
Henning Janse van Vuuren het ná skool aan die Universiteit van Pretoria in die regte studeer. Daarna sluit hy hom by die Suid-Afrikaanse Polisie aan, waar hy ’n offisier word. Hy bekwaam hom later as prokureur, maar sy passie vir skryf laat hom ’n kursus in kreatiewe skryfkuns en joernalistiek loop. Hy het ook as joernalis vir Laevelder in Nelspruit gewerk. Etlike kortverhale uit sy pen, in Afrikaans sowel as Engels, is op LitNet gepubliseer en in 2012 debuteer hy met Kruitvat. (Laai Kruitvat hier af.)
Henning se manuskrip Tamatiestraat was ’n finalis in die Sanlam/Tafelberg Jeugromankompetisie gedurende 2009/2010.
Hy som die verhaal só op: "Die veertienjarige Lelanie Louw se ma spring onverwags saam met haar nuwe man op ’n vliegtuig na Europa. Niemand het ’n idee wanneer om haar terug te verwag nie. Inteendeel, dit lyk al hoe meer vir die snipperige Lelanie of sy glad nie terugkom nie. Skielik moet sy en haar ouer broer Dewald by hul pa in sy woonstel intrek en teen wil en dank aanpas. Chambord-woonstelle in Pretoria huisves verskeie vreemde karakters, sommiges met verskuilde agendas – en soos enige kind weet hou hoërskool al reeds genoeg uitdagings in. Asof hulle lewens nie genoeg ontwrig is nie, raak dinge lelik sodra Gustav Buitendach vir Dewald vra om vir hom ’n pakkie by die woonstel af te gee ..."
Hy het die manuskrip afgestof en opgekikker en die eindproduk is geskik vir lesers ouer as dertien (en gratis aan e-lesers beskikbaar gedurende Januarie).
Naomi Meyer het hom oor sy boek uitgevra.
Hallo Henning, ek sien jou boek Tamatiestraat was ’n finalis van die Sanlamprys vir Jeuglektuur in 2009/2010. Het ’n harde kopie van die boek verskyn? Of is dit beskikbaar as e-boek?
Tamatiestraat is nou vir die eerste keer uitsluitlik as ’n e-boek beskikbaar. Te veel woude word afgekap vir louwarm lektuur. 
Waarom het jy besluit om nou die boek by te werk en op te knap en gratis gedurende Januarie aan lesers beskikbaar te stel?
Ek het gedurende 2009/2010 ’n geldelike bydrae van die Departement van Kuns en Kultuur ontvang vir die skryf van Kruitvat. Laasgenoemde is in 2012 uitgegee. Ek het heelwat geleer en besluit om weer aan Tamatiestraat te skaaf; om die waarheid te sê het ek ook nie kans gesien om dadelik ’n nuwe storie aan te pak nie.
Ek stel Tamatiestraat aanvanklik gratis beskikbaar as deel van ’n eksperiment waarin ek hoop om my naam as skrywer te bevorder. Stroomop is leeuwêreld.
Hoe moet lesers maak wat graag jou boek wil lees?
Dit is baie maklik. Jy klik net hier en laai dit in die formaat van jou keuse af. Jy kan dit selfs aanlyn lees.
Waarom het jy hierdie boek geskryf en waarom vir hoërskoolleerders?
Ek het dit spesifiek vir die kompetisie geskryf. My dogter was destyds so veertien en ek het besluit ek beweeg genoeg in die binnekringe om so ’n roman aan te pak. 😉
Laai Tamatiestraat gratis gedurende Januarie hier af.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

