CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
31 Desember 2023, Aarde, Suid-Afrika, Klein-Karoo, Oudtshoorn, Arbeidsgenot, laatnag
Die helder aandster (wat eintlik ’n planeet is) flonker nog een oomblik Betlehemagtig-sereen saam met ’n hele Melkweg spikkelsterre oor die dak van Arbeidsgenot in Oudtshoorn toe chaos losbars. “Wat de hel …” snak die tydelike nagwag na sy effens aangeklamde asem (dit is immers Oujaarsaand) … Iets soos ’n blink sfeer tref skeef-skeef een van die ou eikeboom se takke (waar Herrie destyds na bewering aanvanklik vasgemaak is) en sloeg tot stilstand tussen die beddings. “Jo-jo!” gil hy en duik onder die ou bankie in waar Vroutjie en Neelsie altyd hulle geselse ’n eeu gelede in die agtertuin van Arbeidsgenot in die skemeruur gesels het.
Na ’n minuut wat soos ’n ewigheid voel, skreef hy sy een oog versigtig oop en probeer lees wat op die skeefgevalle sfeer geskryf staan. “Jakhals II, Volkswagen Fox,” fluister hy skor deur bewende lippe. Zieng! skuif ’n soomlose paneel langs die woord op die tuig oop en ’n wese met ietwat deurmekaar Einsteinagtige wit hare loer uit. “W-w-wie of w-w-wat de hel is jy? Is jy ’n spook? Of ’n spioen? Jy mag nie hier oor die museum se lugruim vlieg met jou … wat se ding is dit? Volkswagen-Jakkals-dinges. Duitse maak – seker betroubaar … Maar jy het hom gaan staan en krap toe jy land. Waar het jy jou drywersliksens gekry?!” Sy woordeskat laat hom vir ’n wyle in die steek. “Is dit ’n moderne soort oversized hommeltuig, of wat?” Hy dink nou eers na al sy vrae daaraan dat die wese van bo dalk nie eers verstaan wat hy vra nie, maar hy is verniet bekommerd.
In ’n fynerige, dralerige stemtoon, ook ietwat onvas soos sy eie (dit is immers Oujaarsnag), kom die antwoorde deeglik beredeneerd: “Taal! ‘Oversized’ is ‘oorgroot’! Wie? Aangename kennis, swaer. Noem my sommer Kerneels, of Neelsie, as dit jou geval. Spioen? In my eie tuin? Nee wat. Ek weet klaar wat hier op hierdie kolletjie op Moeder Aarde aangaan. Ek het self die hekke doer voor gemaak, self die beddings uitgeleg, self die bome wat nou vir jou koelte gee, geplant en vir dekades natgelei met leibeurte. Self van die houtwerk en kaste in die huis gemaak, self vir Vroutjie die oorgroot matras van Bombaai, wat verkeerdelik in Mosselbaai afgelewer is, middeldeur gesny vir haar kamer. Ek het ook my laaste asemteug op Aarde in daardie voorste kamer links van die voordeur, soos jy instap, getrek in 1932. Hou op gil! Daar’s hy, dis beter … Nee, toemaar, ek is sagmoedig … die ene vredeliewendheid self. Ek het net sonde met die bure gehad op Aarde. En met proeflesers en resensente wat gedink het hulle weet beter. Jy hoef dus nie so ineen te krimp en te bly koes as ek my mond oopmaak nie! Dis in elk geval lank gelede en ek sien hulle het my Aardse oorskot, die bietjie wat daar seker van my bestaan oor is, nou daar voor die huis ingespit. Dis goed so – en veiliger. Dit was wonderlik om op Ruimte-Uitsaaikorporasie 2 saam met almal wat julle vooruitgegaan het, uit die ruimte te kon sien hoe die lang slangmense en familielede op 30 Maart 2003 met my en Vroutjie se herbegrafnis tussen die kerk en Arbeidsgenot deur die strate van Oudtshoorn tot hier gemeander het. Dit was ’n groot storie daar bo. ’n Herbegrafnis van iemand wat reeds oorgestap het, is op die ondermaanse nie algemeen nie, hoor! My gebeentes voel hier baie meer tuis in my eie voortuin, met Vroutjie aan my sy en Sarah, my Sub, se rusplek ook naby. Maar my gees rus nou in daardie ‘tussentyd’ aan stille waters, jy weet … Tussen dood en Ewige Lewe, of Verdoemenis, afhangende van die Oordeel wat nog kom. Wat skreeu jy alweer so?! Kalmeer! Wees maar gerustetjies … ’n Mens sou sweer jy het ’n gees hier op Aarde aanskou! Kom ek vertel verder … Leergierig, soos ek is, kon ek nie net daar bo so rondhang en tyd verkwis nie – Vader Tyd hou nie van ’n ydele gerondhangery nie en nou verken ek en Loeloeraai, my tydlose ou vrind van die jaar 1923, intussen maar die galaksies en planete in sy sfeer. Ek het nog altyd in die wiskunde van dinge belanggestel. Ek het onlangs my eie sfeer aangeskaf en my leerlingliksens pas gekry … Wat mompel jy so? Loeloeraai was nie vandag beskikbaar om saam te vlieg nie. Ek het my Volkswagentuig, baie betroubaar soos op Aarde, ‘Jakhals II’ gedoop ter herinnering aan die wonderlikste wese wat hierdie ondermaanse ooit bewandel het – my lojale en liefdevolle hond, Jakhals. Kyk, ek hou nie baie van Ingils nie, maar het jy geweet dat die woord ‘God’ omgekeerd ‘dog’ spel? Niks so edel soos ’n hond nie!
“Ewentewel … Jy kan maar ophou bewe daar onder die bank. Ek het net gou twee goed in my Aardse woning kom haal. Ek is net nie seker waar Vroutjie dit weggesit het nie, want sy het amper twee dekades na my eers in 1950 die Aarde in gees verlaat. Dalk weet jy? Die een is Jakhals se nekband met sy naamplaatjie wat ek self met ’n spyker op ’n stukkie metaal uitgekap het. Ek sukkel om hom te beheer sonder sy band as ons in die buitenste ruim bal speel en hy vir die ander geeste begin blaf. Weet jy dalk waar die halsbandjie weggepak is? Nie? Die ander is die wasrol van die praatmasjien waarop ek my stem verewig het. Nee, nee, ek kan sommer sien jy verstaan verkeerd. Nie ‘Die Stem’ wat julle steeds as deel van die volkslied sing nie – dit los ek graag as deel van my erfenis vir julle op Aarde. Dit doen my hart so goed om dit tot daar bo te hoor oor die eter, veral in ’n stampvol rugbystadion … Ek soek nie ‘Die Stem’ nie maar MY stem. Ek weet die opnamerol is later op die plafon gevind en deur forensies ontleed en dat my stem soms vir besoekers voorgespeel word tydens huismuseumbesoeke. Dis goed en wel, maar die probleem is dat ek daardie dag iets van my stem in die masjien agtergelaat het. Van toe af sukkel ek met so ’n heserigheid as ons sing daar bo. As ek nou net my oorspronklike stem terug kan gaps (die mensekinders kan maar my forensiese stemopname hou as hul hul geliefde Neelsie so graag wil hoor praat), dan kan ek dalk my stemkwaliteit weer terugkry. As ek net daardie blertsie stem van my uit die wasrol kan vrylaat, sal ek weer heerlik sonoor kan saam neurie in die Volgende Dimensie se Heelalkoor. Het jy al op daardie wonderlike radioprogram wat julle luister, Sterre en planete, gehoor hoe die klank klink wat planete in hul wentelbane en die sterre en hemelliggame maak? Ou matie, ek zeg jou nou – dis eintlik ons, al die geeste in die Volgende Dimensie, wat so neurie!
“Ek sien jou frons. Ja, natuurlik weet ek wat hier op Aarde aangaan – met my tipe nuuskierigheid luister ek hoe die mensdom op radio Afrikaans praat, die soetste taal wat ek help wettig het en aan die beginjare die volk bietjies-bietjies leer lees het, soos ’n ma-gevogelte haar kleintjies versigtig en liefderyk sorgsame kossies voer om hul sterk en vet te maak ... En kyk hoe ’n sterk, jong, dinamiese taal is Afrikaans vandag! Van die blou van onse hemel tot die diepte van die see, oor die ewige gebergtes, oor die ver verlate vlaktes ruis hierdie pragtige taal van hier tot oral oorsee – en selfs die ruimte in, soos daardie oulike Van Wyk Louw wat selfs die uitspansel laat kraak het met sy metaforiese beiteltjie. Jy moet net hoor hoe vlot Engela Loeloeraai Afrikaans leer praat het! Selfs sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders is al deur my Versamelde Werke. So tussen ons, ek het ook stilletjies ingeteken op Die Burger – hulle weet mos nie vanwaar my intekening kom nie. Dit was net hel om met julle nuwe geld maandeliks te probeer betaal, maar daarmee het Loeloeraai se agterkleinseun my digitaal gehelp – die jongspan in die ruimte ken al die nuwerwetse tegnologie.
“My hart swel van trots oor die Afrikaans wat ek oral sien en hoor! Ek probeer maar die Wenderbaails van die samelewing wat hul tale so meng en hul Afrikaanse kinders suiwer Engels grootmaak, miskyk! Weet hulle nie wat se verskriklike stryd dit was om tot hier te kom nie? Maar wag, ek verveel jou … Slaap jy tog nie? Ai tog, die arme knaap het van pure spanning en besopenheid aan die slaap geraak en ek verspil seker al vir die laaste halfuur suiwer paarls voor die swyne. Daar begin die horison ook al verkleur vir een van daardie skilderagtige Klein-Karoo-sonsopkomste wat ek so mis, veral as die eerste lig so vat-vat aan Meiringspoort se kranstoppe ... Dalk moet ek ’n wyle talm op my en Vroutjie se bankie. As sy nou net hier was …”
Bliep bliep BLIEP! Bliep bliep BLIEP!
“Hallo, Loeloeraai! Kom in! Kan jy my hoor? Ja, duidelik! Ek het net gou hier by Arbeidsgenot omgekom, noudat ek self ’n tuig het, om twee itempies wat ek al vir dekades mis, op te pik, dan moet ek skiet om hier weg te kom voor dagbreek. Toemaar, ek is versigtig vir kapers … Ek weet hoe gevaarlik dit deesdae op Aarde is. Ek het selfs my eie nagwag, maar hy is onkapabel gesuip. Niemand sal hierdie ou se storie oor ’n man in ’n ruimtetuig in die oggend in elk geval glo as hul die bottels sien en sy asem ruik nie … Stel Vroutjie en Engela gerus, asseblief – ek is op pad terug. Ja-nee, die Jakhals II hanteer soos ’n droom tussen die swartgate en ruimtepartikels deur … soos ’n droom … En gee vir Jakhals poot – Oubaas bring sy halsbandjie!”
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds se wetenskapfiksiekompetisie