Jan Scholtz (1938–2015)

  • 5

Gebore en getoë

Hendrik Jan Scholtz is op 20 Oktober 1938 as spoorwegkind op Kemptonpark se stasie gebore, "want dis waar die spoorweghuisies gestaan het" (Insig, April 2003). Hy het grootgeword in Noupoort, Witbank en Boksburg.

Hy het aan Insig vertel: "Op Noupoort was daar niks nie. Nege maande van die jaar was dit yskoud, drie maande vuurwarm en die enigste bome was die begraafplaas se sipresse. Daar het ek as kind altyd geglo: Iewers moet daar tog ’n beter plek wees. Toe ons op Witbank kom, was dit somer en die groen grasperke het soos die hemel gevoel."

Jan het een broer, Karl, gehad, asook ’n suster Elsa. Hy het aan Marina Möller (Sarie, 6 Desember 1995) vertel dat hy en sy broer nooit eintlik vriende was nie. Hulle het baie baklei as kinders: "Hy het my baie geboelie. Maar dis seker omdat ek vier jaar jonger as hy en nogal ’n laspos was. Boonop moes ons ’n kamer deel." Karl was ’n skilder en het in Spanje gewoon en hulle het mekaar vir 20 jaar nie gesien nie. Hulle het daarna kontak gehad en het baie goed oor die weg gekom. Hy is in 1992 oorlede.

Terwyl hy ‘n kind was, het die gesin baie rondgetrek en hy het gedurende skoolvakansies op die myne, die Spoorweë en by ’n skoenmaker gewerk.

Jan het ook aan Möller vertel dat hy in "groot konflik" grootgeword het: "Ek en my broer én ek en my ma het in konflik met mekaar gelewe. My ma was maar ’n hardekoejawel. Ek onthou sy het ons altyd met Pa se seekoeisambok bygekom. Ek moes leer taai wees, want die Oos-Rand waar ek grootgeword het, was maar ’n oerwoud. Dit was die motorfiets-era. Die ouens met die kettings. ’n Ruwe klomp.

"My pa was ’n baie goeie man. Maar baie saggeaard. Hy het altyd as ons aan etenstafel baklei, gesê: 'Ag, kan ons nie net in vrede eet nie.' Maar al sy gepraat oor vrede het niks gehelp nie! Wat ek goed van Pa onthou, is dat hy altyd knipmesse gehad het. Ek het ook altyd ’n knipmes gehad, want my pa het geglo elke seun moet ’n mes hê. Ná sy dood het my ma sy knipmesse vir my gegee en ek het deur die jare nog nuwes versamel. Iemand het ’n spesiale houtkis vir my gemaak met vakkies vir elke mes."

Jan het in 1956 sy matriek in die eerste klas aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg geslaag.

Verdere studie en werk

Jan het vanaf 1957 tot 1959 aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (vandag die Noordwes-Universiteit) gestudeer, waar hy in 1959 sy BA-graad met Duits en kunsgeskiedenis as hoofvakke behaal het. In 1960 het hy ook sy Hoër Onderwysdiploma aan die Potchefstroomse Onderwyskollege verwerf.

Hy het aan Hanlie Retief (Rapport, 26 Mei 2002) vertel dat hy na skool die Potchefstroomse Universiteit (vir CHO, met hoofletters) getref het "in die hartjie van die Verwoerdiaanse era. Potch was toe die beste universiteit ter wêreld, want hy't jou als geleer wat jy nie moet wees nie. Ek is drie keer ampertjies uitgeskop. Gedink Verwoerd is ’n monster en sommer ook begin besef dat die kerk op die verkeerde trippie was. Toe hou ek op met kerk toe gaan, en dit was natuurlik bloedsonde."

Ná sy studies (1961 tot 1965) was hy die Duits- en Engels-onderwyser aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. In 1966 was hy organiseerder van die ATKV voordat hy in 1967 as radiojoernalis by die SAUK aangestel is. Hy was onder meer parlementêre verslaggewer, asook redakteur van die nuuskommentaar.

In 1973 het die SAUK hom aangestel as die eerste regisseur vir televisie, wat in 1976 sy opwagting in Suid-Afrika gemaak het.

In Junie 1974 het Jan Scholtz se diens by die SAUK tot ’n einde gekom. Hy het aan Die Burger (19 Junie 1974) verduidelik dat sy werk as skrywer sowel as regisseur te veel van sy tyd begin verg het en hy dus moes bedank sodat hy meer aandag daaraan kan gee. Hy was van plan om ná sy bedanking meer aandag aan sy vryskutwerk vir rolprente te gee en ook om hom voltyds op sy skryfwerk toe te lê.

Jan het aan Hanlie Retief in Rapport (26 Mei 2002) vertel: "In my vyf skoolhoujare, my tyd as dieptejoernalis by die SAUK en toe ek later begin rolprente maak het, het ek besef die tentakels van die Party en die Broederbond het diep geloop, dit het eerlikheid laat sneuwel en dit moeilik gemaak om stories reguit te vertel.

"Jislaaik, daar was soveel vorme van sensuur. As jy ’n nurse soek in ’n storie, moet die Verpleegstersraad toestemming gee. Jy moes almal se beeldpoetser wees. Die predikant moet wonderlik wees, die skoolhoof ook, die Afrikaners is almal blink en mooi en lieflik en so aan. En ons almal glo in God en Afrikanerdom. Daar was nie plek vir enige andersdenkende Afrikaner in die land nie. As jy Engels was, was jy orraait, gekleurd ook, want dan was jy in elk geval op pad hel toe.

"So, ek het gedurig gebots. Ons politiek en godsdiens het só ineengesmelt dat een van die twee moes verloor, en dit was veral die kerk en die godsdiens. Vandag pluk die kerk die wrange vrugte van daardie tyd. Die feit dat Beyers Naudé nou vernoem word, vertel meer as enigiets anders watter verkeerde pad die kerk geloop het.

"Kyk, ek het nie gripes nie, ek het my innings gehad in hierdie bedryf. Ek skryf al van 1965 af, dis al byna veertig jaar. Daar is ’n nuwe geslag wat nou opkom, veral onder die sangers, die Koos Kombuise. Maar hulle kan ook so maklik oudedoos raak, want die rebellie wat hulle nou nog predik, is klaar verby. Ons het nou ander uitdagings, ander doelwitte. As ons as Afrikaners iets wil maak van die land, moet ons begin doen wat reg is en ophou kla oor wat verkeerd was in die verlede."

Jan is in 1983 met Michelle getroud. Hulle het mekaar op die stel van Sterretjie ontmoet, het hulle aan Charné Meyer (Rooi Rose, 20 Mei 1992) vertel. Michelle was die skakelbeampte vir die lugmag wat Jan met die verfilming van die rolprent moes help. In 1992 is hulle tweelingseuns, Carl en Mynard, gebore. Jan was voorheen vir 18 jaar getroud en het ’n seun, Francois, en dogter, Ingrid, uit hierdie huwelik.

In 1983 het Jan en Michelle ’n lap grond buite Johannesburg gekoop en daar het Jan sy liefde vir tuinmaak uitgeleef, vertel hy in Sarie van 5 Januarie 1994 aan Marina Möller. "Ek is lief vir tuinmaak. En hoewel ek nie baie van dié ou groot huis hou nie, kan ek maar altyd ’n groot tuin hê. Ek omring myself daarmee." Hy het in die eerste tien jaar daar 150 bome aangeplant. Kas van den Berg het eenmaal vir hom gesê: “As ’n mens die dag ophou om bome te plant, kan jy maar net sowel doodgaan.”

Op die stuk grond het Jan doringbome, karees, kiepersolle en witstinkhoutbome geplant. "Ek hou van ’n tuin waar jy kan sien as dit winter is, as dit lente en somer en herfs word. Al die bome hier is bladwisselend. So wintertyd lyk dit soos winter en in die lente blom alles. In die herfs is alles geel en somerdae is groen. Ek leef met die seisoene saam. Ek het oral ook verbleikblom (yesterday, today and tomorrow), jasmyn, kanferfoelie en katjiepiering. Want ek glo jy moet die lente kan ruik."

Vanaf 1974 was hy voltyds draaiboekskrywer, regisseur en veraardiger. Hy was die stigter van Kasteel Films in 1974 en in 1978 van Scholtz Films. Hy was ook voorsitter van laasgenoemde.

As onderwyser het Jan ook later klas in Afrikaans gegee en, het hy aan Estee Booyens (Vrouekeur, 13 September 2002) vertel, "ek het hierdie klasleesboekies met die kinders behandel en agtergekom daardie goed is darem vreeslik swak geskryf. Toe begin ek ’n jeugverhaal skryf. Die goed is gepubliseer en later het ek romans en spanningsverhale geskryf. As gevolg van daardie skryfwerk kry ek toe as ’n subredakteur by die SAUK werk."

Jan se skryfloopbaan het in 1966 afgeskop met ’n skoolverhaal vir die jeug getiteld Skefie van 13A wat handel oor ’n jong seun wat in die hoërskool moet koshuis toe gaan. Daar beland hy in allerhande moeilikhede dat hy selfs deur die hoof gedreig word met skorsing. KV het in SA Beeld (10 April 1966) geskryf dat die werkie "lewendig en spannend" geskryf is, ten spyte daarvan dat die tema nie so oorspronklik is nie.

Sy eerste boek vir volwassenes, Man sonder skaduwee (1967), is deur resensente beskryf as "baanbrekerswerk" – nie soseer omdat dit een van die eerste boeke was wat oor ’n kleurling gehandel het nie, maar veral omdat hy die onderwerp uit ’n buitengewone oogpunt benader het. In Hoofstad (15 Februarie 1972) is ’n oorsig oor Man sonder skaduwee gegee.

"Die boek, skryf ’n resensent, is belangrik omdat dit nie doelbewus 'modern' probeer wees nie, maar 'omdat dit essensieel modern is in die siening van die kontemporêre mens'.

"Die skrywer trap nie in die strik van die 'maklike' uitweg wat die voor die hand liggende rassistiese implikasies aanbied nie, hy offer nie die wesenlike van die roman, naamlik die karakterelement, op ter wille van ’n idee nie. Man sonder skaduwee is in die eerste en enigste plek verháál – die verhaal van die mens, Danny Coke."

In Die Transvaler het Jan Kromhout geskryf dat Man sonder skaduwee "toegewyde leesoorgawe verg". "Slegs dan sal Danny Coke gesien word as dié Kleurling in ons letterkunde wat nie in die eerste plek belang stel in die ontvoogding of 'try for white' nie, maar wat helderheid en waarheid soek in eie gees en wat menslike rede nie met die werklikheid kon versoen nie."

Die resensent van Die Suidwester het geskryf dat "elke karakter in hierdie roman werklik lééf, en word met meedoënlose logika deur die verskillende stadia van sy of haar ontwikkeling na die onvermydelike slot gevoer word. Die toneel waar Danny ... tot die finale keuse gedwing word, is ’n letterkundige prestasie."

Jan se volgende drie boeke, Kode van die haai (1967), Die aanslag op Stalingrad (1970) en Wrak by Skua (1971), kan sy seeverhale genoem word wat meer op die jeug toegespits is. En dit is ook hierdie boeke wat hom bekend gemaak het. In Hoofstad is gesê dat avontuurverhale wat op die see afspeel, op daardie stadium nog nie so bekend in Afrikaans was nie, maar dat daar wel duidelik ’n mark daarvoor was. Dit is nie net die temas wat oorspronklik was nie, maar "Scholtz meng sy bestanddele so kundig dat daar iets vir ’n verskeidenheid van smake en ontwikkelingstadia is – intrige, aksie, romanse. Daarby vertel en beskryf hy puik."

In Die Transvaler van 26 Februarie 1968 (resensent onbekend) is geskryf dat Kode van die haai goed beplan is en "skematies goed inmekaargesit" is. Die ontluikende liefde tussen Cas en Lenie wat ná hul matriekjaar aan die Mosselbaaise kus vakansie hou, word goed beskryf, maar daar is ook duikbootbedrywighede aan die kus en Cas en Lenie word teen hulle wil daarby betrek.

"’n Vreemde moondheid probeer naamlik met ondermynende elemente in die Republiek in verbinding bly. Van dié motoriese oomblik af kry die twee ’n al groter aandeel in die verrigtinge (op die vyandelike duikboot aangeland, gaan dit darem ’n bietjie baie dol daaraan toe!) totdat hulle as held en heldin ná die somerepisode na hulle tuiste en studie kan terugkeer. En omdat die verhaal pal uit hulle hoek en gesigspunt aangebied word, is elke jong leser vanself ’n deelgenoot."

Met Die aanslag op Stalingrad het Jan Scholtz weer die see as agtergrond vir die spanningsverhaal vir die jeug. Dirk Visser is ’n student en ’n uitstekende paddaman en sy meisie is die dogter van die vloot se kommandeur Verster. Dirk word gekies om ’n bom aan die Russiese slagskip die Stalingrad vas te sit.

In Transvaler van 13 Julie 1970 het PD van der Walt geskryf dat die spanning in die verhaal deurentyd op ’n hoë vlak gehou word en dat die verhaal heel "lesenswaardig" is.

Die oordeel wat resensente oor Die wrak van Skua gevel het, was nie so gunstig soos by bogenoemde twee nie. Hierdie een handel oor Schnetler, ’n goudmaniak wat nie ’n snars vir ander mense, nie eers sy dogter Julie, se lewens omgee nie. Hy en Dirksen, op wie Julie verlief is, moet met twee treilers na die eiland Skua gaan, waar daar in die Tweede Wêreldoorlog goudskatte begrawe is.

Volgens MA (Die Burger, 6 Julie 1972) is die dialoog te "houterig en sy karakters asof uit bordpapier geknip". Maar dat Jan Scholtz die see geken het, daaroor was daar geen twyfel nie en die beskrywing van die storm op see was knap en oortuigend. In Vaderland (10 September 1971) het JH geskryf dat die verhaal soms ongemotiveerd is en die leser nie altyd seker is waarom sekere handelinge plaasvind nie, en in Volksblad (23 September 1971) het Anna van Zyl geskryf dat die "verhaal na die einde toe al meer in die onwaarskynlikhede verloop om net nog meer grillerigheid ingewerk te kry”.

Die wrak by Skua is in 2005 deur Hartbees-uitgewers heruitgegee.

Oor hierdie skryftydperk in sy lewe het Jan aan Marina Möller in Sarie van 6 Desember 1995 vertel: "Dit was die jare van die groot name van skryf. Jou bestaansreg as skrywer was deur literêr te skryf. Ek het my daarteen verset. Dit was vir my dikwels so kunsmatig. So ’n mooiskrywery. Ek was meer storieverteller. ’n Storie en mense het my meer geboei. Dit was half ’n kunsding om oor armoedige mense en swaarkry te skryf. Ek het altyd gedink ’n mens moet skryf oor die mense van jou tyd; dis die mense wat jy ken. Ek wou nie gaan karring in die verlede tussen die armblankes wat ek ken nie."

Tydens sy jare by die SAUK het Jan in sy vrye tyd voortgegaan met skryf. Toe het hy parlementêre verslaggewer geword en het hy meer tyd gehad om sy stories te skryf. Nic Swanepoel, die bekende radioman, het destyds vir Jan aangeraai om te begin radioverhale skryf. "Ek het nog gekeer want ek het nie geweet hoe om vir die radio te skryf nie," het hy aan Estee Booyens vertel. "Maar ek is ’n paar tekste in die hand gestop om te gaan kyk hoe dit gedoen word en toe ek weer sien, skryf ek my eerste radioverhaal.

"Dit is hoe ek agtergekom het ek kan nogal lekker dialoog skryf en toe kom die filmmaatskappye en van die vier vervolgverhale wat ek vir radio geskryf het, het hulle drie se regte gekoop. Later was die vraag na my draaiboeke so groot dat ek nie meer my werk by die SAUK kon volhou nie en voltyds begin draaiboeke skryf het."

Jan Scholtz het vanaf 1969 vir die radio begin skryf en sy verhale was onmiddellik ’n groot sukses by die luisteraars. In die jare van 1970 tot 1972 het hy luisteraars vasgevang gehou voor die radio met treffers soos Die somer van die oujaar, Snip en rissiepit, Kwikstertjie en Môre, môre. Die laaste drie is ook in boekvorm uitgegee en is later in baie suksesvolle rolprente verwerk.

Hierna was hy die skrywer en/of regisseur van meer as 20 vollengte-rolprente. Onder die bekendstes is, behalwe bogenoemde drie, Ter wille van Christine, ’n Beeld vir Jeannie, Diamant en die dief, Die eensame vlug, Die winter van 14 Julie, Herfsland, Kiepie en Kandas, April 1980, Magic is alive my friends en The emissary. Hy het ook die draaiboeke geskryf van rolprente soos Sien jou môre, Liefste Veertjie, Daar kom tant Alie, Vergeet my nie, Springbok, ’n Sondag in September (regie), Skelms (regie), Dada en die Flower (regie) en Paradise Road (regie).

In 1975 is aanvanklik besluit om nie Die Springbok klaar te verfilm nie, nadat die Publikasiekomitee besluit het om die draaiboek as ongewens te verklaar. Die verhaal het gegaan oor ’n jong man, Attie, wat as ’n blanke grootgemaak is, maar eintlik bruin is. Hy het ’n wit meisie en wil ook probeer om vir die Springbokke rugby te speel. Die komitee het die stuk ongewens gevind omdat dit nadelig vir die regering was, asook vir die algemene welsyn en goeie orde.

Ook in 1975 is Jan se rolprent ’n Beeld vir Jeannie, waarin hy swaarde kruis met die Afrikanerbroederbond, die eerste Afrikaanse rolprent wat deur die sensuurraad van daardie jare verbied is. Dit is die Vrydag verbied en die verbod is drie dae later, die Maandag, opgehef.

Estee Booyens het in Vrouekeur van 13 September 2002 met Jan oor veral sy rolprentwerk gesels: "Die moeilikste deel van ’n film is die skryf van die draaiboek. Dis by die skryf waar die struggle is. As jy hom reg geskryf het, is die res peanuts. Vir my is dit baie vervelig om regisseur te wees, maar ek doen dit eerder self voordat ’n ander ou my storie opdonner. Om ’n rolprent te maak, is ’n stadige proses. Dis ligte en kameras en dan vat dit tyd en dan sit jy daar en jy is doodverveeld.

"’n Ou moenie precious wees as jy in die movies is nie. Wat jy doen, moet jy goed doen, maar dan moet jy daarvan vergeet. Jy skryf ’n ding vir die tyd. Jy kry min spanningsverhale wat oor tien jaar nog byval by kykers sal vind. Dis stories van die oomblik."

Vir Jan was van die lekkerste flieks wat hy gemaak het, dié wat geen aanspraak op pretensie gemaak het nie. "Skelms was sommer ’n weghol-komedie-ding, maar dit was so lekker om daaraan te werk! ’n Groot deel van die film is op die Patattrein tussen Magaliesburg en Hartbeespoortdam geskiet. Dit was wonderlik om Skelms te maak en almal wat destyds aan Skelms gewerk het, sê dit was die heel lekkerste nog."

In 1988 het Scholtz ’n rolprent vir die buitelandse mark, The emissary, met Robert Vaughn in die rol van die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, in Kaapstad verfilm. Dit was volgens hom die grootste produksie wat hy nog tot op daardie stadium aangepak het. Hy het self die draaiboek geskryf en hoewel dit vir die oorsese mark bedoel was, het dit ook in Suid-Afrika gedraai (Die Burger, 19 Januarie 1988).

Intussen kry Suid-Afrika televisie en het Jan nie net die heel eerste Afrikaanse televisiereeks, Keertyd, geskryf nie, maar was hy ook die regisseur daarvan. Dit is in 1975 gebeeldsaai. Dit was net die begin van ’n roemryke loopbaan in die rolprent- en televisiebedryf.

Met Keertyd was hy een van die eerste mense wat deeglik die kop gewas is oor vloek op televisie. Hy het aan Jaco Nel (Beeld, 29 Maart 2003) vertel: "My reeks Keertyd was in 1974 verbied omdat ek 'seks' gesê het. Ek het in daardie jaar ook ’n ordentlike skrobbering by die publikasieraad gekry oor die gebruik van die woord bliksem. Maar ek het maniere gekry om die vloekreëls te omseil en daarom was daar in een van die reeks '’n spietkop genaamd Vlok'.

"’n Mens moes altyd sê 'dêm'. Lateraan het ons darem gevorder tot by 'dônner' en 'bliksem'. Vandag kan ’n mens darem al sê 'f**'."

Van die ander televisiereekse was Gazette (1981), Sterretjie (1982), Skoppensboer (1983), Cul de Sac (3 reekse, 1985–1987), Meneer die Speaker (vervaardiger, 1987), Binnekring I en II (1989 en 1991), Sonkring I en II (1990 en 1992), Triptiek I en II (1993 en 1997), Die laksman (1994), Die vierde kabinet (1998), Arsenaal (2002) en Song vir Katryn I en II (2003 en 2004). Hy het ook help skryf aan die televisiesepie Egoli, plek van goud.

Hy het ook drie enkeldramas vir televisie geskryf, naamlik Jopie Fourie in 1979, Die Genesis kontrak in 1981, en ook in 1981 Die Vrede van Vereeniging.

In 1981 het Scholtz, na aanleiding van die reeks Gazette, ’n eis van R30 000 elk teen Corrie Venter en ’n Afrikaanse oggendkoerant ingestel. In ’n onderhoud met die koerant het Venter verwys na een van sy boeke, Die prys is hoog, wat hy na bewering jare vantevore aan Jan Scholtz voorgelê het. Jan het aan Beeld (7 November 1981) gesê: "My integriteit en eerbaarheid as ’n skrywer is op die spel. Dit gaan hier oor my bestaan. As mense dink ek is in staat tot wat in die berig beweer is, loop ek gevaar dat niemand meer my werk sal wil uitsaai of beeldsaai nie."

Tydens die verfilming van die televisiereeks Binnekring in 1989 het Jan Scholtz gesê hy is klaar met Pretoria en sou nooit weer ’n "enkele toneel in die hoofstad" skiet nie. Dit was nadat hy toestemming van die stadsraad gevra het om tonele vir die reeks in Fonteinedal te verfilm. Hulle het toestemming gegee, maar "vestig net graag aandag daarop dat geen anderskleuriges in Fonteinedal toegelaat word nie".

Jan het aan J Krüger van Rapport (25 Junie 1989) gesê: "Pretoria sien my nie weer nie – in elk geval beslis nie in ’n park of op straat nie. Ek weier ook om Pretoria weer enigsins publisiteit van enige aard te gee as dit die houding is teenoor ons landgenote. Op ’n tydstip wanneer die leier van die Nasionale Party in Londen met die Britse premier praat, kom ’n boodskap uit die hart van sy hoofstad: geen anderskleuriges nie.

"Ek is ’n 'anderskleurige', jy is ’n 'anderskleurige' ... wat is ’n anderskleurige. Dis 1989 en dié is ook amper verby!"

Jan het voortgegaan: "Ek het Jopie Fourie en Die Vrede van Vereeniging vervaardig. Ek is trots om ’n Afrikaner te wees. En ek is trots op my geskiedenis. Maar ... en dis ’n besliste maar, ek weier om deel te word van ’n blanke rassisme waarvoor daar in die laaste stuiptrekkings van die 20ste eeu geen plek meer is nie. (...)

"Ek was saam met Barend du Plessis op skool. Uit daardie jare (1950's) herinner ek my geen rassisme nie. My pa het my geleer van respek en ordentlikheid teenoor swartmense. My pa het Zoeloe gepraat lank voordat hy kon Afrikaans praat. Deesdae werk ons elke dag met swart akteurs. Ek het al produksies vir hulle gemaak, ek het swart personeellede, swart tegnici en swart akteurs. Dit is onaanvaarbaar dat ’n plaaslike owerheid kan voorskryf hoe die samestelling of aard van my werkspanne of my produksies moet wees."

Die twee historiese enkeldramas vir televisie Jopie Fourie en Die Vrede van Vereeniging is in 1982 deur De Jager-HAUM in boekvorm uitgegee. Jan het die teks van Jopie Fourie aan Pieter de Bruyn, destyds direkteur-generaal: programme by die SAUK, opgedra omdat De Bruyn se inspirasie en aanmoediging ’n baie groot bydrae tot die sukses van die drama gelewer het. Vereeniging is aan Danie de Jager opgedra.

Scholtz is in 1994 met die ATKV-prestigeprys bekroon vir sy uitmuntende werk as draaiboekskrywer en regisseur van televisieproduksies. Tydens die oorhandiging van dié prys het Jan nie gehuiwer om die SAUK aan te vat oor sy hantering van Afrikaans nie: "Die SAUK wat die draer van die kultuur van Suid-Afrika behoort te wees, het afgestap van Afrikaans – maar meer as dit. Daar is onbetwisbare aanduidings dat top-amptenare van die korporasie Afrikaans aan die keel gryp; dat Afrikaans van die TV-skerms afgewurg gaan word.

"Waar daar selfs in die ergste jare van Afrikaner-politiek nie aan skrywers voorgeskryf is hoe hulle hul stories moet vertel en wat hulle moet skryf nie, word daar nou edikte op skrif uitgereik, wat gemik is op die beëindiging van programme oor die Afrikaanssprekende gemeenskappe. (...)

"Die skrywers word geskaak om die politiek van die dag uit te dra: die Cultural Desk se opdragte word die voorskrif van die SAUK – en Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap word die sondebok en die slagoffer daarvan. En dít alles in die Nuwe Suid-Afrika waar almal – volgens ANC-beloftes – vry gaan wees; waar elke mens die demokratiese reg gaan hê om sy identiteit, sy oortuigings en sy godsdiens uit te leef en te beoefen. Wat ’n siniese belofte, in die lig van wat nou gebeur.

"Die SAUK, die grootste beskermheer van die kulturele erfenis van elke Suid-Afrikaner, word ingespan om een van die hooftale in die land, Afrikaans, te vernietig. Die aanslag is ’n werklikheid – elke Afrikaanse rolprentmaker en skrywer kan hiervan getuig. En ons het weer by die keerpunt gekom waar ons sal moet sê: So ver, en nie verder nie. Dat ons weier om verskoning te maak vir die bloed wat in ons are vloei, vir die taal wat ons praat, vir die wortels waaruit ons gegroei het en wat ons s'n is.

"As skrywer weier ek om diensbaar te word aan die propagandamasjien wat deur die ANC in werking gestel is. Ek weier om op my knieë te leef vir die politieke kommissars van die SAUK, want as ons as Afrikaanssprekendes nie ons eie beskerm nie, wat is ons? Tweedeklas-, amorfe burgers sonder identiteit, sonder selfrespek.

"Niemand het per slot van rekening respek vir ’n mens wat nie vir homself respek het nie, soos wat die joiners en die hensoppers van weleer tot hul bittere ontnugtering uitgevind het. Die antwoord op ons probleem lê in ons eie hande. Koop Afrikaans, laat diegene wat onsensitief is oor die bestaan van miljoene Afrikaanssprekendes, dit aan hul sak voel" (Beeld, 1 Maart 1994).

In 1995 het die Atoomenergie-Korporasie ’n interdik teen Jan Scholtz se televisiereeks Die laksman probeer kry. ’n Woordvoerder van hierdie korporasie het gesê dat hierdie besluit niks met "sensuur of die verdoeseling van geheime" te doen het nie. Hulle kan egter nie toelaat dat die “verwarrende web van feite, fiksie en duimsuigery waarop Die laksman gegrond is, jare van doelgerigte bemarking en handelsverhoudinge ruïneer en verkope nadelig beïnvloed nie.

"Die AEK distansieer hom van enige betrokkenheid by opsetlike bedrog, moord en die verbreking van landswette wat in dié televisiereeks onder die dekmantel van fiksie afspeel. Ná die beeldsending van die eerste twee episodes het die AEK talle oproepe van plaaslike handelsvennote ontvang waarin sy integriteit be vraagteken word" (Beeld, 19 Oktober 1995).

Die hofuitspraak was ten gunste van Die laksman en daaroor was Jan Scholtz verheug, aangesien die "wasige grys area van burokratiese sensuur" daardeur opgeklaar is.

"Dit het ’n lansie gebreek vir vryheid van spraak. Ek het ook as ’n politieke joernalis gewerk, maar nooit regtig besef hoe wetgewing vryheid van spraak aan bande gelê het nie. Nou eers besef ons dat ons in die Middeleeue was, veertig jaar lank in die woestyn," het hy aan Cornia Pretorius van Beeld gesê. "Met dié hofsaak was dit die 'ou garde' wat ons wou terugdwing in dié woestyn, daarom verwelkom ek die uitspraak. Dit was in elk geval baie bisar dat Die Laksman in die hof ’n draai moes maak. Die regter of advokate kon nêrens ’n presedent kry elders in die wêreld nie. Mense wat na die derde episode van dié program kyk, sal glad nie verstaan waaroor die bohaai gegaan het nie. Daar is geen aanduiding in die program oor waaroor alles gegaan het nie."

Jan Scholtz het daarvan gehou om in sy reekse aktuele sake aan te roer. Só het hy op die idee van sy reeks Die vierde kabinet gekom toe die Waarheid-en-Versoeningskommissie met sy ondersoeke begin het. "Die storie handel oor ’n kabinet vol lêers met waardevolle inligting oor onwettige bedrywighede van die polisie. Die kabinet verdwyn dan en almal van die Burgerlike Samewerkingsburo tot die polisie val oor hul voete om die lêers in die hande te kry. Intussen word ’n moord gepleeg," het hy aan Martjie Roos in Beeld van 31 Maart 1998 vertel.

In 2003 het Song vir Katryn (aanvanklike titel Die Gatvol Blues) die televisie getref en het Jan gesê dit is sy laaste. Hy het aan Jaco Nel (Beeld, 29 Maart 2003) gesê dat hy al belowe het Arsenaal sou sy laaste wees, "maar toe het hulle nog een uit my gewurg".

Song vir Katryn was vir Jan iets nuuts, want dit was die eerste keer dat hy iets met musiek moes doen. Dit het ’n blues-rock-klankbaan met Valiant Swart wat die hoofrol vertolk. As musikant het die sanger-kitaarspeler Mel Botes hom ondersteun. Die vroulike hoofrol is deur Therese Benade vertolk en Marius Weyers en Antoinette Kellerman het ook ondersteuningsrolle vertolk.

Jan Scholtz het al sy stories met die hand geskryf. Hy het aan Insig (April 2003) vertel dat hy met net twee vingers getik het, soos wat die meeste ouer joernaliste gedoen het. "Toe is dit rekenaars, maar in die begin was die stelsels maar vrot en ek het gevoel die computer kom tussen my en my denke in."

Jan was aan die begin van die skryf van Song vir Katryn half lugtig, want soos hy ouer geword het, het die karakters en dus ook die akteurs ouer geword en toe moes hy skielik iets aanpak waar jongmense die hoofrolle speel. Die hoofrol is ’n dokter wat eerder rock en op ’n motorfiets ry as om na siek mense te kyk. Aan Insig vertel hy dat hy en Michelle toe na Johannesburg is om na Pieter Smith, ’n folk-rock-sanger, te gaan luister. "Die saal was stampvol jongetjies wat luidkeels saamsing, veral toe Smith met kenwysies van ou TV-programme begin. Toe weet ek: dis die Liewe Heksie-geslag dié! Mense wat grootgeword het mét televisie en sónder apartheid. Toe ken ek hulle en kan ek die storie skryf.

"Ek het selfs lirieke vir Valiant Swart in die reeks ingeskryf. Die liedjies moet deel vorm van die verhaal – die woorde moet iets daarvan sê. Ek het die lirieke vir Valiant gegee en gesê: Maak daarmee wat jy wil. Maar dié was heel in sy skik en het net hier en daar ’n woord verander vir die ritme."

In 2008 is Jan Scholtz se eerste teaterstuk, Die afspraak, by die InnieBos-fees in Nelspruit op die planke gebring. In 2009 is dit by die KKNK, asook by die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein opgevoer. Paul Eilers het aan Ruan Bruwer (Volksblad, 15 Julie 2009) vertel dat hy een middag by Jan Scholtz gekuier het toe hy die teks van Die afspraak op ’n tafeltjie raakgesien het. "Hy (Scholtz) wou dit aanvanklik vir ’n rolprent gebruik het. Ek het hom toe gevra of ek dit kan lees en nou is ek baie bly daaroor,” het Eilers vertel. "Ek het dit toe vir die verhoog verwerk." By InnieBoshet dit die prys vir die beste stuk gewen en Stian Bam in die hoofrol is as die beste akteur aangewys. In Bloemfontein is Stian Bam deur Deon Lotz vervang en Lotz se rol is deur Waldemar Schulz gespeel.

Die opvoering van Afspraak was vir Eilers baie opwindend: “Dit werk voortreflik vir die verhoog deurdat alles in en om ’n vertrek afspeel. Hierdie stuk onderskei hom van ander deurdat dit ’n kombinasie van rolprent en verhoog is. Dit begin met ’n rolprent wat dan onmiddellik oorslaan in ’n teaterstuk. Ek dink nie dit is al voorheen gedoen nie. Mense gaan deur die opvoering geraak word. Dis ’n baie ernstige en aangrypende teks van alledaagse gebeurtenisse soos in die meeste families maar die geval is."

Elretha Britz skryf in Volksblad (18 Junie 2009): "Afspraak gaan oor die Lotterings, ’n doodgewone voorstedelike familie met genoeg geld vir rondrits oorsee. Karoolsie (Nicole Arendse) is die parmantige huiswerker wat nie skroom om haar sê te sê nie."

Anna-Retha Bouwer skryf in Beeld (27 Junie 2008) só daaroor: “Soos die drama ontvou, dop die deklae af en word die brose rasseverhoudings blootgelê met iemand (Karoolsie) wat deel van die huisgesin is, maar ook nie. Andries (Deon) is die swartskaap. Hy’s ’n fitter and turner met ’n liefde vir die bottel en meer as net ’n spatsel van ’n minderwaardigheidskompleks.

“Die ouer Lotterings is op pad terug van ’n vakansie wanneer hul vliegtuig val, en skokkend genoeg (hoewel nie ’n onbekende gegewe in baie welgestelde families nie) is die verdeling van die erfporsie een van die eerste sake wat aandag kry. In die proses word die verhoudings tussen die familielede duidelik, en selfs die perfekte skoonseun, ds Maans Vos (Waldemar), Hermien (Antoinette) se man, verloor van sy sedige ordentlikheid.

“Die drama verbeeld iets wat in baie families behoort te gebeur – die oopmaak van al die kaste sodat die geraamtes kan uitkom om te dans. Dit is daardie oomblik waarin almal hul maskers laat sak en die wag voor die mond afgedank word, die derms uitgeryg op die grond.”

In sy leeftyd het Jan Scholtz ’n wye verskeidenheid toekennings ontvang:

  • 1975: The Star-toekenning vir ’n Beeld vir Jeannie
  • 1977: Rapport Oscar vir beste draaiboek van Diamant en die dief
  • 1978: Rapport Oscar vir beste regisseur van Die winter van 14 Julie
  • 1981: Star Tonight-toekenning vir beste draaiboek van Jopie Fourie
  • Star Tonight-toekenning vir beste regisseur van Jopie Fourie
  • Akademie vir Wetenskap en Kuns vir beste draaiboek van Jopie Fourie
  • Artes vir beste regisseur van Jopie Fourie
  • ATKV-toekenning vir Jopie Fourie en Die Vrede van Vereeniging
  • 1984: ATKV-toekenning vir Skoppensboer met Koos Roets as regisseur
  • 1991: Artes-nominasie vir Die binnekring
  • 1992: Erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir beste bydrae tot die filmkuns
  • 1993: Artes-nominasie vir Die binnekring II
  • 1994: ATKV-erepenning vir Sonkring
  • ATKV-prestigeprys vir sy werk as draaiboekskrywer en regisseur
  • 1995: Artes-merieteprys vir sy regie van Triptiek
  • 1998: Erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Triptiek
  • 2002: Erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir episode 5 van Iemand om lief te hê.

Op Saterdagaand 20 Junie 2015 is Jan Scholtz in Johannesburg aan longontsteking oorlede. Hy is deur sy vrou, Michelle, hulle tweelingseuns, Carl en Maynard, en sy twee kinders uit 'n vorige huwelik, Francois en Ingrid, en vier kleinkinders oorleef.

Huldeblyke

  • Martin Botha, rolprentkenner aan die Universiteit van Kaapstad se rolprentskool: "Sy grootste werke was Die eensame vlug, ’n Beeld vir Jeannie, asook Ter wille van Christine. Hy het ’n varsheid wat maatskaplik-politiese temas betref, asook dialoog, na die rolprent gebring. Sy karakters het gepraat soos jong mense praat en nie in die teatrale styl van die 1960's nie." (Volksblad, 22 Junie 2015)
  • Tobie Cronjé, akteur: "Ek onthou die groot pret op die stel. Dit het altyd gevoel asof hy niks te ernstig ag nie. ’n Partytjestemming het altyd op die stel geheers. Ek onthou ek moes in Herfsland rugby speel en het die vorige aand laat gekuier ... ek onthou sy eindelose geduld met my die volgende oggend." (Volksblad, 22 Junie 2015)
  • André Stolz, rolprentvervaardiger: "Ek onthou hom as ’n toegewyde en skeppende mens wat die volk wou vermaak." (Volksblad, 22 Junie 2015)
  •  Leon van Nierop: "Hy kon stories op só ’n manier vertel dat dit ’n mens van begin tot einde geboei het. Hy het geweet hoe stories werk. En baie van ons het daardie tegniek by hom geleer." (Volksblad, 24 Junie 2015)
  • Hans Strydom: "Ek onthou hom as ’n vrugbare skrywer met ’n lekker humorsin. Vir my was sy beste prent Diamant en die dief, waarin ek en Sybil Coetzee heerlike komiese romantiese rolle kon vertolk. Hy het daarvan gehou om gesagsfigure wat hul gesag misbruik, die skurke in sy verhale te maak. So was daar die hoofprefek in Môre, môre, die kerk in Ter wille van Christine, die parlementslid in Herfsland, die onderwyser in Sonkring." (Volksblad, 24 Junie 2015)
  • Martjie Roos, televisiejoernalis: "Ek onthou Jan Scholtz as ’n innemende, gasvrye en vriendelike heer. As joernalis het ek nooit op stel in die pad gevoel soos met ander regisseurs nie. Hy het jou altyd met ope arms én ’n stywe dop verwelkom. Ek het hom as student op Potchefstroom ontmoet toe hy die rolprent Springbok (1976) op daardie kampus geskiet het. Ek kon sien die akteurs, soos Sybil Coetzee en Eckard Rabe, het vir hom groot respek gehad." (Volksblad, 24 Junie 2015)
  • Mysi Louw: "Jan Scholtz het die vermoë gehad om presies te weet waarvan die mense sou hou in ’n film of televisiereeks. Die dialoog wat hy in die karakters se monde gelê het, was moeiteloos en op die man af en het elke karakter sy eie stem gegee. Hy het presies geweet hoe om spanning en romanse te meng sodat die kykers nie kon wag vir die volgende episode nie. (...)

Hy was ’n groot, joviale, vrygewige man wat baie akteurs en skrywers finansieel gehelp het om die mas op te kom. ’n Man wat voluit gelewe het en geen struikelblokke wat in sy pad gekom het as probleme gesien het nie, maar eerder as ’n uitdaging. ’n Groot boom in die filmbedryf is gekap en ons gaan hom baie mis. Rus in vrede, Jan. (LitNet)

  • Paul C Venter: "Ek en Jan Scholtz kom meer as 40 jaar saam. Toe ons mekaar doer aan die begin van die sewentigerjare ontmoet het, het hy deeltyds vir die radio geskryf en ek vir tydskrifte – ons kon nog nie regtig van skryf ons voltydse ambag maak nie. Jan het my vir die eerste keer laat kyk na skryf as ’n goeie, eerlike ambag eerder as ’n hoogheilige kuns. Hy was plat op die aarde, nie hoogdrawend nie; ek was destyds onder die invloed van die hoogste letterkunde en Jan het my bekendgestel aan skrywers wat 'hard-boiled fiction' gepleeg het, manne en vroue wat gestroop en gespierd kon skryf, hulle nie met mooiskrywery opgehou het nie. Dit het my kop oopgemaak en my verlos van die ure se gesukkel om alewig iets slim of verskriklik oorspronklik op papier neer te pen; ek kon vir die eerste keer werklik op storie en karakter fokus.

So ja, ek dink ek kan op ’n manier aanvoer dat Jan Scholtz my geleer skryf het, maar hy sal natuurlik sy siniese laggie uiter as hy dit moet hoor: 'Jy raak so ’n bietjie hoogdrawend, Venter.' Een ding onthou ek as bietjie buitengewoon omtrent ons vriendskap: hoewel ons albei later in ons lewens met die skryf en maak van TV-dramareekse geambag het, het ons nog steeds aanhou gesels oor boeke eerder as die televisiewerk wat ons toe gepleeg het. Ons was albei leesvrate. Ek kan lekker kuiers oor die boeke van John le Carré, Ross Macdonald, Donald E Westlake en John D Macdonald onthou, maar nie ’n enkele indringende gesprek oor televisie skryf nie. Mense wat ons destyds saam geken het, sal my nou natuurlik wil herinner aan die goedige gespot soms as die whisky gevloei het: Jan kon my die John 'Lah-di-dah' Steinbeck van TV-drama noem en ek hom die Ena 'Walk-and-talk' Murray van TV-drama. Maar die kere wanneer ek sukses met televisie behaal het, was hy altyd die eerste – en, kom ons wees maar eerlik, gewoonlik die enigste ander skrywer – wat my gelukgewens het, en ek het dieselfde terug gedoen. Ons was nie jaloers op mekaar se suksesse nie en kon mekaar troos oor die flops.

Ons kon mekaar ook lekker uit die werk hou. As ek die oggend wakker geword het en glad nie lus was vir skryf nie, dan bel ek: 'Jannie, het jy al gebrekfis?' Dan gaan brekfis ons iewers en ons praat ure lank oor nuwe boeke. Die lewe met sy draaie het soms gemaak dat ons mekaar lank nie gesien het nie – ek het in ’n stadium in die buiteland gewoon – maar by die weersien kon ons sommer net inval en verder gesels asof ons vorige gesprek nie deur jare onderbreek is nie.

Teenoor my het hy nooit ’n goeie daad vergeet nie, nooit lank kwaad gebly nie. Wanneer ek en oorlede Dirk de Villiers mekaar verkeerd verstaan het – ek en die talentvolle, kleurvolle, hoogs ontvlambare regisseur van Arende kon regtig soos skollies baklei, sies, ek skaam my – dan was Jan die een wat die vrede sluit. Hy het Dirk verstaan. En vir my ook.

Jan het ’n unieke laggie gehad. Ek het dit een keer onverwags op ’n besige lughawe gehoor en dadelik besef Jan moet hier iewers wees, en na ’n gesoek het ek hom toe ook gekry … in die lughawe se kroeg; dit was nie moeilik om Jan te soek nie – hy het van sy lafenissie gehou. Ek het tydens sy tragiese siekte besef ek mis dit veral, daardie laggie so droog soos ’n goeie rooiwyn. Ek gaan dit nou nog meer mis. (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Skefie van 13A

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Skoolverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die man sonder skaduwee

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duikboot by Kaap Kiel

Publikasiedatum

196-

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kode van die haai

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aanslag op die Stalingrad

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wrak by Skua

Publikasiedatum

  • 1971
  • 2005

ISBN

  • (hb)
  • (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Swellendam: Hartbees-uitgewers

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Môre, môre

Publikasiedatum

  • 1974
  • 2006

ISBN

  • 0949944130 (hb)
  • 1920036300 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Romanticapers
  • Swellendam: Hartbees-uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kwikstertjie

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798105364 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Môre, môre

Publikasiedatum

197-

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Vrede van Vereeniging: ’n filmdrama

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798609362 (hb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Geskiedkundige televisiedrama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jopie Fourie: ’n filmdrama

Publikasiedatum

1982

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Geskiedkundige televisiedrama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Jan Scholtz beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-08-12

 

  • 5

Kommentaar

  • ann van der zwan

    Ek is op soek na die Afrikaanse fliek Morê Morê. Kan julle my sê waar ek dit kan kry?

  • Erika Terblanche

    Beste Jacqui, Ek weet nie of Sonkring ooit in boekvorm uitgegee is nie. Maar kontak gerus vir Protea Boekhuis in Pretoria, of hulle tak op Stellenbosch om uit te vind.

    Groete

    Erika Terblanche

  • Adri du Plessis

    Ek wil graag weet die fliek Kiepie en Kandas waarvan Jan Scholtz deel was die musiek wat in die fliek gespeel het se name ken?

  • Adri du Plessis

    Ek weet hy is oorlede maar is daar enige van die mense wat betrokke was in daardie fliek beskikbaar wat my kan help. Ek soek so graag die naam van een van die liedjies wat in die fliek speel maar ek weet nie waar om te begin soek nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top