Internasionale erkenning vir die jong Afrikaanse skrywer Carien Smith

  • 0

pencarien650Die 27-jarige Carien Smith het pas met haar kortverhaal “Likkewaan” die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2015 gehaal. PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers tussen die ouderdom van 18 en 30 inskryf vir hierdie kompetisie.

Carien Smith, ’n derdejaar-student aan die Universiteit van Fort Hare, is die dogter van die digter en literator Susan Smith, wat ook aan Fort Hare verbonde is.

PEN Afrikaans het Smith se “Likkewaan”, die naaswenner van verlede jaar se Nuwe stories 3-kompetisie, saam met die wenverhaal van dié kompetisie, “The Day Madiba Died”, deur Frederick J. Botha ingestuur. Beide verhale is opgeneem in Human & Rousseau se Nuwe stories 3-bloemlesing vir ongepubliseerde jong skrywers, saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn.

Vir deelname aan dié gerekende jaarlikse PEN New Voices Award is Botha en Smith se kortverhale in Engels en Spaans vertaal.

PEN Afrikaans is dus saam met al sy skrywerslede verheug dat Smith se verhaal met sulke strawwe kompetisie hierdie langlys van ses gehaal het:

‘Likkewaan’ deur Carien Smith (PEN Afrikaans)
‘Under the Jacaranda Tree’ deur Nozizwe Dube (PEN Flanders)
‘Nichts kurz vor der Rue Saint-Blaise’ deur Lea Sauer (German PEN)
‘Ailleurs’ deur Sophie Prévost (PEN Québec)
‘Varshava’ deur Ana Dontsu (PEN Romania)
‘Moon Dog’ deur Rebecca F John (Wales PEN Cymru)

Die kortlys van drie word binne die volgende weke bekend gemaak deur ’n internasionaal erkende beoordelaarspaneel waaronder die Booker-wenner Yann Martel. Die New Voices-toekenning 2015 sal dan op 14 Oktober vanjaar by die 81ste jaarlikse PEN International-kongres in Quebec, Kanada, oorhandig word.

Die 2013-wenner van hierdie prys was PEN South Africa se kandidaat, Masande Ntshanga, wat intussen met sy romandebuut, The Reactive (2014), internasionaal opgang gemaak het. Sowel die publikasie- en filmregte vir dié roman is reeds aan die Amerikaanse uitgewer Two Dollar Radio verkoop.

Vir verdere inligting, sien: http://www.pen-international.org/pen-internationalnew-voices-award/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top