Kan Zille se belastingrevolusie werk?

  • 5

Zille se dreigement om ’n belastingrevolusie te begin, onprakties soos wat dit ook al mag wees, begin al meer onder werkende mense byval vind.

Natuurlik, in die sirkus wat ons politiek kenmerk in die tyd voor ’n verkiesing, moes Ebrahim Rasool darem ook sy stuiwer in die armbeurs gooi. Dis die naaste wat hy nog aan hoogverraad gesien het, beweer hy. Die enigste afleiding daaruit te make is dat hy salig onbewus is van die Zondo-kommissie se werksaamhede en die vele politieke bomme wat daar ontplof het.

Wat is hoogverraad? Dis ’n gemeenregtelike misdaad. Dit word in postapartheid Suid-Afrika algemeen verstaan as “any conduct unlawfully committed by a person owing allegiance to the state with the intention of overthrowing the government of the Republic, coercing the government by violence into any action or inaction, violating, threatening or endangering the existence, independence or security of the Republic, changing the constitutional structure of the Republic.

Beslis nie wat Zille se belastingrevolusie ten doel het nie. Ten beste wil sy die bestaande regering dwing om hul pligte ernstig op te neem.

Neem in ag dat die enigste hoogverraadverhoor wat in postapartheid Suid-Afrika plaasgevind het, die een was teen die Boeremaglede wat in Soweto bomme geplant het en wat beplan het om die president aan bewind te vermoor.

Val Zille se uitsprake in dieselfde klas? Natuurlik nie. Rasool se uitspraak is ontbloot van enige regsrelevansie, maar die politieke dreigement daaragter is kommerwekkend: Staatsmasjinerie sal gebruik word om politieke verskille te besleg. Ongelukkig ’n ou truuk uit die speelboek van die post-Mandela ANC. Ons kan onsself net gelukkig ag dat niemand nog so ver gegaan het as om demokratiese verkiesings te sien as pogings om die regering omver te werp nie.

Die oorreaksie wys egter dat daar wesenlike vrese by die regering bestaan dat burgers hul ontevredenheid sal wys deur nie belasting te betaal nie. Zille kan dalk as die sondebok aangewys word. As die regering eerlik met hulself wil wees – iets wat hulle skynbaar institusioneel onmagtig is om te wees – dan moet hulle erken die vonk in die kruitvat is Agrizzi se getuienis voor die Zondo-kommissie oor korrupsie. As hulle regtig ernstig is daaroor om huis skoon te maak, hoef hulle niks verder as Nkandla te soek om ’n sondebok te kry nie.

Wat is korrupsie? “Anybody who (a) accepts any gratification from anybody else, or (b) offers or gives any gratification to anybody else in order to influence the receiver to conduct him- or herself in a way which amounts to the unlawful or irregular exercise of any duties, commits corruption.” Dis hoe dit in die wetgewing beskryf word. Die meeste mense verstaan korrupsie egter in die ou terme van gebruik van openbare fondse vir privaatgebruik.

Zille het, deur haar uitlating, haar verstaan bewys van iets waarteen die ANC-regering hulle blind staar: Die wittebrood is verby, en na ’n huwelik waarvan die laaste agt jaar deur erge emosionele, finansiële en by tye selfs fisieke geweld gekenmerk is, is baie burgers gereed om hul gunste te weerhou.

Met elke nuwe bewering van ontwerpershandsakke vol kontant, van kluise gevul vir die spesifieke doel om politici om te koop, elke nuwe onthulling van miljarde rande wat wanbestee is, elke nuwe ondersoek wat daarop dui dat die staat geld vermors het asof dit ’n onuitputlike bron is, het gewone burgers woedender geword. Veral omdat daar geen teken is dat daar vervolgings en afdankings sal plaasvind nie.

Die woede spruit deels uit die feit dat dit nou aansienlik duurder is om dieselfde leefstyl te probeer handhaaf as in die voor-Zuma era. Die woede spruit uit die feit dat selfs mense wat bereid was om belasting te betaal omdat hulle glo in die projek van die nuwe Suid-Afrika en bereid was om hul bydrae te lewer, nou ontdek hulle bydrae is gebruik om ’n paar vet katte verder te verryk.

Skole is nie gebou nie, water is nie aangelê nie, elektristiteit is nie voorsien nie, huise is glad nie gebou nie, of anders substandaard gebou, paaie is nie in stand gehou nie, hospitale is nie op standaard nie. Semistaatsondernemings vra elke jaar vir meer en meer geld om verdrinkende instellings te probeer red, en dan word die oorgrote meerderheid van die geld wat ontvang word, gebruik om uitvoerende bestuurslede te betaal.

Sassa-gelde word laat betaal, te min betaal of glad nie betaal nie. Dit beteken die armste van die armes kry nou ekonomies swaarder as wat hulle vantevore gekry het. Nieregeringsorganisasies sukkel om kop bo water te hou, want enige befondsing van die staat is wispelturig, en niemand kan behoorlik beplan nie.

Wat Zille gedoen het, was om te druk op ’n wond wat nou al vir ’n rukkie bloei, stol, roof vorm en dan weer oopgekrap word. Sy het nie die wond veroorsaak nie. Deur hulle beleid van party voor staat het die regering dit gedoen. Baie nader aan hoogverraad as enige uitlating wat Zille kon maak.

Maar prakties, wat beteken dit as Zille dit regkry om mense in groot genoeg getalle te oortuig om belasting te weerhou?

Heel eerste: sy sal waarskynlik redelike sukses behaal met persoonlike belastingbetalers. Om besighede te oortuig om belasting te weerhou gaan aansienlik moeiliker wees, hoofsaaklik omdat besighede makliker teikens vir Sars-ondersoeke is. Tweedens is dit die meeste besighede se heimlike droom om ’n vet regeringskontrak los te slaan, en daardie droom word in gevaar gestel deur belasting te weerhou.

Dan is daar ook die groot aantal transaksies waar belasting ingebou is waarvan mense meestal salig onbewus is. Elke keer as jy petrol ingooi, betaal jy ’n bietjie belasting. Die meeste inkopies, dié wat nie spesifiek van belasting vrygestel is nie, word belas: kos, klere, elektroniese ware, meubels en meer. Daar’s munisipale belasting, belasting op die elektrisiteit en die water wat jy gebruik.

Die enigste manier om ’n belastingrevolusie te veroorsaak, is om alle besteding te stop. Ry fiets werk toe, of stap. Moenie openbare vervoer gebruik nie. Moenie vlieg nie. Moenie inkopies by winkels doen nie – koop direk van boere, of kweek jou eie groente en vrugte en ruil uit met jou bure. Moenie jou munisipale rekening betaal nie.

Dis onprakties. Ten beste kan ’n gedeelte van belasting van die staat weerhou word, maar nie alles nie. Of ons dit wil weet of nie, ons lewe in ’n simbiotiese verhouding met die staat, al voel dit soms eerder na ’n parasitiese verhouding, met ons as gashere.

Wat is die gevolge van belastingweerhouding? Staatsbesteding word onder druk geplaas. Boere kry nie meer droogtehulp nie. Hospitale en klinieke sal met selfs minder tevrede moet wees as wat hulle nou kry. Die heel armste mense, die oumense, jong kinders en ander wat staatmaak op hul maandelikse Sassa-gelde as enigste bron van inkomste, gaan honger ly.

Daar is sinici wat reken die scenario wat ek hier bo beskryf, gebeur in elk geval alreeds, dit kan nie erger nie. Dit kán egter erger. Daar is gevalle waar daar nou tekorte is, maar dis nie deur die bank nie. Daar is nog boere wat hulp ontvang. Daar word nog huise gebou. Daar word nog voorsiening aan hospitale en klinieke gemaak, al is dit nie altyd na wense nie.

Belastingweerhouding gaan ’n situasie tot gevolg hê waar die regering in ’n baie kort tyd glad nie in staat sal wees om enige dienste te voorsien nie. En die mense wat die ergste daaronder gaan ly, is die mense wat die minste kan bekostig om sonder staatshulp klaar te kom.

Kyk maar net na die gevolge van die onlangse staatsluiting in Amerika. Staatsamptenare wat nie salarisse ontvang nie. Huislenings wat nie betaal word nie. Skuld wat nie betaal word nie. Geen petrol om vullisverwyderinglorries of ambulanse aan die gang te hou nie. Brande kan nie bestry word nie. Water word nie gesuiwer nie. Polisie wat nie hul take kan verrig nie. Chroniese medikasie wat nie beskikbaar is nie. Nooddienste wat nie uitgevoer word nie. Instandhouding van rioolaanlegte wat nie gedoen word nie. Misdaad wat toeneem, omdat mense wat nie kan eet nie en desperaat is, sal steel.

Die frustrasie omdat die regering niks doen om mense aan die pen te laat ry nie, is heeltemal verstaanbaar. Die woede omdat hardverdiende geld gaan om mense wat nie hul werk doen nie, te verryk, is begryplik.

Maar belastingweerhouding kan slaag slegs as daardie geld plaaslik gemeenskaplik gestort word en gebruik word om die funksie van die regering oor te neem. Voorsien klinieke en hospitale van middele. Sorg vir kospakkies vir die armes. Bou toilette by skole. Voorsien onderwysers van die hulpmiddels wat hulle nodig het om hul werk te kan doen. Bemagtig en befonds NRO’s om hul werk te doen

Dis korttermyn. Langtermyn moet daar ’n politiese oplossing kom.

Voor die eerste demokratiese verkiesing was daar grootskaalse kiesersopvoeding. Kiesers moet opnuut opgevoed word oor hul regte. Meer as dit, kiesers moet gemobiliseer word om hul keuses uit te oefen. Dis iets wat die afgelope klompie jare nie gebeur het nie. Hoeveel jong, eerste-keer-kiesers stel nie belang om te registreer om te stem nie? Hoeveel jong kiesers wat na die tweede demokratiese verkiesing stemgeregtig geword het, het nog nooit gestem nie en stel ook nie belang om nou te stem nie?

’n Sterk opposissie met ’n duidelike beleid, met etiese, verenigde leierskap moet na vore kom. Tans kan kiesers, ten beste, kies tussen sleg, slegter en slegste. Dit moet verander.

Zille se belastingrevolusie is onbevredigend en korttermyn – ten beste. Net deur demokratiese stemprosesse kan daar blywende verandering kom, maar dan moet kiesers alternatiewe gegee word vir die bestaande, oneffektiewe partye. Of bestaande partye moet radikaal van koers verander en huis skoonmaak.

Die slegte nuus? Dit gaan nie voor hierdie verkiesing gebeur nie. Die goeie nuus? Elke bietjie wat ons elke dag doen, maak ’n verskil. Maak seker dat jou bure en die mense met wie jy saamwerk, gaan stem. Ry hulle aan as dit nodig is. Kry mense betrokke. Onbetrokke kiesers is die grootste gevaar vir eige demokratiese projek.

Net dan kan daar waarlik government for the people by the people wees.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Whatchamacallit Politieke Erdvark

    Bettina, 'n grootliks apatiese, 'n grootliks oningeligte, 'n grootliks ongeskoolde kieserskorps asook 'n groot deel van die kieserskorps onder die duime van "konings en stamkapteins" maak die agterdeur oop vir Animal Farms waar almal "gelyk is maar sommige gelyker as andere".

    Nou wonder ek: "Waarom neem Bettina nie die leiding en stig Bettina nie 'n rolmodel politieke party en wees 'n rolmodel politikus nie? Of is 'n politieke loopbaan sedert 1994 die beroep van die werkloses en diegene wat nie in die staatsdiens 'n pos kan kry of in die privaatsektor kan oorleef nie of wat 'n vakuum vir korrupsie raaksien en korrupsie en mag najaag?"

  • Dit is uiters onverantwoordelik van Zille. Daar is darem nog 'n mate van wet-en-orde. Weerhouding van belasting kan lei tot totale ineenstorting en oorname deur misdaadsindikate en terroristegroepe.
    Dit sal dalk beter wees as die land opdeel in onafhanklike republieke, soos voor 1910. Rofweg moet elkeen van die provinsies 'n staat van sy eie wees.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Onverantwoordelik ... Regtig? Wat bly oor om te doen as belastingbetalers se geld basies 'gesteel' word deur die wanaanwending daarvan, doelbewuste korrupsie en weerhouding van fondse vir die instandhouding en oprigting van infrastruktuur. Om nie eers van al die ander voorbeelde te praat waarna Bettina tereg hierbo na verwys nie.
    Ondervinding leer dat jy moet fokus op waar dit werklik saak- en seermaak. Dis die gouste wanneer mens reaksie kry. Suid-Afrikaners is raadop en keelvol vir politici wat die land in 'n rommelhoop verander en daarom is alternatiewe optredes (Zille s’n 'n voorbeeld daarvan) dringend nodig. Dis in elk geval meer beskaafd en veel beter as gewelddadige optredes en die vernietiging van eiendom, skole en ander infrastruktuur. Die enigste vraag is dalk liewer óf en hóé prakties uitvoerbaar dit is en hoe sulke belastinggeld vir plaaslike gemeenskappe aangewend kan word.
    Ons leef in drastiese tye en dit verg dikwels drastiese optrede.

  • Wat kenmerkend is van alle sg bevrydingspartye is dat 'n nuwe elite na vore kom.
    Die nuwe elite neem eenvoudig oor by die ou elite en behou in 'n nuwe vorm wat die ou elite besit het.
    In die proses raak hul al meer en meer verwyderd van die mense wat hul daar geplaas het, tot so 'n mate dat : “The working class no longer feels itself at home in our party.”Alexandra Kollontai XI CPSU Congress 1922.
    In Suid Afrika kom dit al hoe meer na vore in partye soos die EFF en Black land First en word die druk op die regering al hoe groter om hul verkiesingsbeloftes, soos gratis onderwys ens in werking te stel.
    Dat dit in 'n ontplofbare toestand kan verander wys die hongerstaking deur studente by Wits. 'n belastingboikot sal die land tot stilstand bring en onregeerbaar maak.
    Die ANC-regering pluk nou die vrugte van sy beleid om 'n korrupte Zuma te beskerm en aan bewind te hou, sodat die verkose elite ongesteur gesus kon voortreis op die soustrein.
    'n Beter ingeligte kieserskorps sal beter keuses maak. Ongelukkig is dit nie deel van die ANC se doelwitte nie en bly leë beloftes, kospakkies en T-hemde nog deel van die die party se verkiesingsveldtog.

  • Zille soek aandag want haar "sell-by" datum is verstryk en sy doen reeds voorbrand om binnekort weg te breek van die DA om haar eie party te stig. Hierdie nuutste twiet is nie net op die ingewing van die oomblik gedoen nie.
    Dis 'n weldeurdagte strategie om die DA skade te doen en enersdenkendes te beïnvloed om later by haar aan te sluit.
    Dis eintlik baie 'sad'.Dis soos 'n ou rockster wat net nie kan aanvaar dat sy beste dae verby is nie en steeds vir al kleinerwordende gehore optree.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top