Die ondersoekende joernalis De Wet Potgieter se boek Black Widow White Widow, wat handel oor ekstremistiese Moslems wat na bewering vanuit Suid-Afrika opereer, het die afgelope maande opslae gemaak. Sommige beskou die boek as prul, terwyl ander meen Potgieter se onthullings is maar net die oortjies van die seekoei wat uitsteek. Jean Oosthuizen het met die veteraanjoernalis gesels en probeer om agter die kap van die byl te kom en die kaf van die koring te skei. In ’n omvattende onderhoud vertel Potgieter ook van ’n sensitiewe, hoëprofielondersoek wat sedert verlede jaar aan die gang is oor Al-Qaeda en Al-Shabaab se bedrywighede in Suid-Afrika.
Black Widow White Widow het die laaste paar maande behoorlik opslae gemaak. Die boek handel oor onthullings wat jy maak dat fundamentele Moslems – en spesifiek Al-Qaeda – in Suid-Afrika gevestig is en die land as ’n basis vir sy terreuraanvalle gebruik. Hoe geloofwaardig is jou boek en die bronne wat jy gebruik het?
Baie geloofwaardig, en die inligting wat verder uitgekom het sedert die boek se publikasie skets ’n verdere ontstellende prentjie van hoe fondse op ’n baie gesofistikeerde grondslag maandeliks versamel word vir Al-Qaeda/Al-Shabaab. My bronne is totaal bo verdenking en daar is van hulle wat steeds baie goed onder diepdekking gevestig is. Onder baie van die bronne is daar geweldige frustrasie omdat daar nie teen die skuldiges opgetree word nie.
Jy is uit verskeie oorde skerp gekritiseer oor die bewerings in jou boek. Daar word onder meer gesê die fondament waarop die boek gebou is, het reeds ’n jaar voor publikasie verkrummel. Wat is jou kommentaar daarop?
Net ’n gedeelte van die ondersoek is destyds gepubliseer toe die Daily Maverick onder hewige druk geswig en die regstelling gepubliseer het. Die volle verhaal oor die Wit Weduwee, Samantha Lewthwaite, se veilige nes in die hart van Islamitiese reaksionêres in Suid-Afrika moes nog vertel word. Dit was ’n kwessie van “unfinished buisiness”. Dit word duidelik in my boek uitgespel.
Jou boek is ook tydens die afgelope US Woordfees op Stellenbosch bespreek. Hoe was die ontvangs daar?
Die Erfurthuis in Stellenbosch was vol bespreek en baie teleurgestelde mense moes omdraai. Dit was ’n baie goeie en sinvolle gesprek danksy die rustige en omvattende wyse waarop Piet Croucamp die gesprek gevoer het.
Was die boek nie maar net ’n poging van jou kant om jou naam in ere te herstel nadat jy in Mei 2013 by die aanlyn publikasie Daily Maverick moes bedank omdat jy “onthul” het dat Al-Qaeda springlewendig in Suid-Afrika is nie?
Ek is nie deur die Daily Maverick afgedank nie. Ek het op vryskutgronsdslag artikels vir hulle gelewer en ek en die redakteur, Branko Brkic, se weë het op ’n gemaklike wyse uiteen gegaan. Wat my wel gedryf het om die boek te skryf, is dat daar hierdie magdom inligting was wat ek versamel het en ek het nie die geleentheid gekry om dit elders met lesers te deel nie. Dis ’n kwessie van die boek móés geskryf word. Ontstellende feite verdwyn nie indien dit nie gerapporteer word nie.
Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw het jou boek heeltemal afgeskryf in Rapport en van die inligting daarin as belaglik afgemaak. Julle is albei veteraanjoernaliste. Wie moet ons nou glo?
Dit was nie ’n resensie nie, maar deur baie beskou as eerder ’n geleentheid vir ’n persoonlike aanval op my. Die Sondag ná my artikel in die Daily Maverick het Pauw en Thanduxolo Jika, in ’n berig in Rapport onder die opskrif “Verregse kop in een tulband met Al-Kaïda”, onder meer die volgende geskryf: "Intelligensie-verslae skets ’n bisarre prentjie van beweerde opleidingsessies in wapenhandel tussen verregses en ’n groep Suid-Afrikaners wat deur die Amerikaanse regering as Al-Kaïda-ondersteuners bestempel word."
"Rapport het afskrifte van dié verslae van 2009 bekom en dit met die betrokke agent en die intelligensiebronne bevestig." Wat Pauw se motivering vir hierdie kruisiging was, gaan my verstand te bowe.

Pauw sê daar is baie ander joernaliste wat tot dieselfde gevolgtrekking as hy gekom het. Is daar enige joernaliste in die hoofstroommedia wat jou siening deel?
Eintlik is daar min ondersoekende joernaliste in ons land oor, en as daar ander kritiek was, kom dit van leunstoeljoernaliste wat hul ore uitleen aan ’n baie goedgeoliede en internasionaal-befondste propagandanetwerk. Talle joernaliste het my aangemoedig om die boek te skryf.
Ondersoekende joernaliste begeef hulle dikwels in die skemerwêreld van spioenasie en teenspioenasie. Is dit nie dalk moontlik dat jy ook die slagoffer van disinformasie was van mense wat hulle eie agendas gehad het nie?
Dis geensins die geval nie. Hierdie was ’n baie lang ondersoek gewees, en voordat ek uiteindelik die boek begin skryf het, het ek weer op my voetspore gaan terugloop en weer met elke bron en ander Suid-Afrikaners gaan sit en gesels om my feite te staaf. Daar is soveel meer wat ek nou kan vertel oor wat in die onderwêreld van Al-Qaeda/Al-Shabaab – en nou ook oor operateurs van die Islamitiese staat in ons land – aan die gang is, maar dit sal voortydig wees. Ek het steeds ’n verantwoordelikheid teenoor bronne wat nog sensitief geplaas is.
Die webwerf Africa Check was ook skerp krities oor jou “onthullings” en sê onder meer jou bronne was vaag en onbetroubaar. Is hulle dan verkeerd?
Hoe sal Africa Check weet? Het hulle met my bronne gaan gesels en die bedrywighede waaroor ek geskryf het, gaan opvolg om by hul “ingeligte” gevolgtrekking te kom? Of was hulle bronne dalk Al-Qaeda se propagandamasjien?
Daily Maverick, waarin jou “onthullings” die eerste keer gepubliseer is, het later jou artikel van hulle webwerf verwyder en onvoorwaardelik verskoning gevra vir hulle lesers, die Dockrat-familie wat jy betrek het, en vir Suid-Afrika se Moslemgemeenskap. Dit moes seker ’n baie slegte ervaring vir jou as joernalis gewees het?
Dit was taai gewees, maar, sonder om op besonderhede in te gaan, die artikel was dalk verkeerd aangebied en die twee daaropvolgende artikels, wat toe reeds geskryf was, moes by dit gevoeg gewees het.
Is daar enige bewys dat Suid-Afrika as afspringplek gebruik word van waar internasionale terreurdade van stapel gestuur word, en as dit so is, waarom sou die regering dit toelaat. Dit is tog nie in hulle belang nie?
Gaan lees Black Widow White Widow. Daar is meer as genoeg bewyse van wat in ons land aan die broei is. Vir die regering is dit ’n valse sin van veiligheid dat Suid-Afrika tot dusver enige verdere Moslem-terreur in die hiernamaals van die Pagad-era vrygespring het. Dit is vir my baie interessant dat geen ondersoekende joernalis tot dusver daarin kon slaag om die agent te ontmasker wat SSA se spioenkabels na Al-Jazeera laat lek het nie. Daar was een lammerige poging van die Sunday Independent om die holruggeryde apartheidsindroom weer af te stof en te reken dat dit ’n ou-era-spioen was wat Richard Snowden wou speel.
Ek verstaan nie mooi wat die verband is tussen ekstremistiese Moslems en verregse bewegings soos die Boeremag waaroor jy skryf nie. Waarom sou sulke uiteenlopende groepe saamwerk? Is die Moslem-ekstremiste se terreuroorlog dan nie juis gemik teen die Christendom met wie die Boeremag hulle vereenselwig nie?
Gaan lees die boek, Jean! Dit is nou al deur die jare wyd bekend dat die Afrikaners, danksy die Bosoorlog, baie kranige skuts is en ook baie goeie kennis van vuurwapens het. Ons weet almal dat die verregses voortdurend besig is om hul voorlaaiers te olie vir die Nag van die Lang Messe. Baie van hierdie verregses is puik wapensmede en wat gebeur het, was dat lede van 'n sekere groep een van hierdie wapenkenners genader het om hulle te help met die vervaardiging van knaldempers vir hul uiters gesofistikeerde ten volle outomatiese gewere. Dit het as’t ware tot gekruiste lyne gelei waar die sogenaamde Swart Weduwee betrokke was by opleiding aan verregses, sowel as Moslem-ekstremiste. Dit was dus nie ’n saamwerkpoging nie, maar bloot twee uiteenlopende groepe wat op dieselfde manier van opleiding staatgemaak het.
Na die verskyning van jou aanvanklike berigte en jou boek is daar in die media berig oor ’n verslag deur die internasionale risikobestuursmaatskappy Red24 wat toon dat mense in Suid-Afrika betrokke was by die beplanning van nog terreuraanvalle in Kenia. Hou dit enige verband met die ondersoek wat jy gedoen het en dink jy dit bevestig jou sienings?
Dit, en die feit dat die Wit Weduwee en ander Al Qaeda–terroriste Suid-Afrikaanse paspoorte misbruik om die wêreld vol te vlieg, was die rede dat die Keniaanse regering, wat toe al goed gatvol vir ons regering se onbeholpenheid was, ná die Nairobi-beleg summier visummaatreëls vir alle Suid-Afrikaanse reisdokumente ingestel het.
Hoe bekommerd moet Suid-Afrikaners volgens jou eerlike mening regtig wees dat ekstremistiese Moslemgroepe ’n houvas op die regering het, of het die wind gaan lê?
Dit word duidelik uitgespel in my boek hoe keelvol buitelandse intelligensieagentskappe soos die CIA, MI6 en Mossad met ons spioene is en hulle deesdae glad nie vertrou nie en huiwerig is om inligting te deel. Die lekkasie van SSA se spioenkabels was net nog verdere vet op daardie vuur gewees. Buitelandse spioenbase het by verskeie geleenthede vir Suid-Afrika gewaarsku om sy huis in orde te kry. Dit is belangrik dat die man op straat nie bloot sy gesig moet wegdraai hiervan nie. Die tyd het aangebreek dat ons aandring op rekenskap van die regering.
Praat ons dus van ’n klein minderheid Moslems?
Absoluut. Ek wil dit net graag weer baie duidelik stel: die oorgrote meerderheid van ons land se Moslems is wetsgehoorsame en vredeliewende medeburgers van ons land. Dit is ’n klein groepie fanatici wat kop in een mus is met radikale elemente in die Pakistani- en Somaliese “vlugtelinge” in Suid-Afrika.
Jy het uiteindelik ’n duur prys as joernalis betaal vir die artikel wat jy geskryf het en dit wat daarop gevolg het. As jy die horlosie kon terugdraai, hoe sou jy anders te werk gegaan het?
Die waarheid moes uit en daar is min media in ons land oor met enige “guts” wat dit sou gepubliseer het. Dis maklik om te volg as iemand anders ’n storie breek, maar dit kort knaters by ’n redakteur om so ’n omstrede issue te publiseer.
Om af te sluit wil ek net byvoeg dat daar tans ’n baie sensitiewe, hoëprofielondersoek sedert verlede jaar aan die gang is oor Al-Qaeda en Al-Shabaab se bedrywighede in Suid-Afrika. Halfpad deur hierdie ondersoek het die grusaamhede van IS se bedrywighede internasionaal bekend geword en ’n nuwe dimensie aan dié ondersoek vereis toe inligting bekend geraak het van Suid-Afrikaanse jihadi’s wat in Sirië en Irak veg.
Suid-Afrika se Wet op Buitelandse Militêre Ondersteuning vereis dat sulke jihadi’s as huursoldate in Suid-Afrika hanteer moet word. Dit val onder ons eie weergawe van die Amerikaanse homeland security en staan bekend as CATS (Crimes Against the State). CATS was ook die dryfveer agter die ondersoek wat destyds tot die Boeremag-saak gelei het.
Die ondersoek is reeds ver gevorder, maar of ons regering die politieke wil gaan hê om dié mense in die howe aan te kla, sal nog gesien moet word.
Diegene wat my nie wil glo nie, kan gerus Hussein Solomon van die Universiteit van die Vrystaat se jongste boek, Terrorism and Counter-Terrorism in Africa: Fighting Insurgence from Al Shabaab, Ansar Dine and Boko Haram gaan lees. Dit word deur Palgrave Macmillan gepubliseer en verskyn in Mei vanjaar.
The terrorist threat is growing in Africa, with the likes of Al Shabaab, Ansar Dine and Boko Haram exploiting Africa's vulnerabilities – whether ungoverned spaces or corrupt officials – to expand their operations. At the same time, traditional responses to terrorism, with their primarily military focus and privileging of the state, seem incapable of stopping this menace. This is evident in the fact that there are currently three terrorist attacks per day on the continent. To compound matters further, while these various terrorist organizations are co-operating, little co-ordination is taking place among the various African states despite the existence of the African Union and its counter-terrorist regime. Despite their efforts, external players like the United States' African Command have in many ways exacerbated the problem on account of their insufficient knowledge of the local context which is driving these insurgencies. This study calls for a more holistic approach, with greater emphasis on development and improved governance. Explaining both the limitations of current counter-terrorist strategies and how these strategies might be improved going forward, this timely study will be essential reading for scholars and practitioners alike. (Hussein Solomon)


Kommentaar
Ai tog genade, ek sou nie graag deur so 'n ekstreem, aanvallende ondervraer wou vasgepen word nie; wat het geword van gewoon goeie maniere en onbevooroordeelde ondervraging in die voer van 'n onderhoud met 'n skrywer? Per slot van sake wil die toehoorder / leser tog seker sy of haar eie mening vorm, nie?