Jong US-dosent se visie van ’n aanlyn akademiese redigeerwoordeboek

  • 6

Die 26-jarige Maret Blom de Wet is ’n junior lektor in die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands waar sy klasgee in redigering. In 2021 het sy ’n MA-graad behaal nadat sy navorsing gedoen het oor die bruikbaarheid van ’n prototipe- aanlyn Afrikaanse akademiese redigeerwoordeboek. Maret werk tans aan ’n voorstel vir haar PhD-studie, en sy beoog om met verdere navorsing ’n bydrae tot die veld van redigering en elektroniese leksikografie te maak.

Sy het met Melt Myburgh oor haar navorsing gesels en haar visie vir ’n akademiese redigeerwoordeboek gedeel.

Maret Blom de Wet (Foto: verskaf)

Plaaskind van Bredasdorp

Maret het op ’n plaas net buite Bredasdorp grootgeword. “My ma het ’n groot liefde vir taal en spesifiek Afrikaans by my gekweek deur van kleins af reeds vir my boeke en gedigte voor te lees, en my aan te moedig om aan eisteddfods en redenaarskompetisies deel te neem.” Haar Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Bredasdorp het die vlam vir die taal verder laat brand. “My passie vir Afrikaans is deur hierdie twee mense geïnspireer, en ek het geweet ek wil verder studeer in Afrikaans en ook eendag klasgee.”

Sedert Maret haar meestersgraad behaal het, vind sy haar voete as jong dosent. “Sodra my PhD-voorstel voltooi en goedgekeur is, sal ek inskryf en weer voltyds studeer,” sê sy.

Behoefte aan ’n akademiese redigeerwoordeboek

Die idee om ’n Afrikaanse aanlyn akademiese redigeerwoordeboek te ontwikkel het posgevat toe Maret in haar derde studiejaar vir ’n rukkie as proefleser en redigeerder by Die Matie gewerk het. “Ek onthou hoe ek gesukkel het om gepaste Afrikaanse bronne te kry wat aanlyn beskikbaar is. Ek het toe reeds gedink hoe waardevol ’n aanlyn bron sou wees wat spesifiek vir redigeerders saamgestel is.”

Tydens haar honneursstudie het sy gefokus op die probleme en tekortkominge waarmee vryskutredigeerders van akademiese tekste te doen kry. “Ek wou vasstel met watter uitdagings redigeerders worstel met betrekking tot die bestaande naslaanbronne in Afrikaans, om te bepaal of hulle wel ’n behoefte het aan ’n nuwe Afrikaanse naslaanbron, asook watter data in so ’n bron opgeneem moet word.”

Die redigeerders het aangedui dat hulle meestal gebruik maak van HAT, Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), Skryf Afrikaans van A tot Z en Pharos Aanlyn. “Maar wanneer dit kom by akademiese redigering, is hierdie bronne nie voldoende vir die tegniese en vakspesifieke terme wat redigeerders dikwels soek nie.” Ten spyte van die beskikbaarheid van termlyste en gespesialiseerde woordeboeke in Afrikaans, is die bruikbare inligting in dié bronne nie op een plek bekombaar nie.

“Een van die akademiese redigeerders het ook genoem dat die redigeerproses makliker sal wees as alles in een bron nageslaan kon word.” Daar was spesifiek ook ‘n behoefte aan ’n bron wat duidelike riglyne kan verskaf oor wat toelaatbaar is tydens akademiese redigering en wat nie – juis omdat ’n swak akademiese teks die redigeerder dikwels verlei om die teks oor te skryf.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste van die redigeerders oor soortgelyke kwessies twyfel, en ’n gestandaardiseerde bron, soos ’n aanlyn akademiese redigeerwoordeboek, kan ’n groter sin vir eenheid onder redigeerders skep, asook help om nuwelingredigeerders op te lei, wat konsekwentheid in akademiese tekste sal bevorder,” verduidelik Maret.

Die Blom-2018-woordeboekmodel

Na afloop van haar honneursstudie in 2018 het Maret ’n woordeboekmodel opgestel, vir navorsingsdoeleindes bekend as die Blom-2018-woordeboekmodel. Voel ’n jong navorser darem gevlei wanneer sy werk aan ’n model wat haar naam dra? “Die benaming klink beslis meer indrukwekkend as wat dit is! Dit word maar net vir verwysingsdoeleindes gebruik, om terug te verwys na hierdie teoretiese woordeboekmodel,” keer sy beskeie.

Wanneer Maret se woordeboek eendag die lig sien, sal dit nuttig wees vir gevorderde akademiese redigeerders en studente wat redigering as deel van hulle studieverpligtinge moet doen. “Alhoewel die woordeboek hoofsaaklik vir redigeerders saamgestel is, sal nagraadse studente wat besig is om ’n tesis of proefskrif te skryf, beslis ook hierby kan baat,” sê sy. “Die redigeerwoordeboek sal interaktiewe afdelings bevat waarin die volgende behandel sal word:

  • Tegniese aspekte in akademiese tekste, taal-, spel- en interpunksiereëls soos korrekte woordgebruik, skryf- of spelwyses wat die akademiese redigeerder nuttig sal vind, asook ander inligting oor taalgebruik in bepaalde vakgebiede.
  • Die spesialisveld van akademiese redigering sal ook behandel word, sodat daar riglyne is waarvolgens redigeerders kan bepaal wat hulle in akademiese tekste moet korrigeer en op watter aspekte hulle slegs kommentaar mag lewer.
  • Die redigeerwoordeboek sal ook ’n afdeling vir vakterminologie insluit, aangesien vakterme van verskillende vakgebiede een van die hoofvereistes vir ’n redigeerwoordeboek is. Daar sal ook skakels na ander reeds bestaande algemene en beperkte woordeboeke (insluitend vakwoordeboeke) verskaf word, aangesien die akademiese redigeerwoordeboek ’n eenstopdiens vir die akademiese redigeerder moet wees waar hy/sy dadelik toegang tot onder andere die volgende bruikbare aanlyn woordeboeke en webtuistes kan kry: HAT Aanlyn, WAT Aanlyn, Pharos Aanlyn (insluitend AWS Aanlyn) en webtuistes soos SAVI, PEG, Prolingua, die US Taalsentrum, die Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA), en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).

Só lyk die model

Die Blom-2018-woordeboekmodel bestaan uit ’n tuisbladsy, ’n minihulpgebruikersleiding en inskrywings van voorbeelde uit verskillende vakgebiede.

“Die tuisbladsy bevat soveel as moontlik afdelings wat die akademiese redigeerder kan benut en dien as ’n eenstopdiens, aangesien die inligting in huidige naslaanbronne, soos reeds genoem, te gefragmenteerd is,” sê sy. Die struktuur van die tuisbladsy in Maret se 2018-woordeboekmodel lyk so:

In die minihulpgebruikersleiding word die funksies van die woordeboek uiteengesit, sodat die redigeerder presies weet watter inligting hy/sy kan verwag indien daar op die betrokke ikoon geklik word:

In die volgende skermgreep word ’n inskrywing uiteengesit wat binne die afdeling “Tabelle en grafieke” op die tuisbladsy voorkom. “Hierdie inskrywing demonstreer hoe tabelle en grafieke se opskrifte moet lyk, en dit is gekies omdat akademiese redigeerders ’n behoefte het aan riglyne oor hoe om die tegniese aspekte in akademiese tekste, onder andere die formaat van tabelle, lyste en grafieke, korrek en konsekwent aan te bring.”

Tydens haar M-studie het Maret hierdie woordeboekmodel as basis vir die verdere samestelling en uitbreiding van inskrywings in die akademiese redigeerwoordeboek gebruik en ’n prototipe- akademiese redigeerwoordeboek saamgestel. Sy verduidelik: “Die afdelings in die prototipe- akademiese redigeerwoordeboek is byvoorbeeld soortgelyk aan die woordeboekmodel se tuisbladsy saamgestel, en die uitleg van die woordeboekartikels, soortgelyk aan die inskrywings van die woordeboekmodel.” Sien skermgrepe van die prototipe- akademiese redigeerwoordeboek se tuisbladsy en woordeboekartikels:

Inspirerende dosente

Voordat Maret met hierdie praktiese toepassings vorendag kon kom, moes sy haar navorsing binne teoretiese raamwerke fundeer. Hiervoor gebruik sy Fuertes-Olivera en Tarp se funksieteorie vir gespesialiseerde aanlyn woordeboeke, soos uiteengesit in Theory and practice of specialised online dictionaries.

Hierdie teorie het Maret in staat gestel om die voorlopige samestelling van die nuwe aanlyn woordeboek stapsgewys volgens die belangrikste fases van woordeboeksamestelling uit te voer.

“Fuertes-Olivera en Tarp verdeel die ontwerp, samestelling en bywerking van gespesialiseerde aanlyn woordeboeke in drie fases, naamlik die presamestellingsfase, die samestellingsfase en die postsamestellingsfase,” verduidelik sy. “Ek het baie kortliks volgens die riglyne van die presamestellingsfase en samestellingsfase die akademiese redigeerders se eienskappe en gebruikersbehoeftes, asook die tipiese gebruiksituasies en ooreenstemmende funksies van die akademiese redigeerwoordeboek vasgestel. Op grond van hierdie funksies het ek weer ’n uiteensetting gegee van die woordeboek se datatipes, en die Blom-2018-woordeboekmodel opgestel.”

Maret het in haar M-studie die bruikbaarheid van die redigeerwoordeboek getoets volgens die riglyne van die postsamestellingsfase en bruikbaarheidsteorieë en -toetsing, en sy kon gevolglik verbeteringsriglyne vir die verdere samestelling van die redigeerwoordeboek opstel.

In die US se Departement Afrikaans en Nederlands vind Maret inspirasie in die leiding wat sy van Ilse Feinauer en Amanda Marais ontvang. “Ek is dankbaar vir hulle goeie leiding, en hoop om dit wat hulle my leer, ook eendag aan ander oor te dra.”

Maret is ook in die bevoorregte posisie om af en toe saam met die legendariese leksikograaf Rufus Gouws te werk. Oor Gouws, wat reeds vir meer as 40 jaar in die akademie is, sê sy: “Prof Gouws se entoesiasme oor die veld van leksikografie is aansteeklik en wanneer hierdie groot gees uit die akademie tree, weet ek nie wie sy skoene sal kan volstaan nie!”

  • 6

Kommentaar

  • Liezel van Schalkwyk

    Sjoe, hoe trots klop my Afrikaanse taalhart nie vir nou vir my oudleerder se mooie kompliment nie! Dankie. Jy is steeds 'n inspiration!

  • An-Johlene Snyders

    Maret! Ek sit met 'n knop in my keel oor hierdie baanbrekerswerk. Ons BD's is TROTS.

  • Baie geluk met jou prestasie! Ek is ook baie opgewonde oor die vooruitsig van jou akademiese redigeerwoordeboek! Daar is beslis 'n leemte en om alles op een plek beskikbaar te hê, gaan vir studente en nuweling-redigeerders waardevol wees.

  • Ek kan nie die kloutjie mooi by die oor kry oor wat 'n aanlyn akademiese redigeerwoordeboek is nie. Watter tipe inskrywings/lemmas verskyn in 'n redigeerwoordeboek? Het dit onder meer met die styl en voorskrifte van vaktydskrifte of akademiese publikasies te doen? Gaan dit die redigeerder byvoorbeeld lei oor die voorkeurterme volgens instansies? Is die redigeerwoordeboek ook interaktief en word dit gekoppel aan termnavraagdienste via spesialiste? Word die voorgestelde redigeerwoordeboek volgens vakgebiede ingedeel? Is dit onder meer bedoel om 'n corpus van aanlyn vaktaalwoordeboeke in Afrikaans te wees? En wat beteken dit om "redigering op 'n etiese wyse aan te bring" (sic)? Het dit te make met wat die redigeerder moet/mag/durf/behoort te doen en wat die outeur veronderstel is om (self) te doen? Dit kan 'n interessante debat ontketen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top