Kalmeer, dis net Robbie

  • 2

Foto: Robbie Wessels se Facebook-blad

Vroegoggend stuur ek ’n teks vir ’n vriend, met ’n YouTube link na Robbie Wessels se “Gym of all nations”. Eintlik wou ek net hê hy moet die woorde luister, maar my jonger pel is nie beïndruk nie: “Kan niks van hom verdra nie. Sorrie, het nie eens oopgemaak nie,” teks hy terug.

My jonger vriendin “hou nie van Afrikaanse musiek nie” het sy al telkemale gesê. Ek stuur vir haar die link uit moedswilligheid en nuuskierigheid. “Hahaha,” tik sy, “ek het lekker gelag oor die Alsatians.”

Ek wonder die res van die oggend oor die twee uiteenlopende reaksies. Ek is nie ’n dubbelbrandewyn-by-die-vuur-tipe ou nie maar ek waardeer goeie lirieke, en ek hou daarvan as iemand my laat lag. Robbie se “Gym of all nations” is goed geskryf, baie snaaks en hy gebruik beelde wat enige digter jaloers sal maak. “Hy lyk soos ’n kondoom vol akkers,” beskryf hy die gespierde ou by die gym, en gaan dan voort om te vertel van die Gym of all Nations, waar die bendes uithang saam met ’n diverse verskeidenheid van nasionaliteite:

“Hier’s Asians, Israeli’s, die Scottish en die Irish
hier’s somtyds Filippyne, selfs Filistyne
en soms ook die manne van die myne …”

Ek weet nie of Robbie bedoel het om so polities inkorrek te spot met diversiteit nie. Dis so ’n groot woord in wêreldpolitiek dat ek dit eintlik met ’n hoofletter moet skryf. In baie wêrelddele veroorsaak die oopgooi van grense om “diversiteit te bevorder” groot probleme, ook in Swede. En terwyl politici en diversgesindes daaroor wroeg, sing Robbie:

“Hy’s ’n Japannese boer van Swede
Hy glo in wêreldvrede
Hy’s die leier van die gang Temptations.”

Maar dis dalk bietjie ver gevat; ek dink nie Robbie is lus vir wêreldanalise nie. Hy wil net vermaak, en ons ’n bietjie laat lag. Nie eens die warm onderwerp van bendes – veral in die Kaap – spring sy humor vry nie. By die Gym of all Nations is die eienaar ook “die leier van die gang Alsatians”, en daar is ook ander bendes wat daar uithang: die Temptations en die 101 Dalmatians. Maar niemand word regtig kwaad nie en geweld is beperk tot “Gerrie van die Wesrand [ … ] geklap deur ’n Temptation met ’n plathand”.

Vanweë my onkunde kon ek nog nooit sekere fiksheidsaktiwiteite ernstig opneem nie, soos Pilates. By Robbie se Gym of all Nations kom ons af op die “Koning van Pilates, altyd sy verskoning as hy laat is” en “vandag is dit al wat hy in staat is”. Ook gay mans loop deur:

“Want jy hol nie op ’n treadmill konvooi nie
Selfs al sou iemand jou uitnooi nie
Al is hy single en al is hy hoe mooi nie
dis teen die reëls.”

’n Mens kan seker sê daar is sekere goed waarmee nie gespot moet word nie; dat ons omsigtig moet omgaan met sensitiewe onderwerpe. Maar dis ook waar dat ons moderne woordeskat by die dag verder ingeperk word deur polities korrekte spraak. Sekere goed mag nie gesê word nie of moet op ander maniere gesê word. Robbie se woordeskat word deur humor uitgebrei.

Die lourierdigter en Nobelpryswenner Seamus Heaney het almal laat regop sit toe hy in 2003 erkenning gegee het aan die hip hop-sanger Eminem: “There is this guy Eminem. He has created a sense of what is possible. He has sent a voltage around a generation. He has done this not just through his subversive attitude, but also his verbal energy.” Die literati sluk vandag nog swaar hieraan want wie luister na hip-hop?

Of na Afrikaanse musiek? Dis blykbaar mode om nie van Robbie Wessels se musiek te hou nie, selfs al het jy nog nie ’n noot daarvan op die oor gehad nie. Maar gaan luister skelmpies in jou slaapkamer, met die deur toe. Jy sal dalk net verras wees oor wat jy ontdek.

Luister hier

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Dr Marthinus Jordaan

    Robbie vertel net hoe ons matjieskombers lyj. In die geval gym. Vertel die stories asb?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top