Is navorsing oor slawerny vandag nog steeds relevant?

  • 0

Carien Smith gesels met Chris de Wet oor sy LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel: Antieke slawerny en die vroeë Christendom: teoreties-hermeneutiese perspektiewe, probleme, en die opkoms van Doulologie

slavemarket

Wanneer daar navorsing gedoen word oor die doulologie van die antieke tye, en meer bepaald die vroeë Christendom, word daar spesifiek gekyk na die diskoerse in die Bybel, of word ander bronne ook geraadpleeg? Indien wel, van watter ander bronne word gebruik gemaak? Wat is die rol van die apokriewe by die ontleding van die doulologie?

Doulologie, oftewel die diskoers van slawerny, is uiters algemeen in die meeste antieke geskrifte wat kulturele, sosiale en politieke kwessies van hul tyd artikuleer. Die Bybelse geskrifte is bloot een versameling van geskrifte wat ons iets van die antieke diskoers van slawerny leer. Selfs binne die Bybel is daar diskoerse van slawerny wat soms uiteenlopend van mekaar verskil. Dit is daarom dalk meer gepas om eerder te praat van doulologieë – meervoud. En soos met enige versameling van diskoerse (of, soos Michel Foucault dit noem, diskursiewe formasie), beïnvloed diskoerse mekaar – hulle stem ooreen, verskil, leen by mekaar, ontsê mekaar.

In my eie navorsing oor die vroeg-Christelike doulologie moes ek hierdie saak vir myself probeer uitmaak. Ek het gevind dat die ou klassieke en Joods-Hellenistiese diskoerse baie invloedryk was in die skep van “Bybelse” doulologieë, maar dalk nie soos wat ons voorheen gedink het nie.

Vir baie lank, en selfs vandag nog, het baie mense byvoorbeeld aangeneem dat die Griekse filosoof Aristoteles se teorie van natuurlike slawerny (dit is, mense gebore as slawe met ’n slaafskarakter as ’n biologiese en psigiese werklikheid, selfs wanneer die persoon nie ’n regte slaaf was nie) baie invloedryk was. Aristoteles was inderdaad invloedryk in die klassieke Griekse tydperk, maar gedurende die Romeinse tydperk, waarbinne ons die Nuwe-Testamentiese doulologie moet plaas (die Ou Testament is natuurlik ’n ander storie!), sien ons dat Aristoteles se natuurlike slawerny nie so algemeen was nie – dit was heel waarskynlik omrede die dokument wat natuurlike slawerny hoofsaaklik uitbrei, Aristoteles se Politica, nie in omloop was nie – ’n groot deel van die Aristoteliaanse korpus was verlore en is eers in die laat antieke tydperk herontdek. Ek argumenteer eerder dat die Griekse historikus Xenophon baie meer invloedryk was in die Romeinse tyd; sy geskrifte is selfs deur Cicero in Latyn vertaal, en Cato verwys na Xenophon wanneer hy van boerdery en slawerny praat. Xenophon het egter nie soseer in natuurlike slawerny geglo nie, maar slawe eerder gesien as sosiale buitestanders. Dus, eerder as op ’n biologiese feit, is Xenophoniese doulologie op sosiale uitsluiting gebaseer. Dit is hoekom daar nie regtig natuurlike slawerny in die Bybel voorkom nie.

’n Ander groot invloed op die Nuwe-Testamentiese doulologie was die Griekse filosofiese skool van die Stoïsyne. Stoïsynse doulologie het geleer dat slawerny, soos enige ander sosiale toestand, nie ’n mens se vermoë om deugsaam te lewe moet belemmer nie. Slawerny is bloot ’n fisiese toestand. Die Stoïsyne soos Seneca, Musonius Rufus en, natuurlik, die keiser Marcus Aurelius, was baie meer bekommerd oor die sogenaamde “slawerny aan die drange”. Vir die Stoïsyne was verslawing aan mens se luste baie erger as fisiese slawerny. Doulologie word dus hier geïnternaliseer; dit is ’n doulologiese kolonisering van die psigiese en geestelike dimensies van die mens se bestaan. Hierdie sienswyse was ongelooflik invloedryk op skrywers soos Paulus.

Maar die Stoïsynse doulologie is oorgedra na die Bybel via die Hellenistiese Judaïsme. Baie Joodse skrywers, soos Philo van Aleksandrië, het Stoïsynse filosofie met sy Joodse godsdiens vereenselwig. Hier vind ons dan ook, by skrywers soos Philo, waar die slawerny-aan-God-tradisie begin. Dit is ook hier waar die vraag oor die apokriewe geld. Die latere Ou-Testamentiese apokriewe, veral die wysheidsapokriewe (soos Sirag, Wysheid van Salomo, verskeie toevoegings tot Daniël, en so meer) wys ons hoe die vroeë ontwikkeling van die slaaf-van-God-tradisie geformuleer is.

Die latere apokriewe van die Nuwe Testament wys ons nou weer hoe die baie vroeë doulologie van die Christene in die latere eeue ontwikkel het. Daar is byvoorbeeld die 3de-eeuse apokriewe Handelinge van Tomas, waarin Jesus op ’n bonatuurlike wyse, na sy dood, die rol van ’n slawe-eienaar aanneem om die hardkoppige dissipel Tomas te dwing om sendingwerk in Indië te gaan doen. Jesus verskyn aan Tomas en gee hom die opdrag, en soos ’n Jona van ouds weier Tomas om na die heidense land van Indië te gaan. Jesus verkoop Tomas dan as ’n slaaf aan iemand in Jerusalem, en hierdie persoon neem Tomas na Indië as ’n regte slaaf, waar hy in allerlei avonture verval en die woord van die evangelie versprei. Die genre van hierdie verhaal sluit aan by die ou Griekse roman, waar die protagonis as slaaf verkoop word en veg om weer eer, vryheid en liefde terug te win. Inderdaad, baie interessant!

As ons dus Bybelse slawerny en die diskoers daarvan beter wil verstaan, moet ons die verskeie diskursiewe invloede verstaan. Dit dwing ons om na ander bronne te kyk. Daar is ’n groot behoefte in die navorsing om doulologie en die praktyk van slawerny in spesifieke Bybelse en buite-Bybelse kontekste te ondersoek. Ongelukkig is die meeste studies baie algemeen, en dan is die resultate beperk.

2. Hoekom is die onderwerp vandag nog steeds relevant?

Die studie van slawerny, en veral doulologie, is inderdaad baie relevant vandag. Daar is minstens drie redes hiervoor. Eerstens moet ons besef dat slawerny nie iets van die donker verlede van die mensdom is nie. Daar is vandag steeds miljoene mense wat hulself in ’n vorm van slawerny, dwangarbeid, of “trafficking” bevind. Dus kan die krities-teoretiese studie van slawerny, soos in die geval van doulologie, ons ook help om hedendaagse slawerny beter te verstaan en te bekamp.

Tweedens is antieke doulologie se hedendaagse nalatenskappe steeds baie teenwoordig in ons samelewing. In ’n meer uitgebreide studie oor doulologie in die antieke het ek self daarop gewys dat antieke slawerny ’n direkte invloed gehad het op die ontstaan en funksionering van moderne diskoerse van dominansie en hul ooreenstemmende praktyke. Dit sluit verskynsels soos geweld teen vrouens en kinders in, maar ook rassisme, xenofobie, homofobie, die uitbuiting van die armes en meer algemene sosiale ongeregtigheid. Konsepte van gender, en veral wat manlikheid behels, beide in die antieke en vandag, kan nie behoorlik begryp word sonder die begrip van doulologie nie. Hierdie bogenoemde diskoerse en praktyke wat ons vandag aantref in ons samelewing het ’n lang en komplekse wordingsgeskiedenis, en doulologie is sentraal daarin.

Laastens: mense glo steeds vandag dat verskeie stellings in die Bybel gesaghebbend is en selfs letterlik opgeneem moet word. Die probleem is dat die Bybel nêrens slawerny afskaf nie. Alhoewel die meeste mense vandag, spesifiek in Suid-Afrika, nie meer die Bybel sou gebruik om slawerny goed te keur soos in die verlede nie (met uitsonderings, natuurlik), het die Bybelse diskoers van slawerny steeds vandag ’n effek in ons samelewing, soos ek hier bo genoem het. Om ’n voorbeeld te gebruik: God word baie dikwels in die Bybel, en ook in die vroeg-Christelike geskrifte wat ná die Nuwe Testament geskryf is, as ’n slawe-eienaar beskryf. Die metafoor van God as slawe-eienaar is een van die mees algemene beelde om God se verhouding met die mens uit te druk, en dikwels wanneer die Nuwe Testament byvoorbeeld praat van die “Here” (kyrios in Grieks), word dit gebruik in die sin van ’n slawe-eienaar – Paulus noem homself ’n “slaaf van Christus” (die Griekse woord doulos word hier vir “slaaf” gebruik, wat nie “dienskneg” beteken nie!). Dit dra by tot ons verstaan van God as iemand wat in beheer is, as iemand wat straf en beloon, iemand wat ons soms blindelings moet volg en gehoorsaam, ten spyte van die nagevolge, en so meer. Maar is sulke metafore vandag steeds goed en gesond om te gebruik wanneer ons ons verhouding met God en ons spiritualiteit wil uitdruk? Moet ons nie na nuwe metafore soek nie? Die punt hier is die volgende: die studie van doulologie is vandag steeds relevant omrede die metafoor en praktyk van slawerny so onlosmaaklik deel was en is van die Christelike teologie dat indien, deur een of ander wonderwerk, slawerny uit die geskiedenis van die mens gevee sou word, die Christelike teologie en ons daaglikse opvattings van God drasties en dramaties anders sou gelyk het.

3. U verwys na Glancy se siening van “slawerny as beliggaamde diskoers” of as “retoriek van die liggaam”, asook ’n habitus. Sal u asseblief uitbrei hieroor?

Een van die groot vrae rondom die sosiale aard van antieke slawerny is tot watter mate die mense van die antieke hul wêreld sonder slawerny kon insien. Dit raak natuurlik die kwessie van afskaffing. Was slawerny so "natuurlik" dat mense nie hul lewe daarsonder kon insien nie, en dus nie in staat was om dit af te skaf nie? Om sin te maak van hierdie vraag gebruik Jennifer Glancy, ’n kenner op die gebied van vroeg-Christelike slawerny, die konsep van habitus wat deur die sosioloog Pierre Bourdieu ontwikkel is. In Bourdieu se denke is ’n habitus ’n stelsel van beliggaamde patrone en gedragsnuanses waarin ’n mens van kindsbeen af gesosialiseer is en wat baie moeilik is om af te leer. Glancy redeneer dus dat slawerny so ’n tipe sosiale struktuur verteenwoordig – ’n habitus. Sy lê klem op die feit dat slawe dikwels beskou is as "liggame" (sōmata in Grieks), wat dus die idee van slawerny as ’n beliggaamde diskoers en habitus ondersteun. Slawerny was dus so natuurlik, en so naby aan die lyf van die antieke mense, dat afskaffing baie moeilik sou wees (maar nogtans nie onmoontlik nie). In my eie navorsing ontwikkel ek hierdie idee van slawerny as ’n diskoers en bou eerder op die werk van Michel Foucault, en ek argumenteer eerder dat slawerny, saam met hierdie habituele beliggaming, ook ’n strategie van identiteitsformasie was, en gebruik is as ’n magsdiskoers vir die antieke mense om sin te maak van hulself, hul samelewing, en, natuurlik, God (sien my nuwe boek: De Wet, Chris L. 2015. Preaching Bondage: John Chrysostom and the Discourse of Slavery in Early Christianity. Oakland: University of California Press).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top