Kan Bheki Cele se Teflon hom beskerm teen Gun Free South Africa?

  • 2

Prent: https://pixabay.com/photos/bullets-shells-bullet-shells-2166491/

.............
In Junie 2021 het Daily Maverick berig dat Gun Free South Africa (hierna GFSA) van voorneme is om ’n klasaksie van stapel te stuur teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Die basis van die geding sou wees om skadevergoeding te eis namens families wat die slagoffers was van vuurwapengeweld waar dit bewys is die vuurwapens het vanuit polisiebewaring in die hande van misdadigers beland. GFSA het al die inligting gehad wat hulle nodig het.
.............

In Junie 2021 het Daily Maverick berig dat Gun Free South Africa (hierna GFSA) van voorneme is om ’n klasaksie van stapel te stuur teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die basis van die geding sou wees om skadevergoeding te eis namens families wat die slagoffers was van vuurwapengeweld waar dit bewys is die vuurwapens het vanuit polisiebewaring in die hande van misdadigers beland. GFSA het al die inligting gehad wat hulle nodig het. Projek Impi, ’n ondersoek gelei deur Jeremy Veary en Peter Jacobs, het alreeds gelei tot die skuldigbevinding van Chris Prinsloo, ’n gewese polisiebeampte. Hy is tot 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Bewerings is dat hy die brein was agter ’n kriminele netwerk wat derduisende vuurwapens wat bestem was om vernietig te word, terug besorg het in die hande van kriminele elemente.

Alle vuurwapens waarop beslag gelê is en wat deur ’n hof verbeurd verklaar is, moes na ’n sentrale bestemming in Pretoria versend word waar dit gesmelt moes word. Derduisende vuurwapens het nooit in Pretoria opgedaag nie, en is ook eers weer gesoek wanneer dit opgeduik het in misdrywe wat gepleeg is.

Veary en Jacobs se loopbane is feitlik vernietig toe hulle dissiplinêr aangekla is op klagtes wat ongegrond geblyk het. Alhoewel hulle hul sake in die Arbeidshof gewen het, is hulle uitgeskuif na poste waar hul loopbane begrawe is. Projek Impi was op ’n einde. Prinsloo het wonderbaarlik skaars vyf jaar van sy 18 jaar-vonnis uitgedien voor hy op vrye voet was. Charl Kinnear, besig met ’n ondersoek teen polisiebeamptes wat betrokke mag wees by die wapensmokkelary, is voor sy huis vermoor. Adv Pete Mihalik, wat ’n siviele geding begin het om die staat verantwoordelik te hou vir derduisende misdade met Prinsloo-vuurwapens, soos wat die gesmokkelde wapens genoem is, is doodgeskiet.

Dit het gelyk asof GFSA se beplande aksie gedoem is nog voor dit kon begin. Maar ’n paar dae gelede, feitlik twee jaar later as beplan, het hulle die nodige hofstukke liasseer in die Wes-Kaapse Hooggeregshof om hul klasaksie van stapel te stuur. Die SAPD is in kennis gestel en die nodige dokumente is op hulle beteken. Bheki Cele as minister van polisie is gelys as verweerder.

Die prentjie wat hulle skilder is afgryswekkend. Tussen 2010 en 2016 is 261 kinders met Prinsloo-vuurwapens geskiet. Van daardie getal het 187 beswyk aan hul wonde. ’n Verdere 1660 mense is in dieselfde tydperk met Prinsloo-vuurwapens vermoor, en nog 1403 het aanslae op hul lewens oorleef.

Die prentjie tussen 2016 en 2023 kan net erger lyk.

Ten tyde van die begin van die klasaksie, in Maart 2023, is daar na geraam word nog meer as ’n duisend Prinsloo-vuurwapens in sirkulasie. Wat het Bheki Cele gedoen om die situasie te hanteer? Niks. Hy was te besig om ou vroue wat kos op die tafel probeer sit tydens die Covid-inperking, te laat terroriseer. Hy het oënskynlik nie belanggestel om Projek Impi, of iets soortgelyks, te laat herleef nie.

As selfs net ’n fraksie van die persone wie se lewens deur hierdie vuurwapens geraak is, hulle aansluit by die klasaksie kan die skadevergoeding wat geëis word, miljarde beloop.

Is dit toevallig dat Ramaphosa skielik siek geraak het en nie sy kabinetskommeling kon aankondig nie min of meer dieselfde tyd toe die nuus van die klasaksie bekend geword het? Daar is alreeds heelwat ongelukkigheid oor Cele se kragdadige, oningeligte en onsimpatieke houding jeens misdaad. Nou kom hierdie reuse-aksie wat die SAPD in ’n uiters benarde finansiële posisie kan laat, om van die skade aan hul reputasie nie eens te praat nie. Daar is geen manier dat die president onbewus is van die aksie nie.

Kan Cele se Teflon-beskerming hom hierdie keer red? Hy het tot nou toe wonderbaarlik elke negatiewe gevolg van sy wanadministrasie vrygespring. Ek kan my nie indink dat die president nie na dese besluit dat Cele te veel van ’n aanspreeklikheidsrisiko is, en hom iewers skuif waar hy minder skade kan doen nie.

Indien Cele weer wonderbaarlik ontkom, is dit finaal duidelik dat die ANC in die algemeen, en Cyril Ramaphosa spesifiek, geensins ernstig is oor die bekamping van misdade nie. Hierdie geding behoort aan die groot klok gehang te word. Dit is hoogtyd dat polisielede wat hulle aan rampokkery skuldig maak, en die politieke hoofde wat dit toelaat, aan die pen moet ry.

Die alternatief, dat alle vertroue in die polisie onherstelbaar geskaad word, is bloot ondenkbaar.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top