Intens, skokkend, bloederig, afgryslik en wáár: Leon van Nierop oor The staircase

  • 0

The staircase
Met: Colin Firth en Toni Collette
Skepper: Antonio Campos
Op M-Net en DSTV Catchup

...
Dit is een van Amerika se mees tergende en skokkende ware moordsake. Niks kan jou hierop voorberei nie. Weet net: Jy sal nié kan ophou kyk nie.
...

Vermaaklikheidsnuus is die afgelope twee weke vir die eerste keer in ses jaar deur rolprentnuus gekaap. Nee, rolprentteaters gaan nie sluit nie, en daar is minstens vyf groot kanonne op pad wat teaterinkomstes verder gaan opstoot.

Dit het tot gevolg dat enkele uitstekende TV-reekse dalk ongemerk mag verbyglip in die massas reklame vir groot Hollywood-films, amper soos in die ou dae!

Een van die grootste bronne van kritiek hoekom rolprentteaters sukkel, is die verbysterend wye verskeidenheid vermaak wat op verskeie stromingsnetwerke aangebied word. En min mense mag The staircase (2022) boaan hul TV-kyk-lysie plaas. Daar was ’n ruk gelede ’n dokumentêr wat kwaai onder kritici deurgeloop het. Hiermee ’n belydenis. In my geval kon ek net die helfte van die eerste dokkie-episode maak, en het toe maar beswaard opgegee.

Toe kondig M-Net aan dat hulle die gedramatiseerde weergawe van die tergende moord gekoop het vir uitsending in Julie (raadpleeg jou M-Net-skedule en -rooster vir die presiese datum). Dié dokumentêr word gereeld in gesprekke opgehaal as die rede hoekom “ek nie weer daardeur wil sit nie. Ek het in elk geval nie eers daardie dokumentêr klaar gekyk nie.”

Daarom dat die gedramatiseerde gebeure, wat natuurlik op die waarheid gegrond is, so druk bespreek word.

As jy steeds bedenkings of vooroordele het oor die krag van goeie, gedramatiseerde televisie, mag hierdie een dit nekomdraai. Toegegee, kritiek mag gelewer word dat die tonele dalk effens geoordramatiseer word en die waarheid tot ’n mate manipuleer. Maar die reeks wys ook hoe die gewraakte dokumentêr geskiet is en die beskuldigde, Michael Peterson, dit geniet het om selfvoldaan voor die kamera toneel te speel en feite te plooi sodat hy goed uit die dokkie te voorskyn tree. Ons kan dus sy optrede voor die TV-span se kameras vergelyk met hoe hy uitmuntend deur Colin Firth in die drama uitgebeeld word. Terloops, die rol sou eers deur Harrison Ford gespeel gewees het.

Die gedramatiseerde TV-reeks maak nie daardie fout nie. Want nie alleen kinkel dit met elke toneel in ’n ander rigting nie, jy word soos ’n lappop heen en weer tussen waarheid en verdigsel gegooi. Maak jou gereed vir vele debatte aan die einde van die episode oor of die skrywer, Michael Peterson, skuldig of onskuldig was. En watter rol Kathleen (Toni Colette is uitstekend!) in haar dood gespeel het of nie gespeel het nie.

Hier is die feite (sonder om te veel te verklap), en onthou, hierdie weergawe word gegrond op Peterson se weergawe vóórdat advokate, prokureurs en ondersoekbeamptes hom beetgehad het.

Peterson, ’n skrywer wat sy hardwerkende vrou Kathleen grootliks om geldelike redes misbruik het, het ’n geheime lewe gehad waarvan min mense, allermins sy gesin, waarin daar vyf kinders is, geweet het. Een aand het Michael en Kathleen langs die onderbeligte swembad op hul landgoed ontspan. Sy het toe besluit om te gaan slaap terwyl Michael agtergebly het.

’n Paar minute later besluit hy om ook te gaan slaap. Met die instap in die huis tref hy sy bebloede en verminkte vrou aan die onderkant van hul huis se trappe aan, besig om in haar eie bloed te verstik. Hy maak toe ’n noodoproep (wat ook in die reeks gespeel word) en skree dat hy sy vrou aan die onderpunt van die trappe gekry het maar dat sy nog asemhaal. Hy gryp haar toe, maar sekondes later neem hy sy selfoon en bevestig aan die persoon wat die foon geantwoord het dat sy dood is.

Die polisie daag minute later op, sper die toneel af en verklaar dit as ’n misdaadtoneel. Kort hierna word Michael in hegtenis geneem vir haar moord. Maar hét hy haar vermoor of was dit ’n ongeluk?

Die verskillende teorieë van wat (dalk) werklik gebeur het, word uitgespeel teen die agtergrond van ’n gesin in ’n krisis, die kinders wat getraumatiseerd raak en begin om teorieë te bespreek en gebeure wat hulle onthou uit te pluis, Michael se prokureur wat hom uit die tronk probeer hou, en vele geheime, word toneel vir toneel ontbloot, die meeste daarvan skokkend. Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie. Daar is onder andere ’n gebruikte kondoom onder die Petersons se bed gevind.

Natuurlik word die waarheid onbeskroomd uitgebeeld en word al die vreemde gebeure in terugflitse gedramatiseer en is daar pogings om dit te verklaar. Maar watter een is die waarheid? Jy sal tot by episode 8 nie ’n duidelike opinie kan vorm nie, al is jou vermoedens hoe sterk en gemotiveerd. Want kort-kort word ’n nuwe speek in die wiel (met bewyse) gesteek. Soveel waarheid, soveel verwarring, want die legkaart lê aan flarde.

Die gevaar met so ’n reeks is dat dit met sensasie gepak kon gewees het. Maar kan enige TV-skrywer hierdie ware verhaal meer sensasioneel en verwronge maak as wat dit reeds is? Die polisie grawe diep – ’n ondersoek wat hulle ook na ander lande neem. Verskeie mense kom na vore – die meeste onwrikbaar as ondersteuning vír Michael Peterson, ander verdoemend teen hom. En die teorieë word verskeie kere nugter en feitelik getoets.

Ja, daar is natuurlik hoë drama, want die Petersons se lewens, veral Michael s’n, is gepeper met leuens, bedenkinge, ware tragedies en ou geraamtes wat uit die kas tuimel – dikwels letterlik!

Die reeks speel met jou en manipuleer jou in ’n mate tot die verskriklike waarheid uitkom, want dit weerspieël hoekom daar so baie teorieë in die bisarre saak was wat waar kon gewees het. Maar dit word so boeiend en onderhoudend gedoen dat jy telkens verward in ’n ander rigting dink, nes die jurie, die polisiebeamptes, die kinders wat hul ma verloor het en die publiek.

Meer durf ’n mens nie sê nie, maar wees verseker: Jy sal skaars week vir week kan wag vir die volgende episode. Jy kan dit dus nie vraatkyk nie.

Intens, skokkend, bloederig, afgryslik en wáár. Of kan ’n mens die uiteindelike verklaring net so goedsmoeds aanvaar?

Dit is een van Amerika se mees tergende en skokkende ware moordsake. Niks kan jou hierop voorberei nie. Weet net: Jy sal nié kan ophou kyk nie, selfs al het jy die dokumentêre reeks (grootliks uit Michael se oogpunt) destyds gesien.

Kyk hierna op M-Net en DSTV Catchup!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top