
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Kaaps: woriboek, woordeboek, dictionary
Onder leiding van Quentin Williams
Uitgewer: Shofar
ISBN: 9781037049460
Te koop by The Book Lounge
Die historiese en heel eerste omvattende woordeboek van Kaaps is amptelik in 2026 bekendgestel. Dit is nie ’n woordeboek van Kaapse Afrikaans nie, maar ’n woordeboek van Kaaps. En daardie onderskeid is deurslaggewend. Die woordeboek is drietalig en elke inskrywing word in Kaaps, Afrikaans en Engels uiteengesit. Tesame met die 50ste herdenking van 16 Junie 1976, die dag van die bekende Soweto-onluste, waar Afrikaans die status van die “taal van die onderdrukker” verkry het, open die publikasie van Kaaps. Woriboek – Woordeboek – Dictionary (hierna KW) weer ou vraagstukke ten opsigte van die geskiedenis, waaroor daar nog weinig konsensus bestaan. Want hierdie is nie net nog ’n woordeboek nie. Die boek maak ’n statement. En dit is nie een wat ewe gemaklik met alle sprekers van Afrikaans sal sit nie. Dit gaan hier oor die vertrekpunt van die taal, die wortels, die geskiedenis, hoe Afrikaans en Kaaps ontwikkel het, asook hoe die status van Kaaps en Afrikaans in die sosiolinguistiek en die geskiedskrywing daar moet uitsien.
Die verwarring kan miskien ten beste belig word deur die vergelyking tussen twee tersaaklike teenstrydige bronne. Vra byvoorbeeld enige KI-sisteem vandag wat is Kaaps, en die antwoord sal waarskynlik minder of meer as volg wees: Kaapse Afrikaans is ’n variëteit van Afrikaans. Hierdie definisie van Kaaps is ook steeds die heersende definisie van Kaaps binne die Afrikaanse sosiolinguistiek. Daarvolgens het Afrikaans op verskillende plekke in Suid-Afrika ontwikkel tot drie historiese variëteite, naamlik Kaaps oftewel Kaapse Afrikaans, Oosgrensafrikaans en Oranjerivierafrikaans.1 Die teorie stel dit verder dat teen die tyd dat die gestandaardiseerde weergawe van Afrikaans ontwikkel het gedurende die 20ste eeu, dit die sogenaamde Oosgrensvariëteit was wat die swaarste invloed op die standaardweergawe van Afrikaans uitgeoefen het.2 Die sosio-ekonomiese gevolge hiervan was, en is steeds vandag, verreikend vir die sprekers van Kaaps.
’n Mens hoor dikwels die waarneming dat Afrikaans een van die “jongste tale” op aarde is, maar KW skets ’n heel ander prentjie ten opsigte van Kaaps. Die vraag wat mens miskien moet vra, is: Wat maak ’n taal amptelik? Is dit wanneer dit op ’n wetboek verskyn? Of is dit wanneer dit gewoon wyd gebesig word? In KW word daar in die afdeling “Erkennings” verklaar dat hierdie woordeboek voortspruit uit “vrae aangaande gelykheid, taalkundige geregtigheid en ’n diep, hygende behoefte om vrede te vind vir ons voorouers wat hierdie taal as ’n slawe-lingua franca gepraat het” (307).
Afrikaans se wortels strek self baie eeue terug in die tyd, maar die taal Afrikaans het eers in 1925 amptelike status deur middel van wetgewing verkry. Daarteenoor beskryf KW op die buiteblad van die boek die taal Kaaps as “een van die oudste tale in Suid-Afrika”. In die inleiding van KW, getiteld “Inleiding: Wat is Kaaps?”,3 word daar aangehaal uit die hersiene 2024-taalbeleid van die Universiteit van Kaapstad, wat Kaaps as volg definieer: “Kaaps is an African language formed out of a slave lingua franca used among the indentured indigenous and enslaved populations in the Cape Colony.” Hierdie definisie, hoewel nie onversoenbaar met die KI[definisie in terme van die ontstaansgeskiedenis van Kaaps nie, benader Kaaps wel as ’n taal uit eie reg, met ook die verstaan dat Kaaps ouer is as Afrikaans, en dat Afrikaans se wortels eintlik in Kaaps lê, en nie andersom nie. Hierdie siening wyk dus aansienlik af van die gevestigde en heersende posisie binne die Afrikaanse sosiolinguistiek, wat die drie variëteite van Afrikaans as die oorsprong van Afrikaans voorhou. Daarteenoor argumenteer die samestellers van KW dat Afrikaans weens “taalkundige imperialisme” gebruik was om Kaaps en die sprekers van Kaaps te onderdruk (33).
Afrikaans en Kaaps is bekend daarvoor dat die twee tale histories ’n komplekse en ongemaklike verhouding het, en dit lyk nie asof dit spoedig gaan verander nie. Hierdie bespreking poog maar net om die problematiek uiteen te sit sonder om ’n spesifieke posisie te verdedig. Gevestigde belange maak dit moeilik om konsensus te kan bereik en van ou bekende weë af te wyk. Sommige voorstelle wil dat Afrikaans geherstandaardiseer moet word om die skeidslyn tussen die twee tale te verklein, maar of dit ooit sal gebeur, is ’n ope vraag. Waar Afrikaans spartel om vir Kaaps ruimte te maak, kan Afrikaans self ook gesien word as ’n variëteit van Kaaps, eerder as andersom, hoewel dit ’n ope vraag is of dit ooit so in wetgewing neerslag sal vind. Die twee tale deel ’n groot stuk geskiedenis en maak aanspraak op dieselfde skrywers (soos Adam Small, Ronelda Kamfer, Peter Snyders en ander), maar dit lyk of die twee tale skynbaar elkeen eerder ’n eie pad sal stap in die toekoms. Kritiek teen die gebruik van Kaaps in formele situasies is ook welbekend. Kaaps word byvoorbeeld veral gekritiseer vir die gewigtige invloed van Engels daarop. Die samestellers van die KW skryf dit toe aan die kolonialisering van die Kaap deur Brittanje (37).
Ten opsigte van die geskiedenis sal die mensdom nooit konsensus bereik nie. Geskiedskrywing is dikwels meer besig daarmee om mense te verdeel as wat dit hulle versoen. KW sluit egter ook aan by ander revisionistiese tekste, soos die geskiedenisboeke van onder meer Patric Mellet. Maar of mens met die filosofiese vertrekpunte van die publikasie saamstem of nie, bly KW ’n welkome publikasie wat ’n besondere bydrae kan lewer, spesifiek ten opsigte van die assessering van leerders wat in Kaaps wil leer. Hierdie leerders word benadeel omdat hulle noodgedwonge in Afrikaans moet studeer, en dus nie in hulle moedertaal nie. Die wil bestaan voorts ook om Kaaps se vlerke verder te sprei, en nog groter erkenning vir die taal te verkry. Mens kan verwag dat daar in die toekoms nou veel meer in Kaaps gepubliseer gaan word, en vir lesers van Afrikaans wat nie vertroud is met verskeie van die Kaapse woordeskat nie, is hierdie ’n boek wat mens eenvoudig op jou boekrak sal moet hê as jy saam in Kaaps sal wil lees. Daar sal ook hopelik in die toekoms nog digitale weergawes van KW ontwikkel word, sodat dit makliker wêreldwyd kan versprei en gebruik kan word.
Nota’s
1 WAM Carstens en EH Raidt (2019), Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika – biografie van ’n taal. Protea Boekehuis, Pretoria, ble 239–50.
2 Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, “Wat is Afrikaans?” (https://taalmuseum.co.za/wat-is-afrikaans), afgelaai op 12 Junie 2026.
3 Bl 29. Die inleiding in die woordeboek word volledig in Kaaps, Afrikaans en Engels aangebied.
Lees ook:
Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams



Kommentaar
Dis jammer dat die skrywer die "problematiek [probeer] uiteen ... sit" sonder om bestaande navorsing en besinnings oor die saak te raadpleeg of mee om te gaan. Die "skeuring" tussen Afrikaans en Kaaps - wat die skrywer blyk onkrities te aanvaar deur klakkeloos die Kaaps Woordeboek se beskrywing van die twee as afsonderlike "tale" na te praat - is een wat nog groot gevolge sak hê, op verskeie vlakke.
Terloops, Adam Small het uitdruklik verklaar dat Kaaps NIE vir hom enigsens iets anders as Afrikaans is nie. Om hom aan te haal: "En, natuurlik, Kaaps is Afrikaans. Of, soos die akademiese mense sê, een van Afrikaans se variante." Hy het verder gesê: "Ondanks die feit dat ek kan opgaan in Kaaps en dat dit vir my baie opwindend is dat daar selfs sprake is daarvan as skooltaal, wil ek tog keer dat dit weer aangegryp word vir verdeling, om mense wat Kaaps praat as anders te sien. Dit sou rubbish wees. Daarvoor sien ek nie kans nie, want dan is ek hoegenaamd nie verstaan nie." Dis betreurenswaardig dat die skrywer deelneem aan 'n appropriatiewe diskoers wat Small se erfenis verwring - in die besonder 'n diskoers wat deel van 'n etnies-nasionalistiese beweging uitmaak.
Vir die wat belangstel, lees gerus die artikel "On Woordeboekapartheid [Dictionary Apartheid]: A Critical Archaeological Genealogy of a South African Lexicographic Phenomenon with Reference to Kaaps, Dutch, and Afrikaans" wat onlangs in die International Journal of Lexicography verskyn het; asook "On Stryd-perke [Limited Spatio-Temporal Struggles) vis-a-vis Racialised Nationalism and South African Language Political Memory: An Archaeological Genealogy of Kaapse Afrikaans" wat in die Journal of Nationalism, Memory & Language Politics verskyn het. Beide kan gratis aanlyn geraadpleeg word.
Barend, dankie vir die lesersindruk. Jy probeer die komplekse verhouding tussen Kaaps en Afrikaans eerlik uiteensit, en jy wys tereg dat die woordeboek ’n statement maak wat nie by almal gemaklik sal sit nie. Dit is ’n goeie begin.
Tog voel ek die stuk bly nog te oppervlakkig oor ’n baie belangrike deel van die Kaapse geskiedenis. Die vroegste opgetekende skryf van wat ons vandag Kaaps noem, het grootliks uit die Kaapse Moslem-gemeenskap gekom – in Arabiese skrif. Dit was gebede, preke en godsdienstige tekste.
Onder die Engelse kolonisasie ná 1806 moes hierdie gemeenskap oorleef deur presies hierdie tradisie te bewaar: in hul madrasahs, in hul huise en in hul geloof.
Die taal was nie net ’n variëteit nie – dit was ’n manier van oorlewing en identiteit in ’n tyd toe die Britte Engels probeer afdwing het en die ou strukture besig was om te verander.
Die Taalmonument in Paarl het later presies hierdie deel van die storie grootliks uitgesluit. Dit het Afrikaans voorgestel as ’n wit, Christelike prestasie. Baie mense in die Kaap het dit as ’n verdere miskenning ervaar van die ryk, gemengde en Moslem-wortels van die taal. Wanneer ons vandag oor die Kaaps Woriboek praat, is dit belangrik om hierdie historiese stryd ook te erken, anders bly die gesprek half.
Luan, jy maak ’n geldige punt wanneer jy waarsku teen onnodige skeuring en Adam Small aanhaal. Small wou nie hê Kaaps moet gebruik word om mense as “anders” te sien nie. Dis ’n belangrike waarskuwing. Maar die historiese werklikheid is dat die Kaapse Moslem-gemeenskap al lank ’n eie skryf- en taaltradisie gehad het wat onder koloniale druk moes oorleef. Om dit net as “een van Afrikaans se variante” te beskou sonder om die spesifieke stryd en bydrae ernstig op te neem, doen ook nie volle reg aan die geskiedenis nie.
Ek dink albei kante sal baat by meer openhartige erkenning van hoe die Kaapse gemeenskappe die taal onder baie moeilike omstandighede lewend gehou het. Dit hoef nie verdeeldheid te beteken nie – dit kan juis die gesprek dieper en eerliker maak.