Johnnie Takbok draai boererock op sy kop met debuutalbum

  • 0

Foto: Fotografie Cobus van Zyl Photography

Johnnie Takbok is ’n nuwe Suid-Afrikaanse boererockgroep wat onlangs op die musiektoneel verskyn het. Die naam Johnnie Takbok is glad nie alledaags nie, daarom word mens aangenaam verras wanneer jy vir die eerste keer self deel uitmaak van die gehoor.

“Dit kom eintik van die John Deere-trekker af wat die hele plaas-vibe skep – maar in Afrikaans. Oorspronklik was dit net ek, Wouter en Janes en het ons eers bekend gestaan as Kleilat en Kopskoot. Later het ons toe besluit op Johnnie Takbok, nadat ek die woord ? watter een?] in Amerika gehoor het en dit so ’n catchy phrase was,” sê voorsanger Charl Bezuidenhout oor die ontstaan van die naam.

Hulle musiek kan beskryf word as Afrikaanse boererock met ’n twist en bied iets kraakvars en baie besonders wat die bedryf en luisteraars nog nooit voorheen beleef het nie. Nie net doen hulle ongelooflike verwerkings van bestaande treffers nie, maar doen ook raakvattreffers uit hulle eie arsenaal van oorspronklike musiekskatte.

Johnnie Takbok is in 2015 gestig deur Charl Bezuidenhout (voorsanger en akoestiese kitaar), Wouter van Wyk (ritme- en akoestiese kitaar) en Janes Blomerus (baskitaar). Clive Horak (hoofkitaar) en Ivan Enslin (tromme) het later by hul aangesluit.

Hulle eerste album, Skoffel, is verlede jaar tydens ’n stampvol konsert bekendgestel by Elephant & Friends in Pretoria. Die debuutvrystelling spog met tien voetstamplekker liedjies. Die titelsnit is ’n opgewekte boererock-verwerking en handel oor lekker kuier-Vrydae waar mense net wil dans en hulleself geniet en die lirieke en musiekstyl vul mekaar perfek aan en is die perfekte manier om ’n lekker kuier aan die gang te kry.

Die album van tien snitte is hoofsaaklik ’n Afrikaanse rockalbum en negentig persent daarvan is oorspronklike inhoud. “Daar is net een cover wat ons heeltemal oorgedoen het om meer ons eie gevoel deur te gee. Die gevoel is ’n mengelmoes van ons almal se style, wat sewentigs/tagtigs rock and roll, metal en Afrikaanse folk en country insluit,” verklap die groep.

“Die Boer”, hulle eerste enkelsnitvrystelling, is baie goed ontvang en het vir tien weke op Overvaal Stereo se Top 20 gepronk en op ’n stadium in die nommer 4-posisie ingeskuif op die trefferleer. Die musiekvideo van hierdie snit het sosiale media oorgeneem en is deur meer as 100 000 aanhangers, op verskeie platforms, gesien.

Luisteraars van enige ouderdom sal aanklank vind by Johnnie Takbok se musiek. “Ons musiek is baie divers en one of a kind. Ons speel alles van rustige ballades tot rock and roll, so daar is iets beskikbaar om mense van alle ouderdomme te kan akkommodeer, maar dit is beslis nie laerskool kontemporêre pop nie! Dis rock and roll wat diep is en sin maak, maar met ’n country vibe – en jy sal nie iets soortgelyk op die radio hoor nie.”

Dié energieke Afrikaanse rockgroep tree regoor die land op en is ook gereeld te sien by Die Windpomp in Meyerton. “Ons lekkerste gig was in Dome Rally, Parys, maar ons het reeds al op ’n paar ander groot plekke ook gespeel, soos Tekkiefees en Pannefees. Ons beplan om binnekort die land plat te reis, gaan vanjaar ook vir die eerste keer ’n draai maak by die KKNK. Hou ons blad dop om te sien wanneer ons op die verhoog is,” sê Charl.

Johnnie Takbok reik ook binnekort ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo uit, getitel “Hartjie van die Vrystaat”.

Hulle splinternuwe enkelsnit en album sal aanhangers nie net na die dansvloer lok nie, maar is ook ’n getuigskrif van die ongelooflike talent wat hulle het om met die wêreld te deel.

Sosiale media

Facebook: https://www.facebook.com/JohnnieTakbok

Instagram: @johnnietakbok

Hutsmerk: #JohnnieTakbok

Navrae en besprekings: bookings@johnnietakbok.co.za

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top