Kalushi: The story of Solomon Mahlangu – ’n filmresensie

  • 1

Kalushi: The story of Solomon Mahlangu

Regie: Mandla Dube
Draaiboek: Mandla Dube en Leon Otto
Spelers: Thabo Rametsi, Thabo Malema, Welile Nzuza, Jafta Mamabolo, Pearl Thusi, Gcina Mhlophe, Marcel van Heerden, Louw Venter

Politieke kenners het lank gewaarsku oor pruttende woede by jong swart Suid-Afrikaners wat gaan oorkook, en in April 2015 het dit toe gebeur met #RhodesMustFall en alles wat daarop gevolg het. Sedertdien het die samelewing gewoond geraak aan slagspreuke soos Whites Must Fall en Kill All Whites. Maar waar lê die wortels van hierdie sentimente? Kalushi, die lewensverhaal van struggle-aktivis Solomon Mahlangu, gee heelwat antwoorde op dié vraag. 

Die kyker word teruggeneem na 16 Junie 1976 en die begin van die Soweto-jeugopstand wat ’n bepalende rol gespeel het in die uiteindelike val van die apartheidsregering. Anders as sy vriend Mondy (Thabo Malema) het Solomon (Thabo Rametsi) nie dié dag aan die protes deelgeneem nie. Hy was besig om groente te smous om sy ma (Gcina Mhlophe) se inkomste as huisbediende aan te vul. ’n Wit polisieman op ’n trein het hom egter só erg aangerand en verneder dat hy besluit het om saam met sy vriende die land te verlaat om by die ANC se gewapende stryd aan te sluit.

In Junie 1977 het drie van hulle na Suid-Afrika teruggekeer met wapens en ammunisie. Hul beplande operasie het skeefgeloop en Mondy het kop verloor en twee wit burgerlikes doodgeskiet. Hy en Solomon is gearresteer, maar Mondy het tydens die brutale polisie-ondervraging breinskade opgedoen sodat hy nie in die hof kon verskyn nie. Volgens die Gemene Saak-wet is Solomon toe skuldig bevind aan die moorde. Hy is in 1979 gehang, terwyl die aanklagte waaraan hy werklik skuldig was slegs ’n vonnis van vyf jaar sou beteken het.    

Kalushi belig ’n belangrike hoofstuk in ons land se hartseer, komplekse geskiedenis en as sulks is dit ’n noodsaaklike fliek om te gaan kyk – des te meer omdat regisseur Mandla Dube hom weerhou het van ’n eendimensionele blik daarop.

Sterre: 4

  • 1

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ek is nie 'n voorstaander van die doodstraf nie (lees maar In die Laksman se Skoot), maar ek meen die regsbeginsel moet darem korrek gestel word hier:

    "Volgens die Gemene Saak-wet is Solomon toe skuldig bevind aan die moorde. Hy is in 1979 gehang, terwyl die aanklagte waaraan hy werklik skuldig was slegs ’n vonnis van vyf jaar sou beteken het."

    Die beginsel (common purpose) is so eenvoudig as wat dit oud is. Deelnemers se gemeenskaplike doel maak hulle almal skuldig aan die misdaad wat binne hulle gemeenskaplike onderneming val. Daar is al honderde misdadigers (wit en swart) veroordeel en tereggestel op hierdie beginsel, nie net in SA nie, maar ook in Brittanje, die VSA en elders.

    As dit nie so was nie, sou slegs die bankrower wat die sneller trek en die teller doodskiet skuldig wees aan moord, terwyl sy makkers wat die geld uit die kluis gaan haal onskuldig bevind word aan die moord. So ook die man wat die "getaway" motor vir hulle bestuur, wetende dat hulle die bank met wapens gaan beroof en sal skiet as hulle dit nodig ag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top