
Skaduwee: Pixabay
Titel: Kammawaarwêreld
Skrywer: Estelle Kruger
Uitgewer: Naledi https://naledi.co.za/product/kammawaarwereld/
ISBN: 9781776172870
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Die titel Kammawaarwêreld gee ’n leidraad dat hier ’n ruimte is waar “kamma” (fiksie) en “waar” (feit) vermeng word. Die subtitel beskryf dit as ’n metaroman – ’n roman-binne-’n-roman – waarin die ek-verteller die skepper van ’n fiksionele wêreld is. In hierdie outobiografiese narratief is “baie van die storie waar en ’n hele lot is versin” en dit word gesien as “fiksionele memoires” of ’n fiktiewe biografie.
Die hoofkarakter is ’n ware figuur en haar lewensverhaal word ’n storie wat deur Pippa vertel word. Pippa se vertelling word afgewissel met ’n ek-vertelling waar die skrywer persoonlik aan die woord is. Pippa kyk terug. Die leser leer ken haar kinderjare, mislukte huwelik, loopbaan, “affêres”, ouers, kinders en kleinkinders. Sy was ’n swerwer van nêrens op pad na êrens, altyd op soek na betekenis (33) en om ’n stem te kry. Sy besef sy het baie opgeoffer, maar daar het ook baie onverwagte geleenthede gekom (13).
Die werklikheid word egter teenoor ’n “lugspieëling” gestel (44) en die verhaal word deels in die vorm van ’n metaforiese storie vertel. Dit is ’n kunssprokie waarin die skrywer haarself verbeel. Die waarheid en droom raak deurmekaar. Koning, Digter, Towenaar, Koningin Philippa, Kunstenaar, Priester en Profeet tree in gesprek in ’n sprokie waar sy haar in ’n labirint bevind. Selfs Die Lelike Eendjie (96), Gouelokkies (109) en Hansie en Grietjie (112) word ingespan. Die sprokies word as kuns beskou – kreatiewe mense van enige soort kuns wil met hulle skeppings betekenis skep en hulle soek oral in die alledaagse lewe na betekenis (120).
Daar is metafore wat telkens herhaal in die dinge wat sy skryf. Daar word byvoorbeeld verwys na ’n legkaart en mosaïek:
Dan weet ek dat ek weet:
daar is ’n groter mosaïek
wat ek in my wese weef
ek is ’n deel
van ’n misterieuse
groot geheel (178)
’n Lewensreis speel af en die stukkies van die legkaart word terugskouend gemeet en gepas.
Twee hoofstukke verwys spesifiek na ’n skoenlapper – “Skoenlapperstories” (177) en “Metamorfose van ’n skoenlapper” (383). Die skoenlapper se groei vanuit ’n papie in ’n toegespinde kokon na ’n veelkleurige vlinder wat vry is om onbevange die wêreld in te vlieg, is soos haar lewe uitgespeel het. Hierdie beeld sluit aan by ’n beskrywing waar sy haar in ’n droombeeld in ’n donker grot bevind het, maar die lig het ingekom en haar geraak (423). Tog sê sy: “’n Droombeeld is nie ’n verslag van die werklikheid nie” (118).
Deur haar verhaal neer te pen, is daar na antwoorde en klaarheid gesoek. “’n Storie wil ek skryf [...] Soek ’n kuur vir al die stryd wat in my woed” (424). Sy kom tot die gevolgtrekking: “Ek het telkens my eie pad gemaak; dit was mý manier.” Haar eie pad ontvou in hierdie verhaal en sy slaag ten einde daarin om die kuur en klaarheid te vind waarna sy jare lank gesoek het. Aan die einde “flits eggo’s van verlange en hoop in die dieptes van my hart” (432). Elkeen in die lewe loop sy pad met menige vrae, drome en bepeinsings en, soos Johan Anker dit verwoord het, word dit ook ’n refleksie op jou eie lewe.
Die gebruik van illustrasies en poësie gee ’n verrykende invalshoek.
Kammawaarwêreld daag die grense tussen feit en fiksie uit. Niks kan die waarheid vertel soos fiksie nie.