Kannemeyer: onvergelyklike leermeester en gulhartige mentor

  • 0

Die bydrae van John Kannemeyer (1939-2011) tot die Afrikaanse letterkunde kan kwalik oorskat word. Inteendeel, sy bydrae bly steeds die belangrikste verwysingsbron vir enige literatuurnavorser. Ek wil graag aan hom hulde bring as onvergelyklike leermeester en gulhartige mentor.

 

My pad met John loop terug na die sestigerjare toe hy assistent van DJ Opperman in die Departement Afrikaans-Nederlands op Stellenbosch was, maar my eintlike kennis van hom kom in latere jare toe hy met navorsing vir die biografie oor C Louis Leipoldt begin het. Ek kon in hierdie tyd enkele brokkies inligting met hom deel oor die verhouding tussen Leipoldt en die Van Zijl-familie wat ek eerstehands van oudregter Helm van Zijl verneem het. Maar wat belangrik was, was my kennismaking met John se werksmetode as navorser. Alles word haarfyn beplan en as hy met sy navorsing begin, is daar reeds ’n grondplan en stuur hy af op inligting wat hy weet outentiek sal wees, maar veral ook om ingestel te wees vir die onverwagte – die verrassing.

Hy het my vertel dat hy in die tyd wat hy navorsing doen en skryf, ’n intens persoonlike verhouding met sy “onderwerp” – die persoon van sy biografie – ontwikkel. Hy sal foto’s van die persoon in sy huis en studeerkamer hê en sal, as dit beskikbaar is, oor en oor na stemopnames luister en gereeld na video-opnames kyk. Hy leer die persoon van binne na buite ken en is bedag op enige kenmerkende gewoontes van die persoon.

Die koördinering van die inligting is op sigself ’n wetenskaplike bydrae. Hy sal volgens onderwerpe, wat hy weer onderverdeel, eers kennis maak met die volle spektrum van beskikbare inligting. Hiervolgens sou hy aantekeninge maak van dinge wat hy meen hy verder sou kon navors of waaroor hy ’n bepaalde teorie kon bou. Dan word alles fyn geliasseer en volgens ’n bepaalde navorsingsplan aangeteken.

Bandopnames van onderhoude sou hy self transkribeer en weer kontroleer. Weersprekings is aangeteken en ondersoek en eers as hy hom van die feite vergewis het, sou hy besluit of dit in sy patroon pas. Anders verwerp hy die inligting.

Wat fassinerend was, was John se werksmetode met die transkribering van veral Opperman se Joernaal van Jorik en ook sy onvermoeide werk om die versamelde werk van Leipoldt, Uys Krige en later Eugène Marais saam te stel. Die samestelling van die versamelde werk van Leipoldt, wat saam met die biografie verskyn het, is steeds die model van redigering, waar Kannemeyer die eerste keer as edisiewetenskaplike te werk sou gaan. Dit was eers jare later dat ander navorsers hierdie patroon sou volg.

In 2007 het John vir my en Wuim van Zyl genooi om aan te sluit by sy BA Honneurs-klas om ons te betrek by die transkribering en redigering van die briewe van Peter Blum. Ons klas van drie uur elke Vrydag vir die duur van die derde kwartaal was ’n onvergeetlike ervaring. Ons kon, saam met sy ander vyf studente, aan sy voete sit. Hier het ek besef hoe geseënd enige student kan wees wat klas by Kannemeyer loop. Hy is in die woorde van Hennie Aucamp “die ware leermeester” en onbaatsugtig en gulhartig deel hy sy kennis mee.
Ons klas het begin met ’n uur lange lesing oor die edisiewetenskap en die toepassing daarvan en daarby ’n oorsig oor hoe met versamelde werk, hetsy poësie of prosa, in Afrikaans omgegaan is. So tussendeur was daar wonderlike stories oor die vroeë literatuur, maar veral kostelike anekdotes oor skrywers en literatore. Ek het dikwels gewonder of die jonger studente ooit die waarde van hierdie onderrig ten volle kan waardeer. In Kannemeyer se klas kon hy in ’n enkele lesing ’n oorsig oor die Afrikaanse literatuur aanbied wat ’n geheelbeeld bied wat ure se lees jou nie sou kon gee nie.

Kannemeyer se klasse was ’n vrolike affêre. Daar was allerlei grappies en soms so ’n stouterige geterg, maar grense het hy geken. Een van die kostelikhede van ons navorsing oor Blum was die verhouding tussen Blum en die digter Ina Rousseau. Voor ons was al die briewe wat Blum aan haar geskryf het. Ons eerste taak was om hierdie briewe deur te werk – alles sou inderdaad nie gepubliseer kon word nie – dit was net te veel. Ons taak was om ’n seleksie te maak. Redelik skokkende en pertinente verwysings oor die Blum-Rousseau-liefdesverhouding was hierin te lees.

Met die terugrapportering het John ons met so ’n ondeunde blik laat vertel wat kan en wat kan nie. Nogal oomblikke van verleentheid, maar net toe dit oorboord wou gaan, kondig hy aan: nee, “om fatsdoenlike redes” kan alles nie ingesluit word nie. Hy het reeds ’n netjies keuring gemaak wat ons, as sy studente, moes goedkeur.

Wat die studie rondom die Blum-briewe veral boeiend gemaak het, was die annotasies wat as voetnote gebruik is. Dit was opwindend om John hier te sien. Sy uitgebreide kennis, sy onbaatsugtige deel van inligting en sy fyn, wetenskaplike leiding was ’n belewenis. Baie plesier het ons gehad aan al die komieklike en soms heel gemene byname wat Blum vir ander gehad het. Dit was kos vir John, want dié wat hom ken, en ook al sy baie literêre toere meegemaak het, sal weet hoe hy hom kan verkneukel in sulke stoutighede.

Daar was net een keer toe ek darem vir John so effens ore kon aansit, dalk juis omdat ek die ondersteuning kon wen van die vrouestudente. John had dit oor digteresse. Dit bly by hom “die vroulike van digter”, om hom aan te haal. “Nee,” sê ek, “ek het Ina Rousseau geken en ander soos Sheila Cussons en hulle was beslis nie digteresse nie, maar digters.” John kap weer teë, maar uiteindelik kry ons dit reg om al die verwysings in die Blum-bundel van die woord digteres te ontneem. Dalk was die hoofrede dat ek hom kon oortuig dat Cussons was mening was dat die woord digteres in Afrikaans van chauvinisme getuig en die doel het om die vrou as digter as mindere te sien.

Heel dikwels het ek en Wium van Zyl ná die klas by John gaan koffie drink. Dit was altyd besonders – die lekker koffie wat John kon bedien met altyd hoenderpasteitjie en melktert. Dan het John hoofsaaklik oor sy persoonlike ergernis en frustrasies met uitgewers gesels. Wat in hierdie gesprekke gesê is, bly maar liewer tussen die vier mure van John se Agape-tuiste. Wat altyd interessant - en plesierig - was, was John se staaltjies oor skrywers en literatore. Hy kon dit by die dosyn uitryg.

Met navorsingswerk wat ek rondom Sheila Cussons se lewe en werk doen, kon ek altyd by John kers opsteek. Hy was altyd mildelik in sy leiding, gul met inligting en wenke, en altyd bemoedigend. In my laaste gesprek met hom het hy steeds waardevolle wenke gegee, maar veral bemoediging. Ek het hierby ruim gebaat, maar voel reeds die gemis dat hy nie daar is om my enduit te lei soos hy onderneem het nie.

Vir my is John Kannemeyer as leermeester en mentor enig in sy soort – ruimhartig, onbaatsugtig en inspirerend in wat hy deur sy onmeetlik groot liefde vir die Afrikaanse letterkunde deurgegee het. Hy was ’n man van onberekenbare waarde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top