar genoeg. Die karakters en intrige is meestal oortuigend en prikkelend. Dit is ’n genotvolle leeservaring en ’n goeie debuut."

Die hoofkarakter, Albertus Beeslaar, is ’n groot man met groot hande en ’n bek wat nie skrik vir vloekwoorde nie, meen Melt Myburgh, en wil by Karin weet of dit haar tipe man is.

“Ek sou mal wees oor so ’n tipe man. Aangesien ek self ’n groot meisie is, hou ek van ’n man met behoorlike proporsies. Sy skoene moet jou bed versit as hy hulle onderin probeer skuif. Skóp, nie skuif nie. Maar in die ware lewe kon ek dit nog nooit regkry nie. My eerste man was ’n liewe, liewe langfaan met ’n kunstenaarsiel. En my tweede man is ’n kortgat, diepbejaarde, knoetserige grysaard met ’n fetisj vir swewende Gregoriaanse gebedsmusiek. So ek sukkel bietjie om by my tipe man uit te kom, jy sien. Een van my oudredakteurs, Elmari Rautenbach van Insig, sê mos Beeslaar klink vir haar alteveel na ’n menopousale boere-antie se klammerige droompie.”

Die resensies van Plaasmoord was oor die algemeen baie positief en dit word weerspieël in die verkope van die boek. Fanie Olivier se resensie in Rapport (12 Januarie 2010) was al een wat negatief was en daaroor laat Karin haar as volg uit: “Die Rapport-resensie was natuurlik nie lekker nie, want niemand wil graag sien dat die een of ander professor in letterkunde die verhaal wat jy geskep het met die doel om te vermaak, aan sy hogere laboratoriumpie onderwerp nie. Daarmee wil ek nie sê dat misdaadboeke nie gemeet hoef te word nie. Dieselfde geld vir ons as vir ander skrywers – die basiese reëls van properse prosa, verteltegnieke, spanningslyn, karakterontwikkeling en dies meer geld vir ons ook. Hoe beter hierdie basiese boustene is, hoe groter impak maak jou storie op die leser. Vergelyk die komplekse karakterisering van Stieg Larsson in sy trilogie met dié van die Amerikaanse skrywer James Patterson, byvoorbeeld. Patterson se Alex Cross en Larsson se Salander is eenvoudig nie met mekaar vergelykbaar nie. Dus vind ek ’n resensie met bedoeling om probleme in die teks uit te lig en dalk voorstelle te maak oor hoe dit verbeter kan word, uiters nuttig. Of alle resensente dit doen, is weer ’n ander saak. Vir my om egter in dieselfde asem as Deon Meyer genoem te word ... Nouja, dit slaan my asem weg. Dis soos om met die Pous vergelyk te word. Gie-gie.”

Karin vertel aan Chanette Paul op Crimebeat dat sy skryf vir lesers wat soos sy self is – iemand wat die boeke lees wat sy lees en wat dieselfde verwagtinge koester van ’n nuwe naam wat homself durf inwurm in die reeds digbevolkte krimi-heelal.

Op ’n vraag oor hoeveel inligting ’n skrywer in sy teks sit en hoeveel die skrywer van sy leser verwag, antwoord Karin vir Chanette Paul op Crimebeat: “Ek skryf in die eerste plek vir ’n Afrikaanse gehoor. Dus is daar sekere goed wat darem wraggies nie verduideliking kort nie. Soos wanneer mense van brannas praat, pleks van brandewyn. Maar as dit by tegniese kennis of geskiedenis of ’n biologiese werking of nadoodse ontleding, sulke goed, kom, nouja, dan sny jy ’n bitter fyn lyn tussen jou eie ego streel en die leser verveel. In Plaasmoord moes ek verskriklik sny aan tegniese, forensiese inligting waaraan ek bitter hard moes werk om eerstens in die hande te kry, en tweedens om self te verstaan, dit só aan die leser oor te dra dat hy nie eens agterkom hy het nou ’n lesing oor die een of ander sosiale verskynsel van die samelewing gekry nie. Dieselfde geld vir die grondkwessie wat ek aanraak, of die geskiedenis van die Griekwa-nasie. Té veel, en jy verveel jou leser deur sy intelligensie te onderskat en hy maak die boek toe. Té min, en jy verwar jou leser en hy begin sukkel. En maak die boek toe. En ons almal weet: boek toemaak is ons doodslag.”

Oor die sterk politiese inslag en die historiese kwessies wat deel uitmaak van Plaasmoord laat Karin haar as volg uit teenoor Paul: “Alles in Suid-Afrika is verpolitiseer – hoofsaaklik weens apartheid, en voor dit weens kolonialisme. En dan is daar die uiteenlopendheid van menings, kultuur en taal, ekonomiese lewenstandaarde. Kyk na die geskiedenis alleen: Afrikaners het hul vorm en inslag vanuit die geskiedenis, byvoorbeeld die Anglo-Boere-oorloë, die verarming as gevolg daarvan, die verstedeliking, die armblanke-vraagstuk, noem maar op. Selfde geld vir die swart mense, uit die apartheids- en koloniale geskiedenis. Dus is alles, van onderwys, deur grondbesit tot by ons juridiese stelsel, deurspek van uiteenlopende sienswyses en menings wat berus op verskeie vertrekpunte. Dit skep spanning. En dis mos kos vir misdaadskrywers. Wat ’n fees van gegewens en moontlikhede. Laastens: Wie sê jy kan nie ontspanningslektuur uit politiek maak nie? John le Carré het ’n ganse skrywersloopbaan gebou op die politiek van die Koue Oorlog en daarna. Heerlike boeke.”

Karin het haar tweede man, Rien van Gils, by ’n gemeenskaplike vriendin se troue in Stellenbosch ontmoet. “Nie een van ons twee het die ander mense juis geken nie. Omdat Rien toe vroeg-sestigs was, was die res van die tafel vol juppies effe vyandig teenoor hom. Dan was hy nog ’n uitlander ook. Ek het my oor hom ontferm en daar het ’n fassinerende gesprek tussen ons begin wat genadiglik nog steeds aan die gang is. Dit was 1993. Ek was politieke beriggewer vir Rapport en as sulks in die Kaap vir die parlementsitting. Dit was ’n opwindende tydperk vir ’n politieke joernalis, maar die liefde het my regtig swaar verwond. Ek het toe maar die verkiesing van 27 April 1994 deurgesien, my huis in Johannesburg verkoop en by Rien op Stellenbosch kom bly. Ons is twee jaar later, in 1996, getroud.”

Karin noem haarself ’n "inkommer" op Stellenbosch (aan die tydskrif Visio). "Almal het my gewaarsku: Jy trek nou snobstad toe. Afrikaner-snobs. Maties was mos altoos die ‘kleuterskool van die Broederbond’, Paul Roos Gimnasium die ‘broeikas’. Dis mos die plek, om die ou holrug-storietjie te herhaal, waar die Viljees net met die Du Plessis’s praat en die Du Plessis’s net met die Malans en die Malans net met God.

“En dan was ek nog die ou bok se groen blaar in die snobste van die snobbuurte, Mostertsdrif. Ek het hier aangekom met my wapenrusting volledig ontplooi, en ontdek toe heel gewone mense. Ja, natuurlik is daar die snobs, maar dié is ’n onvermydelike skilfer op die skouer van ’n gesonde samelewing. Ek en Rien het liewe mense as bure gekry en ons het vinnig onder ’n klomp gewone mense sonder fieterjasies beland, natuurmense saam met wie ons Visrivier-canyon en Kilimandjaro toe is. Die snobs? Dalk is hulle hier en ignoreer my verskriklik geslaag.

"Dan is daar die verrukking van ’n rivier deur jou dorp, ’n historiese meulsloot, leivore langs die strate, winterse, wasige reën en kaal eikestamme swart teen witgekalkte gewels. Elke seisoen nóg mooier.”

"Die Stellenbosch van 1994 was vir my nogal ’n skok – hoe konserwatief die 'liberale Kapenaars' eintlik was in vergelyking met Johannesburg. In die Wes-Kaap is ’n mens meer bewus van die land se koloniale verlede – die opvallende historiese geboue en Suid- Europese leefstyl. Maar die landskap is vinnig besig om te verander, die townships wat oor die vlaktes Stellenbosch binnegroei, Kayamandi wat tersluiks oor die Papegaaiberg kruip. En Open Stellenbosch, wat baie van die ‘ou garde’ laat winde sluk. Maar die dorp maak plek vir sy rebelle – al sedert die dae van Adam Tas. Hier oorleef die ‘ou adel’ deur saam te vloei met die tye.”

Dit hang seker af van wat jy self na die dorp bring, sê Karin. En Stellenbosch het baie bringers – kunstenaars soos Keith Dietrich, Dylan Lewis, Lyn Smuts en Strijdom van der Merwe, al die skrywers, die über-koel Valiant Swart en wynlegendes soos Beyers Truter en Gyles Webb en Ken Forrester. “Almal werk daaraan om hiervan ’n bakgat plek te maak.”
"Maar," sê sy, "dit help my absoluut niks dat die dorp so mooi is nie. My boeke neig na die donker kant van die lewe, en die omgewing hier is vir my … akkerbome en gewels en leivoor. Ek bedoel, as ek in my straat afloop, warrel die eikeblare so half uit die bome en gaan lê op so ’n kunstige manier. Alles is … just so,” sê sy. "My verbeeldingslewe is baie anders. Donkerkantgoeters fassineer my eerder. Dis vir my baie interessanter om op ’n plek soos Soweto te gaan rondloop.”

Die eerste eksemplaar van Plaasmoord is vroegoggend afgelewer. Karin was die nag by ’n vriend wat sterwend aan kanker was. Toe sy tuiskom, "brand die huis vol kerse en daar’s rose en sjampanje en ek dink: ‘Jirrlikheid, wat gaat hier aan, as ek my rug draai, entertain die blêrrie ou Hollander seker die ouetehuis! En daar lê my boek! Ek en Rien het soos hiënas al om die tafel gedans. Hope foto’s van onsself geneem, mét die boek, net mooi niks gewoond nie!” vertel Karin aan Hanlie Retief (Rapport, 16 Desember 2009).

In Mei 2009, net toe die finale redigering moes begin, kry Karin die nuus dat sy borskanker het. Sy vertel aan Hanlie Retief: “Ekself het gedink: ‘Oukei, dis ’n bummer, maar darem nie ’n doodsvonnis nie. En ás dit ’n doodsvonnis is: I’ve had one hell of a ride. Maar ek was jammer vir die mense rondom my. Vir Rien. Etienne Bloemhof kom toe hier aan met ’n bos blomme en die manuskrip onder sy arm en sê: Gaan doen jy jou kankerding; ek doen jou korreksieding. Ek kon net in my bed bly en gesond word – en dis die naaste wat ek nog soos ’n man gevoel het,” grinnik sy. “Kon nie multi-task nie, skaars op een ding konsentreer, na niks dieper kyk as Die hard-flieks nie!” Sy was gelukkig, want hulle kon al die kanker verwyder.

Karin se groot liefde in haar lewe is haar kamera. Sy is versot op foto’s neem en “kiek alles wat beweeg of nie beweeg nie”. Nog ’n groot liefde is groot oop ruimtes, soos die Karoo, die Namib en die Kalahari. “Ek raak dadelik salig as ek in die veld kom. Dis my katedraal.” Sy is op haar gelukkigste net na ses in die oggend op Sossusvlei of De Hoop se hoë duine. “Om die spel van lig oor die duine te sien: van hartseerblou na die teerste pienk tot dan ’n jubelende oranjerooi. En teen die middag bewe die horison en die duine lê wit van ’n gloeiende hitte. Net om teen skemer terug te trek in melancholiese blou.”

In 2012 besweer Karin die "vloek" van die tweede boek met die verskyning van Onse vaders, ’n dik boek van 509 blaaie wat geen leser wat sy sout werd is, kan neersit voor die laaste bladsy nie gelees is nie. Hierdie slag palm Karin die ATKV-prosasprys in, sowel as die M-Net-prys in die filmkategorie.

Op haar webblad skryf Karin dat die idee vir Onse vaders begin het met ’n onderhoud vir ’n tydskrif wat sy gevoer het met die pa van ’n jong man wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie doodgemaak het. "Dit was ontroerend om te sien hoe diep getref hierdie vader was en hoeveel hy wou opoffer om sy seun te red. Dit het my laat wonder oor die hoë persentasie vaderlose gesinne in ons samelewing. Hoe affekteer dit die geweld wat ons in misdaad sien? En hoe belangrik die man en vader in ’n gesonde samelewing is.

"Ek wou ook meer weet oor motorkapings, wie pleeg dit en wat alles kan skeefloop tydens so ’n misdaad. Dit het aanleiding gegee tot my middernagtelike ‘jag’ op gesteelde en gekaapte voertuie op pad na ‘chop shops’ in Soweto. Die maatskappy Tracker het my toestemming gegee om saam met sy dapper ‘ridders van die nag’ rond te ry – teen dikwels verblindende spoed – en selfs op ’n kol vir die koeëls te koes."

Twee vorige karakters van Karin, kaptein Albertus Beeslaar en sersant Johannes Ghaap, daag weer op in Onse vaders. Beeslaar is op besoek by sy ou vriend Blikkies op Stellenbosch en raak teen sy sin betrokke by die ondersoek na die moord op ’n jong vrou wat lyk asof sy in ’n huisroof doodgeskiet is. Beeslaar bied sy hulp aan kaptein Qubeka ter wille van sy vriendskap met Blikkies. Ghaap bly in Johannesburg agter, spesifiek in Soweto, omdat hy glo as hy in die polisie wil vorder, hy in ’n polisiekantoor met ’n hoë profiel moet werk. Hy raak betrokke by die motorkaping van ’n vrou en kind wat dan aangehou word deur "The Father", ’n aaklige man wat volgens oorlewering oor legendariese kragte beskik en ’n baie donker kant het (Sarie, 20 November 2012).

Phyllis Green (Sarie) skryf: "Die twee verhaallyne loop parallel met mekaar en word op ’n slim manier verweef deur karakters wat met mekaar verbind word. Brynard ontgin ’n hele paar temas wat diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse milieu – geweld in die samelewing, verbrokkelende gesinsbande, die rol van vaders sowel as die tradisionele geneser in die gemeenskap en daarmee saam bygelowigheid. Ten spyte van die diep temas is dit ’n verhaal met ’n goeie tempo, uitstekende aksie en uiters geloofwaardige karakters."

Karin erken teenoor Phyllis Green dat sy maar redelik senuweeagtig was met die skryf van haar tweede boek, maar dat sy ook besef het dat sy nie hoef te wees nie: "Ek het ’n baie lekker loopbaan as ’n vryskutjoernalis. Ek sê net ja vir opdragte waarvan ek hou. Ek is mal oor navorsing en om diepte-stories te doen. As ek dit nie kon regkry om ’n tweede boek te skryf nie, dan was ek ’n ‘one-book wonder'. Maar aan die ander kant is daar ’n ding wat jou dryf, dis soos ’n obsessie wat in jou lyf kruip. Ek haat skryf. Dis soos om te kraam.

"Ek het gedink ek gaan myself teleurstel, én die mense wat hard gewerk het aan Plaasmoord, ek gaan my familie teleurstel. Elke keer wanneer ek ’n resensie gelees het wat kritiek uitgespreek het oor my boek, dan was ek vir ’n week verlam. Dan kon ek glad nie skryf nie. Dit het ’n gemors geraak. Toe sê Etienne Bloemhof vir my, begin ’n ander boek. En dis hoe ek op die ou einde die twee verhaallyne gekry het en bymekaar gesit het."

Daar was nie van die begin af ’n titel vir Onse vaders nie. Karin was nog aan die skryf aan Plaasmoord toe die moord op Inge Lotz in 2005 op Stellenbosch plaasgevind het. Sy het van die begin af geweet dat daar so ’n moord gaan wees, maar het nie geweet hoe om die Lotz-moord te omseil nie – moet sy iets daaroor skryf of moet sy dit uitlos? Karin verduidelik haar dilemma verder aan Green: "Daai spesifieke moord het nogal ’n invloed gehad op die tema wat ek op die ou einde gekies het. Ek het die moord gehad. Ek het die omstandigheid gehad van ’n ontwikkelaar en die grondkwessie en die bewaringsmense. Dis twee goed in die Wes-Kaap wat vir my nogal baie kontroversieel is op die oomblik. Almal wil graag daar werk, maar daar is nie plek vir mense om te bly nie. En daar is werk, daarom stroom mense soontoe. Al die wonderlike vleilande, met die unieke blomme en voëls, verloor die stryd. Dit was die aanvanklike issue.

"Destyds nog by Insig het Elmari Rautenbach gesê sy soek ’n onderhoud met daai outjie (Fred van der Vyver). Maar omdat hy aangekla is, mag jy nie met hom ’n onderhoud voer nie. Na ’n gespook en gespartel kry ek toe ’n onderhoud met sy pa. Ek het lank met hom gesels oor hierdie nagmerrie in hul lewe, die grumoord op hierdie pragtige, belowende jong student en hulle kind blyk die skuldige te wees. Hoe hanteer jy dit? Dit was vir my aandoenlik om met die man te praat en sy bewoëndheid te sien. Hoe hy so ontmagtig voel. Hy kan nie ’n polisieman gaan regklap nie en sê: 'Nou los jy my seun uit.' Dit het my laat wonder oor die rol van ’n vader.

"Kort daarna moes ek vir Rapport ’n storie doen oor die Kaapse Boekefees. Daar strompel ek by ’n verkeerde lokaal in. Dis toe interessant, want die WNNR het ’n klomp navorsing gedoen oor die rol van mans in die Suid-Afrikaanse samelewing en ’n boek, Baba, daaroor saamgestel. Ek het dit onmiddellik gekoop en ek het agtergekom daar is nog baie sulke boeke wat geskryf is. Dis ’n onderwerp wat klaarblyklik meer mense interesseer.

"My vraag is: ‘Ons het armoede soos baie ander lande, maar hoekom is ons so gewelddadig. Waar kom ons woede vandaan?’ Ons begin nou eers as ’n gemeenskap daaraan krap, om te kyk watse soort gemeenskap ons het, wat is die magte en kragte wat op ons ingespeel het – die massale verstedeliking van die afgelope 20 jaar, die omvergooi van gemeenskappe en van tradisie en tradisionele leefwyses oor die hele spektrum."

Karin het geweldig baie navorsing vir Onse vaders gedoen en sy vertel aan Rentia Bartlett-Mohl dat een van die dinge wat haar tydens die navorsing getref het, die afwesigheid was van die fisiese vaderfiguur in die meeste Suid-Afrikaanse huishoudings.

Een van Bartlett-Mohl se vrae aan Karin was: "Misdaad is in die roman ’n barometer van samelewingsprobleme. Die gemeenskap van Stellenbosch word as een groot verbrokkelde gesin uitgebeeld. Wat het die hooftema van die roman – die sondes van vaders – hiermee te doen?" Hierop het Karin as volg gereageer: "Ek was geïnteresseerd in die feit dat ons sosiale geskiedenis in hierdie land – vir wit en swart – hoofsaaklik patriargaal van aard was. Maar na die demokratisering van 1994 het baie van die ou strukture in duie gestort. In tradisionele gemeenskappe het daar, tydens die massale verstedeliking wat plaasgevind het, ook ’n wegbeweeg van patriargale stamstelsels gebeur. In die wit/Afrikaner-gemeenskap was die kerk, die onderwys en die Broederbond altyd die “vaders” van die volk. Hierdie 'pilare' het na 1994 skielik verdwyn. Ek wou kyk wat in die plek daarvan tot stand gekom het.

"Een van die dinge wat my in my navorsing opgeval het, is die afwesigheid van die fisiese vaderfiguur in die meerderheid Suid-Afrikaanse huisgesinne. En die uitwerking daarvan op die geestesgesondheid van die kinders uit daardie huise. In die sielkunde vervul ’n vader ’n baie spesifieke rol in die gesin: hy is die beskermer en voorsiener, hy gee die leiding en vestig die morele lewensbeskouing van die kinders in sy sorg. As hy fisies nie meer daar is nie, wat gebeur dan? Hoe leer jong seuns om mans te word sonder die aanwesigheid van ’n man as rolmodel? Hoe leer hulle vroue hanteer of respekteer? Hoe leer hulle wat manlikheid beteken? Hoe verkry hulle dapperheid om die groot uitdagings van die lewe te kan aanvat en trotseer? "Laastens kan ’n mens seker ook vra wie dan die huidige rolmodelle is. Madiba was die laaste ‘vader’ vir die volk. Is daar ander wat sy skoene sal kan volstaan?"

Karin de Villiers skryf in Die Suid-Afrikaan (4 September 2013) oor Onse vaders: "Brynard skryf soos ’n mens wat glo die sny moet vinnig en diep wees. Die pas van die storie rus bitter min, en net sodra die leser se hart so bietjie bedaar, dan skiet die bloeddruk deur die dak. Verveeld? Nooit. Die pas en die passie van die karakters swyg heen en weer soos ’n storm op die see. Dit ís die ’nou’ Suid-Afrika – mooi maar vol letsels. Onregte brand nog diep in die harte van die verontregtes en ander smeer toe die krake eerder as om te erken die waters van dié droom is besoedel. Wat so wonderlik is van die boek, is dat Brynard die lief en leed van normale Suid-Afrikaners aan ons blootstel. Mense wat net elke dag die beste daarvan maak, maar hulself bevind in omstandighede wat meestal buitelanders nie kan verstaan nie. Ek het op soveel verskillende vlakke myself met die boek verselwig, ek as Suid-Afrikaner, ek ken mos daai mense, ek ken die vrees …

"Die einde sal jou verras. Brynard het ’n talent om van die lekkerste van woorde te neem en soos ‘hundreds en thousands’ hul met opwinding op die koek uitstrooi. Engels, Afrikaans, Zulu, alles ’n mengelmoes van fonetiese klanke wat lekker klap op die tong.

"André P Brink sê van Plaasmoord, ‘Een van die kragtigste spanningsromans wat ek in jare gelees het.’ Ek stem saam met albei: Plaasmoord en Onse Vaders. Kragtig, briljant. Te gou klaar gelees. Ek wag in spanning vir die volgende een."

Vir Kerneels Breytenbach (op LitNet) is die sosiale kommentaar in Onse vaders op sy "heel vernuftigste". "Daar lê baie rype emosies oor Stellenbossiana in die roman opgesluit. Aan die een kant is daar pragtige beskrywings van die rykdom en welvaart van dié dorp, wat deur sommige van sy teenswoordige inwoners as Die Groen Hel beskryf word. Aan die ander kant is daar die dikwelse verwysings, sonder om enige name te noem, na die Inge Lotz-moordsaak en die wyse waarop dorpenaars voel hulle is deur die speurders in die steek gelaat. Male sonder tal sien Brynard iets skitterends raak (soos die waarneem van die Stellenbosse vroulike drawwers), maar dit is wanneer kapt Quebeka met Beeslaar gesels dat jy snap daar is ’n baie groter gesprek aan die gang, subtiel, skerp.

"Ghaap se wedervaringe in Soweto lewer weer ’n ander vonds op: die ontwikkeling van spreektale in Suid-Afrika, en die manier waarop ’n groter kultuurgroep reeds besig is om sy beslag te kry. Dit moes baie ure se navorsing gekos het om al die dialoog-dele netjies en juis te kry.

"Dit bring uiteraard ’n groot bydrae tot die deeglik-omlynde karakterisering dwarsdeur die roman, en wys hoeveel hierdie skrywer sedert haar debuut gegroei het. Dit verg baie vernuf om al die kontraswerkings te orkestreer, en veral wanneer jy politieke betrokkenheid met grootdorpse realisme versoen. En deur so ’n nuwe aangesig aan betrokke literatuur te gee, vermag Brynard baie om die gespletenheid tussen hoop en wanhoop te besweer.

"Uit die hoek van jou oog begin jy algaande iets sien. Aanvanklik is jy nie seker wat dit is nie. Maar teen die laaste bladsy, wanneer jy besef dat daar ’n derde roman oor Beeslaar op pad kan wees, begin dit meer sigbaar word.

"Karin Brynard het met Plaasmoord getoon hoe bedag mens daarop moet wees om nie alle misdaad na politieke oorwegings te herlei nie. In Onse vaders sien ’n mens hoe die morele verval van ’n land ook teruggevoer kan word na individue – en hoe die verlossing daarvan ook op individuele vlak geskied. Baie mense werk aan ’n oplossing, maar die finale swaai, terug na die goeie, na die eerbare lewe, begin by die enkeling. (...)

"Karin Brynard is in Onse vaders veel skerper met haar implisiete en eksplisiete kritiek op die huidige bestel as wat haar enigste plaaslike Engelse eweknie as krimi-skrywer, Mike Nicol, is. Nicol is veel meer 'sigbaar', en sy romans is daarom sterker ingestel op verwikkeling. Brynard het die luukse om in ’n polities gemarginaliseerde taal veel meer aandag aan karakterisering te gee. Sy is daarom nie, soos Nicol, aangewese op papkamerade nie, en die tekstuur van haar skryfwerk dring daarom sterker deur tot die kern van die daaglikse lewe waar ou rassisme en nuwe naasteliefde skouers skuur.

Noodwendig sal Brynard se werk meer verliteratuurd voorkom. Wat my betref, is dit nie noodwendig ’n slegte stand van sake nie."

In 2013 het Penguin Books in Suid-Afrika tydens ’n veiling die regte bekom om vier van Karin se boeke uit te gee. Hulle het die vertaalregte van Plaasmoord en Onse vaders bekom, asook die regte vir Tuisland en die Engelse vertaling daarvan. Karin se agent, Isobel Dixon, het die veiling gereël. Penguin Books se uitvoerende hoof in Suid-Afrika, Stephen Johnson, het gesê: "Charlotte Brontë wrote in her The Professor (1857) that ’novelists should never allow themselves to become weary of the study of real life.’ It thrills us no end at Penguin Books that this splendid writer, whose work exemplifies the portrayal of life as it is lived on Africa’s southern tip, in all its complexity, has entrusted to us the fruits of her humane insights. We are more than pleased to welcome Karin Brynard to the Penguin Books family, a space and place of great writers, many of whom are without parallel. Karin will, we are certain, be at home here.” (Media24)

Karin se reaksie hierop was: “Ek neem swaar afskeid van Etienne Bloemhof van Human & Rousseau. Hy is ’n ongelooflike goeie redakteur wat my eerste twee boeke met groot keurigheid te water gelaat het. Maar vanuit ’n sake-oogpunt beskou, was Penguin se aanbod die heel beste van al die uitgewers wat aan die aanbod deelgeneem het. Dit sal ’n voorreg wees om saam met Frederik de Jager te werk." (Volksblad, 5 Julie 2013)

En Isobel Dixon het gesê: “Karin’s novels gripped me at once when I began reading the Afrikaans: her recurring hero Albertus Beeslaar is an appealing Wallander for South Africa, and with her journalist’s eye for detail she brings to life diverse South African characters and settings – the Kalahari, Soweto, Stellenbosch – all skilfully interwoven into thrilling plotlines. I’m delighted with Penguin’s commitment and look forward to sharing her work with English readers in South Africa – and in due course also abroad.” (Media24)

In ’n onderhoud (By, 16 September 2016) raak Murray la Vita en Karin die kwessie van goeie pa's en manlike rolmodelle in Suid-Afrika aan, asook die woede wat daar in Suid-Afrika sigbaar is: “Ná Onse Vaders toe besluit ek: nié weer nie! Straight forward! Die volgende een gaan straight forward wees! Nié issues nie!” Maar daarby kon sy nie hou nie, want Tuisland is net so aangrypend en onneersitbaar soos haar vorige twee boeke.

Tuisland, Karin se derde roman, verskyn in 2016 by Penguin South Africa.

Op LitNet vertel Karin aan Naomi Meyer hoe sy by die titel Tuisland uitgekom het: "Ek het vir lank ’n werkstitel gehad wat veel langer en omslagtiger was: Die laaste van die eerste mense. Maar hoe dieper ek in die storie ingekom het, hoe meer het ek besef dat die titel eintlik te skraal was om die hele lading van waaroor dit gaan, te dek. Tydens apartheid was 'tuisland' ’n soort vloekwoord. Dit is deur Afrikaners (hoofsaaklik) op ander 'etniese' groepe afgedwing. Na bevryding soek mense op nuwe maniere na hul kulturele tuistes. Mense kan weer onbevange ’n soort kulturele groepstrots terugeis, as’t ware. Mense woon waar hulle wil (of ekonomies toe in staat is), maar soek nog steeds ’n soort 'eie' gebied op, ’n plek waar hulle tuis voel. Te midde van die politieke debat oor kolonialisme in Suid-Afrika en aan wie die grond behoort en wie nie, wie hoort hier en wie nie, het die ironie my getref dat diegene wat die swaarste gely het onder vlaag op vlaag van nuwe grondbesetters in Suid-Afrika, die San, eintlik die minste geken word in die debat. Hoe ver mag ’n mens teruggaan as jy praat oor 'behoort'? Uiteindelik gaan dit oor behoort – hetsy aan ’n plek, ’n kudde of ’n toestand/filosofie/godsdiens. 

"Ek bly gefassineer met die grondkwessie in ons land, oor die groot emosies wat grondbesit by alle politieke en kultuurgroepe opwek. Daar word dikwels gesê die politieke welstand van die land sal staan of val by grondhervorming. As ’n mens goed nadink oor die nosie van grondbesit, is dit interessant om daaraan te dink dat die San die oorspronklike 'eienaars' is, maar dat hulle aan die grond behoort en nie andersom nie."

Op ’n vraag van Meyer brei Karin uit oor die navorsing wat sy vir Tuisland gedoen het. Die idee vir die boek se oorsprong was Karin se inherente nuuskierigheid. Sy het nog nie vroeër die nuwe /Khomani-"tuisland" besoek nie en ook nie die Boere-"tuisland", Orania, nie. Dus is sy soontoe: "Maar ek was nuuskierig daarna: eerstens na die mense van wyle oom Dawid Kruiper en die grondgebied wat in 1999 aan sy mense (hulle verkies om bekend te staan as Boesmans, nie San nie) toegestaan is. Ek het gewonder hoe noem ’n mens dit. Die naam Boesmanland was al gevat – toegeëien aan die groot stuk Karoo tussen Nieuwoudtville en Kenhardt (rofweg gesproke). Was die /Khomani se grond ’n tuisland? Stamgrond? Die San het nie stamme nie, sover ek weet. Mag ’n mens nog enigsins van stamme praat? Die tragedie van die San in Afrika en van die meeste Eerste Mense-groepe op aarde het my aangegryp en ek wou meer te wete kom. In die VSA het die Eerste Mense-groepe 'reservate', in Namibië het hulle ook grondgebied. In Botswana is die laaste Boesmangroep onlangs uit die Kalahari-woestyn verjaag. Hulle was amptelik beskou as die laaste 'wilde Boesmans' – met ander woorde, mense wat nog heeltemal ten volle tradisioneel geleef het en byna geen kontak met moderne mense gehad het nie. Die San van Botswana is nou amptelik tuisteloos. 

"En Orania dan? Dit is geen stamgrond nie. Dit word nie wetlik erken as kulturele grondgebied nie. Wat is dit dan? (Julius Malema, die EFF-leier, sê hy sal hierdie eenkantwonery nie duld onder EFF-bewind nie.)"

Oor die sterk vrouekarakters in Tuisland bieg Karin teenoor Murray la Vita (Die Burger, 16 September 2016) dat dit iets is waarmee sy nogal sukkel. Manlike karakters is makliker vir haar om te skryf: "My hele lewe was my werksomstandighede en my aspirasies en so aan gedomineer deur mans. Ek het ’n baie sterk pa-figuur gehad; hy’s vroeg dood en in my kop het hy veridealiseer geword; hy was hierdie John Wayne-karakter. En ek het van vroeg af in die joernalistiek gekies om in die politiek in te gaan, want dit is waar die interessante ballsy werk lê. En dit was in die tagtigerjare ’n mannewêreld. Ek het polisie gedoen en weermag en sulke goeters, want dit was die belangrike werk. Ek het geswéér ek sal nooit op ’n vroueredaksie werk nie.

“So ’n mannewêreld is vir my verstaanbaar, dis maklik, en mans is vir my maklik. Maar vrouens is vir my móéilik. Dis vir my moeilik om vrouens te skep wat nie ekself is nie of wat nie die mense is wat ek ken nie.”

Karin erken teenoor Naomi Meyer dat daar amper niks aan die skryf van Tuisland was wat maklik was nie. "Ek moes eers byna ’n hele boek weggooi en reg van voor begin voor ek by daardie eerste lyk uitgekom het. By tye wou ek my hare uit my kop trek oor daardie eerste lyk, want daarmee het ek ’n ekstra verhaallyn ingebring by die storie wat ek éintlik wou vertel, naamlik die moord(e) in die Kalahari. En as jy dit eers begin het, moet jy dit volhou, dwarsdeur die res van die skryfproses terugkeer na hierdie besonderse akkertjie van die verhaal en hom troetel en voer en help groei. En die hoofverhaal was al vir my moeilik genoeg – daardie 'eerste lyk' het regtig ’n geknoei en ’n gestoei ontketen, reg tot aan die einde."

In haar resensie op LitNet vertel Wilna Adriaanse die verhaal van Tuisland: "Albertus Beeslaar, die hoofkarakter in Brynard se vorige twee boeke, is terug in Tuisland. In Johannesburg wag ’n nuwe werk en ’n babadogtertjie vir Beeslaar. En dalk die geleentheid om die bande met sy kind se ma, Gerda, op te tel. Hy is haastig om daar te kom.

"Hy kies ongelukkig die verkeerde dag om sy bedanking by generaal Mogale op Upington te gaan indien. Daar is ’n man in die Kalahari dood, net nog een van ’n hele paar sterftes die afgelope tyd in dié gebied. Volgens gerugte het die plaaslike polisiekaptein op Witdraai, Kappies de Vos, hom nie juis verwerdig om die sake te ondersoek nie. Die Boesmans is ongelukkig en nou ondersoek ’n prokureur, Silwer Bladbeen, hul klagtes.

"Mogale is nie hierdie week lus vir moeilikheid op sy voorstoep nie. Na jare se onderhandelinge en baie moeite is daar tussen verskillende rolspelers ’n ooreenkoms oor grondbesit bereik. Om dit te vier word ’n groot funksie beplan – daar is sprake dat selfs die President, en belangrike amptenare van die Verenigde Nasies, die geleentheid in die Kalahari gaan bywoon. Mogale wil hê Beeslaar moet net ’n vinnige besoek daar bring, seker maak almal is tevrede, en dan sal hy sy ontslag teken. (...)

"In die Kalahari aangekom, verdiep die intrige baie vinnig. Sommer met Beeslaar se intrap word Kappies de Vos, die Crocodile Dundee van die Kalahari en alombekende drinker en rokjagter, met ’n mes aangeval en moet daar inderhaas met hom Upington toe gejaag word. Mogale besluit om vir Beeslaar hulp te stuur. Nie net sy twee sersante, Ghaap en Pyl nie, maar ook die knap, maar hardegat luitenant-kolonel Cordelia Koekoes Mentoor. Met haar aankoms is dit al duidelik dat Koekoes Mentoor ’n geraamte in die kas het wat sy teen elke prys daar gaan probeer hou. Tot so ’n mate dat sy nie na goeie raad of rede wil luister nie.

"Terwyl Beeslaar, Mentoor en hulle kollegas probeer om al die raaisels op te los en die verdagte aan te keer, vlug Kytie Rooi, ’n skoonmaker by die gastehuis op die dorp, met ’n jong kind aan die hand uit Upington. Dis by die gastehuis wat Kytie aandadig aan ’n moord is en al wat sy weet, is dat sy in die Kalahari by die medisynevrou Antas heenkome vir haar en die kind sal vind. (...)

"Die omgewing waar hierdie verhaal afspeel, is ’n besonderse wêreld en die manier waarop die skrywer dit inklee, maak dat dit nog ’n karakter word. En soos met die ander karakters is daar nie ’n maklike pad deur die landskap nie. Dit mergel jou uit, en net die volgende oomblik bekoor dit jou. ’n Subtiele sinspeling op ’n mens se verhouding met die groter Suid-Afrika ook …

"Brynard se navorsing vir hierdie verhaal is baie deeglik, maar sy wend dit slim aan. Dit belemmer geensins ’n goeie storie nie. Daar is baie storielyne wat soos wildspore heen en weer oor die duine loop. Sommige is duideliker as ander, sommige eindig sonder dat ’n mens werklik weet waarheen hulle lei. Een so ’n storielyn is Beeslaar en Gerda. Hy is duidelik hoopvol dat daar vir hulle ’n toekoms saam is, maar die paar telefoonoproepe tussen hulle dra vir my nie veel by tot die verhaal nie.

"Daar kon dalk ook ’n karakter of twee minder gewees het. Koekoes Mentoor kon dalk een minder wilde jaagtog onderneem het en nou en dan dalk ’n bietjie na rede geluister het. En die verwysing na Orania is een van die minder duidelike spore.

"Hier en daar is ook ’n teenstrydigheid of herhaling waaroor ’n mens nie seker is nie, soos Beeslaar wat vir generaal Mogale sê hy wil nog daardie selfde dag Johannesburg toe ry en hy beplan nie om terug te kom nie. Daar word ook spesifiek melding gemaak van sy splinternuwe tweedehandse bakkie wat hy vir hom gekoop het, maar ’n paar bladsye verder ‘sit hy op een van die mees godverlate vlaktes op aarde, en meantime moes hy op ’n vliegtuig Johannesburg toe gesit het om ’n nuwe lewe te begin.’

"Van die verleidelike openingsin af: 'Dit is tydens een van die Kalahari se rasende Februarie-storms dat Kytie Rooi ’n moord pleeg', tot aan die einde van die verhaal is ’n mens bewus van die stem en hand van ’n besonder knap storieverteller. Hierdie boek vestig Karin Brynard nog meer as een van Suid-Afrika se interessante, dapper en begaafde skrywers. Sy skrik nie om moeilike onderwerpe oop te krap nie, of haar lesers uit te daag nie."

Vir Ilse Salzwedel (op Maroela Media) is Beeslaar een van haar gunstelingspeurders in die Afrikaanse letterkunde. "Hy leef vir sy werk, maar Brynard het nie van hom ’n cliché gemaak nie. Hy bly ’n driedimensionele, menslike karakter met ’n sterk sin vir reg en geregtigheid, en ’n mens wil hoop dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nog baie sulke speurders het. Ditto met Mentoor, petite maar rateltaai en baie vasberade. Albei se lojaliteit aan hul werk het ’n impak op hul persoonlike lewens, en Mentoor moet keer dat spoke uit haar verlede, nie inmeng met haar objektiwiteit in die moordondersoeke nie.

"Die een ding wat Brynard uitstekend regkry, is om Tuisland lig en verteerbaar te hou ten spyte van temas wat baie donker kon raak. Dit doen sy deur haar goed gekose karakters – mense soos die speurders Ghaap en Pyl, Kytie Rooi en Antas die medisynevrou. Deur karakters soos Jannas, ’n wit vrou wat in ’n ou skoolbus tussen die San woon en ’n nie-winsgewende organisasie ten bate van hulle bedryf, leer die leser baie van hulle kultuur, vrese en hul stryd om oorlewing. By Antas leer ons van tradisionele veldkos en medisyne, en uiteindelik laat die boek mens met meer begrip vir die San se stryd om erkenning sonder om enige vermaaklikheidswaarde in te boet.

"Dit was ook duidelik dat Tuisland nie in ’n resies met die horlosie geskryf is nie. Ek het onlangs ook twee ander Afrikaanse spanningsromans deur gewilde skrywers gelees, en albei het my laat dink dat die uitgewer in die skrywer se nek geblaas het om ’n boek gereed te hê teen ’n sekere datum. Hoe honger ons as lesers ook al vir die opvolgboek is (en die uitgewer en skrywer vir die inkomste): die worsmasjienbenadering kan ’n boek van ’n swakker gehalte as sy voorgangers tot gevolg hê, en getroue aanhangers kom dit wel agter. Waak daarteen. Tuisland is 574 bladsye uiters boeiende, hoogs leesbare vermaak. Hoogs aanbeveel."

Op Nadine Maritz se blog wou sy by Karin weet hoe betrokke sy by die vertaalproses van haar boeke was. Karin vertel dat sy met die vertaling van Plaasmoord (Engelse titel: Weeping waters) bevoorreg was om twee baie goeie vertalers te hê, naamlik Isobel Dixon, ’n digter en literêre agent, en Maya Fowler, ’n bekende jeugverhaalskrywer in Suid-Afrika. Sy het met die finale oorskryf gehelp. Met die vertaling van Onse vaders (Our fathers) kon sy nie so betrokke wees nie, aangesien sy op die einde was met die skryf van Tuisland. Haar redakteur by Penguin, Fourie Botha, het toe die finale redigering gedoen.

In Zuid-Afrika skryf Ingrid Glorie dat Tuisland nie sommer net "een thriller" is nie. "Het is een even prachtig als schrijnend getuigenis van de rijkdom en tragiek van de Boesmans en de bruinmense van Zuid-Afrika. Het boek vormt ook een aanklacht. Een aanklacht tegen de geschiedenis die van deze mensen opdrifsels in hun eigen land heeft gemaakt, en tegen een maatschappij die hen, met alle moderne middelen, nog altijd niet beschermen kan."

Vir Karin is dit baie moeilik om so in die openbare oog te wees. Sy verduidelik aan Ruda Landman dat sy ’n baie privaat persoon is. "Ek dink dit is moeilik en dit is ’n tweesnydende swaard altyd ook. Veral deesdae as jy met ..., in die medialandskap waarin ons beweeg, moet jy kan in die openbare oog wees, want so verkoop jy boeke. Die boekelandskap het verander. Jy weet dit is baie moeilik om uit te staan. En dis baie moeilik vir die uitgewers om kop bo water te hou. Jy weet jy moet saam smous aan die boeke. So dit is regtig ’n moeilike balans om te hou. En om so half te kan terugtrek in jouself in as jy, want dit is optredes wat jy moet hou vir die publisiteit rondom ’n boek en ja. Dis nie waarvoor jy oefen as jy sit in skryf nie, jy oefen nie vir om konsert te hou nie."

 Terwyl Karin al aan die skryf was aan Tuisland, kom die nuus dat Onse vaders twee pryse gewen het en dit het haar, soos sy aan Hanlie Retief vertel (Rapport, 10 Julie 2016), "totaal verlam. Dis daai ding: Nou't jy iets reggekry en mense wil hê jy moet die triek herhaal."

Sy het aan ’n algehele skrywersblok gely. Sy het probeer skryf, maar dit was so swak dat sy die manuskrip weggegooi het. Dan was daar nog die nuwe uitgewers se sperdatum wat soos ’n swaard oor haar kop gehang het.

"Ek is toe vir ’n week na ’n silent retreat. Nogal ongemaklik in die begin, want niemand praat met niemand nie. Maar hoe stiller dit rondom jou raak, hoe stiller raak jy self, en hoe oper raak jy vir die groter heelal. Die Boeddhiste het die beeld van ’n lotusblom wat in die modder oopgaan, en dis regtigwaar wat met jou gebeur. Ek het probeer om minstens een keer ’n dag stiltetyd te hê. Ek't altyd baie angs gehad. Vir enige blerrie ding. En dié stilword kry my daardeur, want dit raak ’n konstante in jou lewe. ’n Plek waar jy voel dis orraait. Die vrees sal nooit heeltemal weggaan nie, maar dit het ’n ander dimensie gekry, ek's nie meer vasgevang daarin nie. En toe skryf ek Tuisland klaar.

"Ek dink op die ou einde het ek by ’n groter waardering van alles uitgekom. Van die lewe. Juis oor die vervlietendheid daarvan. Absoluut. Jy kan aan niks vashou nie."

Publikasies

Publikasie

Plaasmoord

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2010

ISBN

9780798151160 (sb)

Uitgewers

Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

  • UJ-debuutprys vir letterkunde
  • M-Net-prys vir mees verfilmbare teks

Vertalings

  • Engels 2014 deur Maya Flower en Isobel Dixon
  • Nederlands
  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onse vaders

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798158237 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

  • M-Net-filmprys
  • ATKV-Prosaprys

Vertalings

  • Engels
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tuisland

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781415206935 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Karin Brynard beskikbaar op die internet

Artikels deur Karin Brynard beskikbaar op die internet

Bronne

  • Karin Brynard self. Baie dankie aan haar vir haar bydrae en vriendelike terugvoering op my vrae.
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Verreweg die beste hedendaagse skrywer in Afrikaans.

    Dit is die taak van 'n skrywer om ou wonde oop te krap, en waar daar nie wonde is nie, nuwe wonde toe te dien.

    Doen so voort, Karin!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top