Karin Brynard se Tuisland

  • 0

Foto van Karin Brynard: Naomi Bruwer

Kyk ook na 'n video van Tuisland se bekendstelling en 'n gesprek met die skrywer.  

Skrywers oor hulle nuwe boeke: Karin Brynard oor Tuisland

Karin, die titels van jou boeke is welbekend: PlaasmoordOnse vaders en nou Tuisland. Die titels ontketen onmiddellik ‘n emosionele reaksie by die Afrikaanssprekende leser. Waar kom hierdie een se titel vandaan?

Ek het vir lank ‘n werkstitel gehad wat veel langer en omslagtiger was: Die laaste van die eerste mense. Maar hoe dieper ek in die storie ingekom het, hoe meer het ek besef dat die titel eintlik te skraal was om die hele lading van waaroor dit gaan, te dek. 

Tydens apartheid was “tuisland” ‘n soort vloekwoord. Dit is deur Afrikaners (hoofsaaklik) op ander “etniese” groepe afgedwing. Na bevryding soek mense op nuwe maniere na hul kulturele tuistes. Mense kan weer onbevange ‘n soort kulturele groepstrots terugeis, as’t ware. Mense woon waar hulle wil (of ekonomies toe in staat is), maar soek nog steeds ’n soort “eie” gebied op, ’n plek waar hulle tuis voel. 

Te midde van die politieke debat oor kolonialisme in Suid-Afrika en aan wie die grond behoort en wie nie, wie hoort hier en wie nie, het die ironie my getref dat diegene wat die swaarste gely het onder vlaag op vlaag van nuwe grondbesetters in Suid-Afrika, die San, eintlik die minste geken word in die debat. Hoe ver mag ‘n mens teruggaan as jy praat oor “behoort”?

Uiteindelik gaan dit oor behoort – hetsy aan ‘n plek, ‘n kudde of ‘n toestand/filosofie/godsdiens. 

Ek bly gefassineer met die grondkwessie in ons land, oor die groot emosies wat grondbesit by alle politieke en kultuurgroepe opwek. Daar word dikwels gesê die politieke welstand van die land sal staan of val by grondhervorming. As ’n mens goed nadink oor die nosie van grondbesit, is dit interessant om daaraan te dink dat die San die oorspronklike “eienaars” is, maar dat hulle aan die grond behoort en nie andersom nie.

‘n Lyk in die eerste sin. Dit wil gedoen wees! Is dit ‘n hoekom-is-dit-gedoen-boek eerder as ‘n wie-het-dit-gedoen-roman?

Miskien ‘n bietjie van beide? In Kytie se geval is dit hoekom, maar vir die res is dit meer wie.

Hierdie tuisland – die primêre een waarrondom die storie afspeel – is egter dalk ‘n ander een as wat die Afrikaanse leser verwag. Waar het jy navorsing gedoen, of het jy die streke al vantevore besoek en was jy toe reeds daardeur geïnspireer?

Die idee het begin by my nuuskierigheid. Ek was nog nooit vantevore in die nuwe /Khomani-“tuisland” nie, ook nie in die Boere-“tuisland”, Orania, nie.

Maar ek was nuuskierig daarna: eerstens na die mense van wyle oom Dawid Kruiper en die grondgebied wat in 1999 aan sy mense (hulle verkies om bekend te staan as Boesmans, nie San nie) toegestaan is. Ek het gewonder hoe noem ‘n mens dit. Die naam Boesmanland was al gevat – toegeëien aan die groot stuk Karoo tussen Nieuwoudtville en Kenhardt (rofweg gesproke). Was die /Khomani se grond ‘n tuisland? Stamgrond? Die San het nie stamme nie, sover ek weet. Mag ‘n mens nog enigsins van stamme praat? Die tragedie van die San in Afrika en van die meeste Eerste Mense-groepe op aarde het my aangegryp en ek wou meer te wete kom. In die VSA het die Eerste Mense-groepe “reservate”, in Namibië het hulle ook grondgebied. In Botswana is die laaste Boesmangroep onlangs uit die Kalahari-woestyn verjaag. Hulle was amptelik beskou as die laaste “wilde Boesmans” – met ander woorde, mense wat nog heeltemal ten volle tradisioneel geleef het en byna geen kontak met moderne mense gehad het nie. Die San van Botswana is nou amptelik tuisteloos. 

En Orania dan? Dit is geen stamgrond nie. Dit word nie wetlik erken as kulturele grondgebied nie. Wat is dit dan? (Julius Malema, die EFF-leier, sê hy sal hierdie eenkantwonery nie duld onder EFF-bewind nie.)

Jy word beskryf as iemand wat in ‘n tussengebied skryf – tussen misdaadfiksie en ‘n literêre teks. Watter leser hou jy in gedagte as jy skryf – die liefhebber van watter een van die genres?

Vir my gaan dit altyd net oor die misdaadleser. Ek probeer om so te skryf dat ek die ware misdaadleser nie verveel nie. Of dit altyd slaag, weet ek nie. Ek kan maar net hoop.

Jy was jare lank joernalis. Hoe verskil dit vir jou om ‘n boek en ‘n joernalistieke artikel te skryf? En wat is dieselfde?

As jy ‘n diepgaande artikel oor ‘n onderwerp doen, moet jy sorg dat jy soveel as moontlik van jou onderwerp weet, nie waar nie? En jy moet dit dan só verwerk en verpak dat dit die gemiddelde leser enduit geïnteresseerd sal hou. 

Daar hou die ooreenkomste op. 

Ek kan nie goed teoretiseer oor fiksie nie, maar op praktiese vlak kom dit neer op die skep van ‘n alternatiewe, gereflekteerde realiteit waarin jy heel sorgvuldig moet wees in dit wat jy wys en dit wat jy weerhou. Vir my is dit regtig baie uitdagend en regtig moeilik om te doen. 

Hoe het jy gemaak met Kytie Rooi se taal, jy as wit vrou? Afgeluister, nagevors?

Dis ‘n kombinasie van baie dinge – wat begin by afluister. As ek navorsing doen, neem ek al die gesprekke wat ek voer, op. Wanneer ek dan tuis kom, transkribeer ek dit woord vir woord. Dis ‘n heidense werk, maar dit dwing my om die klank en ritme, intonasie en interessante uitdrukkings vas te vang. Vir die res soek ek aktief na woorde en uitdrukkings uit ‘n streek – by al wat leef en beef. Vra wat word die mees gedrinkte dranke byvoorbeeld genoem, ens. 

Op Griekwastad was daar ‘n baie besonderse vrou wat die dorpsmuseum vir jare op eie houtjie aan die gang gehou het: Hetta Hager. Hetta het oor die jare uitdrukkings en woorde van die Griekwas en mense uit verder streke opgeteken. Sy is ongelukkig onlangs oorlede, maar ek kon van baie van haar woorde gebruik maak.

In die erkennings agterin die boek verwys jy na ‘n artikel op LitNet – die Afrikaner se Nkandla. (Hier is ook 'n resensie.)Wat het jou hiervan getref?

Dit was te midde van die taaldebat op tradisioneel Afrikaanse universiteitskampusse en die groter debat oor wie in Suid-Afrika tuishoort en wie nie. Die artikel is geskryf aan die hand van Dana Snyman se wonderlike boek Hiervandaan, waarin die tema van kulturele wortels so uitstekend aangesny word. Dit het die gedagte aan ‘n moordverhaal rondom so ‘n tema regtig woema gegee.

Iewers in die boek word gepeins oor ‘n kind wat net wil veilig voel en ‘n heenkome wil vind. Vir my was dit ‘n totaal apolitiese verwysing na ons almal se soeke na ‘n tuisland, ‘n tuiste. Maar kan die woord “tuisland”, soos die taal Afrikaans, ooit van bagasie gestroop word? Moet mens die titelwoord so, bagasie en al, lees – en dit ook vir doeleindes van hierdie roman?

Ek dink net die tyd sal dit leer, maar vir eers is dit in die Suid-Afrikaanse konteks ‘n politiekbelade woord en is dit haas onmoontlik om dit op ‘n ander manier te interpreteer. Ek dink egter dat, namate die boek vorder, die algemene leser wel sal begryp dat die woord in breër terme verstaan kan word.

Wat was vir jou met die skryf van hierdie boek maklik? En wat was moeilik? Het die storie net van daardie heel eerste lyk in die eerste sin af gevloei, sonder moeite?

Amper niks aan hierdie boek was maklik nie, as ek eerlik moet wees. Ek moes eers byna ‘n hele boek weggooi en reg van voor begin voor ek by daardie eerste lyk uitgekom het. By tye wou ek my hare uit my kop trek oor daardie eerste lyk, want daarmee het ek ‘n ekstra verhaallyn ingebring by die storie wat ek éintlik wou vertel, naamlik die moord(e) in die Kalahari. En as jy dit eers begin het, moet jy dit volhou, dwarsdeur die res van die skryproses terugkeer na hierdie besonderse akkertjie van die verhaal en hom troetel en voer en help groei. En die hoofverhaal was al vir my moeilik genoeg – daardie “eerste lyk” het regtig ‘n geknoei en ‘n gestoei ontketen, reg tot aan die einde.

Wat is jou hartland(e)? In Suid-Afrika of elders?

Dit is maar Suid-Afrika. Dis die plek wat die grootste emosie by my wakker maak, waar ek nog altyd ‘n bietjie soos ‘n kat op ‘n warm plaat gevoel het, sedert kindsbeen – altyd ‘n bietjie onseker oor die toekoms, altyd ‘n bietjie bevrees vir die huidige, altyd ‘n bietjie kwaad oor wat ons doen en hoe dit is, altyd ‘n bietjie skaam oor wie en wat ons is, maar tegelykertyd ook trots en dikwels heel verwonderd en selfs ontroerd oor waartoe ons in staat is. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top