Inentingsapartheid en die EVDS

  • 7

Foto van viruspartikel: Pixabay; foto van Bettina Wyngaard: Naomi Bruwer

......

Soms wonder ek wat omtrent hierdie pandemie die meeste slagoffers eis: die siekte self, onbevoegdheid of korrupsie?

.......

Soms wonder ek wat omtrent hierdie pandemie die meeste slagoffers eis: die siekte self, onbevoegdheid of korrupsie?

Vanaf dag 1 van hierdie pandemie was die staatskoffers geplunder asof mense nie by die dosyne sterf nie. Die polisie, die weermag, selfs die Minister van Gesondheid is skynbaar nie immuun teen die vlaag van korrupsie wat ontketen is nie. Dit voel soms eerder asof die enigste kudde-immuniteit wat opgebou word, dié is teen vervolging vir korrupsie.

Toe ons uiteindelik begin inent, steek die volgende probleem kop uit, en die klagtes is volop. Mense daag net op by die inentingspunte sonder dat hulle ‘n afspraak het of geregistreer is, en hulle ontvang die inspuiting. Onregverdig teenoor die wat die reëls gevolg het en geduldig wag, nie waar nie?

Of is dit?

’n Paar dae gelede kom een van ons kerk se lede desperaat by my huis aan. Sy wil graag die vaksien ontvang, maar sy weet nie hoe om te werke te gaan nie. Registrasie op die EVDS is blitsvinnig, dit weet ek uit ondervinding met my ma se registrasie. Maar hierdie vrou het nie ’n selfoon nie, sy kan nie eens ’n SMS stuur nie, laat staan nog op webwerwe ingaan.

Daar is net een plek in ons dorp waarheen jy kan gaan vir hulp met die registrasie, en dis ver vir haar en dis oorvol. Dit neem die beste deel van ’n dag om vir registrasie te wag, en dan kan sy in elk geval nie die SMS ontvang met haar datum nie, want sy het nie ’n selfoon nie.

......

En dis die basiese probleem met die elektroniese registrasie. Dit veronderstel dat almal oor elektroniese toerusting en die tegniese kennis om dit te gebruik, beskik. Die realiteit is dat die meeste ouer, minder-gegoede mense eenvoudig nie oor selfone beskik nie. Nie almal het kinders of kleinkinders om hulle te help nie. En in sommige gevalle gee die kinders en familie eenvoudig nie om nie.

.......

En dis die basiese probleem met die elektroniese registrasie. Dit veronderstel dat almal oor elektroniese toerusting en die tegniese kennis om dit te gebruik, beskik. Die realiteit is dat die meeste ouer, minder-gegoede mense eenvoudig nie oor selfone beskik nie. Nie almal het kinders of kleinkinders om hulle te help nie. En in sommige gevalle gee die kinders en familie eenvoudig nie om nie.

Wie is die mense wat dan in die posisie gelaat word waar hulle geen ander keuse het as om sonder afspraak op te daag om die vaksien te ontvang nie? Dis dieselfde mense wat gedurende apartheid onderdruk was. Dis dieselfde mense wat vroeg uit die skool gehaal is, as hulle ooit skoolgegaan het, om op die plase en in die kombuise van die wit mense hulself te gaan afsloof vir hongerlone.

Nou is hulle oud en net so angsbevange soos enigiemand anders dat hulle Covid gaan kry. Maar hulle sukkel om te registreer. En die mense wat die hardste kla oor hoe onregverdig dit is dat sommiges net opdaag sonder afspraak en die vaksien ontvang, is dieselfde mense wat in die gerief van hul huis op die rekenaar kan sit en registreer, wat op hul slimfone boodskappe ontvang, wat in hul voertuie kan klim om te ry tot waar hulle die inenting ontvang. Dis dieselfde mense wat deur apartheid bevoordeel was.

......

Die onderdruktes word nog steeds onderdruk. Hulle het nie selfone, of tegniese vaardighede, of die gerief van eie vervoer om te kom waar hulle moet wees nie. Taxi’s kos geld: een keer om in die tou te kom staan, nog ’n keer om die inenting te ontvang. Dit kos geld, en baie keer maak daai taxigeld die verskil tussen ’n maaltyd eet of honger gaan slaap.

.......

Die onderdruktes word nog steeds onderdruk. Hulle het nie selfone, of tegniese vaardighede, of die gerief van eie vervoer om te kom waar hulle moet wees nie. Taxi’s kos geld: een keer om in die tou te kom staan, nog ’n keer om die inenting te ontvang. Dit kos geld, en baie keer maak daai taxigeld die verskil tussen ’n maaltyd eet of honger gaan slaap.

’n Vriendin van my ma het ’n boodskap ontvang dat sy in Stellenbosch moet aanmeld vir haar inspuiting. Sy het wel ’n voertuig, maar wat sou gebeur het as sy op openbare vervoer moes staatmaak?

Daar word soveel gepraat van inentingsongelykhede, met die klem op die verskil tussen Westerse lande en ontwikkelende lande. Dit vertel nie die helfte van die verhaal nie. Ongelykhede is ook binne ons eie land aanwesig, selfs voor die entstof beskikbaar is. Dis alreeds met die registrasieproses sigbaar.

Blameer ek dus mense wat net opdaag met die hoop dat hulle die entstof sal ontvang? Nie in die minste nie. Ek bewonder hulle eerder. Ons almal is geregtig op gelyke dienste vir ons gesondheid, en as die sisteem sommiges bevoordeel bo ander, dan is die sisteem nie ons ondersteuning en ons gehoorsaamheid werd nie.

Totdat daar aggressief in al ons gemeenskappe ingegaan word om mense te registreer tot tyd en wyl daar in elke gemeenskap punte is waarheen mense kan gaan vir inenting, ondersteun ek mense wat sonder ‘n afspraak opdaag.

Enigiets anders is net ’n voortsetting van die ou apartheidspatrone waarvan ons so hard probeer ontslae raak. Enigiets anders is onmenslik.

  • 7

Kommentaar

  • Beste Bettina Wyngaard
    Jy laat dit klink of dit net mense van kleur is wat nie oor die nodige geriewe of vaardighede beskik nie. Daar is talle blankes wat in plakkerskampe en agterplase bly wat ook deur die pandemie geraak word. Hulle mag dalk kleiner in getalle wees, maar in 'n pandemie gaan dit nie oor getalle nie, maar oor mense.

  • Avatar
    hennie van deventer

    En wie moet ons blameer? Is daar iemand anders as die ANC-regering wat juis die stelsel met al sy gebreke uitgedink het om die verspreiding van entstof te beheer en manipuleer? Die wrange vrug van politieke heerssug.

  • Beskik Wyngaard oor enige data (ek bedoel data, nie anekdotes nie) wat toon dat dit slegs of meestal die onderdruktes is wat sonder afspraak by die betrokke lokale opdaag?
    Hier waar ek woon het al wat leef en beef ten minste 'n slimfoon en meestal ook 'n rekenaar of iPad.
    En tog is dit die tegnologies gesofistikeerdes wat sonder afsprake opdaag.
    Waarom sou die situasie anders wees in Suid-Afrika?
    Of is Wyngaard maar net weer op soek na 'n lat?

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Ag ja. Dis al weer die ou geykte storie. Dis apartheid se skuld. Dis die wit mense wat maar aangaan asof niks verander het nie. In 27 jaar van "vryheid" het niks verander nie. Dis seker ook apartheid en die wit mense se skuld dat 36 miljoen Suid-Afrikaners van staatstoelaes afhanklik is. Dis seker ook apartheid en die wit mense se skuld dat die staatsondernemings in 'n staat van verval is.

    Ek het drie weke gelede geregistreer. Ek is oor 'n paar maande 80 jaar oud. Ek het net 21% van my hartfunksie. Nou wag ek maar vir die SMS of ek vat my ID en laat my inent, dis nou voordat ek doodgaan. Miskien is ek een van die gelukkiges wat dalk nie siek gaan word nie, want sien ek is mos wit.

    Laat ons nou maar eerlik wees en aanvaar dat die manier waarop die gekose demokratiese regering se hantering van die pandemie ook as 'n mislukking aangeteken sal word. Wonder nou nog hoekom prof Karim so skielik besluit het hy het ander belange wat hy graag wil aandag aan gee en weggeloop van die NDZ komitee?

    Miskien moet jy 'n slag ook gaan kyk en 'n studie maak van wat voor apartheid gebeur het. Maar miskien sal jy nie wil nie, want waaroor gaan jy dan kan skryf Bettina? Of dalk kennis neem van hoe die regerende party besig is om met homself oorlog te maak terwyl sy onderdane daagliks geestelik en liggaamlik agteruitgaan.

  • Ons regering verstaan klarblyklik nie (1) dat die meeste van hulle landgenote arm is nie (2) dat hulle nie die tegnologie het wat die "ouens daar bo" het nie, (3) dat hulle die wonderlikste planne op papier maak, maar nie aan die praktyk dink nie, (4) dat die beloftes wat hulle maak (3000 vaksineringspunte, maar dan is daar eintlik net 150 wat gereed is om mense te ontvang), ens, ens, ens. En kla jy as blanke, is jy rassisities, hoewel jy dit eintlik oor onbevoegdheid het.

  • Avatar
    Johann Basson

    Ek kan nie wag vir die dag in die nabye toekoms dat Me. Bettina Wyngaard tot die politiek toetree nie en ons deur woord en daad wys hoe dinge reg gedoen moet word en die "ou apartheidspatrone" en die hedendaagse post-1994-korrupsie summier en spoedig hokslaan.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    En die mense wat kla verteenwoordig natuurlik 'n hele rasgroep. Elke liewe een van hulle.

    Daar is berigte wat vertel hoe 'n groot persentasie weier om enige entstof te neem ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top