Kan Taylor Swift die Suid-Afrikaanse ekonomie red?

  • 0

Duisende aanhangers by ’n Taylor Swift-konsert tydens haar 1989-wêreldtoer (Foto: Chaz McGregor op Unsplash)

“Die vlakke van regstreekse buitelandse investering in Suid-Afrika word al hoe laer namate internasionale buitelandse beleggers se aptyt taan om kapitaal hier te belê,” staan daar in ’n onlangse berig op Netwerk24.

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met die brandende kwessies vandag. Die huidige stram ekonomie en Suid-Afrikaners se persoonlike geldelike probleme is onder die loep.

In Oktober 2023 verskyn daar in LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) ’n artikel deur Johan Fourie waarin hy skryf:

Ekonomiese geskiedkundiges het deesdae die kwantitatiewe middele om “geskiedenisse van onder af” te ontsluit. Ons wil die vraag beantwoord: Wat gee gewone mense die vermoë om beter lewens te bou, en wat weerhou die vryheid om dit te doen van hulle?

In aansluiting by hierdie ekonomiese gesprekke en die artikel waarna verwys word, praat Waldo Krugell, ’n ekonoom van Noordwes-Universiteit, met Naomi Meyer oor ’n voorstel van hom om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei. Hy skryf ook oor wat Suid-Afrikaners kan doen wat beter na hul eie geldsake wil omsien.



Waldo, ek het jou anderdag op die radio hoor praat toe jy genoem het dat ’n Taylor Swift-konsert ’n geweldige ekonomiese inspuiting in ’n land se ekonomie kan wees. Jy het verwys na ’n onlangse konsert van haar in die VSA, of was dit in ’n ander land? Wil jy dalk uitbrei op wat jy gesê het – watter konsert het so baie geld vir daardie betrokke land ingebring?

Die Eras-toer het wel rekords oortref in die VSA, maar hierdie spesifieke verwysing was na haar optrede in Singapoer. Ekonome daar het die berekening gemaak dat die bykomende besteding wat die konsert daar tot gevolg het, hulle ekonomiese groeivooruitskattings verhoog van 2,5% tot 2,9% vir die eerste drie maande van die jaar. Verskillende syfers word op die internet genoem, maar die een wat mens die meeste sien, is dat die VSA-been van die toer vir haar meer as $1 miljard se inkomste verdien het, en die totale besteding is veelvoude daarvan. Haar ondersteuners reis na die konserte toe, slaap oor, eet uit, koop aandenkings en huur kostuums. Dit is ’n reuse inspuiting van besteding in die ekonomie van ’n gasheerstad.

........
Haar ondersteuners reis na die konserte toe, slaap oor, eet uit, koop aandenkings en huur kostuums. Dit is ’n reuse inspuiting van besteding in die ekonomie van ’n gasheerstad.
........

Jy het pas daarna verwys dat dit nie net die konsert se kaartjies is wat die geld inbring nie, maar ook die oorslaap, die uiteet, die tuisgaan by gastehuise of Airbnb-huise, edm. As die mense aan wie daardie geld betaal word, dan weer daardie geld spandeer, ploeg hulle weer op hulle beurt geld in die ekonomie in. Dit klink eintlik soos ’n wen-wen-situasie. Is dit?

Dit is. Die eerste inspuiting van bykomende besteding se impak word vermenigvuldig soos wat almal wat direk inkomste verdien uit die geleentheid self, weer daardie geld bestee. Die mense wat die verblyf aanbied, restaurante bedryf, Ubers bestuur ens verdien meer inkomste en hulle koop self ’n koffie, en kruideniersware, en betaal hulle huur ens. Hoe groter die deel van die ekstra inkomste wat plaaslik bestee word, hoe groter is die impak.

........
Die eerste inspuiting van bykomende besteding se impak word vermenigvuldig soos wat almal wat direk inkomste verdien uit die geleentheid self, weer daardie geld bestee.
........

Mens moet ook sê dat enige groot byeenkoms, of dit sport is of vermaak, ook onkostes het. Dit maak die gasheerstad besig, veroorsaak verkeersknope, geraas, en sulke dinge wat inmeng met plaaslike inwoners se rustige lewe. Dit kan selfs tot hoër pryse lei. Daar is juis ’n vermaaklikheidsbedryfvoorbeeld hiervan. Stockholm is nie ’n baie groot stad nie en verlede jaar het ondersteuners van Beyoncé wat nie op ander plekke in haar toer kon kaartjies kry nie, vir twee konserte op die stad toegesak. Tot afgeleë gastehuise se pryse het die hoogte ingeskiet in reaksie op die skielike toename in vraag na verblyf.

Die realiteit is dat mense geld moet hê om die kaartjies te koop. Enige oorsese kunstenaar sal baie geld vir ’n kaartjie versoek. Dis duur om ’n venue te huur. Om vir beurtkrag te betaal, vir die infrastruktuur om opgeknap te word, vir ander praktiese sake (die mense wat moet skoonmaak, of op die verhoog moet werk). Maar al daardie bronne van uitgawes is ook bronne van inkomste, met positiewe teenkante van ’n muntstuk. Wat dan van iets meer realisties, soos bywoning by ’n kunstefees? Dit kan tog ook vir ’n dorp ’n ekonomiese inspuiting bied, of hoe? Wat is ’n realistiese soort voorstel binne die Suid-Afrikaanse konteks (as Taylor Swift nou nie regtig hierheen kom nie)

Daar is baie goeie navorsing oor die impak van sogenaamde mega-events op die ekonomie van ’n gasheerstad of selfs -land. Die direkte inkomste en uitgawes is eintlik redelik maklik om op te weeg, maar daar is baie keer indirekte voordele en nadele wat moeilik is om te kwantifiseer. Hoe groot die vermenigvuldigereffek is, hang ook af van hoe groot die inspuiting is, maar ook van watter lekkasies daar is. As ’n groot deel van die ekstra geld buite die plaaslike ekonomie bestee word, is die impak natuurlik kleiner.

.......
Onder ekonome is daar redelike konsensus dat dit ekonomies nie sin maak vir ’n stad om byvoorbeeld die Olimpiese Spele aan te bied nie [...] Op ’n kleiner skaal kan groot sport of groot vermaak wel ’n positiewe bydrae lewer. Kunstefeeste is so ’n voorbeeld.
.......

Onder ekonome is daar redelike konsensus dat dit ekonomies nie sin maak vir ’n stad om byvoorbeeld die Olimpiese Spele aan te bied nie. Dit vereis te veel duur infrastruktuur wat met die beste planne in die wêreld nooit weer sinvol benut word nie. Daar is lesse te leer uit ons eie ervaring met die Wêreldsokkerbekertoernooi in 2010. Formule 1-wedrenne val ook in daardie kategorie. Op ’n kleiner skaal kan groot sport of groot vermaak wel ’n positiewe bydrae lewer. Kunstefeeste is so ’n voorbeeld. Op ’n nog kleiner skaal is daar talle voorbeelde van wildsfeeste, wynfeeste, musiekfeeste, en maratons wat genoeg besteding van buite ’n gemeenskap intrek om ’n kerk, of skool, of welsynprojek sinvol te finansier.

Gepraat van een individu se impak op die ekonomie: Markus Jooste is onlangs oorlede. Daar is hernude belangstelling in programme soos Steinheist op Showmax. As mens wegbeweeg van een individu wie se rykdom buite die gemiddelde Suid-Afrikaner se leefwêreld val, wat leer mens van die ekonomie en van kapitalisme? Of het jy enige gedagtes wat jy kan deel wat nie direk verband hou met Steinhoff of die skandaal nie, maar net verband hou met ’n klein groepie sakemense wat so ’n ontsagwekkende rol speel in die wêreldekonomie? Ek dink nou sommer ook aan daardie baie ryk sakemanne wat oorlede is in die duikboottragedie ’n paar maande gelede.

Ek is ’n groot voorstaander van kapitalisme as ’n stelsel van privaat eiendomsreg en privaatbesit van die produksiefaktore. Natuurgawes, kapitaal, arbeid en ondernemerskap skep die beste waarde binne ’n markstelsel. Die onlangse verlede wys dat ekonomieë wat volgens daardie beginsels georganiseer is, hulle mense baie meer welaf laat as enige sentraal beplande stelsel. Kapitalisme is vir seker nie sonder foute, oftewel markmislukkings nie, en ongelyke verdeling van inkomste en rykdom is een van die mees ooglopende mislukkings. Dit is ’n stelsel wat vir seker individue reuse belonings gee vir harde werk of vir vernuwing. Die afgelope paar dekades was dit veral die tegnologie-entrepreneurs wat amper onskatbare welvaart versamel het. Hulle haal die nuus, maar daar is multimiljoenêrs in elke sektor van die ekonomie. Presies watter rol hierdie elite in die wêreldekonomie speel, is moeilik om te bepaal, buite die werk wat hulle maatskappye doen. Hulle is ongetwyfeld invloedryk. Kyk maar na die debat rondom die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie – dit is tegnologie-entrepreneurs se twiets (as mens dit nog twiets noem) wat die gesprek lei.

Praktiese raad om die ekonomie te laat groei: Het jy enige gedagtes, minder opwindend, wat jy met ons lesers kan deel? Dit kan enigiets wees van moenie skuld aangaan nie (is dit goeie raad?), belê in aandele, begroot elke maand ...

Die deursneeverbruiker en sy of haar huishouding kry op die oomblik swaar met pryse wat hoog bly en rentekoerse wat net so hoog is. Ek mag nie finansiële advies gee nie, maar ek kan sê dat die basiese beginsels geld as jy jou eie finansies op ’n gesonde voet wil kry en begin om welvaart te bou. Dit is dinge soos hou jou besteding heeltyd in die oog. As jy ’n goeie idee het presies waar jou geld heengaan kan jy begin om dit te bestuur.

........
As jy ’n goeie idee het presies waar jou geld heengaan kan jy begin om dit te bestuur. Die volgende stap is om ’n begroting op te stel en jouself eerste te betaal. Met ander woorde, sit eers ’n bietjie spaargeld weg en kom dan uit met die res. Die sleutel is om binne jou vermoë te leef. 
........

Daar is natuurlik lekker apps/toepassings om daarvoor te gebruik. Die volgende stap is om ’n begroting op te stel en jouself eerste te betaal. Met ander woorde, sit eers ’n bietjie spaargeld weg en kom dan uit met die res. Die sleutel is om binne jou vermoë te leef. Ons almal ken daardie een oom of tannie wat niemand eers sou kon raai geld het nie, maar wat baie welaf is. Regte ryk mense mors nie hulle geld op groot huise en nuwe klere en voertuie nie; hulle bou welvaart. Maar moenie net vir my glo nie. Gesels gerus met jou finansiële adviseur en moenie vergeet om haarfyn uit te vra oor die fooie van sy of haar verskillende produkte nie. Sê dan jy wil langtermyn in ’n indeksfonds belê en so min as moontlik kostes betaal. En laaste, bly ver weg van gewaarborgde ongelooflike opbrengste – dit is waarskynlik ’n skema of skelmstreek.

Lees ook:

Suid-Afrika se lang tog na ekonomiese vryheid: ’n Persoonlike reis

Finansiële beplanning – bloudruk vir sukses

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top