Kanniedood deur Irna van Zyl: ’n resensie

  • 0

Kanniedood
Irna van Zyl
Jonathan Ball
ISBN: 9780798186025

Daar is misdade wat ’n mens verwag: moord, roof, dwelms, korrupsie. En dan is daar misdade wat jou verras omdat jy nie eens besef het dat dit bestaan nie. Kanniedood deur Irna van Zyl behoort tot laasgenoemde kategorie. Hier word die Klein Karoo se skaars en kosbare vetplante die slagoffers van ’n meedoënlose internasionale sindikaat, en skielik kyk ’n mens met ander oë na daardie klein plantjies wat so onskuldig tussen die klippe groei.

Irna van Zyl is reeds ’n gevestigde naam in die Afrikaanse spannings- en misdaadgenre. Sy het aanvanklik ’n suksesvolle loopbaan in joernalistiek en die media gehad en was onder meer redakteur van De Kat, Insig en Boeke-Insig. Sy het ook ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse mediawêreld gespeel voordat sy haar voltyds op fiksie toegespits het. Haar misdaadromans sluit onder meer Moordvis, Gifbeker, Bloedsteen, Op ’n mooi dag en Kwaaiwater in. Kanniedood, wat hierdie jaar verskyn het, is haar sesde spanningsroman.

Van Zyl se jongste Storm van der Merwe-verhaal begin met ’n moordraaisel in Hermanus. Speuradjudant Storm van der Merwe en sersant Shirien Niemandt word na die toneel van die bejaarde Gerty Jonas se dood ontbied. Aanvanklik lyk dit na ’n natuurlike dood, maar haar seun, Kai Jonas, se vreemde gedrag en verdwyning laat die vrae vinnig meer word. Storm verdink Kai, maar voordat sy die saak behoorlik kan oopvlek, word sy weens bewerings oor haar optrede tydelik uit haar werk verwyder.

Dit is juis hierdie terugslag wat die tweede, groter verhaal laat ontvou.

Storm word deur Jane English, ’n omgewingsaktivis en wildplaaseienaar buite Barrydale, genooi om op haar plaas tot verhaal te kom. Jane vertel haar dat ’n sindikaat besig is om haar plaas se uiters skaars vetplante te stroop. Storm besluit om, ten spyte van haar posisie, te help om die netwerk bloot te lê.

En hier raak die storie interessant.

Die leser word ingetrek in ’n wêreld waarvan die meeste van ons min weet: die georganiseerde stropery van skaars plante wat vir duisende rande oorsee verkoop word. Selfs die diefstal van 23 broodbome uit Kirstenbosch word met hierdie groter netwerk verbind.

Storm is die hart van die verhaal. Sy is vasberade, soms koppig, maar geloofwaardig menslik. Sy wil reg laat geskied, selfs wanneer sy self onder geweldige druk verkeer. Haar sagte kant, veral in haar verhouding met haar ou hond, Purdey, verhoed dat sy bloot nog ’n harde speurder word. Sy bly iemand met wie die leser kan identifiseer.

Rondom haar is ’n sterk ondersteunende groep karakters: Andreas Moerdyk, haar oudkollega wat nou as privaatspeurder en BBP-oppasser werk; Shirien Niemandt, haar huismaat en vriendin; luitenant-kolonel Miet Ritchie; dokter Mona Fillies; Jane English en, natuurlik, Kai Jonas. Dan is daar Eldred Jonas, Kai se ouer broer, wat ‘n baie donkerder karakter is.

Die ruimte waarin die verhaal afspeel, is amper ’n karakter op sy eie. Hermanus bring die polisie- en ondersoekwêreld na vore, terwyl die Klein Karoo met sy klowe, plato’s, klipperige grond, valleie, spekboomwoude en skaars plante ’n heel ander atmosfeer skep. Die uitgestrektheid van Jane se plaas maak dit makliker vir stropers om ongesiens toe te slaan. Die mooi landskap word terselfdertyd ’n kwesbare landskap.

Die verhaal beweeg vinnig, maar is nie gejaagd nie. Net wanneer ’n mens dink jy het die kloutjie by die oor gebring, verander iets. Die aparte gedeeltes waarin die onbekende sindikaathoof se gedagtes na vore kom, versterk die misterie. Die leser weet daar is ’n gevaarlike persoon in die agtergrond, maar weet nie wie dit is nie. Dit skep ’n lekker kat-en-muis-spel.

Wanneer die hoof van die sindikaat uiteindelik geïdentifiseer word, is dit ’n ware verrassing. Die daaropvolgende gebeure laat die spanningslyn tot op die laaste oomblik trek.

........
Die grootste verdienste van Kanniedood is dalk dat dit meer doen as om bloot ’n misdaadstorie te vertel. Dit maak die leser bewus van ’n werklike omgewingsprobleem. Skaars plante is nie bloot plante nie; vir georganiseerde misdaad is hulle geld. En wanneer geld die enigste motivering word, is daar min wat hierdie mense sal keer.
..........

Die grootste verdienste van Kanniedood is dalk dat dit meer doen as om bloot ’n misdaadstorie te vertel. Dit maak die leser bewus van ’n werklike omgewingsprobleem. Skaars plante is nie bloot plante nie; vir georganiseerde misdaad is hulle geld. En wanneer geld die enigste motivering word, is daar min wat hierdie mense sal keer.

Die taal is maklik leesbaar, die dialoog natuurlik, en die woordkeuse pas by die karakters en situasies. Die enkele Engelse uitdrukkings en kraswoorde voel nie geforseerd nie. Dit behoort tot die wêreld waarin die karakters beweeg.

Van Zyl se geneigdheid om verskeie spanningslyne gelyk te laat loop, kan soms die verhaal kompliseer. Die leser moet mooi konsentreer om al die drade te volg. Die feit dat die identiteit van die sindikaathoof so lank verborge bly, werk uitstekend as spanningsmeganisme, maar beteken ook dat die antagonis vir ’n groot deel van die roman meer ’n misterieuse teenwoordigheid as ’n volledig ontwikkelde karakter is. Tog kom die verskillende drade uiteindelik bevredigend bymekaar.

Ek sal Kanniedood aanbeveel vir enigeen wat van ’n goeie misdaadverhaal met spanning, misterie en verrassings hou. Irna van Zyl het my as nuweling in die wêreld van Storm van der Merwe van die eerste bladsye af ingetrek, en teen die einde was ek nie net tevrede met die verhaal nie, maar ook nuuskierig om Storm se vorige avonture te gaan ontdek.

Lees ook:

Landskap met kerk: ’n resensie van Op die spoor van kerkargitek Wynand H Louw

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top