Is staatsredes buitensporige finansiële uitgawes werd?

  • 0

Fotobron: Canva

Terwyl politieke joernaliste, ontleders en praktiserende en akademiese ekonome probeer het om vanuit ’n polities-teoretiese, ideologiese en makro-ekonomiese oogpunt president Cyril Ramaphosa se staatsrede te ontleed, moet ons eerder vrae stel oor die hoë finansiële koste van die lewering van hierdie jaarlikse toespraak.

Is dié uitgawes vir die swierige jaarlikse byeenkoms, waar parlementslede hul duurste ontwerpersuitrustings ten toon stel, enigsins die moeite werd? Veral teen die agtergrond van ons lae ekonomiese groei wat al ’n bloedbad van werkloosheid teweeg gebring het.

Toegegee, die staatsrede is baie belangrik om vorming en rigting te gee aan ons politieke gedrag en deelname.

Dié toespraak word gelewer op van die belangrikste platforms – die parlement, waar die regerende party en die regering van die dag aankondigings maak oor openbare beleid, veral op makro-ekonomiese vlak, om ons dreigende fiskale krisis te probeer oplos.

Dié openbare beleidsaankondigings gee die publiek ’n kans om die regering en opposisie se vertoning noukeurig te volg en te ontleed en dan te besluit vir wie om in die volgende verkiesing te stem.

Die verslegtende ekonomiese posisie van Suid-Afrika, teen die agtergrond van staatskaping, korrupsie, die koronavirus en die mislukking van staatsinstellings soos Eskom, SAL en SABC moet ons egter noop om die finansiële lewensvatbaarheid van die staatsrede te ondersoek.

Opgehoopte staatskuld, ons begrotingstekort en die jaarlikse bevolkingsgroei van sowat 1,6% wat die verslegtende jaarlikse ekonomiese groei van ver onder 1% oorskadu, moet ons forseer om die skrapping van die staatsrede ernstig te oorweeg.

Die volgende vrae, ontledings en beredenerings moet ons nader bring aan antwoorde en help om beslissend op te tree:

  • Hoeveel van die inhoud in die vorige staatsredes van 2018 en 2019 is herhaal?
  • Hoeveel beloftes is in 2018–2019 gemaak en hoeveel is uitgevoer om die lewensgehalte en uitkyk van gewone mense te verbeter?
  • Is dit nodig om belastingbetalers se geld op die staatsrede te mors, veral omdat ons reeds wéét wat die toestand van die nasie is?

Tragies genoeg het die media, sosiale media en ontleders ons nie in hul ontledings gehelp om antwoorde op dié vrae te vind nie. Die dinamiek van die EFF se “skokpolitiek” voor, tydens en na die staatsrede het ons aandag afgelei van werklike en dreigende ekonomiese uitdagings.

Terloops, ek steun nie die sentiment dat die media die EFF se skokpolitiek moet ignoreer nie. Die media het geen taak om die publiek teen skokpolitiek, slegte of ongewenste nuus te beskerm nie.

In ’n ontluikende grondwetlike demokrasie soos ons s’n moet die media aan die voorpunt staan om op ’n regverdige en gebalanseerde manier oor alle gebeure verslag te doen.

Wat nogal pla, veral na die staatsrede, is dat die meeste ontledings oor die inhoud van die staatsrede verlore gegaan het terwyl die fokus op die EFF se aanval op min Pravin Gordhan en oudpres FW de Klerk was.

Die media en ontleders was veronderstel om ander invalshoeke te ondersoek, soos of die staatsrede enigsins die huidige buitensporige finansiële uitgawes daaraan verbonde regverdig.

Die oorsprong van die State of the Union Address, soos dit in die VSA bekend staan, dateer vanaf 8 Januarie 1790 toe George Washington vir die eerste keer dié presidensiële taak uitgevoer het toe hy nuutverkose lede van die Amerikaanse Kongres in die senaat in die Stad New York toegespreek het.

Dié tradisie, wat in die boesem lê van die “Amerikaanse Droom”, het oor dekades en eeue ook na Afrikalande versprei. Selfs ons Suid-Afrikaanse provinsies het nou “provinsiale redes”. Dis ’n verdere, onnodige uitgawe in die provinsies vir die reeds verarmde belastingbetaler.

Die staatsrede word gewoonlik voorafgegaan deur prag en praal in ’n seremonie wat gepaard gaan met uitspattige finansiële uitgawes.

Die tyd het aangebreek dat ons denkend en vernuwend oor die staatsrede moet optree en selfs oorweeg om dit heeltemal af te skaf, maar ook, indien nodig, met nuwe idees vorendag te kom wat koste-effektief is en in ooreenstemming moet wees met die uitdagings van die moderne ekonomie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top