Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird deur Vincent Pienaar, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird
Skrywer: Vincent Pienaar
Heruitgegee deur: Groep7 Drukkers
ISBN: 9781997481096

In ’n tyd toe Jozi nog Jo’burg was, het ek die eerste weergawe van Vincent Pienaar se Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird (2003) gelees. Ons verblyf in Roodepoort was nog vars in my geheue, waar ek gereeld deur Fietas en Brixton Braamfontein toe gery het. Ek is ook ’n tydgenoot van Pienaar, en die plesierige taal van my jeug het my nou, met die nostalgie wat ouderdom bring, selfs meer genot verskaf as destyds.

Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird is in 2003 genomineer vir die eerste Jan Rabie-toekenning vir debuutskrywers. Van sy ses romans is twee Engelstalige boeke, Too many Tsunamis en Limerence, genomineer vir die Sunday Times Barry Ronge Fiction Prize. Hy het verskeie reekse en dramas vir radio geskryf.

Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird vertel die verhaal van die vroegryp Martie-Santjie, Piet Wieletjies en Stil Willie de Jager. Mense wat ek herken. Mense wat ek geken het. Daar is ook Ous, wat swaarkry ken, en haar broer Charlie.

Pienaar skryf doelbewus in gewone omgangstaal, en dit werk. Daar is geen oomblik waar ’n mens wonder of hy vanaf ’n afstand na die kommin karakters kyk nie. Hy ken hulle, hy is een van hulle, sê hy. Hy skryf soos hulle (ons) gepraat het in die sestigs, dink soos hulle gedink het en verstaan hul drome en teleurstellings sonder om dit mooier of slimmer te probeer maak as wat dit was. Hy verromantiseer hulle egter ook nie. Dis die taal van die tyd, van die area waar dit afspeel. Dis grof, snaaks, hartseer en eerlik.

Die verhaal speel af in Johannesburg, so ’n halfeeu gelede, in die middel van die sestigerjare. Dit was ’n tyd van ducktails, van karre wat gebrul het en musiek wat jou borskas laat vibreer het. “Twist and shout” was nog nuut en Cassius Clay ’n hero. Noord-Transvaal het die Curriebeker knaend gewen. En sukses het nie beteken rykdom of status nie, dit het beteken jy trek uit Fietas uit en koop in Brixton. Dis daardie wêreld wat hierdie boek sonder verskoning vasvang.

Wat my tref, is dat die boek nie probeer verduidelik nie. Dit onthou. En as jy daar was, of naby genoeg om die reuk van petrol en rook en hoop te ken, sal jy weet: Dis hoe dit was.

Die swart Ford Thunderbird met ’n silwer arend met gespreide vlerke op die bonnet is nie net ’n kar nie. ’n T-Bird het ’n bonnet, ja. Dis ’n simbool van krag, mag en die droom om bo jou omstandighede uit te styg. Om die cherry te kry.

Die ducktails, met die stoves, lumbar jackets, studs onder hulle skoensole en oliekuiwe, check die cherrytjies uit en die cherrytjies steek ’n skyf in die holte van ’n hand weg. Gunston plain.

Die hardegat, streetwise Martie-Santjie het ambisie; die man met die beste kar wen haar hart. Sy wil hom liefhê soos die sterre in die bioscope wat haar leer van liefde. Sy is passievol, maar haar man het sy werk lief, en sy kan spend, spend, spend. Maar is dit genoeg vir die mooi girl?

Sy fantaseer oor hoe James Dean ’n jean volmaak. Haar hare is Carole King. Haar styles Faye Dunaway, Grace Kelly of Barbra Streisand, afhangend van wie sy verlei.

Dan is daar Piet Wieletjies, die vulture met sy omgeboude rooi Ford Ranchero wat sit en wag vir ongelukke. Hy is nie baie slim nie, maar is ’n mooi man met ’n oog vir die cherrytjies, al is hy lief vir sy vrou, Ous.

Die manne is self-made, van motor mac tot besturende direkteur. Hulle drink hard en naai hard. Onwaarskynlike mense kom mekaar by in onwaarskynlike plekke, wat die leser wil laat lag, of huil. Dis ’n rowwe lewe, maar hulle gee om vir mekaar. “Jy ken jouself seker maar aan die ouens wat jou vrou bykom” (bl 194).

Die manne sal mekaar donner, maar nie sommer bedonner nie. Sout van die aarde. Lojaal aan vriend en familie. Oom Paul se portret hou geduldig wag in die voorkamer, want ’n vinnige blik na die streng gesig hou hulle weer in lyn.

Daar word gedrink by rowwe plekke, gedans by Sessions en Rose’s Taxis het nog geloop.

Dit is nie ’n boek vir mense wat dié tyd wil ontleed nie, wat wil kyk of duvets in die sestigs of sewentigs uitgekom het nie. Dis vir mense wat toe geleef het, of wat wil verstaan hoe dit gevoel het om jonk te wees in ’n stad wat hard was, raserig was, toe gewone mense arm, maar tog vol ambisie was.

Daar is min boeke wat regtig hierdie leefwyse eerlik uitbeeld. Hierdie een verdien ’n plek langs Triomf en Ons is nie almal so nie.

Dit was nou sommer ’n lekker boek om die jaar mee af te skop. Die letterkundiges sal waarskynlik baie dieper kan kyk, maar vir my was dit net die beste vakansieleesstof om die toeristeseisoen in Kleinmond te oorleef.

 Jo’burg, die blues en ’n swart Ford Thunderbird is nie ’n liefdesbrief aan Johannesburg nie. Dis ’n eerlike herinnering aan ’n lewe wat baie mense graag wil ontken.

Lees ook:

Vincent Pienaar, Melville se onwillige literêre skat

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top