
Crystal Lake se kantoor
...
“Toe ek die volgende oggend wakker word, was dit net e-mails en boodskappe,” onthou Mynhardt. “Skielik praat Rolling Stone en die New York Times met ons.”
...
In ’n wêreld waar stories lankal nie meer net tussen boekblaaie leef nie, maar ook op YouTube en TikTok, en selfs in bordspeletjies begin asemhaal, bou Joe Mynhardt (46) stadig maar doelgerig aan iets groter as net ’n uitgewershuis. Vir hom gaan dit nie bloot oor boeke nie – dit gaan oor gemeenskap, kreatiwiteit en die geloof dat Suid-Afrikaanse stories wêreldwyd kan staan.
Hy praat vinnig, nie gejaagd nie, maar soos iemand wat al van kleins af gewoond is daaraan om nuwe wêrelde in sy kop te bou. Party sinne begin by boeke en eindig by films, bordspeletjies of YouTube-kanale. Dan lag hy skielik, leun terug en begin weer voor.
“Dis maar chaos,” lag hy oor Zoom. “Maar dis lekker chaos.”
Agter hom skuif mense in en uit die kantoor. Iemand vra ’n vraag. Nog iemand lag in die agtergrond. Dit is duidelik: Hier word nie in stilte gewerk nie. Die uitgewershuis wat hy van die grond af opgebou het, leef soos ’n familiehuis, een waar idees en deadlines ewe gemaklik oor koffie uitgeruil word.
Wanneer die kamera effens skuif, begin die vertrek stadig meer van homself wys. Rakke vol horror-boeke en fantasy-romans staan teen die muur. Tussenin loer popkultuurfigure uit: Jack Skellington, Grogu, strokiesprentkarakters en klein versamelstukke wat lyk asof hulle oor jare bymekaargekom het. Teen die muur hang sertifikate en horror-toekennings tussen donker illustrasies, straatnaamborde soos Elm Street en Psycho Path, en ’n intense swart-en-wit skets van Stan Lee deur ’n Bloemfonteinse kunstenaar. “Die kraai-kunswerk daar langsaan is ook deur ’n Bloem-artis gemaak,” herinner hy my per WhatsApp.

Hy deel ’n foto met my waar die kunstenaar besig is met die Stan Lee-skets. En herinner my: “My dogter Cayleigh is actually vernoem na Stan Lee en Bruce Lee. My childhood heroes.”
Mynhardt draai later doelbewus die kamera sodat ek dit beter kan sien. Vir ’n oomblik vertraag die gesprek.
“Daai kunstenaar werk nou saam met ons aan kinderboeke,” sê hy trots.
Voor hom staan ’n groot lessenaar waarop notaboeke, kameras, rekenaars en los idees langs mekaar leef. Selfs die koffiebeker pas by die wêreld wat hy bou. In swart letters staan daarop: I read scary shit.

Wanneer hy later vir ’n foto poseer, sit hy agter dieselfde lessenaar in ’n donker leerbaadjie en ligte pet – meer soos iemand wat uit ’n onafhanklike rillerfliek gestap het as ’n voormalige onderwyser. Tog is daar niks aggressief aan hom nie. Hy praat maklik, lag vinnig en raak sigbaar opgewonde wanneer die gesprek by stories of nuwe kreatiewe projekte draai.
Dit voel minder soos ’n kantoor en meer soos die binneblad van iemand se verbeelding.
“Ek wil kreatiewe mense bymekaar bring,” sê hy. “Dis ongelooflik hoeveel talent letterlik hier om jou sit.”
Mynhardt, oorspronklik van Upington, het ná skool Bloemfontein toe gekom om te studeer en uiteindelik daar gebly. Vir 13 jaar het hy skoolgehou voordat hy besluit het om sy kreatiewe stokperdjie voltyds na te jaag. Hy deel met my ’n foto van hom by ’n klein lessenaar in ’n koshuis waar alles in 2012 begin het.
“Ek het besef ek hou nie meer van my werk nie,” sê hy eerlik. “Toe kyk ek na wat ek wel kan doen. Stories was nog altyd daar.”
Hy was reeds as kind gefassineer deur verbeelding en donker stories. Hy onthou hoe hy op ’n jong ouderdom Stephen King, Dracula en Frankenstein begin lees het, boeke wat eintlik aan sy ouer suster behoort het.
“Ek dink my ma-hulle het nog nie geweet ek kan Engels lees nie,” sê hy met ’n glimlag. “Toe begin ek in die aande uitsluip om Nightmare on Elm Street te kyk.”
Selfs sy skoolopstelle het reeds daardie donker ondertoon gehad.
“Die onderwysers het altyd gesê hulle moet my opstelle in die oggend merk,” lag hy. “Dit was te creepy vir die aand.”
Daardie liefde vir die vreemde, die bonatuurlike en die donker kant van stories sou later die hart van sy uitgewerswêreld word.
Vandag staan hy aan die stuur van Crystal Lake Publishing – ’n internasionale uitgewersmaatskappy wat fokus op horror, dark fantasy, suspense, science fiction en alles tussenin. Wat klein begin het, het oor jare gegroei tot ’n onderneming met honderde titels, internasionale skrywers en selfs personeel oorsee.
“Ons company groei teen ’n spoed.” Hy lig die koffiebeker, maar drink nie. “En nou begin ons uitbrei na comics, board games, role playing games en selfs educational apps.”
Maar ten spyte van die internasionale sukses bly Suid-Afrika vir hom belangrik.
“Kan jy iewers noem dat ons mission in Suid-Afrika nou is om ons locally geprinte boeke in boekwinkels te kry. Ons is al jare in New York en Londen ensovoorts, maar nou target ons SA.” Hy knip oog: “Dalk kontak 'n paar boekwinkels ons.”
Sluk koffie. “Ek wil hê Suid-Afrika moet weet van ons. Oor tien jaar moet mense ons naam ken soos hulle Tafelberg of LAPA ken.”
Hy praat met dieselfde entoesiasme oor nuwe skrywers as oor groot internasionale name. Vir hom gaan sukses nie net oor eie prestasies nie, maar oor die bou van ruimtes waar kreatiewe mense mekaar kan help groei.
“Daar’s genoeg lesers vir almal,” sê hy. “Ek verstaan nie hierdie ding dat skrywers met mekaar moet kompeteer nie.”
Hy glo sterk aan kreatiewe gemeenskappe – iets wat hy self doelbewus probeer bou deur werkswinkels, podcasts, YouTube-video’s en mentorskap.
“Ek soek mense wat hulle kreatiewe careers ernstig wil vat,” sê hy. “Mense met idees wat dit wil uitvoer.”
Hoewel hy internasionaal werk, bly sy daaglikse lewe opvallend eenvoudig. Sy kantoor is langs sy huis. Die werk eindig selde voor laatnag. En die grense tussen werk, stokperdjie en passie bestaan amper nie meer nie.
“Ek het geen social life gehad toe ek hierdie my voltydse werk probeer maak het nie, en nou is dit eintlik nog meer werk,” lag hy.
Maar dit pla hom duidelik nie. Wanneer hy oor stories praat, begin sy hande beweeg. Hy spring tussen idees, genres en projekte soos iemand wat bang is die volgende plan ontsnap hom.
“Ek’s ’n idee-ou,” erken hy. “Maar ek voer dit uit ook. As ek Saterdagmiddag ’n idee kry, sit ek dalk Saterdagaand al en skryf.”
Daardie dryfkrag het al vreemde deure oopgemaak. Twee jaar gelede het Bob Dylan onverwags oor Crystal Lake Publishing getwiet nadat die maatskappy ’n nuwe weergawe van een van sy gunstelingboeke gepubliseer het.
“Toe ek die volgende oggend wakker word, was dit net e-mails en boodskappe,” onthou Mynhardt. “Skielik praat Rolling Stone en die New York Times met ons.”
Hy vertel dit sonder bravade, amper steeds half verbaas dat dit gebeur het.
Maar ten spyte van die internasionale aandag bly hy opvallend oop oor onsekerhede en uitdagings. Dit is dalk wat my die meeste van hom opval: die feit dat hy konstant vorentoe kyk. Selfs wanneer hy oor boeke praat, dink hy reeds aan die volgende moontlikheid – ’n speletjie, ’n film, ’n klankverhaal, ’n wêreld wat verder leef as net papier.
Maar die kern vir hom bly steeds stories.
“Daar’s niks beter as om iets uit jou verbeelding uit te maak nie,” sê hy.
Miskien is dit uiteindelik wat Joe Mynhardt dryf: dieselfde ding wat hom as kind laat stories uitdink het lank voordat daar uitgewers, filmkontrakte of YouTube-kanale was. Die geloof dat iets wat net in jou verbeelding bestaan, werklikheid gemaak kan word.

