
Foto van Bryan Hiles: verskaf
“Jakob het die lig gehaat. Hy het dit soveel gehaat dat hy dit gesteel en in emmers toegemaak en in die grond begrawe het.” Bryan Hiles sit agter ’n fietswiel gemonteer op ’n staander en draai die wiel se pedale met sy hande om ’n klein geel liggie wat deur die fiets aangedryf word, op sy gesig te laat skyn. Die verhoog is verder donker.
Bryan vertolk verskeie rolle – dié van die kind, Jakob, sy baie ouer ouers, Margot en Friedrich, en ook lede van die gemeenskap wat Jakob se doen en late by die dam, van hul stoep gadeslaan. Dis die Kaapstad-première van die toneelstuk.
Jakob is die hartseer storie oor ’n vreemde seuntjie wat op ’n ewe vreemde manier in sy ouers se lewe beland. Die kind is anders en daarom word hy deur die skool, ander kinders en die gemeenskap uitgeskuif en uiteindelik tuis onderrig. Die temas van liefde, lig en donker en alles wat daarin weerkaats én verhelder word, word meesterlik vertel en met behulp van onder meer ’n battery, ’n klein blikwindpompie, ’n vleisskottel met gebreekte spieëlstukke en blikemmers met ligte in, geïllustreer.
............
Jakob is die hartseer storie oor ’n vreemde seuntjie wat op ’n ewe vreemde manier in sy ouers se lewe beland. Die kind is anders en daarom word hy deur die skool, ander kinders en die gemeenskap uitgeskuif en uiteindelik tuis onderrig. Die temas van liefde, lig en donker en alles wat daarin weerkaats én verhelder word, word meesterlik vertel en met behulp van onder meer ’n battery, ’n klein blikwindpompie, ’n vleisskottel met gebreekte spieëlstukke en blikemmers met ligte in, geïllustreer.
............
Die stel is twee staalstrukture met nege vensteragtige holtes wat met sinkplate gevul is.
Bryan sit op ’n melkstoeltjie met sy voete opgetrek om Jakob se nietigheid voor die gemeenskap se toorn te illustreer. Hy steel die goue lig uit die maanverligte dam en die helder lig uit die sonverligte dam en so met elke emmer water wat hy huis toe dra, word die dam al leër.
“Jakob was nie welkom of geliefd nie – behalwe deur Margot en Friedrich.” Hy vertel van die skuld van die ouerlose egpaar, hoe hulle albei aan selfdood dink om die ander een van die hartseer te verlos. Want ook hulle was randeiers van die gemeenskap. Hul kinderloosheid het ook hulle vreemd en anders vir die gemeenskap gemaak.
Later met Jakob se koms en tuisonderrig word dié vreemde gesinnetjie amper nagwesens in die donker, want Jakob verseg om die lig in te laat, want in die lig is daar ’n monster.
Hy vrees ’n reënboog en toe Friedrich faal om dit aan hom te verduidelik, stel Friedrich voor dat hulle in die berge gaan stap – “miskien is daar iets wat ’n beter leermeester as ek is”. Hy vind ’n kristal wat die lig weerkaats en hy verduidelik vir Jakob dat daar soveel verskillende dele is wat die lig opmaak en dat dit presies soos Jakob is: Hy het verskillende kleure vir verskillende gevoelens en auras en dit alles saam maak een Jakob.
Jakob is woedend en voel verloën. Die gemeenskap se dam is leeg en hulle voel dis Jakob se alewige emmerdraery. Hulle ruk op na die gesin se huisie met moordgedagtes.
Die lig oorwin uiteindelik in Jakob se lewe en hy besef die lig loop hand aan hand met die liefde.
Om daardie een te wees wat volgens die gemeenskap “uit” of “anders” is, is iets wat dikwels in teaterstukke of boeke gebruik word. Dit was die tema van die toneelstuk Bul wat ek verlede week by die KKNK gesien het; die gesprek wat ek met ’n teatervervaardiger gehad het wat sy hele lewe as gay man moes wegkruip van wie hy regtig is; dis die prentjie op een van my beste vriende se WhatsApp-profiel: “We are all human.”
Dit maak ’n mens kwaad en hartseer en gefrustreerd, alles tegelykertyd.
Die stuk is briljant in alle opsigte en ’n mens verstaan heeltemal hoekom Jakob ’n paar jaar gelede deur die Durban-teatertoekenning-beoordelaars in die volgende kategorieë erken is: Beste Nuwe Draaiboek, Beste Regisseur, Beste Akteur in ’n Solo-uitvoering (Bryan Hiles), Beste Stelontwerp en Beste Beligtingsontwerp. Dit ontvang ook die Silver Ovation-toekenning by die virtuele National Arts Festival in 2020.
Die lig oorwin in hierdie toneelstuk, maar ongelukkig nie altyd in die lewe nie. Maar daarvoor het ons teater nodig: om die opsies voor te lê. Toe ons uitstap in die pikdonker, nadat beurtkrag ingeskop het, merk iemand op: die lig wat teater in ons lewens gooi, oorwin vanaand ook hierdie donker.
Jakob
Met: Bryan Hiles
Kortverhaal geskryf deur: Michael Taylor-Broderick
Regie: Michael Taylor- Broderick
Vir die verhoog aangepas deur: Clare Mortimer
The Drama Factory, Comprop Square 10, Henry Vossingel, Asla Business Park, Strand tot 23 April. Vertonings om 19:30 op 20, 21 en 22 April en middagvertonings om 16:00 op 22 en 23 April. Oorgenoeg parkering by die teater beskikbaar.
Kaartjies teen R180 / R160 / R145. Bespreek by www.thedramafactory.co.za of bel 073 215 2290.
Lees ook:
Jakob by Michael Taylor-Broderick at the National Arts Festival, Makhanda

