
Jan Vermaak (Foto: Izak de Vries)
Marieta Nel skryf op Facebook:
Jan Vermaak is oorlede. Hy was iemand wat diep spore in die onderrig van Afrikaans getrap het.
As Afrikaansonderwyser het ek Storiepalet, sy bundel kortverhale, en Voort met die spel, sy bundel eenbedrywe, met my leerders behandel. Later was hy my vakadviseur toe ek vakhoof by The Settlers was. Ek het ’n mooi storie van een jaar toe hy kom mondelinginspeksie doen het en die twee top leerders vir Afrikaans Huistaal, by ’n Engelse skool (Florence de Vries en Alicia Bock), se punte opgeskuif het na volpunte.
Nog ’n ander storie het met sy en Adinda se ongelooflike versameling Afrikaanse digbundels te make. Toe ek werk aan Antjie Krog se Mixtape van die liefde, ’n bloemlesing vir tieners, moes ek al die gedigte in hul oorspronklike bundels opspoor. Ek was onsuksesvol nadat ek by al die biblioteke was, ook die Nasionale Biblioteek in die Tuine. Toe onthou ek van Jan en Adinda se versameling. Beide het van hul studentedae af alle Afrikaanse digbundels waarop hulle hul hande kon lê, aangekoop. Ek kon dus maklik regkom na slegs drie of vier uur voor hulle boekrak.
Jan, ek sal nooit jou passie vir Afrikaans, wonderlike musiek en vonkel in die oog as jy kom inspeksie doen het, vergeet nie.
Adinda, ons dink aan jou, Johann Vermaak, Arnold Vermaak en Pieter Vermaak in hierdie moeilike tyd.

