Innibos 2018: Fotoblad

  • 0

Die Innibos Kunstefees het vanjaar van  27 tot 30 Junie in Mbombela plaasgevind. Louise Pieterse het die feesatmosfeer in foto's vasgevang.

Innibos bied ’n bymekaarkom plek vir voëls van verskeie vere!

Die pretpark bied jaarliks nuwe aanbiedings sowel as ou gunstelinge soos die tollende skulpies en die groot wiel.

Pretpark-joligheid

Koekedoor-wenner, Mareli Visser, bied kosdemonstrasies saam met van die gunstelinggesigte van kykNET aan.

Om elke hoe ken draai is daar vermaak vir die jongspan.

Talle gelukbringers wandel ook oor die feesterrein om kinders te vermaak.

Etlike minute na die hekke soggens oopmaak maak feesgangers seker hulle het ’n plekkie voor die verhoog verseker vir die hele gespuis.

By die ATKV-Boeke-oase is daar ’n storie-krôl opgerig om weer leesgierigheid by kinders op te wek.

Met kleurvolle karakters en verbeeldingryke dekor is daar talle harte gewen!

Sou feesgangers wil ontsnap van die “buzz” van die feesterrein kon hulle aansluit by vele boekgesprekke by die ATKV-Boeke-oase. Hier kon hulle ook regstreekse uitsendings van RSG bywoon. Hier het die omstrede Riaan van Heerden meer vertel oor sy boek 16 Dinge wat ek nie moes sê nie.

Schalk Bezuidenhoud en Ernst Grundling het met Ivor Price oor Truitjie roer my nie gepraat.

Nie net kon feesgangers luister oor die stories agter hulle gunsteling boeke nie, hulle kon ook arms vol nuwe boeke aanskaf by die ATKV-Boeke-oase.

Op slegs 23 het Wian van den Berg mense in verbasing laat staar en koppe laat krap. Die kranige kulkunstenaar het gehore keer op keer stomgeslaan met sy toertjies wat als insluit van klassieke kaartkulkunsies tot meer moderne toertjies met selfone.

Elke middag het Hannes van Wyk (Kwêla) insiggewende gesprekke gevoer met sangers, akteurs en regisseurs om die gehoor ’n kykie agter die skerms van die bedryf te gee.

Kleedkamer Blues is ’n debuutproduksie uit die pen van Ludwig Binge en het teatergunstelinge soos Wessel Pretorius en Carel Trichardt ingesluit.

Carel Trichardt in Kleedkamer Blues

Stok was een van die vele verkorte produksies wat feesgangers kon geniet by die boma-kuierteater. Die stuk word beskryf as ’n musikale mallemeule en het kykers behoorlik laat skaterlag.

Uit die bloute is ’n herlewing van die lokettreffer met dieselfde naam uit 1996. Paul du Toit en Jenna Dunster vertolk die hoofrolle en gee lewe aan twee van Eugéne Marais se meesterstukke, Salas Y Gomez en Die lied van die reën.

Vir ’n tweede jaar was die Innibos Craft Awards-uitstalling in die burgersentrum gehou.

Bekostigbare kuns het mense aan die gons gehad en deurgaans voete gelok na die uitstalling toe.

Die reuk van appels is die produksie op almal se lippe. Na talle uitverkoopte vertonings reg oor die land, het Innibos-feesgangers ook einde ten laaste kans gekry om die roerende meesterstuk te beleef.

Elke aand het die hoofverhoog homself oortref.

Die afsluitingskonsert het gespog met van die grootste name in die bedryf met ’n skouspelagtige weergawe van “Dis ’n land” as swanesang.

Innibos het vanjaar weer die Donderdagaand op die hoofverhoog afgestaan aan rockers uit alle velde. Spoegwolf het natuurlik die vertoning gesteel met voorsanger Danie du Toit aan die stuur van hulle vertoning.

Leon Schuster is een van twee legendes wat vereer is vir hulle lewenslange bydrae tot die kunste in Suid-Afrika. Hy het die gehoor behoorlik opgesweep met sy “Ziggy Ziggy Ziggy”-kreet.

Jay, Emo Adams, Robbie Wessels en Ray Dylan het ook ’n musiekhuldeblyk aan Schuster gebring.

Die Cambells het ieder en elk uit hulle stoele laat opstaan en hartlik laat saamsing met al hulle goue treffers.

Jo Black is die nuweling op almal se lippe en het die gehoor bekoor met sy passievolle optrede op die afsluitingsaand.

Boet Pretorius was ook vereer vir sy bydrae tot musiek in Suid-Afrika en sangers soos Theuns Jordaan en Monique het hulde gebring aan hom met sy liedere, “Ek wil jou ken” en “Sproetjies”.

Die president van die republiek van Zoid-Afrika het behoorlik gerock, benewens die feit dat sy amper stemloos by die fees opgedaag het!

Innibos verseker altyd hope vermaak op die verhoog. Of dit nou vuurwerke, kulkunstenaars of grafiese kunstenaars is, daar is altyd iets asemrowend om die draai!

Die kykNET Nou Rockverhoog was weer ’n groot treffer onder die jong mense. Hier is Neels van Jaarsveld op Francois van Coke se skouers tydens die Fokofpolisiekar-konsert.

Riana Nel het die fees afgeskop met ’n aardsverskuiwende optrede. Sy en haar orkes het behoorlik uitgehaal en vir Innibos gewys wie is baas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top