
Vriende van Afrikaans (VVA), ’n organisasie wat hom beywer vir Afrikaans, het verlede week hulle 30ste bestaansjaar gevier tydens ’n luisterryke geleentheid in Stellenbosch.

Willem Dempsey by sy blou Rolls Royce (Foto: VVA-argief)
Drie dekades gelede, op 8 Februarie 1994, het ’n klein groepie Afrikaanssprekendes hierdie vereniging in Stellenbosch gestig onder die leiding van Willem Dempsey (op sy dag ’n dosent, senator, burgemeester en oudambassadeur) en Johan Combrink, ’n bekende taalkundige en ’n vurige kampvegter vir Afrikaans.

Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, heet almal welkom.
Sedert 2004 bied die VVA elke jaar ’n Johan Combrink-gedenklesing aan waar bekende sprekers die geleentheid het om ’n voordrag te lewer. Onder die talle bekendes wat al ’n Johan Combrink-gedenklesing aangebied het, is Coenie de Villiers, Farid Esack, Flip Buys, FW de Klerk, Russel Botman en verskeie ander bekende Suid-Afrikaners.
Vanjaar se gedenklesing is gelewer deur die akademikus en skrywer Jean Meiring. Die veelsydige Meiring is ook ’n advokaat en waarnemende regter, asook kunskritikus en dramaturg.

Jean Meiring het die 20ste Johan Combrink-gedenklesing gelewer.
Meiring se tema was “Dertig jaar van stories”, maar hy het drie millennia van stories verder teruggevoer tot by die legendariese liefdesverhaal van Piramus en Tisbie uit die Griekse mitologie, wat later deur die Romeinse digter Ovidius in sy werk Metamorphoses hervertel is.
Die verhaal vertel van die tragiese liefde tussen Piramus en Tisbie, twee jong geliefdes wat uit vyandige families afkomstig was.
Volgens die legende was Piramus ’n jong man van Babilonië en Tisbie ’n jong vrou van Babilonië. Hulle het mekaar ontmoet en verlief geraak, maar hul liefde was verbode vanweë die vyandskap tussen hul families. Die twee het egter besluit om mekaar in die geheim te ontmoet.
Op ’n noodlottige dag het hulle mekaar by ’n ontmoetingsplek onder ’n moerbeiboom ontmoet. Tisbie het eerste daar aangekom en het ’n leeu opgemerk wat by die fontein gedrink het. Sy het geskrik en skreeuend op die vlug geslaan, maar haar tjalie waarmee sy haar gesig bedek het, agtergelaat.
Toe Piramus later opdaag en die tjalie sien, het hy aangeneem dat Tisbie deur die leeu verslind is. Daar was in die jong minnaar se gemoed geen twyfel nie: Tisbie, sy geliefde, is deur ’n wilde, kwaadwillige dier verbrysel. Al wat van haar oorbly, is dít.
In ’n wanhopige daad van liefde en hartseer het hy sy eie lewe met sy swaard geneem. Kort daarna het Tisbie teruggekeer na die ontmoetingsplek en Piramus se liggaam gevind. Oorweldig deur hartseer en smart het sy ook haar lewe met Piramus se swaard geneem.
Die legende van Piramus en Tisbie is ’n simbool van onmoontlike liefde en die tragiek wat kan voortspruit uit die onvermoë om met mekaar verenig te word.
In die 1380’s, in The legend of good women, het Chaucer die verhaal oorvertel in die afdeling “Legend of Thisbe”.
Die oorlewering van dié oerverhaal het volgens Meiring natuurlik nie by Chaucer geëindig nie. “Of ’n mens nou belese is of nie, die storie lui op ’n manier vir almal ’n klokkie.” Vir Shakespeare was die klokkie veral helder in die patroon wat hy in Romeo and Juliet vasgelê het en is die model van Piramus en Tisbie alte duidelik.
In die minnespel van Midsummer night’s dream is die einste verhaal van Piramus en Tisbie ingemessel en in 1974 verskyn die Afrikaanse oorsetting van WJ du P Erlank, oftewel Eitemal, het Meiring vertel.
Midsummer night’s dream is ’n komedie geskryf deur William Shakespeare en daar word geglo dat die bron van die verhaal onder andere afgelei kan word uit antieke Romeinse en Griekse mitologie, insluitende die verhale van Piramus en Tisbie.
Dit was egter nie net Eitemal wat Midsomernagsdroom in Afrikaans vertaal het nie, sê Meiring; daar is ook die vertaling deur Louis Lötter, ’n ontslape Vrystaatse landboujoernalis.
Daar is ook nóg ’n vertaling van ’n Midsomernagsdroom, naamlik die een van Deryck Uys wat in die ouderdom van 86 funksioneel blind geword het en besluit het om Shakespeare met behulp van ’n yslike vergrootglas te vertaal.
Volgens Meiring span dit alles soos ’n boog geskiedenis oor dit wat ons in Afrikaans drie millennia ver terugneem na die Eerste Babilonies Ryk, toe ’n volksdigter na alle waarskynlikheid met die oermenslike verhaal van Piramus en Tisbie vorendag gekom het. Dit toon die kragtige en byna heeltemal onveranderde werking van stories, sê Meiring.
Meer oor die VVA

Die VVA het klein begin. Die eerste akkertjie is geplant toe ’n groep Stellenbossers bekommerd was oor Engels wat Afrikaans verdring as saketaal op hul dorp.

Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, het ’n oorsig van die werk van die VVA gegee, en verduidelik hoe die VVA vir ’n dekade reeds inskakel by die werk van die ATKV.
Dit was in die voorkamer van Meiring se oupa, Willem Dempsey, ’n oudsenator, se huis in Murraystraat, Stellenbosch waar die VVA ontstaan het, toe Dempsey en Johan Combrink dit as ’n gedugte tweemanskap gevorm het.
Dempsey was een van diegene wat benoud was oor die verengelsing van Stellenbosch.
Ná 1990 het Suid-Afrika ’n opbloei in toerisme beleef. Op wynplase en in ander sakeondernemings is gedink Engels sou besoekers lok. Toe Dempsey op ’n dag nie meer speserye kon koop met Afrikaanse etikette op nie, was dit tyd om iets aan die saak te doen. “My kleindogter moet tog nog borrie in die kos kan gooi, nie net tumeric nie!” was sy gevatte samevatting van die situasie.
Dempsey het ’n afspraak met Johan Combrink gemaak. Die twee het ’n aantal invloedryke mense bymekaar gekry om die saak te bespreek. ’n Verkennende vergadering is op 12 Januarie 1994 gehou. Veertien dae later het ’n kleiner groep weer vergader, dié keer met ’n doel om Vriende van Afrikaans op die been te bring.
Combrink was ’n taalkundige wat bekend was daarvoor dat hy moeilike konsepte op ’n maklike manier kon verduidelik. Hy het moeite gedoen om vrae oor Afrikaans in ’n geselstrant oor die radio, televisie en in koerante aan te spreek. Daarby het hy ’n passie vir geletterdheid gehad en was hy ’n praktiese en pragmatiese mens wat die breë Afrikaanse gemeenskap uitgedaag het om self betrokke te raak by projekte om Afrikaans te laat floreer.
Hierdie “plantjie”, geplant deur Dempsey en Combrink, sou uiteindelik ’n boom word wat deesdae ook in Europa raakgesien word.
Aanvanklik het die VVA veral gedy weens die leierskap van Combrink, en daar word steeds stories oor hom vertel.
Talle instansies sou tot niet gegaan het ná so ’n dinamiese leier se afsterwe, maar hierdie een het bly groei ná Combrink se ontydige dood.

Shireen Crotz, Louise Combrink, Amanda de Stadler en Chareldine van der Merwe by die 20ste Johan Combrink-gedenklesing.
Ná sy dood op 25 Julie 1999 is Combrink se werk deur sy vrou, Louise Combrink, voortgesit.
Onder leiding van Louise Combrink is hierdie groeiende akkerboompie se invloed landswyd raakgesien in die sfere van taal-en-kultuur-politiek.
Amanda de Stadler het die Combrinks se werk voortgesit, maar sy het ook die belang van leesbevordering verstaan in ’n land waarin die onderwysstelsel jongmense in die steek laat. Kinders wat nie stories met begrip kan lees nie, kan nie ingeligte volwassenes word nie.

Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, saam met Amanda de Stadler, wat aan die hoof van die VVA was.
Onder De Stadler het die VVA al hoe meer betrokke geraak by die ontwikkeling van leesvaardighede. Sy sal veral onthou word vir die boektrommels wat aan verdienstelike kleuterskole en Grondslagfaseklasse uitgedeel is. Daarmee saam is boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders gehou, voorleeswerkswinkels vir ouers en leeskonferensies vir opvoeders.
In September 2014 het die VVA ’n divisie van die ATKV geword.

Shireen Crotz
Chareldine van der Merwe het as projekbestuurder van die VVA by De Stadler oorgeneem toe Van der Merwe afgetree het, en Shireen Crotz het by Van der Merwe aangesluit as projekorganiseerder.
Van der Merwe en haar klein maar ywerige spannetjie bou tans met entoesiasme en kundigheid voort op De Stadler se werk. Duisende kinders en talle volwassenes is danksy hulle oor die jare toegerus om die krag van stories te verstaan en om met begrip te leer lees.

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: Kultuur by die ATKV, het vertel dat ATKV-Crescendo vanjaar 50 jaar oud is. Twee van die Crescendo-deelnemers, Lucia Poggenpoel en Jason Baartman, het saam ’n lied vir die VVA geskep. Die lied is 8 Februarie 2024 vir die eerste keer by die VVA se feesvieringe uitgevoer.
Dit is hierdie intense bemoeienis met stories uit en in Afrikaans wat verlede week opnuut in Stellenbosch gevier is.
In die VVA se 30-jarige gedenkuitgawe vertel Izak de Vries meer oor die afgelope drie dekades se groei van die VVA. Die volledige weergawe van die gedenkuitgawe kan hier van die VVA se webwerf afgelaai word.
Onder die talle projekte van die VVA is daar ook die gereelde Ommietafel-gesprekke oor moeilike onderwerpe wat gewone mense raak en in 2014 begin is. Hierdie gesprekke is ’n poging om mense van uiteenlopende agtergronde en ouderdomme, waaronder ook skoolkinders, by mekaar uit te bring om begrip vir mekaar se komvandaan te kweek.
Die volgende Ommietafel-gesprek vind op 24 Februarie in Pniël plaas tydens die Adam Small-fees met die tema “Wat is jou storie?”.

Lucia Poggenpoel en Jason Baartman op die verhoog met die première van hulle lied.
- Foto’s: Izak de Vries, tensy anders vermeld

