Iets fundamenteels is verkeerd met die psige van ons samelewing as gewone burgers moet voorgee hulle ondersteun ’n sekere politieke party om toegang tot laekoste-behuising of noodsaaklike dienste te verkry.
Dis verkeerd as weerlose armes onverskillig tot aan die rand van die samelewing uitgestoot word net omdat hulle nie Engels – wat deur net 9% van alle Suid-Afrikaanse huishoudings gepraat word – magtig is nie.
Sekere politieke partye dink dikwels armes weet niks van hulle gruwelike intensiteit nie, maar dan hoor ons hoe hulle vandag nog te doen kry met ’n atmosfeer, met subtiele apartheidshoudings, wat hulle tot totale hindernis stem.
Pres Jacob Zuma het verlede maand as deel van sy 67-minute-gemeenskapswerk op Mandeladag nuwe huiseienaars in Elandspoort buite Pretoria besoek. Daar het hy 15 van die 110 voltooide huise in dié ontwikkeling aan wit mense toegeken en die res aan swart inwoners.
Toe Zuma by een van die wit begunstigdes se (nuwe) huis opdaag, is hy en sy geselskap tot groot vermaak met ANC-plakkate en baniere begroet. Dié begunstigde het voorgegee dat hy óf ’n ANC-lid óf ’n ondersteuner is. Nadat Zuma en sy geselskap weg is, het hy egter aan ’n joernalis gesê hy stem DA en dat hy nie die ANC ondersteun nie.
Dit is ’n verdoemde en droewige barometer-verslag dat die verskansing en uitbouing van ons ontluikende demokrasie sedert 1994 óf stagneer óf verrot. Een van die kernbeginsels van enige grondwetlike demokrasie is die reg op vrye politieke assosiasie. Die aksie van die bogenoemde begunstigde illustreer dat dié reg in die grondwet verskans mag wees, maar daar bestaan nog nie ’n gunstige politieke omgewing om dit vrylik uit te oefen nie.
Die tragiese verhaal van Johannes Kraalshoek (80), Vrystaatse kaptein van die Griekwas, se gesukkel met sy “vyand” Engels, behoort vandag se bewindhebbers hulle koppe in skaamte te laat sak. Engels, wat deur ’n minderheid Suid-Afrikaners gepraat en verstaan word, was onlangs ’n struikelblok vir Kraalshoek om aansoek te doen vir ’n broodnodige grondeis om hom en sy gemeenskap van ellende te red.
Kraalshoek het gesê: “Engels is my vyand. Toe ons met die grondeis begin, moes ek ’n skoolkind kry om die Engels op die vorms vir my te kom vertel. Ek verstaan min van daai taal.”
Dink net hoe vernederend dit was vir ’n groot man – en boonop ’n leier – om hom vir hulp en begrip tot ’n kind te moes wend. Hoekom die oorbeklemtoning van Engels, wat verder bydra tot die vernedering en agteruitgang van die meerderheid arm Suid-Afrikaners?
Dié laakbare handeling, veral teenoor weerlose armes, laat my dink aan ’n uitspraak van Achille Mbembe (wat ek effens aangepas het): ons almal leef in ons eie intellektuele ghetto’s. Dit is egter nie net beperk tot ons denksfeer nie, maar waar ons fisiek bly. Vergeet ras vir ’n oomblik, dan sal jy bevind Suid-Afrika is nog steeds in ghetto’s vasgevang.
Dit is dus tragies dat jou ekonomiese (en politieke) status bepaal in watter ghetto jy jou bevind.


Kommentaar
Ek stem heelhartig met jou saam. Goeie skrywe, net jammer min mense lees hier. Dalk moet jy by SêNet se briewe ook skryf!
Beste Jason,
Na aanleiding van jou besonderse bydrae, sluit ek ewe heelhartig hier by jou aan: https://www.litnet.co.za/Article/brief-die-griekwas-boertjies-sal-ons-nog-verlos
Boeregroete,
Cornelius Henn
Kai gangans