
Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, is 30 jaar oud en op Donderdag 8 Februarie 2024 het Jean Meiring die 20ste Johan Combrink-gedenklesing gelewer. Die tema van die aand was “Dertig jaar van stories”.

Jean Meiring (Foto: Izak de Vries)
...
Ek onthou baie goed hoe dié organisasie van stapel laat gaan is. Dit was deels in die voorkamer van my oupa, Willem Dempsey, se huis in Murraystraat, waar hy as afgetredene als behalwe afgetree was.
...
Dertig jaar, watwo: drie millennia van stories
Die Johan Combrink-gedenklesing, 2024
Die alsiende vertellersoog het die stad Babilon – doer onder – in die visier. Op die groen plein lê dit ’n donkerbruin kol weerskante van die Eufraatrivier in die suide van Mesopotamië vol.
Die tyd is waarskynlik ’n jaar tussen die sesde en sewende eeu vC.
Of dalk – die verteller het ’n mate van vryheid, gesien sy gehoor se betreklike onkunde – êrens tussen die 16de en die 19de eeu vC.
Indien dit laasgenoemde is, word die septer stellig geswaai deur koning Hammurabi, wat wyd en syd bekend is vir die wette wat hy uitvaardig, wat tegelyk drakonies én progressief is: Vir die eerste maal geniet aangeklaagdes die voordeel van die vermoede van onskuld.
In ’n vooruitblikskoot kom die gehoor te lere dat dít als enkele kilometer van die heelwat latere stad Bagdad afspeel, in Irak.
Die verteller maak ’n keuse. Skielik is dit wel 1750 vC. Asof aan die punt van ’n kraken se tentakel beweeg die kamera blitsvinnig, geruisloos, in.
Die gehoor sien en hoor.
Twee deftige huise in die styl wat in die Eerste Babiloniese Ryk hoogty gevier het, nestel teen mekaar aan.
Daar’s ’n muur. Aan die een kant van die muur staan Piramus, stralend van frustrasie; aan die ander kant, ewe handewringend, Tisbie.
Maar in die muur is daar ’n swakheid, ’n kraak, die allersmalste van gleuwe, wat die huiseienaars tot dusver ontgaan het.
Maar vir die prille Piramus en Tisbie is daardie swakheid die muur se grootste deug.
Daardeur versend hulle op klankgolwe hul digste gedagtes aan mekaar. Daardeur bedryf hulle hul verbode minnespel.
’n Babelse optekening van die verhaal ontbreek. Tog is dit deur die mondelinge tradisie aan die vergetelheid ontruk. Die Grieke het dit seer sekerlik net so graag soos die Babiloniërs vertel. (Dis natuurlik moontlik dat dit eers in ’n Griekse vertellerskop as verhaal tot wasdom gekom het; dat die stad Babilon, met die donker sweem van wellus en sedeloosheid wat dit omgeef het, vir ’n Griekse verteller, dalk in die sesde eeue vC, ’n gepaste ligging vir ’n tragedie van gefnuikte liefde was.)
Die vroegste vertellersperspektief wat ons vandag beskore is, is dié van Publius Ovidius Naso, wat in die eerste dekade van die Nuwe Era die verhaal sou opteken, in sy verhaalomnibus Die Metamorfoses, wat in 7 nC van die voorganger van die drukpers sou afrol.
In Boek IV, in reëls 55 tot 166, sien die kamera hulle alte helder:
Pyramus et Thisbe, iuvenum pulcherrimus alter,
altera, quas Oriens habuit, praelata puellis,
contiguas tenuere domos, ubi dicitur altam
coctilibus muris cinxisse Semiramis urbem.
Oftewel (in my oorsetting):
Piramus en Tisbie, hy die skoonste van jongens,
sy die mees gesogte meisie wat die Ooste kon bied,
woon in twee naasliggende huise, in die toringstad
wat, so sê hulle, Semiramis met baksteenmure ombou het.
In Oor bekende vroue en in die Dekameron sou Boccaccio eweneens die verhaal oorvertel.
So ook, in die 1380’s, in The legend of good women, Chaucer – in die onderdeel getiteld “Legend of Thisbe”. Die toneel wat Chaucer skets, is ’n palimpses van Ovidius s’n:
At Babilonie whilom fil it thus,
The which toun the queen Semiramus
Leet dichen al about, and walles make
Ful hye, of harde tyles wel y-bake.
There weren dwelling in this noble toun
Two lords, which that were of greet renoun.
Elk van die “[t]wo lords … of greet renoun” had ’n telg: die een ’n seun; die ander ’n dogter.
This yonge man was cleped Piramus,
And Tisbe hight the maid, Naso seith thus …
Só – lank voor die dae van Google, ChatGPT en die sluikhandel in ander se stories en woorde – plaas Chaucer sy skatpligtigheid aan Ovidius op die rekord. En dan gaan hy voort:
Ther mighte have been betwixt hem mariage,
But that hit fadres nolde hit nat assente …
Om dan na Ovidius terug te keer, in Afrikaans (in my vertaling):
Hul eerste treë en hul nabyheid het vertroudheid gebring,
met die tyd se loop blom die liefde; hulle sou getrou het,
maar hul vaders het dit verbied; tog kon húl g’n stokkie
steek voor wat aan ‘t brand was, beide harte ewe vasgevang.
Tog wis niemand, want hul praat was kopknik en handgebaar,
en hoe meer hulle die vuur trag demp, hoe meer bloei dit.
Daar was ’n skeur, ’n smal opening, in die muur wat hul huise verdeel het wat rééds daar was toe die huis gebou is.
Oor baie jare heen het niemand dié letsel bemerk nie,
maar wát ontglip die hart se oog? Jul minnaars merk dit eerste op, wat ’n weg vir julle stemme sou maak, jul troetelwoorde is, so veilig as kan kom, op die sagstes sûe dáár deurgevoer.
Dikwels, wanneer hulle op hul plek was, hier Tisbie en daar Piramus, en hulle mekaar se stemme hoor, dan kla hulle:
“Onvriendelike muur, waarom sper jy die liefdespad toe?”
Maar dit was tegelyk toe en oop. Dis daardie einste skeur in die haatlike muur wat Piramus en Tisbie in staat sou stel om ’n plan te beraam en in werking te stel. Uit hul onderskeie ouerhuise sou hulle losbreek – so onderneem hulle teenoor mekaar – en, in die dun lig van die maan, by die graftombe van Ninus, die stigter van die stad Nineve, vir die eerste keer in ’n werklike, armlike omhelsing gaan.
Só is dit dan op die bestemde nag. Tisbie daag eers daar op. Maar in die donker ruigtes luier ’n leeu wat pas ’n bokkie gevang het en dus met ’n vol, lui maag en ’n rooi bek in die middernaguur op ’n wandeling gaan. Tisbie gewaar die bees en gaan, soos dit ’n meisie met ’n halwe opvoeding betaam, op loop. Die tjalie waarmee sy haar gesig bedek het, val in die gemaal grond toe. Snuffel-snuffel stel die leeu met sy bebloede bek ondersoek in. Gou lê die tjalie, waarin die leeu min belangstelling het, bebloed op die trappies neffens Ninus se graf.
Die kalklig skyn. ’n Ligte windjie speel met die tjalie se fraiings. Dis ál wat die gehoor sien. Met die binnekennis wat die dramatiese ironie bied, vertel die tjalie ’n ademlose verhaal. Die begeleidende musiek is basso profundo.
Wanneer Piramus, oorstelp van afwagting, saggies die verhoog betree, speel die verhaal op sy gesig af – wat die gehoor stip dophou. Die rooi fraiings vertel hul eie verhaal.
Daar’s in die jong minnaar se gemoed geen twyfel nie: Tisbie, sy geliefde, is deur ’n wilde, kwaadwillige dier verbrysel. Al wat van haar oorbly, is dít.
Gou is sy regterhand na die maan toe uitgestrek, reg om sy swaard, vinnig uit dié se skede geruk, in sy bors te du. Sonder Tisbie is dié nag – is hy – sinloos. Die muur was wreed, maar hierdie muurloosheid is des te erger.
Maar dis ’n dodelike Babelse verwarring.
Gou verskyn die tjalielose Tisbie weer op die verhoog. Die leeu is sekerlik teen dié tyd dikgevreet vort. Wanneer sy wéér die graftombe van die eerbiedwaardige Ninus nader, sien sy vir die eerste maal die volheid van Piramus, wat sy tot dusver maar streep vir streep leer ken het. Daar lê hy; al die belofte van gister nog is verloop.
Vir die Babiloniese verteller, die Griekse ene, vir Ovidius, vir Boccaccio, en vir Chaucer, is daar vir hierdie verhaaltjie net een narratief-logiese slotsom: Tisbie neem Piramus se bloeddeurweekte swaard op en stu dit haar eie bors binne.
Daar lê Tisbie.
Soos die gehoor – in watter eeu ook al – toekyk, sien hulle ’n nuwe graftombe wat eensklaps uit die belofte van netnou gemessel is. Ietwat dalk soos die koningin Semiramis die stad Babilon self gebou het.
Of ’n mens nou belese is of nie, die storie lui op ’n manier vir almal ’n klokkie. Vir Shakespeare was die klokkie veral helder.
Die patroon wat in Romeo and Juliet vasgelê sou word, is in die model van Piramus en Tisbie alte duidelik. En in die minnespel van A midsummer night’s dream is die einste verhaal van Piramus en Tisbie ingebou, in die verhoogstukkie wat die Rude Mechanicals – die Onafgewerkte Ambagslui dalk? – in Athene aan die hof van die hertog Theseus en sy verloofde Hippolyta koningin van die Amasone, gaan opvoer, en waaraan hulle, die drama deur, holderstebolder aan ‘t oefen is.
In 1974 verskyn die Afrikaanse oorsetting van WJ du P Erlank, oftewel Eitemal. Peter Quince in die oorspronklike is hier Piet Plank, die timmerman. In die tweede toneel in die eerste bedryf verskyn op die verhoog: Piet en Tap, die skrynwerker; Bolle, die wewer; Blaas, die blaasbalkmaker; Snoet, die blikslaer; en Maerman, die snyer.
Sê Piet Plank:
So wragtag, ons stuk is getiteld: “Die allerdroewigste kimmedie en die allerwreedste dood van Pyramus en Tipsie.”
Bolle:
’n Baie mooi stuk werk, ek verseker julle, en vrolik. Nou, my liewe Piet Plank, hou ’n rolkôl van jou spelers. Manne, staan bietjie los van mekaar.
Piet Plank gee te kenne dat Buks Bolle die rol van Piramus vertolk, waarop dié vra:
Wat is Pyramus, ’n vryer of tiran?
Plank antwoord:
’n Vryer wat homself vrek maak uit dapperheid en liefde.
Bolle:
Dit vra trane as jy dit rêrag speel. As ék dit doen, huil al die toehoorders hul oë uit. Ek sal laat trane stort, maar ook laat simpatteseer. Nou die ander – Natuurlik my groot talent is die van ’n tiran. Ek kan Herklaas speel vir ’n vale, of ’n stuk met kattegetjank wat hart en longe skeur …
Maar nie net Eitemal het ’n Midsomernagsdroom in Afrikaans vertaal nie. Christopher Thurman, professor aan die stuur van die Tsikinya-Chaka-sentrum vir Shakespeare in vertaling by Wits, gee vir my ’n vertaling deur Louis Lötter, ’n ontslape Vrystaatse landboujoernalis.
In sy vertaling heet Piet Plank Piet Kuiper. Die wewer, wat Piramus moet speel, is Niek Tolleman. Die blaasbalkmaker is Frans Fluit. Fluit speel Thisbé. Koos Tuit is die naam van die ketellapper, wat die rol van Muur sal vertolk in Shakespeare se tussenspel. Die skrynwerker heet Styf. Hy vertolk Leeu. Laastens is daar die snyer Hendrik Honger, wat die rol van Maanskyn sal vertolk.
Tolleman (Eitemal se Bolle) se toespraak hierbo net klink uit Lötter se pen só:
Om dit lewenswaar te vertolk, sal trane vra. As ek dit doen, moet die gehoor oppas vir hul oë. Ek sal storms ontketen; ek sal met mening treur. Vertel verder – tog is ek die meeste lus om ’n tiran te speel. Ek kon Erklies uitsonderlik vertolk, of ’n bombastiese rol wat die gehoor in konsternasie sal hê.
Wanneer Lötter se Fluit hoor dat hy aan die karakter van “Thisbé” gestalte moet gee, sê hy:
Nee, land! Moenie dat ek die rol van ’n vrou speel nie: my baard begin al uitkom.
Waarop Kuiper reageer:
Maak geen flenter verskil nie: jy speel met ’n masker op, en jy kan so fyntjies praat soos jy wil.
Maar Afrikaans het minstens nog een vertaling van ’n Midsomersnagdroom. Toe Deryck Uys, lank op Potchefstroom ’n prokureur en iemand wat uitstekende Afrikaans as tweede taal spreek, in die ouderdom van 86 funksioneel blind word, besluit hy opsluit: Shakespeare sal ek vertaal. In die daaropvolgende aantal jare maak hy so, soggens vroeg, oopgeskarnier in sy kooi, met ’n pen en ’n skryfblok en ’n formidabele vergrootglas. Professor Thurman het reeds ’n aantal gepubliseer; hy vertel my dat die volgende een wat sal verskyn, Romeo en Juliet is. Uys is verlede jaar in die ouderdom van 96 oorlede.
In Uys se vertaling is Peter Quince ene Kwink. Dié toneel, die tweede ene in die eerste bedryf, sluit só af:
Meesters, hier is u rolverdeling, en
Ek moet u smeek, u versoek, en u soebat
Om hulle voor môrenag te leer, en
Ontmoet my in die paleis se woud, ’n myl buitekant die stad,
By maanlig: aldaar sal ons repeteer; want
Sou ons in die stad ontmoet, sou ons geen privaatheid geniet nie, en
Ons kunste openbaar maak.
Intussen sal ek ’n lys opstel van benodigdhede,
Soos ons toneelstuk benodig.
Ek soebat u, moenie my in die steek laat nie.
En Boggie antwoord:
Ons ontmoet; en daar sal ons repeteer
Liederlik en manhaftig. Doen moeite; wees volmaak; adieu.
Deur Lötter se Tolleman klink dit so:
Ons sal daar wees en daar kan ons meer skaamteloos en braaf repeteer. Doen jul bes; wees woordperfek; adieu.
In Eitemal se Bolle se mond, so:
Ons sal bymekaarkom, en daar sal ons onsindelik en vry rippeteer. Werk hard. Mik hoog. Ajeu!
Nodeloos om te sê verloop die brawe spel van Peter Quince, by watter naam ook al, en sy geselskap heelwat minder as vlot.
Maar, hoe goed of sleg die spel nou was, wat vasstaan is dat die oerverhaal van Piramus en Tisbie die hertog van Athene en sy vergaderde gaste sou boei. Nes dit die gehoor in die Globe-teater vroeg in die bewind van James II, wat in 1603 vir Elizabeth I sou opvolg, geboei het. Ook Chaucer se lesers. Boccaccio s’n. En Ovidius in die jaar 7 nC.
Dit als – dié boog geskiedenis wat ons uit Afrikaans uit terugneem drie millennia ver na die Eerste Babilonies Ryk, toe ’n volksdigter na alle waarskynlikheid met die immermenslike verhaal van Piramus en Tisbie vorendag gekom het – toon, glo ek, die kragtige en byna heeltemal onveranderde werking van stories.
Vriende van Afrikaans vier juis vanjaar 30 jaar van ’n intense bemoeienis met stories, uit en in Afrikaans. Dis vir my ’n besondere voorreg om vanaand hier te wees en hierdie gedagtes met u te deel. Ek onthou baie goed hoe dié organisasie van stapel laat gaan is. Dit was deels in die voorkamer van my oupa, Willem Dempsey, se huis in Murraystraat, waar hy as afgetredene als behalwe afgetree was. Hy en Johan Combrink was gou ’n gedugte tweemanskap.
En vir Johan Combrink het ek, voordat ek by Maties aangekom het, as kind reeds leer ken. Sy vrou Louise was een van ’n ewe gedugte span wat in die jare tagtig die organisasie Stimulus op Stellenbosch op die been gebring het – werklik iets geweldig versiende, wat ongelukkig nie meer bestaan nie: ’n Hewige program nauurse aktiwiteite is vir skoolkinders aangebied, als van elektronika, toneelspel, poppeteater, tot lesse oor klippe. Dis in ’n reeks lesse oor klippe – semi-edelgesteentes – waar ek Johan Combrink eers leer ken het. By sy huis het hy met die drif en entoesiasme wat ander dalk gedink het hy vir die taalkunde reserveer, ’n klein kringetjie laerskoolkinders vertel hoe daardie pragtige klippe tot stand gekom het. Ons is platgesnyde skywe klip gegee wat ons kunssinnig op ’n reghoek glas moes monteer en vaslym. Plaas jy dit teen ’n venster, speel die lig daardeur. Êrens by my ma-hulle se huis lê die kunswerk wat ek daardie dag gemaak het nog.
En toe ek aan Maties Afrikaans-Nederlands volg, het ek Johan Combrink weer leer ken. Die skor stem, die bril, die oë, die hare wat wild puntgestaan het, en die matelose drif vir sy vak en sy studente. Al was hy as taalkundige nie primêr met stories gemoeid nie – was hy tóg. Was hy in sy klasgee, in sy leer, alte bewus daarvan dat alle menslike ervaring in die finale instansie in ’n storie – soos ’n klip in ’n stuk amber – gestol kon word. Dis sekerlik daardie insig wat Vriende van Afrikaans met hul wonderlike programme as missie uitdra.
Toe ek die biljet vir vanaand nou die dag, ná die antwoorddatum reeds, aan ’n klompie vriende en ander uitstuur, kry ek onverwags uit alle oorde reaksie. En elke reaksie vertel ’n storie. Gou besef ek hoe gepas die boek Die Metamorfoses vir hierdie praatjie is. Johan Combrink was, soos die beste leermeesters behoort te wees, self ’n omnibus verhale, wat elk op ’n ander aspek van sy menswees ingespeel het.
Die een, ’n verby-middeljarige dame, skrywe:
Aitsa, hy het vir my klas gegee. Was my gunstelingdosent. Daardie jare het ek nog nie ‘fok’ gesê nie.
’n Ewe middeljarige man:
Trevor Cowley, die Afrikaans-en-Nederlands-departement se factotum, het my vertel hoe hulle verbode End Conscription Campaign en Nusas-pamflette in professor Combrink se kantoor weggesteek het in die tagtigs.
’n Ander, uit Londen, skrywe:
Vra asseblief dat hulle sy stokperdjie onthou: Hy het gesindikeerde koerante se Afrikaanse vertalings, binne konteks, terug vertaal na Engels. Só wys hy vir ons ’n strokie van Rooioog waarin iemand van agter af ’n byl na hom gooi. ’n Bystander skree blitsig: “Eend!” (met uitroepteken). Dit was in die koerant en daar was soveel voorbeelde dat hy hulle versamel het. So onthou ek hom.
Daar’s iets helends en heelmakends aan stories, ook om deur stories iemand soos Johan Combrink in herinnering te roep.
En laastens: Dalk kan die Vriende van Afrikaans-span in die vervolg uit Eitemal se ’n Midsomernagsdroom ’n grepie neem, dit na gelang van omstandighede aanpas, om in die vervolg aan die uitgenooides by dié deftige geleentheid te stuur:
In ieder geval laat Tipsie ’n skoon hemp aantrek. En die een wat vir Leeu speel, moet nie sy naels knip nie, want hulle moet uitsteek soos ’n leeu se kloue. En, liewe medespelers, moenie uie of knoffel eet nie, want ons moet met soet asems praat …
Lees ook:
Johan Combrink-gedenklesing 2024: Vriende van Afrikaans vier 30 jaar van stories


Kommentaar
'n Wonderlike besinning met heerlike humor. Eend!
'n Gedugte taalkenner was hierdie professor.
Jean Meiring is 'n seëning op ons land en taal. Dankie hiervoor.
Dankie Jean - jy maak ons ryk!