Innibos, maar nooit sonder boeke nie!

  • 0

Foto van Annemarie van der Walt: verskaf

Wanneer die aalwyne op die platorand bloedrooi in die blom staan, is dit tyd vir die jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees wat kuns, kultuur én boeke na die Laeveld bring. Annemarie van der Walt is die projekbestuurder: boeke by hierdie fees wat elke jaar die boekeprogram met ʼn fyn hand uitkies. Sy sien besonder uit na vanjaar se fees, waar daar weer ʼn heerlike verskeidenheid boekdinge aangebied word.

Vanjaar se boekgesprekke, wat weer by Nelspruit Hoërskool se voortreflike kultuursentrum aangebied word, sluit die volgende in: Tony Parks oor Scent of fear, Madelein Rust oor Doodsengel en Kanker schmanker, Jeanette Ferreira oor Bloedlelie, Elise Buitendag, ʼn plaaslike botanis, oor Genesis of a Garden, Jan van Tonder oor Verevrou en Nico Moolman oor Dankie, Generaal.

Die baie gewilde Dana Snyman kry ʼn beurt om van sy bittersoet stories om die kampvuur te vertel en hy en Mathys Roets span kragte saam met die produksie Huil van die lag, vanjaar se Storievuur.

In 2019 speel die bekoorlike bergdorpie Kaapsehoop, sowat 28 km vanaf Nelspruit, gasheer vir die jaarlikse Innibos Boeke-crawl op Donderdag 27 Junie. Almal wat die Boeke-crawl meemaak, vertrek per bus vanaf Nelspruit op die verskillende tye. Met die Boeke-crawl kuier feesgangers by drie verskillende punte op Kaapsehoop, waar hulle deur verskillende woordkunstenaars en musikante betower gaan word met woorde en musiek. Ligte verversings en drinkgoed maak deel van die bederf uit. Vanjaar tree Elsabé Daneel saam met die musikant Wilken Calitz by die eerste stilhouplek, Bohemian Groove Café, op. Bekende en nuwe gedigte, in harmonie met Wilken Calitz se manjifieke instrumentele begeleiding, is hier op die spyskaart.

Van daar gaan die feesgangers na die Silver Mist Gastehuis se funksiesaal om na die kabaretkunstenaar Helena Hettema en Riana Scheepers te luister. Die crawl word afgesluit in die atmosferiese klein kapel bo in die dorp. Hier gaan Waldemar Schultz en sy vrou Ira Blanckenberg die gehoor se asem wegslaan met die allermooiste Afrikaanse liefdesgedigte wat hulle naatloos verweef het in ʼn verhaal propvol verlange, vreugde begeerte, hartstog, verlies en herinnering. Elkeen wat vanjaar hierdie belewenis gaan meemaak, sal met vol harte van die bergdorp vertrek.

Vanjaar se Woorde Innituin vind oudergewoonte by Suikerbossie-teetuin op die Barbertonpad plaas. Die gasvrou vir hierdie geleentheid, op Vrydag 28 Junie, is Elma Potgieter, wat die skrywer Riana Scheepers aan die woord gaan stel. Die musiekgroep Coffee Snobs se sensuele Donkernagpantoen speel heerlik met ou digvorme soos odes, ballades, parodieë en lamente. Wat Woorde Innituin so besonders en sjarmant maak, is die geleentheid om twee ure weg te wees uit die gewoel, heerlike wyn te drink, smaaklike kos te eet en eerstehands te beleef hoe goeie woordkuns en musiek met mekaar trou.

Nog ʼn besonderse item op Innibos se feesprogram is die jaarlikse Storie-krôl vir kinders wat daagliks aangebied word. Kleuters kry die geleentheid om in vyf storiedorpies te gaan stilsit en te luister na ʼn storie wat voorgelees word. Die storiedorpie word met kostuums en dekor ingekleur om die kinders se verbeelding aan te help, maar die fokus val op die boek waaruit daar voorgelees word. Kinders moet besef dat die verbeeldingswêreld waarin hulle hul op daardie oomblik bevind, alles uit ʼn boek uit kom! Hierdie Storie-krôl is die idee van Marlene du Toit, eienaar van die Mosaïek Opvoedkundige Sentrum in Nelspruit en is elke jaar besonder gewild. So word daar ʼn nuwe geslag lesers geskep!

Annemarie sê die grootste uitdaging met die samestelling van die boekprogram lê daarin dat Innibos nie die luukse van ʼn universiteitskampus met ʼn boek- en leeskultuur het waarop die fees aangebied word nie. Boonop is die fees ʼn kort fees met ʼn vol feesprogram

“Hier in Nelspruit het ons ʼn baie beperkte lesersmark waaruit ons kan put. Dis ʼn baie knus en gesellige groepie, en ons ken hulle byna almal op die naam. Innibos se boekeprogram is dalk ook minder snydend, minder uitdagend as van die ander feeste, want ons probeer juis om dit meer toeganklik te maak en nuwe lesers by te kry. Ons is natuurlik besonder bevoorreg om vir Tony Parks vanjaar hier by ons te hê. Hy is ʼn internasionale skrywer maar ook ʼn ere-Laevelder omdat hy ses maande van die jaar in Sabie-park woon.

“Dis vanjaar die derde keer wat ek die geleentheid het om as projekbestuurder: boeke aan die stuur van sake te staan. Die grootste vreugde vir my is om mense uit ʼn boekgesprek te sien loop wat dan met die skrywer kontak maak om verder te gesels. By die Boeke-crawl kry jy weer feesgangers wat nie noodwendig lesers is nie, maar wat saamkom om die hele ervaring te geniet. Wanneer ek dan sien hoe so iemand geroer en geraak word deur die woord, maak dit my keer op keer opgewonde. Dit is daardie opgewondenheid wat dan sorg dat ʼn mens die volgende geleentheid met die grootste sorg beplan. Viva die woord!”

Besoek https://www.innibos.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top