Joe Biden: sekspes of ongelukkige slagoffer van #MeToo?

  • 3

Joe Biden. Foto: Wikipedia

Werksplekkultuur het in die kielstroom van #MeToo drasties verander. Of dit altyd ten goede is, is ʼn ope vraag.

Navorsing het byvoorbeeld getoon dat manlike mentors nou minder gewillig is om vroue te help oplei. In die meeste organisasies is bestuursposisies nog steeds oorwegend deur mans gevul. Die gevolg? Vroue trek weer aan die kortste ent, omdat hulle nie die mentorskap kry wat nodig is om die korporatiewe leer te klim nie.

Is dit oorreaksie aan die kant van die mans? Is dit regtig ʼn geval dat vroue oorsensitief is en normale gedrag as teistering rapporteer? Behoort mans meer bedag te wees op die wyse waarop hulle teenoor vroue (en mans ondergeskik aan hulself) optree? Dis natuurlik ook nie net mans wat oortreders kan wees nie. Dink maar aan die onlangse Amerikaanse geval van die vroulike politikus wat haar manlike ondergeskiktes se gesigte gelek het en skynbaar niks fout gevind het daarmee nie.

Hierdie vrae word natuurlik nou met veel meer erns gevra nadat Joe Biden, Barack Obama se visepresident, deur ʼn paar vroue beskuldig is dat hy hulle op onbehoorlike wyse aangeraak het. Een vrou het beweer dat hy haar van agter omhels het en sy gesig in haar hare gedruk het.

Voorspelbaar genoeg het daar mense gespring om hom te verdedig: Dis maar net normale aanraking. Hy is maar net liefdevol en die vroue ruk dinge buite proporsie. Ander reken weer dis ʼn politieke komplot om enige presidensiële ambisie te stuit nog voor dit begin.

Om dinge te kompliseer, word die beskuldigings gemaak in ʼn politieke klimaat waar seksuele geweld genormaliseer word deur ʼn president wat skaamteloos erken dat hy geen respek vir vroue het nie. As dit nie aanraking op die skaal van Donald “Grab-em-by-the-pussy” Trump is nie, dan kan dit nie so erg wees nie, loop die argument. Selfs hier in Suid-Afrika word daardie argument ter verdediging van Biden gevoer.

Dis nie so eenvoudig nie. Verkragting is nie minder ernstig omdat die slagoffer die verkragter ken as wanneer dit deur ʼn vreemdeling gedoen word nie. Aanranding is nie minder ernstig as dit deur jou man eerder as deur ʼn buitestander gedoen word nie. Daar behoort ʼn objektiewe standaard gestel te word van watter gedrag aanvaarbaar is en watter nie, eerder as om vergelykings te tref tussen erg, erger en ergste.

Kom ons neem nou maar die beskuldiging dat Biden sy gesig in ʼn vrou se hare gedruk het. Boonop skynbaar iemand wat hy vir die eerste keer ontmoet het. In watter omstandighede is dit aanvaarbare gedrag in ʼn werksomgewing? Selfs haarkappers druk nie hul gesigte in hul klante se hare nie. Ook nie persone wat besig is om kliënte te masseer nie. Selfs sekswerkers, vermoed ek, druk nie hulle gesigte in hulle kliënte se hare, of laat hulle kliënte toe om dit met hulle te doen, sonder dat dit behoorlik vooraf onderhandel was nie.

Kan dit dan nog steeds aanvaarbare gedrag wees? Kom ek stel dit anders. Sou dit aanvaarbaar wees vir Julius Malema, of Jacob Zuma, om Karlien van Jaarsveld van agter aan die skouers beet te kry en hul gesig in haar hare te druk? Indien die antwoord nee is, dan is die volgende vraag: Is die gedrag dus onaanvaarbaar, maar dit word verskoon wanneer die oortreder aanvaarbaar is?

Dis juis hierdie dubbele standaard wat maak dat daar soveel klagtes oor seksuele teistering die afgelope ruk in die pers aandag geniet. Mans in magsposisies word toegelaat om op onvanpaste maniere op te tree, en kom weg daarmee, omdat hulle charismaties is en volgers het wat hulle sal verdedig.

Onthou toe Ray McCauley en sy vrou Lindie besig was om te skei, en hy die hele Rhema-kerk opgesweep het teen haar? Gemeentelede het haar gebel, gedreig, by die huis opgedaag en haar lewe oor die algemeen hel gemaak. Sy moes die land verlaat om veilig te wees. Ditto Khwezi met Zuma.

Is Joe Biden ʼn sekspes van dieselfde aard as Donald Trump? Hy’s minder blatant. Dit maak nie sy gedrag aanvaarbaar of vanpas nie. Dat Trump se gedrag as maatstaf gebruik word, is net nog een in ʼn reeks bewyse dat moraliteit in die Amerikaanse samelewing op ʼn skerp afdraande is. Dit maak Biden, en ander soos hy, soveel meer gevaarlik. Trump se gedrag laat toe dat Biden se gedrag, wat in ander omstandighede onaanvaarbaar sou wees, genormaliseer en verskoon word.

Dat Biden nie die emosionele intelligensie het om dit in te sien nie, maak hom alreeds ʼn ongepaste presidensiële kandidaat.

Maar aan die ander kant, as Trump die standaard is waaraan presidente na Obama gemeet word, dan is hy dalk wat Amerika verdien. Soos Trump.

  • 3

Kommentaar

  • Bettina, om die veelkoppige draak wat, wêreldwyd moraliteit in sy vele fasette aanval, en dit soms regkry ook om morele waardes te verslind, KAN NIE beperk word tot spesifieke groepe of arenas nie, soos bv die politiek; werksplek; kerk; vrouegeslag, ens nie.
    As ons hoop op mense (prinse; presidente; pastore; partye) of hierdie wêreld is, is ons die ellendigste van alle mense.
    Niemand kan die rol van 'n Verlosser of Saligmaker speel nie ... want ALMAL, maak nie saak hoe goed sommige van die "ideales" hulself verskans nie, ontbreek aan geregtigheid.
    Wanneer ons na leiers kyk, soos die wat jy genoem het, is dit verseker so dat hulle as opsieners 'n groter oordeel gaan ontvang ... en met reg so.
    Dat hulle dade gruwelik is, is beslis, maar om as regter te besluit wat of wanneer is gebrek aan moraliteit reg of verkeerd, en wie is strafbaar of nie, is nie reg nie.
    Daar is wetenskaplik nagevorsde feite rakende bv pedofilie, wat in al die kringe van die samelewing voorkom, wat jou ore sal laat sing.
    Daar is priesters, pastore, prinse wat valse beelde voorhou en deur baie oningeligte joernaliste bewonder word, terwyl hulle in verskeie morele fasette disfunksioneel is.
    So is daar talle voorbeelde van grysstof-degenerasie in die morele bewussyn van ons samelewings.
    Dus: die probleem is die globale kondisie van die mens.
    Elke mens het 'n ingebore morele kompas. Dit het ons verkry toe ons vir ons 'n lat gepluk het, met die vrug van 'self governance' daaraan.
    Om leiers, soos genoem in jou artikel, of die mens per se soos 'n boom terug te snoei elke keer as 'n ander morele disfunksie sy kop uitsteek, gaan jou besig hou tot in ewigheid, met geen blywende resultaat nie.
    Wat is die oplossing?
    Daardie einste wilde lat moet terug geënt word in die boom van die Lewe – Jesus Christus – sodat die mens vanuit die innerlike wortel (Jesus Christus) verander word deur die sap(bloed) wat die vrug tot gevolg het.
    Ek voel, as elke politikus, verslaggewer, sielkundige, wie ook al, prediker (waarvan die kerk wêreldwyd in alle denominasies afvalligheid beleef weg van die ware evangelie en die ware Jesus – hetsy valse insyferingselemente in evangeliese kerke, of ou valse elemente in tradisionele kerke) , hulle menslike oplossings vir die land of wêreld, in vryheid kan verkondig, dan het dit hoogtyd geword dat die Debora's en Kaleb's die goeie tyding bring van die ewige oorwinning.
    Oorwinning oor die draak wat ons wil weerhou, om hier en nou, en om in ewigheid ons Godgegewe beloftes in besit te neem.

  • Die verskil is Trump se seksekskapades was voor hy president geword het en Biden en Clinton terwyl hulle in die amp gestaan het. Ou Trump is ‘n boelie en het baie foute, maar het nog nie weer op daardie gebied oortree nie.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    As Biden 'n Republikein was sou ons nooit die einde van die storie gehoor het nie, nie waar nie? Die media is egter pro Demokratiese Party en sal heelwat sagter wees op hom soos reeds gesien kan word TENSY hulle iemand anders in die oog het in welke geval hulle stadig maar seker na sy "strot" sal beweeg. Dubbele standaarde is 'n kenmerk van televisie-netwerke en die media in die algemeen, iets wat mens Trump gelyk moet gee al is dan ook net daarmee. Hulle word gedryf deur politieke en persoonlike agendas. Dis heelwat beter dat elke mens maar liewer moeite doen deur wyer te kyk en te lees. Die #MeToo beweging het verseker meriete maar die gevaar bestaan dat dit al hoe meer 'n soort uitlaatklep word vir gefrustreerdes wie se bedoelings nie altyd opreg en suiwer is nie.
    Biden? Wel, hy is 'n swak kandidaat vir enige politieke party. Hy's arrogant, skynheilig, oorlogsugtig, geldgierig (sy seun wat miljoene in die Ukraine uit olie maak danksy pappie) en vol bravade tussen sy maatjies weg van kameras; dus glad nie 'n geskikte presidensiële kandidaat nie alhoewel dit presies die soort kandidaat is wat die "Deep State" verkies. Wat die VSA en die wêreld nodig het is iemand soos Tulsi Gabbard. Iemand wat anti oorlog is, gekant is teen 'regime change' (iets wat 'n Amerikaanse stokperdjie is), glo in dialoog en iemand wat die Midde-Ooste se probleme verstaan omdat sy eerstehands self ondersoek gaan instel het. Hier is 'n paar skakels:
    1. https://youtu.be/sXKsDap51_Q
    2. https://youtu.be/mkigREtfAT0
    3. https://www.facebook.com/RussiaInsider/videos/1825280317742203/
    Ongelukkig het sy reeds die teiken geword van 'n totale media-aanslag wat sy wortels in die CIA, FBI en ander instellings het. Gevolglik sal sy nie die paal haal nie. Hierdie instansies soek 'warmongers' sodat wapens verkoop en geld gemaak kan word. Biden, soos Hillary Clinton pas die profiel soos 'n handskoen. Hulle is die tipe kandidate wat die een ding sê en voorgee maar die teenoorgestelde doen.
    So, of dit nou Biden of #MeToo is, Amerika sorg gewoonlik vir vermaak en opwinding op die politieke akker. Hulle oordrewe misplaaste beheptheid met hoe "exceptional" hulle is dui op 'n soort politieke intelingsmentaliteit wat skepties beoordeel moet word. Ons is reeds besig om die voorskou te beleef met die oog op die volgende presidensiële verkiesing. En ja, #MeToo sal 'n rolspeler wees wat tyd op TV sal kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top