Kaapstad is beslis gereed om te rock! We will rock you!

  • 0

Galileo Figaro

Die nuwe musiekblyspel We will rock you het uitverkoopte vertonings in die Filippyne gehad en toe met ’n Suid-Afrikaanse geselskap die harte gesteel in Johannesburg by Montecasino. Die vertoning handel oor ’n groep “boheemse” mense in ’n distopiese toekoms sonder musiekinstrumente en waar enige musiek wat nie deur Global Software vervaardig en geprogrammeer is nie, onwettig is.

Ek het gewonder hoeveel van die konsertgangers hul programme behoorlik gelees het. Die stuk is nie ’n huldeblyk nie en dit vertel ook nie die storie van Queen of die legendariese Freddie Mercury nie. As dit is wat jy verwag, gaan jy teleurgesteld wees, dink ek toe die ligte doof en die laaste lekkergoedpapiertjie langs my kraak.

Dis ’n musiekblyspel deur Ben Elton met ’n baie interessante – en relevante – storielyn wat verweef is rondom 24 van Queen se gewildste treffers, insluitend “Crazy Little Thing Called Love”, “Killer Queen”, “We are the Champions”, “Another one bites the dust” en natuurlik “We Will Rock You”. Hier en daar is ’n woordjie aangepas om by die tema te pas, maar andersins is dit elke treffer wat ons maar te goed ken.

Londiwe Dhlomo speel die skurk Killer Queen wat Planet Mall met ’n ystervuis regeer en almal wat die musiekwet oortree of uit pas stap, laat breinspoel. Haar gedienstige kneg, Khashoggi (Craig Urbani), gaan tot alle uithoeke van die planeet om skuldiges vas te trek. Rock ’n roll is dood en dis vir hulle goed so.

Galileo Figaro en Scaramouche

’n Handjievol rockrebelle, die Bohemians, wat by die Heart Break Hotel op Planet I uithang, probeer uitvind hoekom rock uitgesterf het. Toe twee van Planet Mall se “opstandiges” uitgeskop word en by hulle aansluit, begin die soektog in alle erns, omdat hulle vermoed dat Galileo Figaro (Stuart Brown), die dromer wat vreemde woorde in sy kop hoor, dalk dié een is wat die verborge hamer sal vind by die Plek van Kampioene. Nicolette Fernandes speel teenoor hom die hoofrol van die “sarkastiese en siniese” Scaramouche (Nicolette Fernandes), wat nooit voorheen enige plek ingepas het nie.

Sy en Galileo besef egter dat die bestaan op Planet Mall verkeerd is en hulle nie verder daar sou kon oorleef nie. “Ons is individue, ’n virus in Global Software se program.”

Oz en Brit

Dis egter Brit (Richard Gau) en sy geliefde Oz (Danelle Cronje) wat saam met Buddy (Tiaan Rautenbach) die “presiese datum waarop die musiek gesterf het” probeer uitpluis en die voortou neem. Hulle glo as hulle die hamer kan vind, sal hul soektog na vryheid, liefde en die herlewing van rock kan gebeur. Die hamer is glo die enigste musiekinstrument wat nog bestaan.

Khashoggi en Buddy

Of diegene om my geweet het wat op hulle wag, of nie, maak nie saak nie: hulle was dalk só betower deur dit wat voor hulle afspeel, dat hulle nie omgee nie. Daar waar die gehoor nie luidkeels saamgesing of saamgeklap het nie, het die teatervloer gedreun van die voetestamp.

Die sewe hoofrolle word deur ervare akteurs en sangers vertolk. Hul stemme dra hoog bo die gehoor se koppe verby en sweef op die wolke tot daar waar selfs Freddie Mercury hulle kan toejuig.

Die ensemble is 20 sterk en van soepel, veelsydig en eksentriek het jy lanklaas gesien. Distopie is beslis nie vir sissies nie!

Die kostuums is boheems, iets tussen Mad Max en Star Trek en Aliens en daar is baie valle en frille en grille. Hulle maak musiek met verkeerskegels, plastiekdromme, geroeste bakplate en stokke. Iewers kom die wyse woorde: “It is never necessary to acapella!”

Buddy hou vol dat rock ’n roll nie dood is nie, maar bloot in ’n diepe slaap verval het. Jong mense se verknogtheid aan hul selfone en sosiale media kom gereeld onder die loep en word blameer vir die dood van rockmusiek.

Die musiekblyspel is ’n soort-van-teatervennootskap tussen Engelse en Suid-Afrikaanse kunstenaars, promotors, musikante en ontwerpers. Dit is geskik vir oud en jonk, want al ken jy nie die musiek nie, sal die distopiese rekenaarwêreld iewers in die uitspansel sekerlik jou hartsnare roer. Maar dat dit uiteindelik – soos Hazel Feldman van Showtime Management voorspel het – “ontaard in ’n rockkonsert” is gewis.

Toe die laaste handeklap weggesterf het, maar almal steeds bly staan, flits die boodskap oor die verhoog: “Do you want Bohemian Rhapsody?” Natuurlik, hoe vra julle nog? Die gehoor verstaan nie lekker dat hulle “Bo Rhap, Bo Rhap” oor en oor moet skree soos jong besetenes nie, maar dit stuit nie die span nie. Die hele geselskap word deel van die laaste oorgawe, ala Queen-styl. Dis nou ware Kumbaja!

Die gehoor se applous het Londiwe Dhlomo (Killer Queen) as hul gunsteling uitgesonder, maar my geld lê by Brit (Richard Gau) en sy geliefde Oz (Danelle Cronje), want sulke stemme gaan nog groot hoogtes bereik.

Die woorde van die resensie in Step Out Gauteng som sekerlik die gehoor se reaksie die beste op: “In short, this Rock Musical is Funny, Brilliant, Legendary, Memorable and … well … EPIC. I hope that clears it up for you.”

Beter kan ek dit nie stel nie.

  • Alle foto’s verskaf.

We will rock you
Deur Ben Elton, met musiek van Queen
Kunstekaap Operahuis tot Sondag 4 Junie  
Dinsdag tot Vrydag om 20:00, Saterdag om 15:00 en 20:00, Sondag om 14:00 en 18:00.

Bespreek aanlyn by www.showtime.co.za of www.ticketmaster.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top