Is dit tyd om cancel culture te kanselleer?

  • 3

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

.........

“The question is, how do we have more grace as human beings towards each other? What about people who are genuinely contrite, or who have committed forgivable offenses? I don’t think, as a society, we’ve gotten there yet.”

Aan die woord is aktrise Reese Witherspoon tydens ’n onderhoud oor haar TV-reeks The Morning Show en hoe hulle cancel culture as ’n storielyn hanteer.

..........

“The question is, how do we have more grace as human beings towards each other? What about people who are genuinely contrite, or who have committed forgivable offenses? I don’t think, as a society, we’ve gotten there yet.”

Aan die woord is aktrise Reese Witherspoon tydens ’n onderhoud oor haar TV-reeks The Morning Show en hoe hulle cancel culture as ’n storielyn hanteer. Tot ’n mate verwoord dit my eie ongemak. Die tropmentaliteit en massa-woede wat meesal daarmee gepaard gaan, kan nie altyd met logika en feite verbind word nie. Dit voel soms asof glanspersoonlikhede ’n eierdans moet uitvoer om tog nie hulle volgelinge te vervreem nie.

Wat is cancel culture? Die Merriam-Webster-woordeboek definieer dit so: “The practice or tendency of engaging in mass canceling as a way of expressing disapproval and exerting social pressure” . Demetria Slyt word as volg aangehaal: “[C]ancel culture refers to the mass withdrawal of support from public figures or celebrities who have done things that aren’t socially accepted today. This practice of ‘canceling’ or mass shaming often occurs on social media platforms such as Twitter, Instagram, or Facebook.”

Natuurlik is daar sommige gevalle waar dit positiewe gevolge het wanneer daar massa-druk op openbare figure uitgeoefen word. Die #FreeBritney-veldtog, en die gepaardgaande kansellering van haar pa in die media, het waarskynlik bygedra daartoe dat hy afstand gedoen het van sy beheer oor haar boedel. Harvey Weinstein met sy seksuele wangedrag moes gekanselleer word. Daaroor is daar geen twyfel nie.

Maar Octavia Spencer moes onlangs wild koes en verskoning vra nadat sy, hoeka op Britney se blad, gesê het Britney moet seker maak sy stel ’n voorhuwelikse kontrak op wanneer sy met haar kêrel trou. Dis glad nie slegte advies nie, maar die openbare mening laat op hierdie tydstip net kommentaar toe wat heeltemal ondersteunend van Britney is. Dis so hittete of Spencer was gekanselleer.

In 1997 het Texas-boere hard probeer om Oprah Winfrey te kanselleer. Dis natuurlik lank voor die term in gebruik was, maar die sentiment is so oud soos die berge. Eers rondom 2017 het die term cancel culture gewild begin word. Maar toe Oprah tydens ’n 1996-program negatiewe kommentaar gelewer het oor die gewilde hamburger, was vleisboere woedend en het haar nie net gedagvaar nie, maar ook probeer om haar openbare beeld te vernietig. Dis ’n kenmerkende voorbeeld van cancel culture. Daar is inderdaad vandag nog ’n wet op die Texas-wetboeke wat mense verbied om kosprodukte te belaster. In die Suid-Afrikaanse reg kan kos nie belaster word nie, maar die Amerikaners doen als groter en beter, dus die False Disparagement of Perishable Food Products Act, ook genoem die veggie-libel-wetgewing.

.......

In die Suid-Afrikaanse reg kan kos nie belaster word nie, maar die Amerikaners doen als groter en beter, dus die False Disparagement of Perishable Food Products Act, ook genoem die veggie-libel-wetgewing.

.........

Net hierdie week het Jon Gruden van die Las Vegas Raiders bedank uit sy pos as breier nadat daar berig is oor homofobiese opmerkings wat hy gemaak het. Hy is effektief gekanselleer, waarskynlik omdat die Raiders se bestuurspan bekommerd was dat hulle geld sal verloor indien ondersteuners besluit om húlle te kanselleer. Gaan dit dan nog steeds oor waardes, of is kapitalisme en die gejaag na die almagtige dollar die enigste waarde wat nog oorbly?

Dit bring my terug na Witherspoon se opmerking. Sy is natuurlik heeltemal reg wanneer sy sê dat samelewings nog ver het om te gaan om die tipe volwasse gesprek te hê waar konsepte soos grace en forgiveness, en by implikasie redemption, geïmplementeer kan word.

Maar dan praat sy van “forgivable offenses”, en my hart ruk. Wat presies is ’n forgivable offense, en wie besluit daaroor? Wie moet die vergifnis toepas? Is dit onderworpe aan groepsdink? Kan die media dit manipuleer deur positiewe beriggewing?

Baie mense het alreeds aanbeweeg van Spencer se opmerking, en dan beteken dit seker dis ’n forgivable offense. Maar wat as Britney nog steeds kwaad is daaroor? Beteken dit Spencer moet gekanselleer word?

Forgivable offense impliseer daar is ’n skaal waarop oortredings geweeg word. Vandag is seksuele oortredings, en enige vorm van bevraagtekening van alternatiewe identiteite, outomaties oop vir kansellasie. Maar net so maklik kan die gety draai, en dieselfde ding wat vandag nie vergewe kan word nie, is dalk more nie so erg nie. Dis dalk hoekom baie glanspersoonlikhede wat die hitte van cancel culture voel, vir ’n ruk uit die openbare oog verdwyn. Hulle hoop dat as genoeg tyd verloop het, die massa sal vergeet en aanbeweeg na die volgende teiken.

Baiekeer is hulle reg in hul siniese uitbuiting van die kort aandagspan van die sosialemediavegters.

........

Waar word die streep getrek? Rock Hudson moes sy seksualiteit verberg, want as hy destyds uitgekom het as gay, sou hy gekanselleer word. Vandag verloor mense hul werk as hulle anti-gay-sentimente uitspreek. Is cancel culture dan soos ’n wind wat vandag hierdie kant toe waai, en môre elders?

..........

Waar word die streep getrek? Rock Hudson moes sy seksualiteit verberg, want as hy destyds uitgekom het as gay, sou hy gekanselleer word. Vandag verloor mense hul werk as hulle anti-gay-sentimente uitspreek. Is cancel culture dan soos ’n wind wat vandag hierdie kant toe waai, en môre elders?

Dit kan baie maklik misbruik word, want die persoon wat kansellasie vryspring is die een wat die regte geluide op die regte tyd maak. En op hierdie oomblik is die teenstand teen cancel culture besig om stoom op te bou. Net soos wat Radical Economic Transformation en White Monopoly Capital uiteindelik maar net ’n publisiteitstruuk was, so kan die huidige teenstand teen cancel culture ook maar die werk van publisiteitsmaatskappye wees wat hul bekende kliënte se finansiële belange probeer beskerm.

Of is dit?

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Elkeen met 'n Facebook-profiel is deesdae 'n hoofregter. Dis maar hoe hy loop in 2021.

  • Min dinge is so ontstellend as die verskynsel van honderde internetgebruikers wat op 'n armsalige drommel toesak wat op 'n webwerf iets simpels kwytgeraak het. Mens sou kon sê dis 'n heksejag - dink maar aan almal wat destyds in Salem op loop gegaan het - maar eintlik voel dit soms eerder soos 'n trop wildehonde wat hul prooi meedoënloos verskeur. 'n Ou verskynsel: dink maar aan die vrou wat owerspel gepleeg het en wat almal toe wou stenig.

  • Op die ou einde gaan dit maar oor almal se kinderagtige eis dat almal hulle onvoorwaardelik moet aanvaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top