John Steenhuisen, stemwerwer teen die DA

  • 3

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

John Steenhuisen, vermoed ek, is ’n betaalde stemwerwer vir die ander partye. Sy opdrag is eenvoudig: Vervreem die mense wat jou party kan help om die verkiesing te wen, en dryf hulle na ander partye toe. Dis ’n opdrag wat hy met bewonderenswaardige ywer uitvoer.

Waarskynlik kry hy bonusse in die laaste week voor die verkiesing, as sy stervertoning op Donderdag se The burning platform met Gareth Cliff en Mudzuli Rakhivhane enige aanduiding is. Cliff, met sy rassistiese, seksistiese, egogedrewe vuurspuwery het gedoen wat almal van hom verwag om te doen: giftige gas in die atmosfeer vrygelaat. Maar Cliff is nie ’n politikus nie. Hy’s ’n radiojoggie wat desperaat enigiets sal doen om tog net relevant te lyk en te trend op Twitter. Dit het hy goed reggekry. Vir hom is enige publisiteit goeie publisiteit.

Steenhuisen, aan die ander kant, wil genoeg mense op sy party verenig sodat die DA in hierdie munisipale verkiesing die ANC die loesing van hul lewe kan gee. Of dis in elk geval wat ’n halfpad bekwame politikus sou doen. Michelle Obama het een slag gesê, in reaksie op mense wat haar en haar man gekritiseer het: “When they go low, we go high.”

.......

Dis advies waarna Steenhuisen dalk moes luister, maar elke enkele keer verkies hy om eerder laer te gaan. Elke keer. Is daar politieke onrus in Natal? Kom ons blaas rassehaat aan en maak dit deel van ons verkiesingstrategie.

.......

Dis advies waarna Steenhuisen dalk moes luister, maar elke enkele keer verkies hy om eerder laer te gaan. Elke keer. Is daar politieke onrus in Natal? Kom ons blaas rassehaat aan en maak dit deel van ons verkiesingstrategie.

Val ’n shock jock ’n swart vrou aan wanneer sy oor haar geleefde ervaring van rassisme praat? Pleks van leierskap toon, kom ons por hom aan met nog meer skietgoed. Ek het verwag dat Steenhuisen enige oomblik sy hande van lekkerkry gaan begin saamvryf. Die DA, onder Steenhuisen se leierskap, het al meer na die regse konserwatiewe groep van die samelewing begin vry. Donderdag se onderhoud is net ’n logiese uitvloeisel daarvan.

Cliff se toondoof houding is te verwagte. Steenhuisen s’n is ongelukkig ook nie verbasend nie. Wat my wel verstom, is dat hy steeds een week voor die verkiesing aktief en doelgerig besig is om kiesers te vervreem. Kan hy regtig so toondoof wees dat hy nie besef hy jaag kiesers weg nie? Of is hy so arrogant dat hy dink die kiesers wat hy vervreem maak in elk geval nie saak nie?

Die meeste Suid-Afrikaners wil net in vrede met die mense rondom hulle lewe. Hulle wil met waardigheid behandel word, hulle wil hul gesinne kan voed en gemaklik en veilig lewe. Wat hulle nie wil hê nie, is om gemaak voel te word dat daar nog wit base is wat bo-oor jou praat en jou ervaring as irrelevant afmaak, want dis nie hulle ervaring nie.

.......

Die meeste Suid-Afrikaners wil net in vrede met die mense rondom hulle lewe. Hulle wil met waardigheid behandel word, hulle wil hul gesinne kan voed en gemaklik en veilig lewe. Wat hulle nie wil hê nie, is om gemaak voel te word dat daar nog wit base is wat bo-oor jou praat en jou ervaring as irrelevant afmaak, want dis nie hulle ervaring nie.

.........

Steenhuisen kon so maklik ’n empatiese houding inneem en ten minste die indruk gee dat hy luister na wat Rakhivhane oordra as haar ervaring. Dis wat die meeste Suid-Afrikaners van ’n leier verwag: ’n versoenende houding en respek vir die uitgangspunt van die volgende persoon, selfs al stem jy nie saam nie. Dis hoekom so baie mense nog vir Ramaphosa tyd het. Hy behandel mense met respek. As Steenhuisen nie eens respek en empatie kan naboots op ’n openbare forum nie, hoe kan hy vertrou word om ander in ag te neem wanneer hy beleidsoorweginge vir sy party maak weg van die openbare oog?

Dit lyk asof die DA se verkiesingstrategie hierdie jaar ’n nostalgiese hunkering na die goeie ou dae toe swart mense nog hulle plek geken het, en wit mense baas was, vertroetel. Dis ’n mistasting wat hulle volgende week duur te staan sal kom. Daar is eenvoudig nie genoeg rassiste om dit ’n werkbare strategie te maak nie.

......

Daar is wel genoeg mense dwarsoor die spektrum wat moeg is van kragonderbrekings en korrupsie en swak dienslewering om die pendulum in enige verkiesing te swaai.

.......

Daar is wel genoeg mense dwarsoor die spektrum wat moeg is van kragonderbrekings en korrupsie en swak dienslewering om die pendulum in enige verkiesing te swaai. Baie van hulle, soos ek, is deur verlede week se vertoning oortuig dat die DA nie die antwoord is om enige verskil te maak nie.

As die leier van die amptelike opposisie nie in staat is om te begryp dat daar ’n direkte verband is tussen die ras van die persoon en dienslewering, klimaatsverandering en al die ander goed waarvoor hulle beweer hulle staan nie, dan verdien hulle nie die geleentheid om te lei nie. Nie op munisipale vlak nie, en veral nie nasionaal nie.

Die sukses wat die ander partye volgende week in die verkiesing behaal, sal ten minste gedeeltelik te danke wees aan die DA se verkiesingstrategie.

Die vraag is net: Wanneer gaan hulle besef dat hulle skip van koers af is en die enigste oplossing is om die stuurman oorboord te gooi?

Of anders moet hulle maar eerlik wees en erken dat hulle deesdae meer regs is as die VF+. Ten minste weet Mulder hoe om mense met respek te behandel.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek stem in breë trekke saam. Dat die man nou in tjaarts van die DA nie die ideale persoon is om die DA te lei nie, is nie nuus nie. Dit het lank voor 2021 al duidelik geword. Maar dit is nou maar die DA se perd wat hulle opgesaal het en hulle sal hom nou maar so moet ry. As jy my vra was Maimane 'n beter DA president as die een wat nou lei.

    Ek dink ook Cliff kon bietjie meer getemper en stylvol gereageer het. Hy is maar 'n man met 'n reputasie.

    U skryf oor "regs" en "konserwatisme" asof dit negatiewe eienskappe is. Is die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se mense dan nie konserwatief nie? Ons is 'n konserwatiewe nasie! Diep godsdienstig. Met "regs" verloor u my ook so bietjie. Regs sluit seker aan by konserwatief. Ekonomies gesproke is die "regse" posisie egter die van die vryemark en beginsels soos privaatseienaarskap van eiendom, kleiner regering, markvriendelike beleid ens. Dit is nie vir my duidelik wat presies u bedoel, of hoekom presies "konserwatief" en "regs" skynbaar as negatief beskou word nie. My eie idees oor politiek sou ek dink is heel gematig. Ek dink aan myself so. 'n Moderaat. Maar ek hou nie van skelname soos "regses", "linkses", "liberale" en diesmeer en so voorts nie. Ons moet oppas om mekaar so met 'n kwas te smeer.

    Dit lyk my asof "regs" hier gelykgestel word met blanke meerwaardigheid want die DA en die VF plus kompeteer volgens u skrywe vir wie die mees regse party is.

    Terloops, die Vryheidsfront plus word al baie jare nie meer deur 'n Mulder gelei nie maar deur 'n Groenewald. Dit is ook nie meer heeltemal dieselfde party wat dit was onder doktor Mulder nie. Die konserwatiewe visie moet nie met rasbeheptheid verwar word nie. Mense van oor die hele rassespektrum is konserwatief in Suid-Afrika. Die ANC is self 'n konserwatiewe party. Miljoene van hulle ondersteuners is ouer mense van die platteland, en nog diep godsdienstig daarby. Ekonomies gesproke is die ANC egter links van die middel.

    Ten slotte, die probleem van al hierdie politieke partye, en eintlik van die hele land, is 'n gebrek aan sterk leiers. Ek dink ook die DA se blapse het die ANC nou baie gehelp. Ons sal moet wag vir die uitslae maar lyk my ons kan gereedmaak vir nog 5 jaar ANC regering in meeste metro's. So dinge is dus weer spoedig business as usual ...

  • Barend Van der Merwe

    So ja. Die eleksie is nou verby en in die meeste rade en provinsies kan Suid-Afrikaners nou weer uitsien na nog 5 jaar van hoogs bekwame ANC beheer en bestuur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top