Jou grendeltyd: COVID-19-grendeltydlesse

  • 0

In die huis waar ek grootgeword het in die sestigs, het die kombuis net een opwasbak gehad. Selfs in die sewentigs, toe daar te veel kinders en oupas en oumas in die huis was en daar ’n opwaskamer aangebou moes word, is daar net een opwasbak ingebou.

Die drie seuns was verantwoordelik vir skottelgoedwas, maar wanneer Ma nie meer die gestry kon verdra oor wie gaan was, wie afdroog en wie gaan wegpak nie, het sy dit self gedoen. My eerste keuse was altyd om af te droog. Nie omdat ek daarvan gehou het nie, maar omdat ek gou geleer het dat skottelgoed vanself droog word as mens lank genoeg wag. Ek het jonk al geleer om argumente uit te rek en die skottelgoed so kans te gee om self droog te word.

Dit was die daaglikse ritueel in die kombuis. Gelukkig hou my ma ook van gerief en is my pa sagkens oorreed om van die eerste skottelgoedwassers in die land te koop. Die Kenwood-skottelgoedwasser was ’n wonderwerk. Nou was daar net twee take vir ons drie seuns – vuil skottelgoed inpak en skoon skottelgoed uitpak. Drie seuns wat twee take moet doen was ’n katastrofe. Ma het dit meestal maar self gedoen.

In die tagtigerjare beplan en bou ek my eie huis, want my kollegas doen dit.  Groepsdruk is drukkend wanneer jy in jou middel-twintigs is en daarom moes daar net ’n dubbelopwasbak in die kombuis wees. Ek vra vir drie van my manlike kollegas waarvoor ’n dubbelopwasbak nodig is. Nie een van hulle kan my ’n goeie rede gee nie. Ek redeneer dat een opwasbak al die jare goed gewerk het in ons huis, maar sit tog maar ’n dubbelopwasbak in. Keeping up with the Joneses (van wie ek nie eers hou nie) was die in ding.

Dertig jaar later lyk my huis se kombuis oud en moeg (veral in vergelyking met dié van die Joneses, van wie ek nou nog minder hou). Die nuwe kombuis word weer ontwerp met ’n dubbelopwasbak in die opwaskamer – want die pype vir ’n dubbelopwasbak is mos reeds daar.

Toe gebeur Korona – en ’n grendelstaat. Betty was drie dae laas hier en skoon bekers raak vinnig op en die skottelgoed staan tot neffens die toilet. Ek kyk met nuwe oë na die dubbelopwasbak. Die grendelstaat is anders as ’n tipiese week wanneer Betty nie kan kom werk nie. Dan sou ek gou winkel toe ry en paar skoon bekers koop. Nou is daar min skoon bekers en ek is ingegrendel in my huis. Angs wil my oorval, maar ek besluit om daad by die woord te voeg.

Die eerste stap is om ’n opname te doen van die omvang van die vuil skottelgoed. Ek bring eers elke stukkie vuil skottelgoed, insluitende 20-en-’n-klomp koffiebekers van die uithoeke van die huis en tuin, en pak dit op die kombuistafel. Oorweldig deur die omvang van die taak gaan lê ek ’n oomblik skuins op die woonkamerbank. Ek skrik ’n uur later wakker – met ’n tafel vol vuil skottelgoed wat steeds vir my kyk.

Die vuil skottelgoed wil nie weggaan nie. Geen positiewe denke, visualisering of ignoreer maak ’n verskil nie. Dis tyd om die bul by die horings te pak.

Ek bekyk die dubbelopwasbak uit alle hoeke en besluit om projekbestuursbeginsels toe te pas en ’n koplys te maak van wat ek alles moet byderhand hê.

Skottelgoedseep, wasvadoek en afdrooglap is waaraan ek kan dink. Skottelgoedseep vind ek in die kas onder die wasbak en ’n afdrooglap aan die hakie langs die dubbelopwasbak. My oog vang ’n paar rubberhandskoene wat saam met die afdrooglap aan die hakie hang. Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om die professionele ding te doen en die handskoene aan te trek. Ek dink aan almal wat so in die winkels met hul rubberhandskoene rondloop om die virus te vermy. Ek het alles oor COVID-19 gelees en nêrens het ek gelees dat hierdie klein virusse kan swem nie. Ek besluit derhalwe teen die gebruik van handskoene – ek is lomp genoeg sonder die addisionele ongevoeligheid wat met handskoene gepaard gaan.

Die groot vraag is 35 jaar later weer terug: Waarom ’n dubbelopwasbak? Ek tap water in die linkerkantste opwasbak en terselfdertyd  spuit ek ’n ruimskootse dosis skottelgoedseep in die water. Skuim verrys uit die niet soos bolle wolke met ’n reënboog in elke volmaakte lugblasie.

Ek pak soveel as moontlik vuil skottelgoed in die skuimende water. Helaas, die opwasbak is heeltemal te klein vir die hoop skottelgoed. Het ek die rede gevind vir die dubbele wasbak? Ek sit die prop in die tweede wasbak, spuit ’n bietjie skottelgoedseep en draai die kraan oop. Ek verstel die kraan sodat die watertemperatuur net reg is: nie te warm, nie te koud nie. Die lopende water het ’n psigologiese effek op my lyf, dit wat gebeur na ’n paar koppies koffie en wanneer die geluid van lopende water jou ore bereik.

In die badkamer slaak ek ’n sug van verligting terwyl my oog op die reistydskrif, waarvan daar altyd een byderhand is vir daardie rustige oomblik in die badkamer, val. Noorweë, land van die middernagson. Dit herinner my aan seker die onvergeetlikste reis wat ek nog onderneem het. Pragtige foto’s van die middernagson, fjords, groen landskappe, gletsers en watervalle. Watervalle? Ek haal die kombuis net betyds om te keer dat die water die gelamineerde houtvloere in die woonkamer bereik. Ek plas deur die vlak water om die kraan toe te draai.

Waar bêre Betty die mop?

Moeg, met ’n semidroë vloer, val ek op die bed neer. Dit was ’n lang dag. Ek droom ek hoor Betty se opgewonde gefluit in die kombuis.

Ek strompel die trappe af om te gaan koffie maak waar ’n halwe berg vuil skottelgoed op die kombuistafel my verwelkom

Met steeds geen skoon beker nie pak ek weer die bul by die horings. Die water in albei opwasbakke is yskoud. Ek tap koue water uit en warm water in. In die verste hoek van die onderste kas vind ek uiteindelik die wasvadoek. En my gunstelingbeker wat ek al 30 jaar lank sentimenteel oppas. Die beker se storie kan ek nie vertel nie. Ek het belowe.

Die koffie-plunger is vuil, en Jacobs kom tot die redding. Met nóg ’n vuil beker is daar nou net een oplossing en dit is om die hoop vuil skottelgoed trompop te loop. Met ’n stadige huppel in my stappie dans ek tussen die twee opwasbakke, beide nou gevul met vuil skottelgoed, asof ek dit elke dag doen. Ek vind gou uit hoekom die tuit van die opwasbakkraan kan wegdraai. “Een beker minder om te was,” dink ek terwyl ek die fataal-gekraakte beker in die asblik gooi.

Skaars ’n uur later staan elke plat oppervlak in die kombuis vol skottelgoed wat droog word. Ek voel beïndruk met myself en voel weer tuis met die deel van skottelgoedwas wat ek as kind bemeester het.

Vir die eerste keer verstaan ek nou die doel van ’n dubbelopwasbak.

Ek verstaan ook nou hoekom mans baie gou weer trou nadat hulle eggenoot hulle lewend of dood ontval.

Môre is dit ek en die wasgoed …

 

Lesers se bydraes:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top