Jan Bethesda Vermaak: ’n huldeblyk

  • 1

Jan Vermaak

Dit was vir ons almal ’n ontstellende ervaring om ons pa in die hospitaal te sien, kort nadat ons gehoor het hy is oorlede. Wat my veral getref het, en wat ek fisiek kon voel toe ek aan hom raak, was dat al die hitte uit hom verdwyn het.

Want as daar een ding was wat my pa deur sy hele lewe behou het, was dit ’n ontembare vuur. ’n Vuur wat gebrand het met ’n passie vir Afrikaans, vir die onderwys, vir kuns en vir liefde.

Daardie vuur kon ons soms sien in die goudgeel spikkels van sy oë wanneer hy vurige debatte gevoer het oor die korrekte uitspraak van sekere woorde en name.

Jan Vermaak as jong man, met sy pyp

Dit was waarskynlik daardie selfde vuur wat hom eendag in die Universiteit Stellenbosch se biblioteek langs ’n pragtige jong dame laat sit het. Hy het haar uitgevra oor haar vreemde naam, Adinda, en aangehou uitvra, met volgehoue intensiteit, totdat sy uiteindelik “ja” gesê het nadat hy vele briefies van ’n sekere “Bewonderaar” vir haar gelos het.

Wat my pa toe nog nie kon weet nie, was dat daardie jong dame haar eie vlam vir Afrikaans en die onderwys vir langer as 50 jaar langs syne sou laat brand. Saam het hul twee vlamme ’n lig geword wat wyd oor die land geskyn het, soms verblindend helder.

Jan Vermaak en Etienne van Heerden

My pa se passie vir Afrikaans was onafskeidbaar van sy passie vir die onderwys. Oor dekades het hy sy besonderse kennis van en liefde vir die vak aan honderde studente oorgedra. Oudstudente beskryf hom as onder andere as ’n fenomenale onderwyser – iemand wat Afrikaans genotvol gemaak het, nie bloot ’n vak wat jy moes neem nie, maar iets wat jy kon liefkry.

Hy het ook ’n merkwaardige geheue gehad. Hy kon elke leerling wat hy onderrig het, se gesig en naam onthou – selfs 20 of 30 jaar later, wanneer hulle hom iewers in die wêreld raakloop. Dit getuig van hoe diep hy omgegee het vir elkeen van sy studente.

Toe hy later as vakadviseur vir Afrikaans opgetree het, het hy nie net studente geïnspireer nie, maar ook onderwysers. Tydens inspeksies het hy telkens probeer om seker te maak dat kinders die punte ontvang wat hy geglo het hulle verdien. Hy was aan die studente se kant. Altyd. En dit is waarskynlik een van die redes waarom hy so ’n buitengewone opvoeder was.

Jan aan die lees

Min mense het ook soveel gedoen vir die behoud van Afrikaanse letterkunde. In ons ou familiehuis was daar nie ’n enkele kamer sonder ’n boekrak vol Afrikaanse boeke nie – duisende daarvan. Sy versameling was so omvangryk dat ’n kollega, Marieta Nel, eenmaal gesê het: As die biblioteek nie die Afrikaanse boek het nie, sal Jan Vermaak dit hê.

Miskien was dit onafwendbaar dat Jan en Adinda se vlamme te groot sou word vir net twee mense. Die vuur het versprei en in drie nuwe kruike gaan brand: eers Arnold, toe Pieter, en toe ek.

Wat ons as kinders nie besef het nie, was dat ons gevorm sou word in die vuurwarm oond van my pa se verwagtinge.

Daar is min vaders wat hul kind se kant sal kies selfs wanneer die kind tegnies verkeerd is, maar as die beginsel nie reg was nie, het Jan se vuur fel gebrand teen enigeen wat voor hom en sy kinders gestaan het.

En hy het net so baie ontferming gehad vir enige vrou wat sy seuns lief gehad het.

Hy het sy goed só versigtig opgepas. Wanneer hy ’n besonderse geskenk ontvang het, sou hy sê: “Baie dankie. Ek sal dit mooi wegbêre.” Dit is vir ons ’n riem onder die hart om te weet dat ons pa nou in vrede rus. Hy is vir altyd mooi weggebêre, soos ’n kosbare geskenk.

Met al sy bydraes tot die Afrikaanse taal en letterkunde, moet spesiale erkenning ook vir sy gepubliseerde werk gegee word. Hy kon uit ons grootste skrywers nuwe werk inspireer en het ’n geweldige, estetiese oog vir ’n bloemlesing gehad.

Alles wat Jan Bethesda Vermaak gedoen het vir Afrikaans, is ons almal se erfenis. Ons almal weet dat daar op 12 Februarie 2026 ook ’n bietjie Afrikaans gesterf het.

  • Alle foto’s verskaf.
Lees ook:

Elders gesien: Jan Vermaak is oorlede

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top