Joernalistieke feite en fiksie

  • 2

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

..........
Om demokrasie te beskerm, is ’n paar goed broodnodig. Howe moet onafhanklik, vry van politieke invloed, kan funksioneer. Verkiesings moet vry wees. Landsburgers moet in staat wees om hul regering te kritiseer sonder vrees vir vervolging. Die weermag behoort nie ingespan te word teen burgers nie. ’n Vrye pers is van kardinale belang.
............

Om demokrasie te beskerm, is ’n paar goed broodnodig. Howe moet onafhanklik, vry van politieke invloed, kan funksioneer. Verkiesings moet vry wees. Landsburgers moet in staat wees om hul regering te kritiseer sonder vrees vir vervolging. Die weermag behoort nie ingespan te word teen burgers nie. ’n Vrye pers is van kardinale belang.

By hierdie laaste een wil ek stilstaan.

Joernaliste moet in staat wees om te berig sonder vrees of vooroordeel. Nuuslesers moet kan vertrou dat dít waaroor joernaliste berig, feitelik korrek is. Ons almal weet dat koerante ’n bepaalde invalshoek en benadering het. Rapport-lesers en Vrye Weekblad-lesers kan natuurlik verwag dat hul inligtingsbron van keuse op verskillende maniere sal berig. Dis te verwagte. Joernaliste is nie neutraal nie, maar as ’n minimum is daar die verwagting dat die feite waaroor hulle berig objektief korrek moet wees.

Wanneer nuus nie meer as korrek vertrou kan word nie, is dit die eerste teken dat demokrasie onder aanval is. Ons sien dit op dramatiese wyse in die VSA uitspeel. Die sogenaamde postwaarheid, of alternatiewe feite, waaraan Trump en sy volgers so hardnekkig vasklou, veroorsaak polarisering. Die polarisering is nie net omdat verskillende groepe verskillende politieke sienings het nie, dis omdat  onsin as waarheid voorgehou word. Dat bleikmiddel Covid kan genees is maar een enkele voorbeeld daarvan. Ten spyte van die feit dat daar geen mediese basis vir hierdie bewering is nie, word dit steeds in sekere dele van die media as waar verkwansel. Maskergebruik word voorgehou as politieke keuse eerder as medies bewese voorkomingsmaatreël.

Hoe het die VSA by hierdie punt uitgekom? Klein leuen op klein leuen op klein leuen wat nooit reggestel word nie, is ’n vertrekpunt. Onwaarhede wat soveel in volume toeneem dat dit nie als gestop kan word nie, is ’n tweede stap in die proses, en kort voor lank is daar soveel alternatiewe feite dat dit nie maklik van objektiewe waarheid onderskei kan word nie.

The New Age-koerant hier by ons is ’n goeie plaaslike waarskuwing.

Boonop, met die toename in sg “citizen journalists” of, anders gestel, Piet Pompies met ’n Facebook-blad, is daar druk op joernaliste om eerste te wees om oor stories te berig. Lesersgetalle hang daarvan af. In hierdie gejaag om eerste te wees, bly akkuraatheid baie keer in die slag. Lesers kan nou nie meer daarop staatmaak dat die nuus wat hulle verteer akkuraat is nie, net dat dit vars is. Selde word die onakkuraathede reggestel, want die volgende scoop is op hande.

Een so ’n voorbeeld het Vrydag in my tuisdorp afgespeel. ’n Brand breek uit by ’n plaaslike besigheid wat houtpalette maak waarmee vrugte vervoer word. ’n Groot aantal palette wat in een area gestoor word, brand uit. Die wind waai, die brand spring oor die pad en plakkershutte begin brand.

Die Son berig binne ’n uur dat die fabriek self Donderdag afgebrand het. Twee foute in een sin. Die res van die berig is ewe deurspek met foute. Teen die tyd dat ek hierdie stuk skryf, dae later, is nog geen regstellings gemaak nie. Indien ek nie toevallig self op die toneel was nie (en as ek ’n Son-leser was) sou ek die suiwer fiksie wat aan lesers voorgehou word, geglo het. Omtrent die enigste feit in daai berig waarmee ek kan saamstem, is dat daar ’n brand in my tuisdorp was.

Son-lesers in ander dele van die land glo nou ’n fabriek het afgebrand.

.............
Die Son is nie ’n bastion van ondersoekende joernalistiek nie. Dit gee ook nie voor om te wees nie. Dis ’n koste-effektiewe nuusbron wat toeganklik is vir ’n groot groep lesers wat nie maklik ander koerante sal lees nie, maar wat elke dag uitsien na Die Son wat als sien. Absoluut niks fout daarmee nie. Ek ondersteun elke poging om meer mense aan die lees te kry, en Son se reikwydte is groot. Hulle is ’n suksesstorie in ’n area waar baie ander media in die hek duik.
...............

Die Son is nie ’n bastion van ondersoekende joernalistiek nie. Dit gee ook nie voor om te wees nie. Dis ’n koste-effektiewe nuusbron wat toeganklik is vir ’n groot groep lesers wat nie maklik ander koerante sal lees nie, maar wat elke dag uitsien na Die Son wat als sien. Absoluut niks fout daarmee nie. Ek ondersteun elke poging om meer mense aan die lees te kry, en Son se reikwydte is groot. Hulle is ’n suksesstorie in ’n area waar baie ander media in die hek duik.

Maar Die Son, soos elke ander koerant, het ’n verpligting om seker te maak die feite wat hulle publiseer, is korrek. Hulle het nie. Hulle het dit ook nie agterna probeer regstel nie, ten spyte daarvan dat hulle op onakkuraathede gewys is.

Hulle lesers verdien beter.

Dis seker nie die grootste fout wat ’n koerant ooit gemaak het nie, maar dit breek die vertroue dat koerante akkurate nuus sal weergee. As hulle oor iets wat so maklik nagegaan kan word, onakkuraat is, waaroor anders gee hulle fiksie uit vir waarheid? En as een koerant dit doen, hoe weet ons ander koerante doen nie dieselfde in hul gejaag om ’n storie te scoop nie?

Daar is ’n rede hoekom die suksesvolste ondersoekende joernaliste in ons land soveel vertroue inboesem. Hulle jaag nie om stories te plaas nie. Hulle kry die feite, ondersoek die feite, kry bevestiging oor die korrektheid van die feite, gaan deur ’n redaksionele proses voordat hulle ’n storie plaas. Dit neem tyd, maar lesers is verseker van kwaliteit.

Niemand verwag van Die Son om die tipe kwaliteitondersoeke te doen wat amaBhungane doen nie, maar seer sekerlik kan hulle die basiese feite nagaan voordat hulle jaag om te publiseer.

Elke onakkuraatheid wat in die pers gepubliseer word, kalwe weg aan die publiek se vertroue in akkurate beriggewing. Hoe kan ons weet wat om te glo as ons nie kan staatmaak op ons koerante nie?

Dis nie genoeg dat die pers ’n reg het om vryelik te publiseer wat hulle wil nie. Hulle het ’n verpligting om seker te maak hulle inligting is akkuraat. Enigiets minder is ’n gruwelike verloëning van basiese joernalistieke beginsels.

  • 2

Kommentaar

  • Me Wyngaard skryf: “Maar Die Son, soos elke ander koerant, het ’n verpligting om seker te maak die feite wat hulle publiseer, is korrek. Hulle het nie. Hulle het dit ook nie agterna probeer regstel nie.”
    Asook: “Dis nie genoeg dat die pers ’n reg het om vryelik te publiseer wat hulle wil nie. Hulle het ’n verpligting om seker te maak hulle inligting is akkuraat.”
    Skynbaar beskou sy haarself as verhewe bo sulke beuselagtighede. Ek verwys na haar rubriek wat by onderstaande skakel gelees kan word:
    https://www.litnet.co.za/nathan-phillips-nick-sandmann-en-die-maga-saga/
    In my kommentaar wys ek op die gruwelike onakkuraathede wat sy geskryf het. Daar is nog geen regstelling deur haar of Litnet gepubliseer nie.

  • Die meeste joernaliste soek nie die rou waarheid nie, maar buig stories en hou die waarheid skuins om hul eie politieke agenda te dien. Een joernalis het opgemerk dat hy die skieter op 4 Julie in een van Trump se rallies opgemerk het terwyl joernaliste op CNN en ander hoofstroommedia openlik teen die vierings van 4 Julie was. Hoeveel hierdie negatiwiteit moontlik tot die skietery bygedra het ...?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top