Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs se jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim (LAPA Uitgewers) is pas as eretitel in ’n groot internasionale vertaalprojek aangewys.
Die projek, getiteld In Other Words, se doelwit is om die vertaling van voortreflike internasionale kinderliteratuur in Brittanje te bevorder. Uitgewers van regoor die wêreld is genooi om kinder- en jeugboeke wat in ander tale as Engels verskyn het, vir die projek voor te lê.
’n Goeie dag vir boomklim is een van slegs vier boeke wat vir die projek gekies is. Die keuring en beoordeling is deur ’n paneel Britse kinderboekvertalers en kenners in die kinderboekbedryf gedoen.
Die vier eretitels word in April by die Bologna-kinderboekskou in Italië bekend gestel. ’n Gedeeltelike proefvertaling in Engels van die vier boeke sal tydens die kinderboekskou aan oorsese uitgewers beskikbaar gestel word. Indien ’n Britse uitgewery die vertaalregte vir die boeke koop, word die publikasie daarvan met ’n beurs van £1 500 per boek gesteun, wat vir bemarking en publisiteit aangewend kan word.
In Other Words is ’n projek van Book Trust, die grootste organisasie wat lees en geletterdheid in Brittanje bevorder, en word deur die Britse Kunsteraad geborg.
Proefvertalings van uittreksels uit die vier boeke is tans op Book Trust se webtuiste (www.booktrust.org.uk) beskikbaar. Die proefvertaling van Jacobs se boek is deur die bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys gedoen.
’n Goeie dag vir boomklim is ’n humoristiese, deernisvolle verhaal oor Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat een Desembervakansie saam met ’n vreemde meisie bo in ’n boom beland in ’n poging om te keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.
Die boek is in 2016 met die kykNET/Rapport-prys in die filmkategorie bekroon, en die rolprentregte is onlangs aan ’n plaaslike maatskappy toegeken.

